Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w86 12/15 bl. 10-14
  • ‘Wees baie sterk en vol moed’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ‘Wees baie sterk en vol moed’
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waar het Josua se krag vandaan gekom?
  • Verheerlik Jehovah se naam!
  • Jehovah se wonderwerk by die Jordaan
  • ’n Monument ter herdenking van die wonderwerk
  • Wat Josua onthou het
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Laat Josua jou help om Jehovah moedig te dien!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Josua 1:9 – “Wees moedig en sterk”
    Verduidelikings van Bybelverse
  • Bybelboek nommer 6—Josua
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
w86 12/15 bl. 10-14

‘Wees baie sterk en vol moed’

“Julle moet vir hulle nie bang wees nie, want dit is [Jehovah] julle God wat vir julle stry.”​—DEUTERONOMIUM 3:22.

1. (a) Wat was die situasie in Israel aan die einde van die swerftog deur die woestyn? (b) Watter vermaning het Moses toe gegee?

DIE tyd het aangebreek vir belangrike gebeurtenisse in Israel se geskiedenis. God se heilige nasie moet hulle nou gereed maak om die Beloofde Land binne te gaan! Veertig jaar lank het Moses die Israeliete deur ’n groot en vreeslike woestyn gelei. Maar nou, in die Jordaanstreek in die land Moab, het hy God se volk vir die laaste keer toegespreek. Op die ouderdom van 120 jaar ‘was sy oog nie verswak nie en het sy krag nie vergaan nie’, en ook sy stem was nog so sterk soos altyd. Josua, wat hom sou opvolg, en die hele Israel moes met ontroerde gemoedere geluister het na Moses se kragtige uiteensettings van Jehovah se wet en sy sterk vermaning om vol moed te wees wanneer hulle optrek om die land in besit te neem.​—Deuteronomium 1:1-5, 19, 21, 29, 30; 3:22; 31:6, 7, 23; 34:7.

2. Hoe weet ons dat hierdie dinge tot ons lering opgeskryf is?

2 Is daardie gebeure van so lank gelede bloot histories? Allermins! Die apostel Paulus sê vir ons: “Alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê” (Romeine 15:4). Daardie verslag het hedendaagse parallelle. Dit kan ons vandag vir geestelike oorlogvoering versterk. Dit dien ook “as ’n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het” en help ons om Satan se strikke te vermy.​—1 Korinthiërs 10:11; 1 Petrus 4:7.

Waar het Josua se krag vandaan gekom?

3, 4. (a) Waarom moet ons onbevreesdheid aankweek? (b) Hoe kan ons dit doen?

3 God se volk sal binnekort Jehovah se nuwe stelsel binnegaan. Die verloop van gebeure in die wêreld maak dit noodsaaklik dat ons onbevreesdheid aankweek. Hoe kan ons dit doen? Toe Josua hom gereed gemaak het om die Beloofde Land binne te gaan, het God hom beveel: “Wees net baie sterk en vol moed, om nougeset te handel volgens die hele wet wat Moses, my kneg, jou beveel het; wyk daarvan nie regs of links af nie, sodat jy met goeie gevolg kan handel, oral waar jy mag gaan. Hierdie wetboek mag nie uit jou mond wyk nie; maar bepeins dit dag en nag, sodat jy nougeset kan handel volgens alles wat daarin geskrywe staan; want dan sal jy in jou weë voorspoedig wees, en dan sal jy met goeie gevolg handel.”​—Josua 1:7, 8.

4 A, daar is die geheim! Lees die Bybel daagliks. Dit bevat God se wet vir ons. Bepeins dit. Slaan ag op die vermaninge daarin. Moenie afdwaal na die materialistiese, onsedelike wêreld om jou heen nie. En tree met wysheid op, ongeag in watter situasie jy jou bevind. Pas die juiste kennis en die geestelike insig wat jy deur jou studie van God se Woord verkry het in jou daaglikse lewe toe. Praat met ander daaroor. Deur dit te doen en op Jehovah te vertrou, kan jy inderdaad ‘baie sterk en vol moed wees en jou weë voorspoedig maak’.​—Vergelyk Psalm 1:1-3; 93:5, vgl. NW; 119:165-168, vgl. NW.

5. (a) Hoe kan jong bedienaars vandag, soos Josua, sterk word? (b) Watter goeie doelwit kan jong Getuies vandag vir hulself stel?

5 Josua was “die dienaar van Moses van sy jeug af” (Numeri 11:28). Hierdie noue omgang het hom ongetwyfeld gehelp om geestelik sterk te word. Net so kan jong bedienaars vandag sterk word deur saam met hulle toegewyde ouers, pioniers, ervare Getuies en ander lojale knegte van Jehovah te werk. Dit kan ’n vreugde wees om saam met sulke ywerige persone van huis tot huis te getuig en kan ons jongmense help om tot rypheid te vorder en by hulle ’n begeerte wek om in die bediening vooruit te gaan (Handelinge 20:20, 21; Jesaja 40:28-31). Watter beter doelwit kan jong Getuies hê as voltydse diens ter bevordering van Jehovah se Koninkryk!​—Psalm 35:18; 145:10-12.

6. Hoe was Josua vir ons ’n voorbeeld in verband met die veldtog teen Amalek?

6 Toe Moses Josua gestuur het om teen Amalek te veg, ‘het Josua gedoen soos Moses aan hom gesê het’. Hy was gehoorsaam; gevolglik het hy die oorwinning behaal. Ons sal ook deel hê in die regverdiging van Jehovah se naam as ons noukeurig ag slaan op die gevegsinstruksies wat ons deur sy organisasie ontvang. Jehovah het Moses beveel om Sy sege oor Amalek te gedenk deur dit in ’n boek te skryf en dit Josua in te prent. Josua het Jehovah se oorwinning ongetwyfeld verder verheerlik deur met ander daaroor te praat. Op dieselfde manier kan ons vandag die magtige dade van die Soewereine Heer Jehovah bekend maak, en ons kan sy naderende ‘dag van wraak’ oor die goddeloses verkondig.​—Exodus 17:10, 13, 14; Jesaja 61:1, 2; Psalm 145:1-4.

7, 8. (a) Watter vertroue het Josua en Kaleb by hulle terugkeer uit Kanaän uitgespreek? (b) Watter waarskuwing en bemoediging kry ons uit die manier waarop Jehovah die saak toe gehanteer het?

7 Toe Moses 12 owerstes uitgestuur het om die Beloofde Land te verken, het hy Josua onder hulle ingesluit. By hulle terugkeer het tien van die verkenners groot vrees vir die Kanaänitiese inwoners van die land uitgespreek en die volk aangehits om na Egipte terug te keer. Maar Josua en Kaleb het onbevrees gesê: “As die HERE ’n welbehae in ons het, sal Hy ons in hierdie land inbring en dit aan ons gee, ’n land wat oorloop van melk en heuning. Wees net nie teen die HERE opstandig nie, en wees julle nie bevrees vir die volk van die land nie, want hulle is ons spys. Hulle beskutting het van hulle gewyk, en die HERE is met ons. Wees nie bevrees vir hulle nie!”​—Numeri 13:1-14:38.

8 Maar die vergadering van Israel het aangehou murmureer, met die gevolg dat Jehovah daardie vreesagtige Israeliete veroordeel het en bepaal het dat hulle 40 jaar in die woestyn sou rondswerf. Met die uitsondering van Kaleb en Josua het al hulle weerbare manne gesterf sonder om die Beloofde Land te sien. Dit is inderdaad ’n waarskuwing vir ons vandag! Laat ons nooit teen Jehovah se reëlings murmureer nie. Laat ons sterk en vol moed wees deur met die lewensreddende Koninkryksboodskap na mense se huise te gaan, selfs in gebiede waar dit moeilik is om ’n getuienis te gee. Mag ons nooit soos die hedendaagse afvalliges wees wat, pleks van ’n openbare getuienis te gee, liewer hulle broers belaster en in die weë van die wêreld​—antitipiese Egipte—​terugsak nie.​—Numeri 14:1-4, 26-30; Lukas 12:45, 46; vergelyk Handelinge 5:27-29, 41, 42.

Verheerlik Jehovah se naam!

9. Hoe het Josua sy nuwe naam gestand gedoen?

9 In die Bybellys van die 12 verspieders word Josua as Hosea aangegee, wat “Redding” beteken. Maar dan sê die verslag: “Moses het Hosea, die seun van Nun, Josua genoem [wat ‘Jehovah is redding’ beteken].” Waarom het Moses Jehovah se naam so beklemtoon? Dit was omdat Josua hom bowenal vir die regverdiging van daardie naam beywer het. Josua het ’n lewende voorbeeld geword van gehoorsaamheid aan die gebod wat Moses Israel later op die hart gedruk het: “Jy [moet] die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag.” Aldus het hy die voorreg gehad om te bewys dat ‘Jehovah redding is’.​—Numeri 13:8, 16; Deuteronomium 6:5.

10. (a) Wat beteken Jehovah se naam vir jou? (b) Watter krag kan ons uit Jehovah se verdere woorde aan Josua put?

10 Beskou ons nie ook Jehovah se naam as uiters kosbaar en lofwaardig nie? Sy roemryke naam beteken “Hy laat word” met betrekking tot die vervulling van sy beloftes. Hoe hartverblydend is sy Koninkryksbeloftes tog nie! Dit moet ons begeerte wees om, met ywer soos dié van Josua, Jehovah se naam en voorneme te verheerlik voor almal wat nog die hoop van sy rein en regverdige nuwe stelsel kan aanneem. In hierdie moeilike tye kan ons krag put uit Jehovah se verdere woorde aan Josua: “Het Ek jou nie beveel nie: Wees sterk en vol moed, wees nie bevrees of verskrik nie; want die HERE jou God is met jou, oral waar jy heengaan.”​—Josua 1:9.a

11. (a) Hoe is die betekenis van Jesus se naam beklemtoon toe hy in Jerusalem ingery het? (b) Hoe het Jesus Jehovah se naam beskou, en hoe weet ons dit?

11 Die Griekse ekwivalent van die naam Josua, of Jehosua, is Jesus, wat ook “Jehovah is redding” beteken. Dit is deur Jesus Christus dat Jehovah vir die mensdom redding bewerk. Toe Jesus in 33 G.J. op ’n esel in Jerusalem ingery het, het die skare aanhoudend uitgeroep: “Hosanna! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here [“Jehovah”, NW]!” (Markus 11:9; Sagaria 9:9). Josua was ’n ware voortipe van Jesus, wat ‘ons ’n voorbeeld nagelaat het sodat ons sy voetstappe kan navolg’ (1 Petrus 2:21). Soos Josua het Jesus Jehovah se naam kosbaar geag, en hy het daardie naam verheerlik. In sy laaste gebed saam met sy dissipels het hy God se naam twee maal beklemtoon en gesê: “Ek het u Naam geopenbaar aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. . . . Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak en sal dit bekend maak, sodat die liefde waarmee U My liefgehad het, in hulle kan wees, en Ek in hulle” (Johannes 17:6, 26). Wat ’n voorreg het ons om daardie naam aan ander bekend te maak!

12. Op watter magtige dade wag ons vandag, en waarom?

12 Wanneer ons die Bybelverslag oor Josua se lojale leiding lees, kan ons in gedagte hou dat die Groter Josua, Jesus Christus, vandag God se volk lei. “Jehovah se dag” van regverdiging is voor die deur. Hoe hunker ons tog nie na die vervulling van sy belofte van ’n regverdige nuwe stelsel wat op daardie dag sal volg nie! (2 Petrus 3:10-13, 17, 18, vgl. NW). Ons sien dus met vertroue uit na verdere magtige dade van Jehovah, selfs magtiger as dié wat hy deur Josua verrig het.

Jehovah se wonderwerk by die Jordaan

13. (a) Voor watter oënskynlik onmoontlike situasie het Israel aan die oostekant van die Jordaan te staan gekom? (b) Hoe is Israel se gehoorsaamheid beloon?

13 Dit was oestyd in die jaar 1473 v.G.J., en die Jordaanrivier was in vloed. Hoe kon etlike miljoene siele, oud en jonk, mans, vroue en kinders, deur daardie geswolle stroom gebring word? Jehovah het Josua egter beveel: “Maak jou dan nou klaar, trek deur hierdie Jordaan, jy en hierdie hele volk.” Die volk het op hulle beurt vir Josua gesê: “Alles wat u ons beveel het, sal ons doen.” Israel het kamp opgebreek. Die priesters het eerste uitgetrek met die verbondsark, wat sorgvuldig toegemaak was en wat Jehovah se teenwoordigheid by hulle voorgestel het. Jehovah het toe begin om ‘wonders onder hulle te doen’, want “net toe die draers van die ark by die Jordaan kom en die priesters wat die ark dra, hulle voete aan die kant van die water insteek, . . . bly die water staan wat van die bokant afkom”. Die waters aan die onderkant het afgevloei na die Dooie See, en ‘die volk het deurgetrek’ (Josua 1:2, 16; 3:5-16). Voorwaar ’n verstommende wonderwerk!

14. Watter parallel bestaan vandag, en wat het die getuienis wat gegee is tot gevolg gehad?

14 Die sterk vloeiende Jordaan vind ’n parallel in die mensevloed wat nou onstuitbaar op pad is na vernietiging by Armageddon. (Vergelyk Jesaja 57:20; Openbaring 17:15.) Terwyl die mensdom vandag op die randjie van daardie vernietiging staan, versterk Jehovah sy volk, wat nou oor die 3 000 000 tel​—’n getal vergelykbaar met dié van God se volk wat saam met Josua getrek het.​—Vergelyk Habakuk 2:3.

15. (a) Wat kom in hedendaagse tye ooreen met die moedige optrede van die priesters in Josua se dag? (b) Hoe word die “groot menigte” in hierdie verhaal voorgestel?

15 Terwyl die miljoene Israeliete deur die rivierbedding geloop het, het “die priesters wat die verbondsark van die HERE gedra het, . . . onbeweeglik bly staan op droë grond binne-in die Jordaan”, om die ingryping deur Jehovah God te verteenwoordig (Josua 3:17). Dit was in 1919 dat die klein groepie gesalfde Getuies moedig voor die “waters” van die mensdom ingestap het. In 1922 het hulle onbevrees gehoor gegee aan die oproep: “Adverteer, adverteer, adverteer die Koning en sy Koninkryk.” Hulle het in werklikheid gesê: “Hier is ek, stuur my.” Jehovah gee hulle die versekering: “As jy deur die water gaan, is Ek by jou; en deur die riviere​—hulle sal jou nie oorstroom nie.” In 1931 het hy hulle vereer deur aan hulle die naam Jehovah se Getuies te gee (Jesaja 6:8; 43:2, 12). Onder dié wat deur die Jordaan getrek het, was die nie-Levitiese Israeliete en die afstammelinge van die nie-Israelitiese “menigte mense van gemengde bloed” wat Egipte saam met Moses verlaat het. Net so trek die “groot menigte” vandag saam na God se nuwe stelsel, terwyl die oorblywende lede van die geestelike priesterklas “standvastig, onbeweeglik” bly, voorbeeldig in hulle geloof.​—Exodus 12:38; Openbaring 7:9; 1 Korinthiërs 15:58.

’n Monument ter herdenking van die wonderwerk

16. (a) Hoe is die wonderwerk by die Jordaan gedenk? (b) Waarop dui dit ten opsigte van Jehovah se magtige dade in ons dag?

16 Om hierdie wonderwerk by die Jordaan te herdenk, het Jehovah vervolgens beveel dat 12 manne, wat die stamme van Israel verteenwoordig het, 12 klippe uit die rivierbedding optel en op die westelike oewer by Gilgal neersit. Daardie klippe sou ’n blywende gedenkteken vir Jehovah se naam en sy magtige dade wees. Latere geslagte van Israel sou meegedeel word dat hierdie gedenkteken opgerig is “dat al die volke van die aarde kan weet dat die hand van die HERE sterk is, sodat julle die HERE julle God altyd mag vrees” (Josua 4:1-8, 20-24). In hedendaagse tye is Jehovah se wonderlike dade tot behoud van sy volk, ondanks wrede aanvalle deur politieke en godsdiensleiers, eweneens ’n gedenkteken dat hy met sy volk is. Sy groot, hedendaagse werke ter regverdiging van sy naam sal ongetwyfeld in sy nuwe stelsel permanent herdenk word.​—Openbaring 12:15, 16; Psalm 135:6, 13.

17. (a) Watter ander gedenkteken het Josua opgerig? (b) Watter soortgelyke getuienis kan die mensdom vandag nie ontwyk nie?

17 Nog ’n gedenkteken is opgerig: “Josua het ook twaalf klippe opgerig in die middel van die Jordaan, op die plek waar die voete van die priesters, die draers van die verbondsark, gestaan het; en dit is daar tot vandag toe.” Toe die priesters uit die rivierbedding gekom en Jehovah die opgedamde vloedwaters laat afloop het, het daardie waters om die 12 gedenkklippe heen gevloei (Josua 4:9). Van toe af kon daardie vloedwaters nie aan die teenwoordigheid van daardie klippe ontkom nie. Net so stroom die mensdom vandag vinnig na die “Dooie See” van Armageddon. Maar hulle kan nie die getuienis ontkom wat Jehovah se Getuies wêreldwyd opgestapel het terwyl hulle “in een gees vasstaan en, een van siel, saam stry vir die geloof van die evangelie” nie (Filippense 1:27, 28). Beskikbare verslae toon dat die Getuies gedurende die 67 jaar tot hierdie jaar, 1986, aardwyd oor die 570 000 000 hardebandboeke en meer as 6 400 000 000 eksemplare van Die Wagtoring en Ontwaak!, in meer as 200 tale, sowel as miljoene tydskrifintekeninge, in die huise van mense gelaat het​—voorwaar ’n monumentale getuienis!

18. (a) Watter eienskappe toon die priesterklas vandag? (b) Hoe word al God se knegte aangevuur?

18 Ons kan bly wees dat die getuienis tot in hierdie jaar 1986 voortgeduur het. Dit verg harde werk om God se wil te doen, soos toe die 12 manne elkeen sy gedenkklip opgetel en tot by Gilgal gedra het. Maar ’n wonderlike pioniergees verenig God se hedendaagse volk en vuur hulle voortdurend aan om “baie sterk en vol moed” te wees.​—Psalm 27:14; 31:25; Sefanja 3:9.

19. Watter vertroue kan ons hê terwyl ons verdere gebeurtenisse in Josua se dag hersien?

19 Ander gebeurtenisse in Josua se dag behoort ons aan te moedig om vooruit te gaan, vol vertroue dat Jehovah verdere wonderwerke ten behoewe van sy volk sal verrig. Ons volgende artikel sal sommige van hierdie gebeurtenisse hersien.

[Voetnote]

a Asher Goldenberg skryf in Metre and Its Significance in the Bible (Hebreeus) dat eiename gedurende die Eerste Tempel-periode gewoonlik ’n langer vorm gegee is waarin ’n deel van die Tetragrammaton vervat was om lojaliteit teenoor Jehovah aan te dui. Hy meld dat “Moses in die Pentateug die naam Hoshe ben-Nun in ‘Jehosua’ verander wanneer hy hom uitstuur om te gaan verken; so het hy vooruit gesien dat [Josua] nie [Jehovah] sou verraai nie”.

Wat ons leer uit gebeure in Josua se dag​—

◻ Waarom moet hierdie gebeure as meer as blote geskiedenis beskou word?

◻ Hoe kan ons moed en geestelike krag verkry?

◻ Watter goeie voorbeeld het Josua vir ons nagelaat?

◻ In watter opsigte het Josua Jesus afgeskadu?

◻ Watter gebeurtenisse vorm vandag ’n parallel met dié by die Jordaan?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel