“’n Woord op sy tyd gespreek”
“Goue appels op versierde silwerborde, so is ’n woord op sy tyd gespreek”, sê Spreuke 25:11. Ons bedagsame woorde en weldade kan ’n regskape persoon se hart vriendelik aanhelp op die weg wat Jehovah se goedkeuring wegdra. Iets wat ons gesê of gedoen het, al is dit jare gelede, kan dalk steeds met toegeneentheid deur ’n ander onthou word. Toe ’n kringopsiener en sy vrou ’n gemeente besoek het, was hulle byvoorbeeld die gaste van ’n pasgedoopte suster. Die kringopsiener se vrou het ’n bedankingsbriefie gestuur uit waardering vir die gasvryheid wat betoon is. Meer as sewe jaar later het sy die volgende brief ontvang:
“Ek móés eenvoudig skryf en jou vertel van die hulp wat jy die afgelope jare vir my was sonder dat jy werklik daarvan bewus was. Jy en Jim het maar net middagete by my kom eet, en jy het ’n baie mooi bedankingskaartjie vir my gestuur. Dit was baie hartlik, maar dit was die teks wat my hart geroer het, en ek het dit nooit vergeet nie. Dit was in 1976. Ek was die enigste in my gesin wat werklik in die waarheid belang gestel het. Ek het met my dogters gestudeer en probeer om ’n goeie vrou te wees. Maar soms wou ek wegkom, wegkom van die waarheid, wegkom van die verantwoordelikhede—net wegkom. Maar daardie teks wat jy geskryf het, het elke keer my hart geroer, en ek het vir myself gesê: ‘Hoe selfsugtig van my’, en voortgegaan.
“In al daardie agt jaar was daar niks wat so ’n uitwerking op my gehad het nie, en ek wou jou daarvan vertel. Buiten die teks het ek gedink hoe gaaf dit was dat iemand wat so besig soos jy is die tyd afgestaan het om my te bedank vir iets wat ek behoort te doen.
“O, ja—die teks—2 Johannes 8.
“Sandra”
Vandag is Sandra se man gedoop en is hy saam met haar ’n verkondiger van die goeie nuus. Een van hulle twee dogters is ’n gewone pionier, en die ander dogter doen hulppionierdiens sedert sy onlangs haar hoërskoolopleiding voltooi het.
Laastelik, wat sê 2 Johannes 8? “Julle moet toesien dat julle nie verloor wat ons voor gewerk het nie, maar dat julle die volle loon ontvang” (NAV).