Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w87 12/1 bl. 16-20
  • Behou jou vrees vir Jehovah

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Behou jou vrees vir Jehovah
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ons optrede sal toon of ons God vrees
  • Hoe om diegene te identifiseer wat God waarlik vrees
  • Behou gepaste vrees vir God
  • Nakoming van Goddelike vereistes verheerlik Jehovah
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Bybelboek nommer 39—Maleagi
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Glanspunte uit die boek Maleagi
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Vrees vir God—Kan dit jou tot voordeel strek?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
w87 12/1 bl. 16-20

Behou jou vrees vir Jehovah

“‘Ek is ’n groot Koning’, het Jehovah van die leërskare gesê, ‘en my naam sal vreesinboesemend wees onder die nasies’.”—MALEAGI 1:14, NW.

1, 2. (a) Watter kragtige boodskap bevat die boek Maleagi? (b) Watter les voorsien die inleidende woorde van Jehovah se boodskap?

“’N UITSPRAAK: Die woord van Jehovah aangaande Israel deur middel van Maleagi” (Maleagi 1:1, NW). Hierdie kort, treffende verklaring lei die Bybelboek Maleagi in. In die Bybel is ’n uitspraak gewoonlik ’n veroordeling van goddeloosheid. Dit geld beslis vir die boek Maleagi met sy uitdruklike en kragtige boodskap aan die nasie Israel. Ons bespreking daarvan sal beklemtoon hoe nodig dit is dat ons ons vrees vir Jehovah en ons liefde vir hom behou.

2 Die eerste twee verse van die boek voorsien ’n les oor raadgewing. Jehovah verseker sy luisteraars van sy begeerte om hulle te help: “Ek het julle liefgehad, sê die HERE.” Wat ’n gerustellende, bemoedigende inleiding vir opregte lede van skuldige Israel. Die boodskap sê voorts: “Nogtans vra julle: Waarin het U ons liefgehad? Is Esau nie die broer van Jakob nie? spreek die HERE. Tog het Ek Jakob liefgehad, maar Esau het Ek gehaat en sy gebergte ’n wildernis gemaak en sy erfdeel aan die jakkalse van die woestyn prysgegee.”—Maleagi 1:2, 3.

3. Wat was die redes vir Jehovah se gevoel teenoor Jakob en Esau?

3 Waarom het Jehovah Jakob en, later, die afstammelinge van Jakob, die Israeliete, liefgehad? Dit was omdat Jakob godvresend was en sy godvresende ouers gerespekteer het. Esau was daarenteen ’n selfsugtige persoon wat God nie gevrees het nie. Hy het ook nie respek getoon vir sy ouers, wat die Godgegewe, natuurlike reg gehad het om gehoorsaamheid van hom te verwag nie. Jehovah het Jakob tereg liefgehad, maar Esau gehaat. Dit is vir ons ’n waarskuwing. Ons moet daarteen waak om ons vrees vir God te verloor en ’n materialis soos Esau te word, wat net sy vleeslike begeertes wou bevredig.—Genesis 26:34, 35; 27:41; Hebreërs 12:16.

4, 5. (a) Watter uitwerking het Jakob en Esau se handelwyse op hulle afstammelinge gehad? (b) Hoe moes dit die Israeliete geraak het?

4 Net soos Jakob se handelwyse vir sy afstammelinge, die Israeliete, ’n seën was, het Esau se handelwyse presies die teenoorgestelde vir sy afstammelinge, die Edomiete, beteken. Die Edomiete het nie Jehovah se seën geniet nie. Hulle het hulle eerder, deur hulle venynige teenstand teen sy verbondsvolk, Jehovah se haat op die hals gehaal. Hulle is deur Nebukadnesar se leërs en later deur die Arabiere oorrompel. Soos Jehovah voorspel het, het die Edomiete uiteindelik as ’n nasie verdwyn.—Obadja 18.

5 God se strafgerigte teen Edom het voor Maleagi se tyd begin. Hoe moes dit die Israeliete geraak het? Jehovah sê vir hulle: “En julle [eie] oë sal dit aanskou, en julle sal sê: Groot is [Jehovah] oor die gebied van Israel!” (Maleagi 1:5, vgl. NW). Deur die eeue heen het Israel met hulle “eie oë” die liefde gesien wat Jehovah vir hulle as ’n nasie gehad het.

Ons optrede sal toon of ons God vrees

6. Waarvan het Jehovah die Israeliete beskuldig?

6 Die uitspraak gaan voort: “’n Seun eer die vader, en ’n kneg sy heer. As ek dan ’n Vader is, waar is my eer? En as ek ’n Heer is, waar is die vrees vir My? sê die HERE van die leërskare aan julle, O priesters, wat my Naam verag!” (Maleagi 1:6; Exodus 4:22, 23; Deuteronomium 32:6). Jehovah het die Israeliete tereggewys, onderhou en beskerm, net soos ’n vader met sy seun sou doen. Hoe moes hulle dit beantwoord? Deur hom te eer en te vrees. Die nasie, met inbegrip van die priesters, het versuim om dit te doen en het Jehovah se naam eerder geminag en verag. Hulle het “afvallige seuns” geword.—Jeremia 3:14, 22, NW; Deuteronomium 32:18-20; Jesaja 1:2, 3.

7. Hoe het die Israeliete op hierdie beskuldiging gereageer, en wat het Jehovah hulle daarop geantwoord?

7 Die Israeliete het gevra: “Waardeur het ons u Naam verag?” Jehovah het kragtig geantwoord: “Julle bring spys wat verontreinig is, op my altaar, en dan vra julle: Waardeur het ons U verontreinig? Deurdat julle sê: Die tafel van die HERE is veragtelik. En as julle ’n blinde dier bring om te offer, is dit geen kwaad nie! En as julle ’n lam of ’n siek dier bring, is dit geen kwaad nie! Bring dit tog vir jou goewerneur! Sal hy ’n welgevalle aan jou hê of jou goedgesind wees? sê die HERE van die leërskare.”—Maleagi 1:6-8.

8. Wat het die Israeliete deur hulle optrede getoon?

8 ’n Mens kan jou voorstel hoe ’n Israeliet sy kudde bekyk het en op listige wyse ’n blinde of lam dier uitgekies het om aan Jehovah te offer. Sodoende kon hy vir die vorm ’n offer bring en tog selfsugtig die beste van die kudde vir homself hou. Hy sou so iets nie aan die goewerneur durf doen nie! Maar die Israeliete het dit aan Jehovah gedoen—asof hy nie hulle knoeiery en kullery kon sien nie. Jehovah het hulle tereg gevra: “Waar is die vrees vir My?” Hulle het moontlik gesê dat hulle Jehovah vrees, maar hulle optrede het die teendeel bewys.—Deuteronomium 15:21.

9. Hoe het die priesters gereageer op wat die mense gedoen het?

9 Hoe het die priesters op hierdie veragtelike offers gereageer? Hulle het gesê: “Dit [is] geen kwaad nie!” Hulle het die Israeliete se goddelose handelwyse vergoelik. Hoewel die ballinge wat van Babilon teruggekeer het dus ywerig begin het om ware aanbidding te herstel, het hulle later nalatig, trots en selfvoldaan geword. Hulle het hulle vrees vir Jehovah verloor. Gevolglik het hulle tempeldiens ’n bespotting geword, en hulle het die feeste op ’n vormlike manier gevier.—Maleagi 2:1-3; 3:8-10.

10. (a) Watter offer wil Jehovah vandag hê? (b) Hoe alleenlik kan ons offer Jehovah se goedkeuring wegdra?

10 Sommige opper dalk die beswaar: ‘Dit is nie op ons van toepassing nie; ons bring nie meer diereoffers nie.’ Maar ons moet ’n ander offer bring. Let op Paulus se dringende beroep: “Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer—[’n heilige diens met julle denkvermoë]” (Romeine 12:1, vgl. NW). Die offer wat Jehovah vandag wil hê, is jy! Dit wil sê, jou energie, bates en vermoëns. Ons offer sal sy goedkeuring wegdra alleenlik as dit ons beste is. As ons die oorskiet, soos ’n lam, siek offer, aan Jehovah bring, sal dit beslis ons verhouding met hom raak.

11. Watter noukeurige ondersoek moet elke toegewyde kneg van Jehovah doen?

11 Selfs al sê sommige in werklikheid: “Dit [is] geen kwaad nie!”, weet ons hoe Jehovah dit beskou. Laat ons derhalwe die “offer” van “heilige diens” wat ons bring, waaronder ons aandeel in die predikingswerk, persoonlike studie, gebed en vergaderingbywoning, noukeurig ondersoek. Is jy daarvan oortuig dat jy jou beste aan Jehovah offer, of is dit net oorskiet? Die gevaar bestaan dat ’n mens oor naweke so betrokke kan raak by vermaak of ontspanning dat jy nie die tyd of energie het om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig en vergaderinge by te woon nie. Ons hele lewenswyse, ons lewe van dag tot dag, met inbegrip van gesindhede en beweegredes, moet verband hou met die offer wat ons aan Jehovah bring. Laat dit niks minder as die beste wees nie!

Hoe om diegene te identifiseer wat God waarlik vrees

12. Watter raad word nou gegee?

12 Die profesie sê: “Smeek dan nou tog die aangesig van God, dat Hy ons genadig kan wees!” (Maleagi 1:9). Jehovah maan die Israeliete om te doen wat reg is, gepaste vrees vir God te toon en hom te gee wat hy verdien. Ons moet vandag dieselfde doen. Slegs deur aan Jehovah se vereistes te voldoen, kan ons sy guns verkry en behou.

13. (a) In watter slagyster kan ons trap as ons God nie vrees nie? (b) Hoe het hebsug die Israelitiese priesters beïnvloed?

13 Sonder gepaste vrees vir God kan ons ons diens aan hom bloot uit vormlikheid en vir selfsugtige gewin verrig. Let op hoe Jehovah die Israelitiese priesters oor hulle tempeldiens uitvra: “‘Wie is daar ook onder julle wat die deure sal sluit? En julle sal my altaar nie aansteek nie—nie vir niks nie. Ek het geen behae in julle nie’, het Jehovah van die leërskare gesê, ‘en in die offergeskenk van julle hand het ek geen behae nie.”’ (Maleagi 1:10, NW). O ja, die priesters het wel tempeldiens verrig, die deure van die heiligdom gesluit en die altare aangesteek. Maar hulle het dit nie vir niks gedoen nie. Hulle het aalmoese en omkoopgeld verwag van die Israeliete wat by die tempel kom offer het. Jehovah het destyds geen behae geskep in diens wat bloot vir selfsugtige gewin verrig word nie, en hy skep nou ook geen behae daarin nie. Dit is vir hom weersinwekkend.

14. Waarom is dit voortdurend nodig om teen hebsug te waak?

14 Dit is in ons dag nog net so nodig om teen selfsug en hebsug te waak. Die Skrif waarsku ons herhaaldelik teen hebsug en sê dat gierigaards nie Jehovah se goedkeuring wegdra nie (1 Korinthiërs 6:10; Efesiërs 5:5). Mag ons liefde en vrees vir Jehovah ons in die uitvoering van ons bediening daarvan weerhou om dit ooit vir selfsugtige gewin te doen. Ons moet enige sodanige neigings wat dalk in ons hart opkom sonder versuim met wortel en tak uitroei. Ouere manne en bedieningsknegte word in die besonder gewaarsku om nie ‘vuilgewinsoekers’ te wees nie (Titus 1:7; 1 Timotheüs 3:8; 1 Petrus 5:2). Sommige sal moontlik met opset net verhoudings kweek met broers wat hulle materieel kan help, en dit veroorsaak dat hulle partydig is en teësinnig is om sulke persone raad te gee. Ons wil nooit soos die hebsugtige priesters van Israel word wat aalmoese en omkoopgeld van hulle mede-Israeliete verwag het nie.

15. (a) Hoe het Maleagi getoon dat daar in alle wêrelddele mense sou wees wat Jehovah vrees? (b) Watter ander tekste staaf dit?

15 Sê nou Jehovah het vandag die vraag gestel: “Waar is die vrees vir My?” Sou enige volk kon antwoord: ‘Hier is ons, die mense wat u vrees’? Baie beslis! Wie? Jehovah se getroue getuies, wat in alle wêrelddele aangetref word. Hierdie internasionale groep mense en die werk wat hulle sou doen, is in Maleagi 1:11 (NW) voorspel: “Want van die opgang van die son, ja, tot sy ondergang sal my naam groot wees onder die nasies, en . . . ’n geskenk sal aan my naam gegee word, ja, ’n rein geskenk; want my naam sal groot wees onder die nasies’, het Jehovah van die leërskare gesê.”—Kyk ook Psalm 67:8; Jesaja 33:5, 6; 41:5; 59:19; Jeremia 32:39, 40.

16. Wat kan van sonsopkoms tot sonsondergang alles beteken, en hoe word dit nou vervul?

16 Maleagi gee inderdaad hier ’n raak beskrywing van die groot werk wat in ons dag deur die verkondiging van die goeie nuus oor die hele aarde gedoen word (Mattheüs 24:14; Openbaring 14:6, 7). Geografies gesproke, beteken van sonsopkoms tot sonsondergang van oos tot wes. Waar ons ook al vandag op die aarde kyk, vind ons mense wat Jehovah vrees en sy wil doen. Van sonsopkoms tot sonsondergang beteken ook heeldag. Ja, godvresende knegte loof hom voortdurend. Soos Jehovah belowe het, word sy naam oor die hele aarde verkondig deur diegene wat hom waarlik vrees.—Exodus 9:16; 1 Kronieke 16:23, 24; Psalm 113:3.

Behou gepaste vrees vir God

17. Wat kan dit tot gevolg hê as ons ons respek en vrees vir Jehovah verloor?

17 Aanbidding en diens word ’n las vir diegene wat Jehovah nie respekteer en vrees nie. Jehovah het vir die Israeliete gesê: “Julle daarenteen ontheilig [my] as julle sê: Die tafel van [Jehovah] is verontreinig, en wat sy opbrings betref—sy spys is veragtelik. En julle sê: Kyk, wat ’n moeite!” (Maleagi 1:12, 13, vgl. NW). Dit kan ook in ons tyd waar wees. Vergaderinge, velddiens en ander Christelike bedrywighede kan ’n las word vir diegene wat die vrees vir Jehovah verloor.

18. Wat gebeur van tyd tot tyd met sommige van God se hedendaagse knegte?

18 Let op hoe sulke persone in The Watchtower van 1 Januarie 1937 beskryf is: “Vir daardie ongetroues het die voorreg om God te dien deur die vrugte van die koninkryk na ander te bring, soos die Heer beveel het, bloot ’n moeisame seremonie en formaliteit geword, wat hulle geen geleentheid bied om deur mense vereer te word nie. Vir sulke verwaande persone is dit te vernederend om die koninkryksboodskap in drukvorm van huis tot huis te neem en dit vir die mense aan te bied. Dit verskaf hulle geen vreugde nie . . . Daarom het hulle gesê, en sê hulle steeds: ‘Hierdie ronddra van boeke is bloot ’n plan om boeke te verkoop. Wat ’n moeitevolle taak is dit tog!’” Daar is selfs vandag van tyd tot tyd diegene vir wie velddiens ’n sleurwerk en die bywoning van vergaderinge vermoeiend is. Dit is wat kan gebeur wanneer ons ons vrees vir Jehovah en, tesame daarmee, ons liefde vir hom verloor.

19. Hoe kan ons aanhou om ons waardering vir Jehovah se voorsienings te toon?

19 As ons vrees vir Jehovah behou, sal dit ons nederig voor hom hou en ons alles wat hy vir ons doen immer laat waardeer. Hetsy ons by ’n klein vergadering in ’n huis of by ’n groot byeenkoms van tienduisende in ’n stadion is, ons dank Jehovah vir die voorreg om met ons Christenbroers om te gaan. Ons sal ons dankbaarheid toon deur daar aanwesig te wees en ander aanwesiges deur ons opbouende geselskap en deur ons kommentare gedurende vergaderinge tot “liefde en goeie werke” aan te spoor (Hebreërs 10:24, 25). Indien ons bevoorreg is om vergaderingdele te behartig, moet ons nie die voorbereiding tot die laaste oomblik uitstel en dan oorhaastig ’n paar gedagtes bymekaarskraap nie. Moet nooit sulke toewysings as iets alledaags beskou nie. Dit is heilige voorregte, en die manier waarop ons dit behartig, is nog ’n aanduiding van hoe ons Jehovah respekteer en vrees.

20. (a) Wat moet ons nooit vergeet nie? (b) Tot watter gevolgtrekking kom ons?

20 Hoe treurig is die gevolg tog vir diegene wat die vrees vir God verloor! Hulle het nie waardering vir die onverdiende voorreg om ’n verhouding met die Soewerein van die heelal te hê nie. “‘Ek is ’n groot Koning’, het Jehovah van die leërskare gesê, ‘en my naam sal vreesinboesemend wees onder die nasies’” (Maleagi 1:14, NW; Openbaring 15:4). Mag ons dit nooit vergeet nie. Mag ons almal soos die psalmis wees wat gesê het: “Ek is ’n metgesel van almal wat U vrees” (Psalm 119:63). Na ’n bespreking van hierdie saak kom ons tot dieselfde gevolgtrekking as Salomo, wat gesê het: “Vrees die ware God en hou sy gebooie. Want dit is die hele verpligting van die mens. Want die ware God self sal elke soort werk in die gerig bring met betrekking tot alles wat verborge is, of dit goed is of sleg.”—Prediker 12:13, 14, NW.

Lesse uit die boek Maleagi—

◻ Waarom was die Israeliete hulle vrees aan Jehovah verskuldig?

◻ Hoe toon ons optrede of ons Jehovah werklik vrees?

◻ Wat bewys dat daar vandag oor die hele aarde mense is wat Jehovah vrees?

◻ Waarom moet ons gepaste vrees vir God behou?

[Lokteks op bladsy 18]

Jehovah se naam sal van sonsopkoms tot sonsondergang geloof word

[Prent op bladsy 17]

Die Israeliete het Jehovah verag deur blinde, lam of siek diere as offers te bring

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel