Waardeer jy heilige dinge?
“Jaag vrede na met alle mense, en die heiliging waarsonder geen mens die Here sal sien nie, en sien noukeurig toe . . . dat daar geen hoereerder is of enigiemand wat heilige dinge nie waardeer nie, soos Esau, wat in ruil vir een maaltyd sy regte as eersgeborene weggegee het.”—HEBREËRS 12:14-16, NW
1. Watter gebrek aan waardering toon die meeste mense, maar hoe is Christene anders?
JEHOVAH ons God is ’n uiters vrygewige Voorsiener. Hy voorsien ruimskoots in al die behoeftes van sy hele skepping. Die meerderheid van die mensdom dink egter selde hieraan. Hulle bedank Jehovah nie en erken ook nie dat hulle baie aan hom verskuldig is nie. Christene neem andersyds nie Jehovah se goedheid as vanselfsprekend aan nie. Hulle eer hom vir wat hy vir hulle doen. As gevolg van hulle toegewydheid aan hom het Jehovah ’n aantal heilige dinge aan sy volk toevertrou wat die mensdom oor die algemeen nie geniet nie. Dit is kosbare dinge, wat as heilig afgesonder is en met Jehovah se aanbidding te doen het. Weet jy wat hierdie heilige dinge is? En het jy ’n innige, hartgrondige waardering daarvoor?—Psalm 104:10-28; Mattheüs 5:45; Openbaring 4:11.
2. Wie het ’n merkbare gebrek aan waardering getoon?
2 Nie al God se knegte het heilige dinge behoorlik waardeer nie. Isak se seun Esau het byvoorbeeld in hierdie opsig te kort geskiet. Paulus het van hom gepraat toe hy aan gesalfde Hebreeuse Christene geskryf het. Na hy hulle aangespoor het om ‘vrede met alle mense na te jaag’, het hy hulle gewaarsku om seker te maak dat daar in hulle midde “geen hoereerder is of enigiemand wat heilige dinge nie waardeer nie, soos Esau, wat in ruil vir een maaltyd sy regte as eersgeborene weggegee het”.—Hebreërs 12:14-16, NW.
3, 4. Wat was die heilige regte van die eersgeborene wat Esau aan Jakob vir ’n bord lensies verkoop het?
3 Wat was hierdie regte van die eersgeborene? Jehovah het Esau se grootvader, Abraham, belowe dat daar deur hom en sy nakomelinge uiteindelik een gebore sou word wat die beloofde Saad, die Messias, of die Christus, sou wees. Deur middel van hierdie Saad sou al die nasies hulleself kon seën, met die gevolg dat hulle van sonde en die dood verlos kon word.—Genesis 22:15-18, vgl. NW; Galasiërs 3:16.
4 Esau, Isak se eersgeborene, het die geleentheid gehad om ’n lid te wees van die lyn wat daardie Saad sou voortbring. Dit was deel van sy eersgeboortereg. Maar tot sy skande sê die Bybelverslag: “Esau [het] sy eersgeboortereg verag.” Hy het dit impulsief vir een kooksel lensies en brood verkoop. Ons wil gewis nie sy gebrek aan waardering navolg nie. Ons moet eerder die gesindheid van Esau se broer, Jakob, aankweek. Hy was die volgende aanspraakmaker op die eersgeboortereg, wat hy gekoop het as gevolg van sy broer se duidelike gebrek aan waardering. Jakob het sodoende verseker dat die reg om ’n voorvader van die beloofde Saad te wees, oorgedra word deur een wat hierdie heilige ding behoorlik waardeer het.—Genesis 25:27-34.
5. Watter heilige dinge sal ons bespreek, en wat kan ons doen om te voorkom dat ons hulle as vanselfsprekend aanneem?
5 In die Christengemeente het Jehovah talle heilige dinge beskikbaar gestel om ons geestelik sterk en behoorlik toegerus vir sy diens te hou. Kom ons bespreek ’n paar hiervan. Dan kan ons elkeen daaroor nadink en ons waardering daarvoor versterk sodat ons dit nooit as vanselfsprekend sal aanneem nie.
Jehovah se naam en die losprys—uiters heilig
6. In watter opsigte kan ons toon dat ons nie die heiligheid van Jehovah se naam as vanselfsprekend aanneem nie?
6 Eerste op ons lys van heilige dinge is Jehovah se naam. Hoe verhewe is hierdie naam in jou verstand en hart? Toe Jesus die modelgebed gegee het, het hy eerstens gesê: “Laat u Naam geheilig word” (Mattheüs 6:9). Wanneer ons gedoop word, word ons een van Jehovah se Getuies (Jesaja 43:10, 11, vgl. NW). Wat ’n eer tog! En wanneer ons oor Jehovah se goedheid en sy wonderlike voornemens praat, leer ander hom by sy persoonlike naam ken en wil ook hulle hom aanbid. Maar as jy versuim om oor hom te praat of, nog erger, verkeerde dinge doen, doen dit Jehovah se goeie naam en reputasie smaad aan. Jehovah se getroue Christengetuies probeer altyd om sy heilige naam deur hulle woorde en dade voor ander te heilig.—Levitikus 22:31, 32; Deuteronomium 5:11.
7. Waarom moet ons groot waardering vir die losprysoffer van Christus toon?
7 Hoog op die lys van heilige dinge is die losprysoffer. Hoe kosbaar is Christus se offer vir jou? Ons kan slegs op grond van volle geloof in hierdie volmaakte menseoffer vergifnis vir ons sondes ontvang (1 Johannes 2:1, 2). Paulus sê dat die gesalfde gemeente “deur die bloed van [God se] eie Seun” gekoop is. (Handelinge 20:28, NAV; vergelyk 1 Petrus 1:17-19.) Jesus, die eniggebore Seun van God, het sy posisie in die hemel prysgegee, op aarde tussen sondige manne en vroue gewoon en toe sy volmaakte menselewe in ’n pynlike dood aan die folterpaal afgelê sodat ons die ewige lewe kan hê (Mattheüs 20:28). Dit sou die toppunt van ondankbaarheid wees as ’n mens nie elke dag innige waardering vir hierdie kosbare gawe van God toon nie.—Hebreërs 10:28, 29; Judas 4, 5.
Ons verhouding met Jehovah en sy organisasie
8. Hoe kosbaar is ons verhouding met Jehovah?
8 Dit bring ons by nog ’n baie heilige saak, ons verhouding met Jehovah. Ons moet inderdaad hierdie intimiteit wat ons met ons hemelse Vader het innig koester. As ons ‘tot God nader, sal hy tot ons nader’ (Jakobus 4:8). Hy het ons baie lief en hy wil hê dat ons hom met ons hele hart moet liefhê (Mattheüs 22:37, 38; Johannes 3:16). Dawid het sy seun Salomo goeie raad oor sy verhouding met Jehovah gegee. Hy het ’n waarskuwing hierby ingesluit: “En jy, my seun Salomo, ken die God van jou vader en dien Hom met ’n volkome hart en met ’n gewillige siel, want die HERE deursoek al die harte, en Hy verstaan elke versinsel van die gedagtes. As jy Hom soek, sal Hy Hom deur jou laat vind; maar as jy Hom verlaat, sal Hy jou vir altyd verstoot” (1 Kronieke 28:9). Daarom moet julle “julleself in die liefde van God bewaar, terwyl julle die barmhartigheid van onse Here Jesus Christus tot die ewige lewe verwag”.—Judas 21.
9. In watter opsigte toon ons dat ons nie die voorreg om ’n deel van Jehovah se organisasie te wees as vanselfsprekend aanneem nie?
9 Besef jy ook wat ’n heilige voorreg dit is om ’n deel van Jehovah se organisasie te wees? Ons almal moet onthou dat ons slegs deur die onverdiende goedheid van Jehovah daarin is. As ’n persoon ondankbaar is en ’n onberouvolle oortreder word, sal hy hierdie voorreg verloor. Paulus het gewaarsku: “Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie” (1 Korinthiërs 10:6-12). Paulus het hierdie waarskuwing gegee nadat hy van die 23 000 Israeliete vertel het wat weens afgodediens en onsedelikheid omgekom het. Ons kan ons waardering vir die heiligheid van Jehovah se organisasie toon deur elkeen ons deel te doen om dit vry van onreinheid, onsedelikheid, tweedrag, kommersialisme en gevoelens van meerderwaardigheid en vooroordeel te hou (2 Korinthiërs 7:1; 1 Petrus 1:14-16). Ons kan ons daarop toelê om die band van broederliefde te versterk terwyl ons teokratiese orde noukeurig bewaar en saamwerk met diegene wat die leiding gee.—1 Thessalonicense 4:3-8; 5:12, 13.
God se Woord en wette en die Koninkrykshoop
10. Hoe toon ons dat ons die Heilige Skrif ten volle waardeer?
10 God se geïnspireerde Woord, die Heilige Bybel, is ook heilig. Dit bevat goddelike uitsprake, instruksies, raad, beloftes, openbaringe, ja, alles wat ons nodig het om ‘ons vir elke goeie werk toe te rus’ (2 Timotheüs 3:16, 17). Hoe kan ons hiervoor waardering toon? Eerstens deur dit te bestudeer en in ons lewe toe te pas wat ons leer. Ook deur behoorlik ag te slaan op die Bybelse “voedsel op tyd” wat Jehovah deur “die getroue en verstandige dienskneg” voorsien (Mattheüs 24:45). En uit ’n praktiese oogpunt moet ons ons persoonlike eksemplare van die Bybel, asook die Christelike publikasies wat ons in ons predikingswerk gebruik, netjies en skoon hou. Dit kan Jehovah tot oneer strek as ons ’n Bybel gebruik wat baie vuil of onooglik is wanneer ons predikingswerk doen.
11. Waarom moet ons nie Jehovah se heilige wette as vanselfsprekend aanneem nie?
11 In God se Woord is Jehovah se heilige wette. Beskou jy hulle altyd as heilig, of is jy geneig om hulle soms lig op te neem? Jehovah se wette is soos tekens, bakens en sperrelings langs die pad na die lewe. As ons hulle gehoorsaam, sal ons veilig reis en uiteindelik ons bestemming in Jehovah se nuwe wêreld bereik; maar as ons Jehovah se gebooie en herinneringe lig opneem, stuur ons op rampspoed af.—Psalm 119:10, 11, 35, 101, 102; Spreuke 3:1-4.
12. Hoe is ons Koninkrykshoop iets heiligs?
12 Deur middel van die Bybel leer ons ook van iets heiligs wat baie na aan ons harte moet wees: ons Koninkrykshoop. Waar Paulus van getroue Abraham praat, sê hy in Hebreërs 11:10: “Want hy het die stad [God se Koninkryk] verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is.” Het jy net so ’n sterk, vasstaande hoop in God se Koninkryk? Is jou geloof so sterk dat jou hart geen twyfelgedagtes koester nie, en bly jou ywer onverfloud terwyl jy wag dat God se voornemens op sy vasgestelde tyd vervul word?—Mattheüs 24:20-22, 33, 34, 42.
Heilige vergaderinge en voorregte
13. Waarom moet ons nie die voordele van die Christenvergaderinge as vanselfsprekend aanneem nie?
13 “Laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie”, het Paulus gemaan. Dit dui aan dat ons Christenvergaderinge nog ’n heilige voorsiening is wat nie lig opgeneem moet word nie. By die vergaderinge ontvang ons lewensbelangrike onderrig en hartlike omgang wat ons dringend nodig het. Hier kan ons ook openbare “belydenis van die hoop” in ons doen deur van die verhoog te spreek wanneer ons die geleentheid het en deur gereeld kommentaar te lewer (Hebreërs 10:23-25). En gee jy gereeld bydraes en werk jy hard om die Koninkryksaal behoorlik in stand te hou, aangesien die meeste van ons vergaderinge daar gehou word?—Exodus 35:21.
14. Wat sal ons help om te besef dat ons Christelike bediening ’n heilige skat is?
14 Paulus vergelyk die voorreg wat Christene het om die goeie nuus te verkondig met ’n “skat in erdekruike” (2 Korinthiërs 4:1, 7). Ja, die Christelike bediening is ook iets heiligs wat ons innig waardeer. Hoewel die meeste mense vir wie ons preek onverskillig is, moet ons ons altyd herinner aan die verhewe voorreg wat ons het om ander van Jehovah en sy voornemens te vertel. So sal ons ons opdrag om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig en dissipels te maak, volbring (Mattheüs 24:14; 28:19). Wanneer ons sien hoe nuwe dissipels vooruitgang maak, is dit nog ’n rede tot vreugde (1 Thessalonicense 2:19, 20). As ons die bediening as ’n skat bewaar, sal ons nie ongereeld of onbedrywig in die verkondiging van die goeie nuus wees nie.
15. Waarom moet die nakoming van voorregte in Jehovah se organisasie nie ligtelik opgeneem word nie?
15 Voorregte in Jehovah se organisasie is ook heilig. Sulke voorregte is in werklikheid ’n heilige pand. (Vergelyk Handelinge 20:28.) Hetsy die verantwoordelikheid toesig, herderswerk, onderrig of ’n ander diens aan mede-Christene behels, ons moet buitengewone aandag daaraan skenk. Al lyk die taak onbeduidend, moet dit nie lig opgeneem word nie, maar deeglik, stiptelik, asof vir Jehovah, gedoen word. Onthou, “hy wat getrou is in die minste, is ook in die grote getrou”.—Lukas 16:10.
Die huwelik en die gesin
16. In watter opsigte kan ons toon dat ons die huwelik en die gesinslewe as heilige dinge beskou?
16 Wanneer ons ’n lys van heilige dinge maak, moet ons nie vergeet om die huwelik en die gesin in te sluit nie. Nie-Christene trou weliswaar ook, maar Christene beskou die huwelik as heilig, wat met hulle aanbidding van Jehovah verband hou. (Vergelyk 1 Petrus 3:1-7.) Hoe toon hulle respek vir hierdie heilige ding? Die Bybel sê in Hebreërs 13:4: “Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees en die bed onbesmet; want God sal hoereerders en egbrekers oordeel.” Jesus het gewaarsku dat wanneer iemand na ’n vrou bly kyk om hartstog vir haar te hê dit op egbreuk in die hart neerkom (Mattheüs 5:27, 28). As jy besluit om te trou, moet jy dit op eerbare wyse doen. Moet dan nooit jou huwelik as vanselfsprekend aanneem nie. Bou elke dag opregte liefde en diep respek op. As julle kinders het, ‘moet hulle in die tug en vermaning van Jehovah opgevoed word’. Sodoende sal julle gesin “heilig” wees.—Efesiërs 6:4; 1 Korinthiërs 7:14.
Jehovah se heilige gees en gebed
17. Waarom kan ons nie God se heilige gees as vanselfsprekend aanneem nie?
17 Ons het al Jehovah se voorsienings nodig, en een belangrike hulp van Jehovah is sy heilige gees (Johannes 14:26). Ons weet nie altyd op watter maniere Jehovah sy heilige gees ten behoewe van ons gebruik nie, maar een ding staan vas: Ons kan nie daarsonder klaarkom nie. Ons moet bid om heilige gees om ons te help om ware leerstellings te verstaan en beproewinge te verduur. Ons het dit nodig om ons die vrugte van die gees te help aankweek (Galasiërs 5:22). En ons word in Efesiërs 4:30 gewaarsku dat ons nie die heilige gees moet “bedroef” en by dinge betrokke moet raak wat die vloei daarvan na ons kan verhinder nie. Mag ons altyd Jehovah se heilige gees waardeer.
18. Waarom is gebed ’n heilige voorreg?
18 Die laaste heilige ding wat ons sal bespreek, gebed, is beslis nie van die minste belang nie. Wat ’n voorreg het ons tog om met die Soewerein van die heelal, Jehovah, te kommunikeer! Ons moet hom natuurlik altyd respekvol, eerbiedig, nooit ligtelik nie, nader. Ons kan seker wees dat hy sal luister na ons gebede wat in ooreenstemming met sy wil gedoen word en dit sal verhoor. “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God” (Filippense 4:6). Gebed sal ons help om heilige dinge voortdurend te waardeer.
19. Watter seëninge ontvang diegene wat heilige dinge behoorlik waardeer?
19 Ons het net 13 heilige dinge bespreek wat ons nooit as vanselfsprekend moet aanneem nie. Ons kan nog baie ander meld. As ons sulke dinge waardeer, sal ons ’n goeie verhouding met ons God Jehovah behou en sy daaglikse seën geniet. Dit verskaf inderdaad gemoedsrus, asook ’n goeie gewete! Moet nooit daardie kosbare verhouding as vanselfsprekend aanneem nie! Jy moet Jehovah met jou hele hart, verstand, siel en krag liefhê, en hy sal jou altyd liefhê (1 Johannes 4:16). Niks kan daardie liefdeband verbreek behalwe jou eie ontrouheid nie.—Romeine 8:38, 39.
20. Hoe kan ons met welslae op die pad na die lewe in Jehovah se nuwe wêreld wandel?
20 Laat ons ook besig bly in Koninkryksdiens, goed na alle voorregte omsien en alle geestelike voorsienings waardeer. Mag ons, met harte immer vol waardering, gereed wees om al Jehovah se heilige wette en herinneringe te gehoorsaam, in die besef dat hulle gegee is om ons veilig op die pad na die lewe te lei. En namate ons op daardie smal pad na die lewe bly wandel, sal Jehovah ons waarskynlik nie net lewend deur die groot verdrukking bewaar nie, maar ons ook die ewige lewe met eindelose seëninge in sy nuwe wêreld gee, wat nou so uiters naby is. Dit alles omdat ons heilige dinge waardeer het.
Watter antwoord sou jy gee?
◻ Wat kan ons doen om te voorkom dat ons Jehovah se naam en die losprysoffer as vanselfsprekend aanneem?
◻ Wat kan verraai dat ons nie ons verhouding met Jehovah en sy organisasie waardeer nie?
◻ Wat is party dinge wat toon dat ons God se Woord en wette en die Koninkrykshoop waardeer?
◻ Hoe kan ons toon dat ons nie Christelike vergaderinge en teokratiese voorregte as vanselfsprekend aanneem nie?
◻ Wat is party bykomende heilige dinge waarvoor ons ’n innige waardering moet aankweek?