Hulle was oortuig van Jehovah se liefde
HOË golwe het teen die skip geslaan wat in ’n hewige storm op see beland het. ’n Stryd van 14 dae teen die tierende waters het veroorsaak dat die passasiers en die bemanning, met die uitsondering van een persoon, alle hoop laat vaar het. Hy was vol vertroue dat Jehovah hom sou beskerm, want die vertroostende woorde, “Moenie vrees nie, Paulus” het deur sy gedagtes gemaal. Gedurende die volgende beslissende ure het die skip gestrand, wat dit vir almal moontlik gemaak het om veilig aan wal te gaan. Die apostel Paulus het weer eens rede gehad om van Jehovah se liefde oortuig te wees.—Handelinge 27:20-44.
Is jy net so oortuig van God se liefde? Dit is lewensbelangrik dat jy God se Woord voortdurend bestudeer en dat jy wat jy leer gebruik om ander te versterk. Maar om werklik van Jehovah se liefde oortuig te wees, moet jy in werklikheid van Jehovah se uitinge lewe deur te ondervind hoe hy om jou ontwil optree. Iemand wat vas hiervan oortuig is, is ’n reisende opsiener wat in die hoë Boliviaanse berge werk en wat, soos talle ander, Jehovah se sorg ondervind het.
Hy vertel: “Ek het vanuit Oruro gewerk en moes ’n gemeente in Kami, ’n myndorpie [100 kilometer] daarvandaan besoek. Die heuwelagtige kronkelpad bereik hoogtes van [4 600 meter] en kan baie bedrieglik wees, veral wanneer dit reën. Temperature daal dikwels tot [−10° C.] of laer.
“’n Ander broer, Aníbal, sou my op sy motorfiets neem, en ons het om 6:00 vm. vertrek, gereed vir ’n vyf uur lange rit. Dit het uit die staanspoor gereën en modder het aanhoudend tussen die wiel en die modderskerm saamgekoek sodat ons moes stilhou. Slegs nadat ons die modder deeglik uitgekrap het, kon ons verder gaan. Ek het agter Aníbal op die motorfiets gesit en het probeer om my skoene en broek te beskerm, maar het tou opgegooi toe dit papnat was.
Bewys van Jehovah se liefde
“Ses uur het verloop toe die enjin op ’n steil heuwel gaan staan en ons agteruit begin loop het. Ons het afgespring en alles probeer om die swaar motorfiets in die glyerige modder vas te hou. Dit was egter tevergeefs, en ons moed het ons begewe toe die motorfiets oor die kant van ’n bergkloof wat [90 meter] diep is, stort! Ons het bekommerd afgekyk. Wonder bo wonder het die motorfiets nie tot heelonder geval nie. Ons sou dit nogtans nooit sonder hulp kon ophys nie.
“Die ure het verbygekruip, maar ons het min hoop gehad dat iemand met daardie verlate pad langs sou kom. Toe het ’n man met ’n donkie en ’n paar lamas verskyn. Toe hy ons verknorsing sien, het hy in Quechua gesê: ‘Ja, ek het ’n paar rieme.’ Hy het die leerstroke aan die donkie en aan die motorfiets vasgemaak. Toe het ons van onder af gelig terwyl hy die donkie aangepor het om te trek. Uiteindelik, nadat hy die donkie baie moes aanpor, was ons terug op die pad, met ons voorkoppe nat van die sweet. Hoe kon ons hom vergoed? Ons het hom ’n Bybelverhale-boek aangebied, en hy was so beïndruk met die boek dat hy ons op sy beurt met aartappels van sy vrag wou vergoed!
“Die enjin het gevat en ons was Jehovah tog so dankbaar. Ons het ’n ent verder daaraan gedink om stil te hou, aangesien die enjin begin ruk het. Ons het by ’n afgesonderde koffiehuis gekom. ‘Waarheen is julle op pad?’ het die eienaar gevra. Ons het hom vertel en ons probleem verduidelik. ‘Ek het ’n vonkprop en ’n paar stukke gereedskap wat ek vir julle sal leen’, het hy gesê. Ons kon skaars ons ore glo—dit was ’n plek waar vriende dikwels wantrou word, om nie van volslae vreemdelinge te praat nie. Die enjin het goed gewerk met die nuwe vonkprop.
“Dit was nou donker en ek het bekommerd geraak, aangesien my bene in die ysige koue begin verkluim het. Toe, terwyl ons teen ’n steilte uitgery het, het die enjin weer gaan staan. Ons het die aansitter gepomp en ook die fiets [3 kilometer] ver gestoot, maar dit was tevergeefs. Ons het heeltemal uitgeput langs die pad gaan sit. My bene was ten minste nie meer verkluim nie! Maar ons was ontsteld en het nie geweet wat om te doen nie. Ons het ’n bietjie gerus en toe weer probeer om die enjin te laat vat. Sou dit werk?
“Tot ons verbasing het die enjin wel gevat. Dit het egter toe begin reën en op die volgende helling het ons weer gaan staan. Ons het weer eens langs die pad gesit, hierdie keer in die stortreën. Ons het weer gerus. Sonder om veel te verwag, het ons weer probeer om die enjin te laat vat—en dit het gevat! Ons het spoedig die hoogste punt van ons reis oorgesteek. Ek het verlig gevoel en het gedink dat ons feitlik tot in Kami sou kon vryloop al sou die enjin nou gaan staan. Maar die remhandvatsel het op ’n steil afdraand in Aníbal se hand afgebreek! Ek het vinnig afgespring terwyl ek aan die agterkant van die fiets vasgehou het, albei voete in die grond vasgeskop en met die heuwel afgegly. Op hierdie manier het ek daarin geslaag om ons tot stilstand te bring. Dit het op nog twee hellings gebeur.
Kami—uiteindelik
“Dit was 3:00 vm. toe ons Kami uiteindelik bereik het. Ons was 21 uur lank op die pad. Dit sou ’n probleem wees om die broers te vind aangesien dit my eerste besoek was. Ons het aan deure geklop, maar is aangesê: ‘Gaan weg! Ons slaap!’ Nadat ons aan verskeie deure geklop het, het ek gemeen dat dit die beste sou wees om onder ’n afdak te rus en in die oggend na die broers te soek. Ek het gaan sit en vas aan die slaap geraak. Toe ek wakker word, was ek deur mense omring. Ek het opgestaan, en ’n fris geboude man het my styf kom vasdruk. Ja, hulle was ons broers! Aníbal het hulle gevind. Ek kon nie praat nie, want ek was te aangedaan.
“Hulle het geen tyd verspil nie en het ons besittings opgetel, asook die motorfiets wat met modder aangepak was, wat ’n broer letterlik na sy werf gedra het. My gashere was ’n nederige egpaar, die vrou in ’n tipiese “pollera”, ’n baie vol romp. ‘Slaap in ons bed’, het hulle gesê. Ek wou nie hê dat hulle op die vloer slaap nie, veral omdat die vrou swanger was. Maar hulle het daarop aangedring.
“Voor ek my kom kry, was dit 8:00 vm. lemand het aan die deur geklop. ‘Die broers is gereed vir die diens’, is ek meegedeel. Toe ek hulle afwagtende gesigte vol waardering sien, het ek geen ander keuse gehad as om my seer liggaam uit die bed te lig en met die besoek te begin nie. En wat ’n hartverblydende besoek was dit tog! Terwyl ek die broers in hulle bediening vergesel het, het hulle eenvoudig oorgeloop van vreugde en geesdrif. Ek het gedink oor hoe noodsaaklik hierdie besoeke is, ondanks alles wat ons deurgemaak het—soos ‘waterstrome in ’n dor streek’.—Jesaja 32:2.
“Ons het die volgende dag ’n dorpie besoek waar ’n evangelispastor gedreig het om ons vergadering uiteen te jaag wanneer ek daar opdaag. Na die toespraak het ’n fris man my ’n Boliviaanse omhelsinga gegee en gesê: ‘Broer, jy het die waarheid!’ Ek het agterna gevra wie dit was. ‘Die pastor’, het hulle gesê.
“Die besoek aan Kami was veels te gou verby en ons moes vertrek. Die broers het die motorfiets herstel en al ons modderige klere gewas. Toe ons melding maak van die man wat die gereedskap vir ons geleen het, was hulle verstom, aangesien dit bekend is dat hy ander feitlik nooit help nie. Na talle omhelsings en handdrukke het ons vertrek en was ons spoedig terug om die vriendelike koffiehuiseienaar te sien. Nadat ons alles terugbesorg het, het ons hom gevra: ‘Hoeveel skuld ons jou?’ ‘Niks’, het hy gesê. ‘Ek was bly ek kon help!’
“Terug in Oruro, vyf uur later, het ons daaroor gedink hoe belangrik dit is om nie moed op te gee nie en hoe Jehovah wonderbaarlik na ons omgesien het. Aníbal was so diep geroer deur die ondervinding dat hy gesê het: ‘Ek sal wat wou gee om terug te gaan!’ Dit is presies wat hy gedoen het. Hy het ander reisende opsieners op sy motorfiets na Kami en ander plekke geneem. Ja, ons het vaste rede gehad om des te meer van Jehovah se liefde oortuig te wees.”—Soos vertel deur kringopsiener Ricardo Hernández.
[Voetnoot]
a ’n Boliviaanse omhelsing bestaan uit ’n handdruk, ’n wedersydse klop op die rug en nog ’n handdruk.
[Prente op bladsy 23]
Die kronkelende bergpad wat na die myndorp Kami gaan
Die pad deur die berge na Kami
Donkies kan in ’n noodtoestand baie nuttig wees!