Jesus se lewe en bediening
Die Fariseërs se koppige ongeloof
DIE ouers van die eens blinde bedelaar is bang wanneer hulle voor die Fariseërs verskyn. Hulle is bewus van die besluit om enigiemand wat geloof in Jesus uitspreek uit die sinagoge te ban. Sulke afsnyding van omgang met ander in die gemeenskap kan die lewe geweldig moeilik maak, veral vir ’n behoeftige gesin. Die ouers is dus versigtig.
“Is dit julle seun van wie julle sê dat hy blind gebore is?” vra die Fariseërs. “Hoe sien hy dan nou?”
“Ons weet dat hy ons seun is en dat hy blind gebore is”, antwoord die ouers bevestigend. “Maar hoe hy nou sien, weet ons nie; of wie sy oë geopen het, weet ons nie.” Hulle seun het hulle ongetwyfeld alles vertel wat gebeur het, maar die ouers sê oordeelkundig: “Hy is self oud genoeg, vra hom; hy sal vir homself praat.”
Daarom roep die Fariseërs die man weer. Hierdie keer probeer hulle hom bang maak deur te kenne te gee dat hulle beswarende getuienis teen Jesus ingewin het. “Gee aan God die eer”, eis hulle. “Ons weet dat hierdie man ’n sondaar is.”
Die man wat voorheen blind was, ontken nie hulle aantyging nie en sê: “Of Hy ’n sondaar is, weet ek nie.” Maar hy voeg by: “Een ding weet ek: dat ek blind was en nou sien.”
Die Fariseërs probeer ’n swak plek in sy getuienis vind en vra weer: “Wat het Hy vir jou gedoen? Hoe het Hy jou oë geopen?”
“Ek het julle dit alreeds gesê”, kla die man, “en julle het nie geluister nie. Waarom wil julle dit weer hoor?” Sarkasties vra hy: “Julle wil tog nie ook sy dissipels word nie?”
Hierdie antwoord maak die Fariseërs woedend. “Jy is ’n dissipel van daardie man”, skel hulle, “maar ons is dissipels van Moses. Ons weet dat God met Moses gespreek het; maar wat Hom betref, ons weet nie van waar Hy is nie.”
Die nederige bedelaar antwoord verbaas: “Hierin is tog iets wonderliks dat julle nie weet van waar Hy is nie, en Hy het my oë geopen!” Watter gevolgtrekking moet hieroor gemaak word? Die bedelaar vestig die aandag op die erkende opvatting: “Ons weet dat God nie sondaars verhoor nie; maar as iemand godvresend is en sy wil doen, dié verhoor Hy. Van ouds af is dit nie gehoor dat iemand die oë van ’n blindgebore mens geopen het nie.” Die gevolgtrekking moet dus ooglopend wees: “As Hy nie van God was nie, sou Hy niks kan doen nie.”
Die Fariseërs het nie ’n antwoord op sulke eenvoudige, duidelike logika nie. Hulle kan die waarheid nie onder die oë sien nie, en daarom skel hulle die man uit: “Jy is heeltemal in sondes gebore, en leer jy ons?” Daarop gooi hulle die man uit, wat blykbaar beteken dat hulle hom uit die sinagoge ban.
Wanneer Jesus hoor wat hulle gedoen het, vind hy die man en sê: “Glo jy in die Seun van God?”
“Wie is Hy, Here”, antwoord die eens blinde bedelaar, “dat ek in Hom kan glo?”
“Hy wat met jou spreek, dit is Hy”, antwoord Jesus.
Die man buig onmiddellik voor Jesus en sê: “Ek glo, Here!”
Dan verduidelik Jesus: “Tot ’n oordeel het Ek in hierdie wêreld gekom, sodat die wat nie sien nie, mag sien, en die wat sien, blind mag word.”
Daarop vra Fariseërs wat na hom luister: “Is ons dan ook blind?” As hulle sou erken dat hulle verstandelik blind is, sou daar ’n verskoning vir hulle teenkanting teen Jesus wees. Soos Jesus vir hulle sê: “As julle blind was, sou julle geen sonde hê nie.” Maar hulle hou hardhartig vol dat hulle nie blind is en geen geestelike verligting nodig het nie. Daarom sê Jesus: “Nou sê julle: Ons sien! Daarom bly julle sonde.” Johannes 9:19-41.
◆ Waarom is die ouers van die eens blinde bedelaar bang wanneer hulle voor die Fariseërs verskyn, en hoe antwoord hulle dus versigtig?
◆ Hoe probeer die Fariseërs om die man wat eens blind was, bang te maak?
◆ Watter logiese redenasie van die man maak die Fariseërs woedend?
◆ Waarom is die Fariseërs se teenkanting teen Jesus onverskoonbaar?