Wie kan jy in ons angsvolle tye werklik vertrou?
“Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie.”—PSALM 146:3.
1. Wat is ’n kenmerk van ons tyd, en op watter behoefte dui dit?
TOE ons as kinders bang was, het ons vir troos en beskerming na ons sorgsame ouers gegaan omdat ons hulle vertrou het. As volwassenes het ons ook mense nodig wat ons kan vertrou. Dit is veral deesdae die geval wanneer soveel skrikwekkende dinge gebeur. Waar dit oor ons tye kommentaar gelewer het, het ’n Duitse koerant gesê: “Die wêreld is meer as ooit tevore met vrees vervul.” Staatsliede, joernaliste en ander het herhaaldelik hulle vrese uitgespreek oor die ernstige probleme waarmee die mensdom nou te kampe het.
2. Hoe is die vrees en gebrek aan vertroue vir hierdie geslag voorspel?
2 Sulke verklarings weerspieël wat Jesus Christus oor ons dag voorspel het toe hy gesê het dat dit gekenmerk sou word deur “benoudheid van nasies in hulle radeloosheid . . . [terwyl] mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom” (Lukas 21:25, 26). Die Bybel het voorspel dat daar in hierdie “laaste dae swaar tye sal kom” en dat mense ‘liefhebbers van hulleself, ontrou, lasteraars en verraaiers’ sou wees. Hierdie woorde toon dat ’n ernstige gebrek aan vertroue een kenmerk van ons tyd sou wees.—2 Timotheüs 3:1-4, vgl. NW.
’n Afname in vertroue
3. Watter bewys is daar dat vertroue in ons tyd afneem?
3 In hierdie angsvolle tye het ons ’n groot behoefte aan ander wat ons kan vertrou, diegene wat lojaal, ’n hulp in tye van nood sal wees. Maar talle meen dat hulle in die steek gelaat is deur diegene op wie hulle vertrou het. ’n Koerant in een land het gesê: “Mense vertrou die meeste openbare instellings nie.” Politieke en sakeleiers word die minste vertrou. Wantroue het ook in die gesin toegeneem, soos blyk uit hoë egskeidingsyfers. In party lande is daar een egskeiding vir elke drie huwelike of selfs een vir elke twee. In een land eindig 70 persent van alle nuwe huwelike binne tien jaar in ’n egskeiding! Vertroue word dus al hoe skaarser. Wantroue neem die plek daarvan in. Die kommentaar van een persoon is nie meer buitengewoon nie. Hy het gesê: “Ek vertrou niemand meer nie.”
4. Hoe word talle jongmense deur vrees geraak?
4 Daar is soveel wantroue omdat dit die angsvolste tyd in die ganse mensegeskiedenis is. Hierdie eeu het twee wêreldoorloë en talle ander oorloë wat meer as honderdmiljoen lewens geëis het, gesien. Nou kan kernwapens alle lewe op die aarde uitwis. En dit raak die vertroue van selfs jong kinders. ’n Mediese tydskrif het berig: “Al hoe meer kinders, selfs kleuters, word met vrees vervul deur die bedreiging van ’n kernslagting.” ’n Kanadese koerant het gesê dat daar nou “’n sinisme, hartseer, bitterheid en gevoel van hulpeloosheid” in baie jongmense is. Een jeugdige het gesê: “Dit voel eenvoudig nie vir ons of ons deur die volwassenebevolking beskerm word nie. Ons sal dalk eendag die siniesste geslag van almal wees.”
5. Hoe sou die onskuldigste en hulpeloosste groep jonges dalk voel as hulle kon praat?
5 En wat sou ’n ander groep jonges sê oor ’n gebrek aan beskerming deur volwassenes—indien hulle kon praat? Ons praat van die wat deur aborsies gedood word voordat hulle gebore word. Volgens een raming is daar elke jaar sowat 55 miljoen aborsies wêreldwyd. Watter verraad is dit tog nie teenoor die onskuldigste en hulpeloosste deel van die mensdom nie!
6. Hoe het misdadigheid groter wantroue in ons tyd veroorsaak?
6 Wantroue het toegeneem vanweë nog ’n groeiende vrees in ons dag: die vrees om ’n slagoffer van misdadigheid te word. Baie doen nou iets soortgelyks as die vrou wat gesê het dat sy met ’n rewolwer onder haar kussing slaap. ’n Ander vreesbevange vrou het gesê: “Ek verpes dit. . . . My ouma het nooit haar deure gesluit nie.” ’n Hoofartikel in ’n koerant in Porto Rico het gevolglik gesê: “Dit is ons wat opgesluit is”, ja, agter slot en grendel in ons eie huis. Daardie vrese is deeglik gegrond. In die Verenigde State sal een vrou uit drie waarskynlik in haar lewe aangerand word. Die geneesheergeneraal aldaar het gesê dat “sowat viermiljoen Amerikaners elke jaar die slagoffers van ernstige geweld is—moord, verkragting, vroueslanery, kindermishandeling, straatroof”. Sulke misdade is algemeen in baie lande en ondermyn die vertroue wat mense in ander het net verder.
7. Hoe dra swak ekonomiese toestande tot wantroue by?
7 In ontwikkelingslande leef die meeste mense in armoede. Min vertrou enigiemand om hulle daarvan te verlos. Die president van een sodanige land het gesê dat 270 uit elke 1 000 babas wat in een provinsie gebore word, sterf voordat hulle een jaar oud is. Net een uit elke 100 huise het water. ’n Ander land se regering sê dat 60 persent van sy kinders behoeftig is en dat sewemiljoen verstote kinders “as ongeletterde, vervreemde en onbruikbare verworpelinge grootword”. In die Verenigde State is daar na raming 500 000 hawelose jeugdiges, maar party sê dat die werklike syfer baie hoër is. Hoeveel vertroue kan sulke jongmense in hulle ouers, in die samelewing, in wet en orde of in die beloftes van leiers hê?
8. (a) Hoe word die stabiliteit van ryk nasies en die wêreldekonomie bedreig? (b) In watter mate kan kenners vertrou word om ekonomiese probleme op te los?
8 Ekonomiese probleme teister selfs ryk nasies. Die Verenigde State het onlangs die grootste getal bankmislukkings sedert die Groot Depressie van die dertigerjare gehad. ’n Ekonoom het geskryf: “Die eindgevolg is ’n bankwese wat vandag gewis net so broos is as wat dit in die twintigerjare was”, net voordat dit ineengestort het. ’n Waarnemer het gepraat van “’n potensieel vernietigende storm wat naderkom” in die wêreldekonomie. ’n Ander het gesê: “Die gevoel van dringendheid ontstaan omdat hierdie spanning in die internasionale stelsel nie langer opdoem nie; dit is hier.” Kan ekonome vertrou word om die nasies uit hierdie moeilikheid uit te lei? Een van hulle het gesê dat hulle voorspellingsreputasie “so skokkend is dat dit geen twyfel ly dat hulle meestal verwarring skep nie”.
Misplaaste optimisme
9. (a) Wat het van die optimisme geword wat aan die begin van die eeu geheers het? (b) Waarom sou Jehovah se Getuies nie in 1945 ’n dokument van die Verenigde Volke wou onderteken nie?
9 Hoe verskil dit tog nie van die optimisme wat daar geheers het toe die wêreld die 20ste eeu binnegegaan het nie. Daar was dekades van betreklike vrede, en daar is gemeen dat vrede en voorspoed nuwe hoogtes sou bereik. Maar in 1914 het die Eerste Wêreldoorlog daardie vooruitsig verpletter. In 1945, na ’n verskrikliker Tweede Wêreldoorlog, is die handves van die Verenigde Volke geteken. Die nasies het hulle gesig van ’n naoorlogse wêreld van vrede, voorspoed en geregtigheid op skrif gestel. ’n Onlangse verslag het gesê: “Die finale dokument is geteken deur 51 lande, wat elke vasteland, ras en godsdiens verteenwoordig het.” Daar was nietemin een godsdiens wat nie verteenwoordig is nie en ook nie verteenwoordig wou wees nie, Jehovah se Getuies. Hulle het geweet dat daardie beloftes van vrede, voorspoed en geregtigheid nie deur enige nasie van hierdie wêreld of deur enige bond van nasies, soos die Verenigde Volke, verwesenlik sou word nie.
10. Wat is die werklikheid vandag in vergelyking met die droom van die Verenigde Volke destyds in 1945?
10 Dieselfde verslag sê: ‘Veertig jaar later lyk dit gepas om die werklikhede met die ideale te vergelyk. Die getuienis is ontnugterend. ’n Onregverdiger, onveiliger wêreld en toenemende gewelddadigheid is die werklikhede. Die aantal mense wat nie voedsel, water, huisvesting, gesondheidsorg en onderwys het nie, neem voortdurend toe. Dit was nie deel van die droom van 1945 nie.’ Dit voeg by: ‘Veertig jaar nadat die nasies saamgespan het om te verseker dat alle mense sonder vrees en gebrek kon lewe, is die wesenlike wêreld van die tagtigerjare een van verpletterende armoede vir ten minste ’n kwart van die mensdom. Daar is elke dag gemiddeld 50 000 sterfgevalle wat met honger verband hou.’ Die nasies bestee nietemin meer as tweehonderdmiljoen rand per uur aan oorlog!
11. Hoe betroubaar is mensebeloftes van ’n beter wêreld?
11 Kan ons, in die lig van hierdie droewige reputasie na eeue vol geleenthede, mensebeloftes vertrou om hierdie probleme op te los? Sulke beloftes is omtrent net so betroubaar soos die woorde van die kaptein van ’n groot lynboot wat gesê het: “Ek kan my geen toestand voorstel wat ’n [groot] skip kan laat sink nie. . . . Hedendaagse skeepsbou het al verder gevorder.” ’n Bemanningslid van daardie vaartuig het vir ’n passasier gesê: “God self kan nie hierdie skip laat sink nie.” Tog het daardie skip, die Titanic, in 1912 gesink en het 1 500 mense die lewe gelaat. In 1931 het die Vereniging vir Nasionale Onderwys in die Verenigde State gesê dat “misdadigheid voor 1950 feitlik uitgewis sal wees” danksy onderwys. In 1936 het ’n Britse joernalis geskryf dat “voedsel, klere en huisvesting [teen 1960] so min soos lug sal kos”. Stem jy nie saam dat vandag se werklikhede daardie beloftes vals bewys nie?
Die een wat volkome vertrou kan word
12. Wie kan ons volkome vertrou, en watter gids het hy vir ons gegee?
12 Ons het gevolglik ’n bron wat ons kan vertrou broodnodig om ons deur hierdie angsvolle tye te help. Daardie bron kan nie menslik wees nie. Die mensdom het homself sulke groot probleme op die hals gehaal dat hy hulle nie kan oplos nie. Die Bron wat volkome vertrou kan word, is die Skepper van die mens, Jehovah God. Hy weet waarom die wêreld in hierdie toestand verkeer, waarop dit afstuur en wat hy daaromtrent gaan doen. Hy het ook hierdie inligting geopenbaar in die boek wat hy ons vir ons leiding gegee het, die Bybel. Tweede Timotheüs 3:16, 17 (NAV), sê daarvan: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ’n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in die diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.”
13. Wat besef Jehovah se Getuies oor die Bybel?
13 Let op daardie uitdruklike verklarings. God se geïnspireerde Woord stel dinge reg. Dit sê vir ons wat reg is. Dit berei ons vir alles voor. Dit rus ons volkome vir goeie dinge toe. Baie mense aanvaar weliswaar nie die Bybel vir wat dit is nie—die Woord van God. Maar Jehovah se Getuies aanvaar dit wel as sodanig (1 Thessalonicense 2:13). Ons besef dat die Skepper van hierdie ontsagwekkende heelal met miljarde galaktiese stelsels en triljoene sterre beslis die vermoë het om die outeur van ’n boek te wees. Hy het ook die vermoë om toe te sien dat die akkuraatheid daarvan tot voordeel van waarheidsoekers bewaar word.—1 Petrus 1:25.
14. Hoe strook die Bybel met die werklikhede van vandag?
14 Wat sê God se Woord oor hierdie kwessie van vertroue in ons angsvolle tye? Die kommentaar daarvan strook volkome met die werklike toestande wat bestaan. Jeremia 10:23 sê akkuraat: “Ek weet, o HERE, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ’n man om te loop en sy voetstappe te rig nie.” En Psalm 146:3 maan tereg: “Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie.”
15. Watter raad gee die Bybel ons oor vertroue?
15 God se Woord waarsku ons om nie eens op onsself te vertrou nie, want mense is onvolmaak (Romeine 5:12). Jeremia 17:9 sê: “Bedrieglik is die hart bo alle dinge.” Daarom sê Spreuke 28:26: “Wie op sy eie hart vertrou, hy is ’n dwaas; maar hy wat in wysheid wandel, word gered.” Waar kan ons hierdie wysheid vind wat redding kan verskaf? Spreuke 9:10 antwoord: “Die beginsel van die wysheid is die vrees van die HERE, en kennis van die Heilige is verstand.” Ja, net die Skepper se wysheid kan ons deur hierdie angsvolle tye lei. Spreuke 3:5, 6 vermaan dus: “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou wee, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.”
God se beskouing van wêreldgodsdiens
16. Wat neem hierdie wêreld se godsdienste verkeerdelik aan, net soos die Fariseërs in Jesus se tyd?
16 Hierdie wysheid van God af sal ons in staat stel om die dodelike strik te vermy waarin hierdie wêreld se godsdienste getrap het. Hulle neem aan dat hulle regverdig is omdat hulle godsdienstig is. Hulle gesindheid kom sterk ooreen met die beskrywing in Lukas 18:9: “Hy [Jesus] het ook met die oog op sommige wat op hulleself vertrou dat hulle regverdig is . . . hierdie gelykenis vertel.” ’n Fariseër het God gedank dat hy nie ’n sondaar is nie, maar ’n tollenaar het bly smeek: “o God, wees my, sondaar, genadig!” Jesus het gesê: “Ek sê vir julle, hierdie laaste een [die sondaar] het geregverdig na sy huis gegaan eerder as die eerste een [die Fariseër]; want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en hy wat homself verneder, sal verhoog word.”—Lukas 18:10-14.
17. Hoe beskou God die godsdienspogings van diegene soos die Fariseërs?
17 Die Fariseër het hom nie voor God verneder nie. Hy het eerder gemeen dat hy volgens sy eie standaarde regverdig is. Maar dit is nie soos God die saak beskou het nie (Mattheüs 23:25-28). Dit was die nederige sondaar wat weerspieël het wat God se Woord in Jesaja 66:2 sê: “Op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord.” Die Joodse godsdiensleiers het nie vir God se Woord gebewe nie. Hulle het dit geïgnoreer. Hulle het gedoen wat hulle wou en dan gedink dat God hulle goedkeur. Jesus het egter vir hulle gesê: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele me, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!”—Mattheüs 7:21-23.
18. Hoe sal God godsdienste oordeel wat beweer dat hulle hom dien maar wat nie sy wette hou nie?
18 Daardie eerste-eeuse godsdiensleiers het God nie vertrou nie. Hulle het eerder oorleweringe, wat God se wette geskend het, vertrou (Mattheüs 15:3, 9). Jesus het gevolglik vir hulle gesê: “Julle huis word vir julle woes gelaat” (Mattheüs 23:38). As bewys dat God inderdaad hulle Joodse godsdiens verlaat het, is hulle, hulle nasionale hoofstad, Jerusalem, en hulle tempel in die jaar 70 van ons Gewone Jaartelling deur Romeinse leërs verwoes. Dit is vandag dieselfde. Hierdie wêreld se godsdienste het hulle eie standaarde van aanbidding gestel wat nie met God se standaarde ooreenkom nie. Hulle doen gevolglik nie sy wil nie, maar hulle eie. In God se oë word hulle dus beskou as persone wat die ongeregtigheid werk (Titus 1:16). As bewys dat God hierdie godsdienste verlaat het, sal hulle binnekort deur die nasies verwoes word, net soos Jerusalem met sy tempel in die eerste eeu deur Romeinse leërs verwoes is.—Kyk Openbaring, hoofstuk 17, 18.
19. Watter vrae kan oor godsdiens geopper word?
19 Is hierdie beoordeling van die wêreld se godsdienste te kras? Hoe kan ons seker wees dat God se oordele binnekort aan hulle voltrek sal word? Wat moet ’n godsdiens doen om God se goedkeuring te geniet? Is daar geskiedkundige presedente wat toon dat Jehovah diegene beskerm wat hulle opreg tot hom wend en hulle aan sy wette onderwerp? Die volgende artikel sal hierdie vrae bespreek.
Vrae ter hersiening
◻ Wat het tot wantroue in ons tyd bygedra?
◻ Waarom was hierdie wêreld se optimisme misplaas?
◻ Wie kan ons volkome vertrou, en watter gids het hy vir ons gegee?
◻ Waarom moet ons nie op onsself of ander mense vertrou nie?
◻ Hoe beskou God hierdie wêreld se godsdienste?
[Prent op bladsy 13]
Die Fariseër het aangeneem dat hy regverdig is, maar die sondige man het nederig om God se genade gesmeek
[Prent op bladsy 15]
God veroordeel godsdienste wat nie sy wil doen nie, net soos hy Judaïsme in die eerste eeu veroordeel het toe Romeinse leërs Jerusalem vernietig het