Koninkryksverkondigers berig
Die Here se “ander skape” in Australië word ingesamel
“EK SAL al die nasies skud, en die begeerlike dinge van al die nasies moet inkom”, het die profeet Haggai meer as 2 500 jaar gelede geskryf (Haggai 2:7, NW). Vandag stroom sulke begeerlikes weliswaar na Jehovah se huis van aanbidding. Maar soms lyk hulle uiterlike aanvanklik nie so begeerlik nie, soos hierdie ondervinding in Australië toon:
◻’n Broer wat een Sondag per motor op pad na die vergadering was, het iets gedoen wat hy nooit tevore gedoen het nie: Hy het stilgehou en ’n ryloper opgelaai. Die broer het nie geweet waarom hy dit doen nie, want die jongman het lang, ongekamde hare en ’n baard gehad, was slordig geklee en het nie eens duimgegooi nie. Die broer het net skielik gevoel dat hy moet stilhou en hom moet oplaai. Toe die jongman in die motor klim, het hy gesê: “Jy’s op pad kerk toe, nê?” Die broer het verbaas geantwoord: “Wel, ja, ek gaan Koninkryksaal toe.” “Ek gaan saam met jou”, het die jongman gesê.
As gevolg van sy voorkoms, het die broer dit uit sy kop probeer praat. Maar die jongman het daarop aangedring om te gaan en hierdie verhaal vertel: Hy het die huis verlaat toe hy 16 jaar oud was, en was sedertdien diep betrokke by dwelms en onsedelikheid. Hy het agter die sandduine naby die Strand onder ’n stuk plastiek gewoon. Daar het hy ernstig begin nadink oor die betekenis van die lewe. Omdat hy nie gehou het van wat hy geword het nie, het hy tot God om hulp gebid. Hy het vertel dat hy vir God gesê het dat hy op die pad sou gaan staan en dat hy gebid het dat Hy iemand sou rig om hom op te laai en na die regte kerk neem. Daar is selde motors op hierdie eensame pad. Slegs drie het in etlike ure verbygery en nie een het vir hom stilgehou nie. Hy wou net tou opgooi toe ons broer verbygekom en hom opgelaai het.
Hy het al die vergaderinge daardie week bygewoon en hom begin opknap. Hy het selfs die kruis afgehaal wat hy om sy nek gedra het. Hy het besluit om terug te keer na sy tuiste in Tasmanië, waar hy ’n maand lank die Bybel gelees en gebid het. Hy het besef dat hy persoonlike hulp nodig het om vordering te maak en het na die Australiese takkantoor van die Wagtoringgenootskap gegaan. Pioniers is gestuur om met hom te studeer, en hy het vinnig vordering gemaak. Die waarheid uit die Bybel het sy lewe sinvol gemaak en hom ’n hoop vir die toekoms gegee (Spreuke 10:28). Hy is binne sewe maande gedoop en het as hulppionier gedien. Hy dien nou as ’n gewone pionier in Sydney.
◻Ons kan “die leer van God, ons Verlosser”, versier deur Bybelbeginsels in ons gedrag toe te pas (Titus 2:10). Dit is toegelig in die geval van ’n broer wat gewerk het by ’n firma waar ’n arbeidsgeskil oor die uitvoer van skape en beeste ontstaan het. Elke werker is gevra om ’n dollar by te dra om met die protestering te help. Toe die broer weier, het die vakbondbeampte gedreig dat hy sy werk sal verloor. Die broer het verduidelik dat sy gewete hom nie sou toelaat om die oproer wat gereël word te ondersteun nie. Die vakbondbeampte het hom ’n uur gegee om daaroor na te dink.
Die broer se medewerkers het hom toe bespot. Hy het vir hulle verduidelik dat dit nie oor die dollar gaan nie, maar aangesien party wat by die geskil betrokke is vuurwapens en knuppels by hulle het, hy bloedskuldig kon word as hy hulle ondersteun en iemand beseer of gedood word. Een werker het gesê dat hy nog nooit daardie gesigspunt gehoor het nie en meer wou weet. Met verloop van tyd kon die broer ’n Bybelstudie met die werker begin, en ondanks teenstand van sy vrou het hierdie man weldra die vergaderinge begin bywoon. Hy is vandag een van ons toegewyde broers. Wat die vakbondbeampte betref, hy het die broer nie weer gepla nie.
Diegene wat God en geregtigheid liefhet, sal inderdaad op die een of ander manier met die waarheid in aanraking gebring word en sal dit herken. Jesus het gesê: “Ek het nog ander skape wat . . . ek moet . . . lei, en hulle sal na my stem luister” (Johannes 10:16). Meer as 42 000 van hierdie “ander skape” in Australië het reeds na die stem van die Goeie Herder geluister, en daar word elke dag nog meer byeengebring aan die regterkant van Jesus se guns.—Mattheüs 25:31-34.
[Lokteks op bladsy 22]
Ons kan “die leer van God, ons Verlosser”, versier deur ons goeie gedrag