Word ’n geordende bedienaar—op God se manier!
’N BESOEKER sou waarskynlik nuuskierig—miskien selfs verward—gewees het oor wat hy gehoor het. Die toneel was ’n byeenkoms van Jehovah se Getuies. ’n Toespraak is gehou vir ’n groep persone wat op die punt gestaan het om gedoop te word. Die spreker het verbasend genoeg vir hierdie doopkandidate gesê: “Jou teenwoordigheid onder hierdie groep doopkandidate is ’n aanduiding van jou begeerte om ’n geordende bedienaar van die Koninkryk te wees.”
‘Hoe kan dit wees?’ het ’n besoeker dalk gevra. ‘Is doop nie vir persone wat onlangs met die Christelike godsdiens kennis gemaak het—en vir babas—nie? Verg dit nie jare van intensiewe opleiding en onderrig om ’n geordende bedienaar te word nie?’ Miskien redeneer jy ook so. Maar wat die Bybel in werklikheid oor doop en ordening sê, sal jou moontlik verras.
Voordat jy gedoop word
Ten eerste is doop nie vir persone wat die Christelike boodskap skaars ken nie. Die Bybel toon in Handelinge 8:12 dat mense in die eerste eeu gedoop is nadat “hulle . . . geglo het”. Mattheüs 28:19 toon ook dat ’n persoon ’n ‘dissipel’ moet word voordat hy gedoop kan word. En hoe word ’n mens ’n ‘gelowige’, of ‘dissipel’ (‘leerling’)? Deur ’n sorgvuldige studie van die Bybel! So doen ’n mens juiste kennis op van Jesus en Jehovah God (Johannes 17:3). Slegs nadat hy hierdie kennis opgedoen het, is ’n student in ’n posisie om doop te oorweeg. In die eerste eeu het gevestigde Christene nuwe bekeerlinge so onderrig.—Handelinge 8:31, 35, 36.
In hedendaagse gemeentes van Jehovah se Getuies word reëlings eweneens getref sodat belangstellendes ’n gratis tuisbybelstudie kan hê. ’n Persoon met ’n ontvanklike hart begin geleidelik waardeer wat hy leer. Hy word beweeg om sy nuutgevonde oortuiginge met ander te deel (Romeine 10:8-10). Hy begin Christenvergaderinge gereeld bywoon, waar hy nog meer Bybelse onderrig ontvang (Hebreërs 10:24, 25). En na weke of maande hiervan ontwikkel die nuwe gelowige ’n begeerte om die Bybel se raad in Romeine 12:1 te volg: “Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer—dit is julle redelike godsdiens.”
Kennis alleen bekwaam egter nie ’n persoon om hierdie toewyding te maak nie. ’n Mens moet ook berou toon en ‘jou omkeer’ (Handelinge 3:19, NW). Waarom? Sommige het onsedelike lewenstyle gehad voordat hulle God se standaarde geleer het. Ander het in selfsugtige strewes verwikkel geraak. Maar om hulle aan God as ‘heilig, welgevallig’ te stel, moet hulle berou toon oor sulke vorige dade. Hulle moet berouvol wees omdat hulle hul lewe, energie en vermoëns vir onskriftuurlike strewes gebruik het. Sulke berou moet ook met gepaste optrede gepaard gaan sodat hulle hul werklik “omkeer”, of hulle lewenswyse verander.
Ten einde die nuwe gelowige verder te help, reël Christen- ouere manne om met hom byeen te kom en tyd te bestee aan die hersiening van die grondleerstellings van die Bybel. Dit gee die ouere manne byvoorbeeld die versekering dat die voornemende Christen juiste kennis van God se voornemens opgedoen het. En die hersiening is natuurlik baie nuttig vir die student. Wanneer dit nodig is, word sekere sake wat nie reg verstaan is nie, opgeklaar.
Doopplegtighede word gewoonlik tydens streek- of kringbyeenkomste van Jehovah se Getuies gehou. By sulke geleenthede word ’n pertinente toespraak vir die doopkandidate gehou. Hulle word daaraan herinner dat doop nie bloot beteken om by ’n nuwe godsdiens aan te sluit nie. Jesus het gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet by homself verloën en sy kruis opneem en My volg.”—Mattheüs 16:24.
Die kandidate word verder herinner aan die diep betekenis van doop. Die teks in 1 Petrus 3:21 word dikwels gelees: “Waarvan die teëbeeld, die doop, ons nou ook red, nie as ’n aflegging van die vuilheid van die vlees nie, maar as ’n bede tot God om ’n goeie gewete—deur die opstanding van Jesus Christus.” Hier vergelyk Petrus doop met Noag se ondervinding toe hy die waters van die Vloed oorleef het. Hoewel daardie waters dodelik vir die aarde se goddelose bevolking was, was dit lewensreddend vir Noag toe dit hom veilig in die ark laat dryf het. Doop ‘red’ Christene eweneens uit hierdie goddelose wêreld. Wanneer iemand hom, op grond van sy geloof in die voordele van die dood en opstanding van Jesus Christus, laat doop, is so ’n persoon in sekere sin in ’n ‘geredde’ toestand voor God. Hy word nie meer beskou as ’n deel van hierdie goddelose geslag wat tot vernietiging gedoem is nie.—Kyk Handelinge 2:40.
Doop is derhalwe nie ’n stap wat in ’n oomblik van emosie gedoen moet word nie, soos so dikwels die geval by godsdienstige oplewingsvergaderinge is. Dit word beklemtoon deur die feit dat die bedienaar wat die doopplegtigheid waarneem twee deurdringende vrae aan die nuwe dissipels stel voordat hulle ondergedompel word. Hulle bevestigende antwoorde is ’n ‘openbare bekendmaking’ van hulle geloof in die losprys en van die feit dat hulle hul onvoorwaardelik aan Jehovah toegewy het (Romeine 10:9, 10, NW). Hulle is dan gereed vir waterdoop.
Georden as bedienaars van die Koninkryk
Algehele onderdompeling in water is ’n gepaste simbool van hulle toewyding aan God. Terwyl hulle onder die water is, is dit asof hulle hul vorige lewenswyse afgesterf het. Wanneer hulle uit die water opkom, is dit asof hulle nou lewend is op ’n nuwe weg van selfopoffering in diens aan God.—Vergelyk Romeine 6:2-4.
Maar hoe pas ordening in by die daad van doop? Let op wat M’Clintock en Strong se Cyclopædia of Biblical, Theological, and Ecclesiastical Literature (1877), Deel VII, bladsy 411, sê: “Ordening beteken die aanstelling of benoeming van ’n persoon tot ’n bedienaarsamp, hetsy met of sonder bykomstige seremonies.” (Ons kursiveer.) Dit erken dat ’n omslagtige seremonie of ’n ordeningsertifikaat nie nodig is om ’n Christenbedienaar te wees nie.
Maar leer die Bybel dit? Beskou Jesus Christus. Dit ly geen twyfel dat hy die belangrikste bedienaar van God was nie. Het hy nietemin die een of ander omslagtige ordeningseremonie gehad voordat hy met sy predikingswerk begin het? Het hy ’n sertifikaat gehad wat hom as ’n bedienaar geidentifiseer het? Inteendeel, dit was nadat hy bloot in water gedoop is dat God sy goedkeuring van Jesus as sy Seun uitgespreek en hom as Sy bedienaar georden het.—Markus 1:9-11; Lukas 4:18-21.
Wat van eerste-eeuse Christene? Daar is geen verslag van enige vertonerige ordening vir hierdie vroeë Christenbedienaars nie. Die verslag in Handelinge praat herhaaldelik van die eenvoudige doopplegtighede van gelowiges. Dit is gevolg deur hulle ywerige deelname aan die openbare bediening.—Kyk Handelinge 2:41-47; 8:36-39; 22:14-16.
Watter bewys het sulke bedienaars van hul ordening gehad? Paulus sê in 2 Korinthiërs 3:1-3: “Begin ons weer om onsself aan te beveel? Of het ons miskien, soos sommige, aanbevelingsbriewe nodig aan julle of van julle? Julle is ons brief, geskrywe in ons harte, geken en gelees deur alle mense; omdat julle duidelik ’n brief van Christus is deur ons diens berei, geskrywe nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God; nie op kliptafels nie, maar op die vleestafels van die hart.” Die uitwerking van God se gees op hierdie leerlinge se harte het ’n nuwe Christelike persoonlikheid voortgebring, wat deur alle waarnemers gelees kon word. Dit was voldoende bewys dat God inderdaad diegene georden het deur wie hierdie nuwe dissipels onderrig is.
Span jouself in in die bediening
’n Bedienaar word vandag eweneens deur sy werke geken. Dit is met erns dat hy ‘hom kragtig inspan’ in sy bediening (Lukas 13:24, NW). Hy beskou sy bediening as ’n wonderlike voorreg van God. Hy neem dit nie as vanselfsprekend aan nie.—1 Timotheüs 1:12-16.
Koninkrykspredikingswerk is die belangrikste verpligting van sulke bedienaars. Alle ander strewes moet beperk word sodat hulle ‘hul bediening ten volle kan vervul’ (2 Timotheüs 4:2, 5, vgl. NW). Hulle moet natuurlik na hulle eie sowel as hulle gesin se fisiese behoeftes omsien. Maar hulle is met ‘voedsel en klere vergenoeg’. Hulle laat nie toe dat persoonlike strewes of persoonlike begeertes hulle aandag van die bediening aflei nie (1 Timotheüs 5:8; 6:7, 8; Filippense 2:20-22). Hulle vergewis hulle van die “belangriker dinge” (Filippense 1:10, NW). Hulle probeer om die goeie voorbeeld van Jesus Christus, wat Koninkrykspredikingswerk die middelpunt in sy lewe gemaak het, voor oë te hou.—Lukas 4:43; Johannes 18:36, 37.
Wanneer iemand as ’n geordende bedienaar gedoop word, is hy nogtans in die vroeëre stadiums van sy diens aan God. Hy het weliswaar kennis van Christus Jesus en Jehovah God opgedoen. Hy het ook talle veranderinge in sy lewe aangebring sodat sy Christelike bediening nie beklad kan word nie (2 Korinthiërs 6:3). Die pasgedoopte Christen moet steeds baie vordering maak. Sy doop, wat sy ordening aandui, is net een belangrike mylpaal wat sy groei as ’n Christen betref (Filippense 3:16, NW). Elke geordende bedienaar moet derhalwe aanhou om hartgrondige waardering vir geestelike dinge op te bou. Hy moet tyd vir persoonlike studie inruim. Hy moet alle voorsienings vir die gemeente om te vergader benut. Hy moet hom daarop toelê om die gehalte van sy gebede te verbeter, wat ’n hegter persoonlike verhouding met God tot gevolg sal hê.—Lukas 6:45; 1 Thessalonicense 5:11; 1 Petrus 4:7.
Ons hoop dat hierdie Skriftuurlike gedagtes jou gehelp het om te verstaan waarom ’n universiteitsgraad nie ’n vereiste is vir diegene wat graag as bedienaars van God wil dien nie. Meer as driemiljoen van Jehovah se Getuies dien God getrou as sy bedienaars en verkondig die waarhede wat in sy Woord uiteengesit word. Jy kan gerus dat een van hulle jou help om kennis van die Bybel op te doen.
[Prent op bladsy 29]
Volgens die Bybel word ’n Christenbedienaar georden wanneer hy hom laat doop