Die aarde se rooskleurige toekoms onder God se Koninkryk
DIE Bybel sê dat “geloof . . . ’n vaste vertroue [is] op die dinge wat ons hoop” (Hebreërs 11:1). Soos ons in die vorige artikel gesien het, het God meer as 500 jaar voor die geboorte van Christus ’n profetiese toekomsblik op die opkoms en ondergang van wêreldmoondhede sedert Daniël se dag tot in ons eie in die boek Daniël laat opteken. Die akkuraatheid van hierdie profesieë verseker ons en gee ons kragtige rede om te glo dat die res van Daniël se profesieë ook vervul sal word en dat God se Koninkryk onder Christus Jesus menseregerings binnekort sal vervang.
Wat ’n verandering sal dit tog vir die mens beteken! God self sien uit na daardie tyd en sê: “Kyk, Ek maak alles nuut” (Openbaring 21:5). ’n Oorsig oor sommige van die geïnspireerde profesieë wat daardie vreugdevolle tyd beskrywe, sal ons help om te sien hoe “nuut” dinge presies sal wees, hoe heeltemal anders as wat ons vandag onder menseheerskappy sien. Trouens, wat die Bybel oor die toekoms van ons aarde en die lewe daarop sê, is niks minder as verstommend nie. Byvoorbeeld:
Misdadigheid en geweld sal tot ’n einde kom. “Want die kwaaddoeners sal uitgeroei word; . . . die goddelose sal daar nie wees nie.” Die wat dan lewe, “sal . . . elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom [sit], sonder dat iemand hulle verskrik; want die mond van die HERE van die leërskare het dit gespreek”.—Psalm 37:9, 10; Miga 4:4.
Rasse- en nasionale verdeeldhede en die oorloë wat daardeur ontketen word, sal nooit weer kop uitsteek nie. “Nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.”—Jesaja 2:4.
Woningtekorte, haweloosheid en werkloosheid sal alles tot die verlede behoort. Jesaja het voorspel: “Hulle sal huise bou en bewoon, en wingerde plant en die vrug daarvan eet . . . en my uitverkorenes sal die werk van hulle hande self geniet.”—Jesaja 65:21, 22.
Afgryslike hongersnode, soos die wat dele van Afrika onlangs geteister het, sal vervang word deur ’n oorvloed van kos vir almal. “Daar [sal] volheid van koring wees in die land, op die top van die berge.” “Die aarde het sy opbrings gelewer; God, onse God, sal ons seën.”—Psalm 72:16; 67:7, 8.
Bowendien sal daar gesondheid en lewe wees om hierdie seëninge te kan geniet. Selfs tydens Jesus se aardse bediening is daar waarheidsgetrou gesê: “Blindes sien weer, kreupeles loop, melaatses word gereinig, [en] dowes hoor.” Maar ’n veel groter belofte sal geld: “God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.”—Lukas 7:22; Openbaring 21:4.
Wat ’n wonderlike verandering! Wat ’n verligting sal dit tog vir die geteisterde mensdom bring! Ons spoor jou aan om jou nou reeds aan God se Koninkryk te onderwerp sodat jy ook die voordele kan geniet wat uit hierdie epogmakende verandering in wêreldheerskappy sal spruit.
[Prent op bladsy 7]
Mense wat nou lewe, kan na wonderlike seëninge uitsien—die einde van oorlog, misdadigheid, armoede, siekte en selfs die dood. Sal jy so ’n toekoms geniet?