’n Verandering in wêreldheerskappy
ONDER watter soort regering sal jy wil leef as jy kon kies? Die meeste van ons sal waarskynlik ’n stabiele regering kies wat ’n redelike mate van persoonlike vryheid toelaat. Ons sal ’n regering wil hê wat misdaad kan beheer, vrede kan bevorder, maatskaplike geregtigheid in die hand kan werk en materiële vooruitgang tot stand kan bring. Ons sal beslis ’n regering verkies wat nie verdrukkend of korrup is nie.
Ongelukkig het die meeste regerings in hierdie opsigte gefaal. Wat sien ons wanneer ons die wêreld beskou soos dit in die laaste helfte van hierdie 20ste eeu is? Armoede, korrupsie, onbevoegdheid, verdrukking, maatskaplike ongeregtigheid, misdaad en internasionale spanning. Dit is die eindresultaat van duisende jare van menseheerskappy.
Daar was weliswaar al individuele heersers wat regverdig en bekwaam was. En sommige regeringstelsels was ’n tyd lank betreklik stabiel en doeltreffend. Maar die onvermoë van menseheerskappy in sy geheel om te doen wat ons instinktief aanvoel dit vir die mensdom behoort te doen, staaf die waarheid van die Bybel se verklaring: “Die mens kan nie self sy pad kies nie, niemand kan self sy koers bepaal nie” (Jeremia 10:23, NAV). Met ander woorde, die mens is nie gemaak om homself te regeer sonder eksterne hulp nie.
Daarom is dit goed om te weet dat wêreldheerskappy aan die verander is. Wat bedoel ons hiermee? Ons bedoel dat die algemene beheer wat oor mense se lewens uitgeoefen word binnekort in die hande van ’n heeltemal nuwe regeringsvorm gaan wees, wat geheel en al suksesvol sal wees. Hierdie ingrypende regeringsverandering is deur God voorspel. Trouens, dit is die tema van die Bybel.
God se besorgdheid oor heerskappy
God was nog altyd besorg oor die bestuur oor die mensdom. Hy let noukeurig op in watter mate menseregerings hulle verantwoordelikheid nakom, en soms eis hy rekenskap van hulle. Trouens, die geskiedenis van sommige van die vernaamste regeringstelsels van die afgelope 2 500 jaar is in die Bybel voorspel. In die boek Daniël, wat meer as 500 jaar voor die geboorte van Christus geskryf is, is profesieë opgeteken wat die onder-_ gang van eertydse Babilon, sowel as die opkoms en ondergang van Medo-Persië, Griekeland en Rome voorspel het. Die profesieë het selfs die ontstaan van die Anglo-Amerikaanse wêreldmoondheid van ons dag voorspel. ’n Kort oorsig oor sommige van hierdie profesieë sal ons help om te verstaan wat bedoel word met die verklaring dat wêreldheerskappy aan die verander is.
Die eerste van hierdie verbasende profesieë was ’n geïnspireerde droom waarin die politieke wêreldmoondhede sedert Daniël se dag tot in ons tyd deur ’n ontsaglike beeld voorgestel is. Toe het ’n klip wat uitgekap is, maar nie deur hande nie, hierdie beeld getref en verpletter. Die klip het hierdie wêreldmoondhede tot stof vermaal, “soos kaf . . . van die dorsvloere in die somer, wat die wind wegneem, sodat daar geen spoor van gevind is nie”.—Daniël 2:31-43.
Dieselfde hoofstuk in Daniël verduidelik wat dit beteken. Dit toon dat mislukkende menseregerings deur iets oneindig beters vervang sou word. Dit sê vir ons: “In die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie [menslike] koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan . . . en die droom is waar en sy uitlegging betroubaar.”—Daniël 2:44, 45.
Maar dit was nie die einde van die saak nie. In ’n tweede visioen is die opeenvolgende wêreldmoondhede voorgestel deur groot diere met die kenmerke van die afgebeelde moondheid. Daniël is toe toegelaat om reg tot by die ontsagwekkende hemelse troon van “die Oue van dae” te sien, en hy is iets getoon wat nie in sy dag nie, maar gedurende die bewind van die Anglo-Amerikaanse wêreldmoondheid van ons tyd sou gebeur. Hy het gesien hoe Jehovah se majestueuse hemelse hof regspreek oor hierdie wêreldmoondhede (Daniël 7:2-12). Soos die volgende verse toon, is die raadsbesluit vir ’n verandering in heerskappy uitgevaardig. Aan wie sou hierdie heerskappy gegee word?
Een soos die Seun van ’n mens
Daniël gee die opwindende antwoord:
“Ek het gesien in die naggesigte, en kyk, met die wolke van die hemel het Een gekom soos die Seun van ’n mens, en Hy het gekom tot by die Oue van dae, en hulle het Hom nader gebring voor Hom. En aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; sy heerskappy is ’n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie.”—Daniël 7:13, 14.
So is Daniël gebruik om te voorspel dat “die Oue van dae”, Jehovah God self, ontslae sal raak van verdrukkende menseregerings wat sleg regeer. Hy sal dit vervang deur heerskappy van ’n regering wat baie beter is as wat die mensdom hom ooit kan voorstel—’n onsigbare Koninkryk wat mag en gesag vanuit die hemel uitoefen. Maar wie is hierdie ‘een soos die Seun van ’n mens’ wat die Koninkryk sal ontvang?
Ons word nie in twyfel gelaat nie. Jesus het homself as “die Seun van die mens” geïdentifiseer. Hy het sy teenwoordigheid beskryf as die tyd wanneer “die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom” (Mattheüs 25:31). Toe die Joodse hoëpriester geëis het dat Jesus vir die hof moes sê of hy “die Christus, die Seun van God” is, het Jesus geantwoord: “U het dit gesê. Maar Ek sê vir u almal: Van nou af sal u die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van die krag van God en kom op die wolke van die hemel.”a—Mattheüs 26:63, 64.
Die laaste mensewêreldmoondheid
Sowat 600 jaar na Daniël se tyd het die apostel Johannes die Bybelboek Openbaring onder goddelike inspirasie geskryf. Daardie boek praat van hierdie wêreldmoondhede as magtige “konings” en sê: “En hulle is sewe konings: vyf het geval en een is; die ander een het nog nie gekom nie; en wanneer hy kom, moet hy ’n kort tydjie bly.”—Openbaring 17:10.
Die vyf wat ten tye van Johannes se skrywe reeds geval het, was Egipte, Assirië, Babilon, Medo-Persië en Griekeland. Die Romeinse Ryk ‘was’ nog. Die sewende, die Anglo-Amerikaanse wêreldmoondheid van ons tyd, het uiteraard nog nie gekom nie. Volgens Openbaring sal geen wêreldmoondheid die leisels by die sewende—die een wat vandag bestaan—oorneem nie. Dit is die laaste. Daar sal geen ander wees nie.
Maar dit moet nie ’n skrikwekkende gedagte wees nie—dit is ’n opwindende een! Dit beteken dat die einde van onregverdige, strydende menseheerskappy naby is. Die profesieë verenig in die bekendmaking van ’n belangrike verandering in die manier waarop die aarde geregeer word—’n verandering van selfsugtige menseheerskappy tot ’n regverdige, hemelse regering, God se Koninkryk.
Die Koninkryksregering
Maar wat is daardie Koninkryk? Dit is veel meer as ’n blote invloed ten goede in mense se harte en lewens. Dit is ook veel meer as die bestaan van die sogenaamde Christelike kerk. God se Koninkryk is ’n werklike regering. Dit het ’n koning, medeheersers, ’n gebied en onderdane. En dit sal die wonderlike seëninge voortbring wat vroeër gemeld is.
Jesus word as Koning van die Koninkryk geïdentifiseer. Hy het homself vergelyk met ’n man van adellike afkoms wat “na ’n ver land gereis [het] om vir homself ’n koningskap te ontvang en dan terug te kom”. Aangaande daardie toekomstige tyd het hy gesê: “Wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit.”—Lukas 19:12; Mattheüs 25:31.
Wanneer sou “die Seun van die mens” kom? Ons hoef nie oor die antwoord te gis nie. Hierdie woorde van Jesus maak deel uit van sy antwoord op die vraag: “Wat sal die teken wees van u teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge?” (Mattheüs 24:3, 30, NW). Soos die kolomme van hierdie tydskrif al dikwels getoon het, het daardie “teenwoordigheid” aan die einde van “die tye van die nasies” in 1914 onsigbaar in die hemele begin.b—Lukas 21:24.
Net soos Openbaring hoofstuk 12 voorspel het, het Jesus toe sy mag aangeneem en Satan uit die hemel na die omgewing van die aarde neergewerp. ’n Stem in die hemel het uitgeroep: “Nou het die heil en die krag en die koningskap die eiendom van onse God geword, en die mag van sy Christus, want die aanklaer van ons broeders is neergewerp.” Dit verklaar waarom wêreldtoestande sedertdien voortdurend versleg. Die stem in die hemel het dus vervolg: “Wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het.”—Openbaring 12:9-12.
Daardie min tyd sal binnekort verstryk. ’n Paar hoofstukke verder word die verheerlikte Jesus op ’n wit perd gesien. Hy word “Die Woord van God” genoem, en hy sal “die nasies . . . slaan” en “hulle met ’n ysterstaf regeer”—net soos Daniël getoon het dat die nasies vergruis sou word deur God se klipagtige Koninkryk, wat sou groei om die hele aarde te vul.—Openbaring 19:11-16; Daniël 2:34, 35, 44, 45.
Nooit weer sal menslike politieke magte wat soos diere optree die mensdom verdruk nie!
Medeheersers
Maar dit is nie al nie. Daniël het onder inspirasie gesê dat die Koninkryk nie net aan ‘Een soos die Seun van ’n mens’ gegee sou word nie, maar ook “aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste”.—Daniël 7:27.
Wie is hulle? Openbaring sê van die Lam, Christus Jesus: “[U het] mense vir God losgekoop . . . uit elke stam en taal en volk en nasie. U het hulle ’n koninkryk en priesters vir ons God gemaak, en hulle sal oor die aarde regeer.” Dit sê voorts dat hulle “priesters van God en van Christus [sal] wees en . . . saam met Hom as konings [sal] regeer duisend jaar lank”. Hulle getal word as 144 000 aangegee.—Openbaring 5:9, 10, NAV; 14:1; 20:6.
Dit is hulle wat deur die allerhoogste God gekies word om saam met sy Seun Jesus Christus in die wêreldregering te heers. Kan ons toekoms in veiliger hande wees as die wat God kies? Nee, hierdie Koninkryk sal die beste regering wees wat daar kan wees—baie beter as enigiets wat die mens ooit geken het. Onder die heerskappy daarvan sal die aarde omgeskep word tot die Paradys wat God se oorspronklike voorneme was.
Lees die volgende artikel, en kyk of dit die soort regering is waaronder jy sal kies om te leef.
[Voetnote]
a Die New Catholic Encyclopedia sê aangaande Daniël se visioen: “Daar bestaan min twyfel dat Daniël hier van ’n gebeurtenis praat wat van ewige belang aan die einde van die tyd is.” Dit voeg by: “Jesus se verklaring voor die Sanhedrin gee ons onweerlegbare bewys van Sy identifisering met die Seun van die mens en dui duidelik op Sy koms met mag.”
b Kyk Die Wagtoring van 15 Julie 1982 sowel as die Engelse nommer van 1 April 1984.
[Venster op bladsy 4]
“Die sentrale tema van Jesus se lering”
“Die tema van die koninkryk van God beklee ’n sentrale plek in Jesus se prediking.”—New Catholic Encyclopedia.
“[Die Koninkryk van God] word algemeen as die sentrale tema van Jesus se lering beskou.”—Encyclopwdia Britannica.
Maar wanneer laas het jy gehoor dat daardie “sentrale tema van Jesus se lering” in ’n kerk bespreek word?
[Venster op bladsy 5]
Verwarring oor die Koninkryk van God
Sommige mense dink dat die “Kerk op aarde” die Koninkryk van God is, terwyl ander glo dat die teenswoordige wêreld “onder Christelike invloed sal ontwikkel totdat dit die Koninkryk word”. Nog ander sê dat die Koninkryk van God die “bewind van God in die hart en lewe van die individu” is.
Maar is dit al wat God se Koninkryk behels—’n godsdiensstelsel, geleidelike politieke verandering of die een of ander geestelike toestand in mense se harte?