Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w85 11/1 bl. 21-26
  • Die prag van die Christelike persoonlikheid

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die prag van die Christelike persoonlikheid
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die prag van die Christenman
  • Die prag van die Christin
  • Wat is ons?
  • Twee sleutels tot ’n blywende huwelik
    Die geheim van gesinsgeluk
  • Toon liefde en respek as vrou
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Verseker ’n blywende toekoms vir jou gesin
    Die geheim van gesinsgeluk
  • Jou gesin kan gelukkig wees
    Wat kan die Bybel ons leer?
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
w85 11/1 bl. 21-26

Die prag van die Christelike persoonlikheid

“Beklee julle met die nuwe persoonlikheid, wat na God se wil geskape is in ware regverdigheid en lojaliteit.”​—EFESIËRS 4:24, NW.

1. Watter prag wil ons hier beskryf?

DAAR is ’n Engelse gesegde: ‘Beauty is in the eyes of the beholder’, wat beteken dat skoonheid of prag relatief is. Wat is die prag van ’n Christen of ’n Christin? Dit is wat ons nou wil bespreek.

Die prag van die Christenman

2. Waarom kan fisiese voorkoms op sigself nie ’n man van God maak nie?

2 Kom ons begin deur te kyk na die eienskappe wat ’n Christenman die aangename voorkoms gee wat ander sy geselskap sal laat geniet. Fisiese voorkoms alleen maak nie ’n “man van God” nie (1 Timotheüs 6: 11). ’n Man se uiterlike, hoe netjies ook al, beteken min as hy leeghoofdig is. As hy trots, onbeskof, ongepoets en onkundig is, trek hy mense nie aan nie​—hy stoot hulle af. As sy maniere toon dat hy onerkentlik is, kan hy ander beslis laat struikel. As hy slegs besorg is oor homself en oor hoe hy lyk of ander beïndruk, sal hy nie die soort persoon wees met wie ander wil omgaan nie.

3, 4. (a) Wat is party van die eienskappe van ’n man van God soos getoon deur die man Jesus Christus? (b) Hoe sou jy sommige van die karaktertrekke van ’n man van God verduidelik?

3 ’n Man van God sal eerder geregtigheid, barmhartigheid, liefde en vriendelikheid aangekweek het. Jesus Christus was nie bekend vir sy volmaakte liggaam nie, maar vir sy getrouheid aan beginsels en aan die waarheid. Sy manier van onderrig het hom geïdentifiseer as iemand wat met gesag van God af spreek (Mattheüs 7:28, 29; Johannes 7:46). ’n Man van God sal nie verlei word deur die begeerte na mag of aansien nie. Die voordele van ’n sekere posisie kan hom nie omkoop nie. Hy is ’n man met wilskrag. Hy het nederigheid lief en sal nie lieg nie. Hy openbaar ’n heilsame vrees vir Jehovah (Spreuke 22:4). Dit is van die eienskappe wat in ’n man van God aangetref word.

4 ’n Man van God het ’n gewete, ’n goeie hart en die regte beweegrede (1 Timotheüs 1:5; Spreuke 4:23). Hy sal nie dinge doen wat sy gewete skend en wat regverdige beginsels ignoreer nie. Omdat hy ’n goeie hart en die regte beweegrede het, sal hy nie slinkse metodes in sy handelinge met ander gebruik nie (Hebreërs 13:18, NW). Hy sal nie toelaat dat sy goeie beweegredes deur onrein gedrag en dade ondermyn word nie (Hosea 4:11). Hy dissiplineer homself voortdurend sodat sy hart nie bedrieglik word nie. In woord en in daad blink hy uit as ’n beginselvaste man.​—Psalm 15:1, 2.

5. Watter rol speel medelye in die lewe van ’n man van God?

5 ’n Man van God het medelye met ander, is vergewensgesind en vriendelik. ’n Medelydende man is ’n simpatieke man. Hy kan empatie en begrip toon wanneer ander moeilike probleme het wat angs veroorsaak. Hy kan bowendien vergewe wanneer iemand hom ’n onreg aandoen. Hy kan uitstyg bo die instinktiewe begeerte om kwaad met kwaad en belediging met belediging te vergeld. Die woorde van 1 Petrus 3:8, 9 is waarlik op hom van toepassing. Deur te seën in plaas van te vervloek, toon hy dat hy vriendelik en in beheer is van daardie laer begeertes wat die kleinsielige man kenmerk, die man wat nie medelydend, vergewensgesind en vriendelik teenoor ander kan wees nie.​—Efesiërs 4:31, 32.

6. (a) Watter ander uitsonderlike eienskappe van ’n man van God is daar, en wat beteken hulle? (b) Hoe sal so ’n man se vrou en kinders hom beskou?

6 ’n Ander buitengewone eienskap wat ’n man van God kenmerk, is sy vrygewigheid. En as hy getroud is, is hy ’n getroue man en ’n eerlike vader. In sy hoedanigheid as ’n getroude persoon het die man van God ’n wonderlike geleentheid om ’n goeie invloed en voorbeeld vir sy vrou sowel as vir sy kinders te wees (Kolossense 3:19, 21). Wat vrygewigheid betref, volg so ’n man die goeie raad van die Here Jesus Christus wat gesê het: “Gee, en aan julle sal gegee word. ’n Goeie maat wat ingedruk en geskud en oorlopend is, sal hulle in jul skoot gee, want met dieselfde maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word” (Lukas 6:38). In sy gesinsverhoudinge sal so ’n man inderdaad vir sy huisgesin sorg. Maar hy sal ook die uitstekende vermaning in Efesiërs 4:28 volg, naamlik om “te werk wat goed is, sodat hy iets kan hê om mee te deel aan die een wat gebrek het”. As ’n getroue eggenoot sal die man van God getrouheid in die huweliksreëling handhaaf. Sy vrou sal volle vertroue in hom kan hê as ’n man wat waarlik een is met haar in die huweliksband (Spreuke 5:18, 19). As daar kinders is, sal hy daarbenewens toon dat hy ’n eerlike vader is, nie ’n bedrieër of oneerlik in sy handelinge met ander nie. Hy sal so die beginsels van eerlikheid by sy kinders inskerp (Spreuke 4:1-5). Wat ’n uitstekende voorbeeld is so ’n man tog vir die ontvanklike gemoed van sy kinders! Hulle sal na hom kan opsien as ’n lojale man, ’n handhawer van onkreukbaarheid.​—Spreuke 11:3, 4, vgl. NW.

7. Watter gebalanseerde beskouing van skuld sal die man van God hê?

7 In hierdie opsig sal die man van God ook oppas dat hy en sy gesin nie swaar skuld oploop nie, wetende dat dit tot lastige probleme kan lei. Dit beteken natuurlik dat hy nie sal toelaat dat hy en sy gesin bo hulle inkomste lewe nie. Hy is ’n persoon wat die koste bereken voordat hy ’n bepaalde weg inslaan (Lukas 14:28-30). Hy kan homself nou as ’t ware ter wille van die toekoms verloën en die sigbare vir die onsigbare prysgee. (Vergelyk Hebreërs 11:8-10.) So ’n lewenswyse sal die man van God help om in sy daaglikse lewe ’n rein Christengewete te bewaar.

8. Hoe sal so ’n man op onaangename omstandighede in sy lewe reageer?

8 Iedereen kom soms weens sonde en onvolmaaktheid voor onaangename omstandighede te staan. Maar die man van God sal in sulke situasies moedig en beginselvas bly, en Jesus se voorbeeld volg (Johannes 16:33). Hy sal die moeilike probleme moedig en in die krag van sy God, Jehovah, aanpak, en op Jehovah vertrou vir hulp en leiding.​—Spreuke 18:10.

9. Hoe sal jy die sedelike lewe beskryf van ’n man wat Jehovah wil behaag?

9 ’n Ware man van God is die baas van sy liggaam. Dit wil sê, hy beteuel sy begeertes en hartstogte in die besef dat sy liggaam ’n goeie dienaar maar ’n baie slegte heer is. Hy onthou voortdurend die geïnspireerde woorde van die apostel Paulus: “Ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar” (1 Korinthiërs 9:27). Hy sal derhalwe altyd daarna strewe om daardie “vrug van die Gees . . . selfbeheersing” aan te kweek en daardie dinge te vermy wat hom sal besmet (Galasiërs 5:22). Hy is verstandig en weet dat as ’n mens voor onsedelike denke swig dit tot onsedelike gedrag kan lei. Hy steun weer eens op sy God, Jehovah, en die krag wat Hy gee.​—Filippense 4:13, NAV.

10, 11. (a) Watter goeie eienskap openbaar ’n man van God wanneer hy oordeelsfoute begaan? (b) Watter patroon sal gesinshoofde ten opsigte van gesinstudie volg?

10 En laastelik kan die man van God sy foute erken, om verskoning vra en sy spyt uitspreek teenoor sy huweliksmaat en ander wat hy dalk weens sy onvolmaaktheid op die een of ander manier te na gekom of seergemaak het. Hy kan tot Jehovah nader en met ’n rein hart om vergifnis vir sy sondes vra omdat hy sy vrou, sy naaste, sy kinders, gevra het om hom te vergewe. Die vermoë om te kan sê “Ek is jammer, ek was verkeerd”, is inderdaad die kenmerk van ’n ware man, veral van ’n man van God.​—Mattheüs 18:21, 22; Markus 11:25.

11 Sou jy nie sê dat ’n man, ’n eggenoot, ’n vader, van daardie stoffasie Jehovah se hulp sou ontvang nie? (Psalm 54:6). Hy sou inderdaad toegerus wees om die probleme die hoof te bied wat hierdie hedendaagse wêreld vir ons almal skep weens Satan se liste en voorneme om alles wat goed is te vernietig, met inbegrip van die huwelik en die gelukkige gesin. Hy sal na die geestelikheid van gesinslede omsien en hulle in gereelde studie van God se Woord en in gebed lei, in navolging van die voorbeeld van getroue knegte van God in Bybeltye.​—Deuteronomium 11:18-21; Spreuke 7:1-3.

12. Watter belangrike rol sal volgende bespreek word?

12 Maar daar is nog iets wat ons wil bespreek. Daar is ook die rol wat die vrou vervul om probleme in die gesin die hoof te bied. Kom ons skenk nou aandag aan daardie eienskappe wat sy in haar lewe sal wil aankweek.​—Spreuke 19:14.

Die prag van die Christin

13, 14. Watter stappe kan ’n vrou doen om Jehovah se goedkeuring en, as sy getroud is, dié van haar gesin, te verkry, en watter raad het die apostel Petrus in 1 Petrus 3:1-5 aan vroue gegee?

13 Die boek Spreuke deel ons iets omtrent ’n vrou van God mee: “Die bevalligheid is bedrog, en die skoonheid is nietigheid; ’n vrou wat die HERE vrees, sy moet geprys word” (Spreuke 31:30). Hoe kan ’n vrou dan daardie eienskappe verkry wat haar bemind maak by haar man en kinders of by ander as sy ongetroud is, en haar ’n persoon maak met wie ander graag verkeer? Eerstens, ’n vrou van God is gulhartig, wat beteken dat sy vrygewig is en ander wil help hoe sy ook al kan, materieel of geestelik. Wanneer daar mense is wat gebrek ly, is sy van die eerste om te wil help, want sy stel opreg belang in die behoeftes van ander. Maar sy bewaar natuurlik die balans tussen sulke belangstelling en die versorging en aandag wat sy aan haar eie gesin moet skenk, indien sy getroud is.​—Titus 2:3-5.

14 So ’n vrou is ook nederig, nie trots nie; vriendelik, nie stuurs nie; netjies, nie slordig nie; simpatiek, nie aggressief nie. En as sy getroud is, probeer sy die raad volg wat die apostel in 1 Petrus 3:1-5 gegee het.

15. (a) Watter doel moet ’n vrou van God hê, en hoe kan sy dit bereik? (b) Hoe ondersteun sy haar man? (c) Waarom bly sy bemind in die gesinskring?

15 Daarbenewens is ’n vrou van God nie wêreldwys nie, maar streef daarna om geestelikheid aan te kweek. Sy is ’n ywerige leseres van die Bybel en wil die beginsels daarin in haar lewe toepas (Psalm 119: 66). Sy doen dit nie uit eiebelang omdat sy net die kennis vir haarseif wil hê nie, maar sy wil eerder die goeie dinge wat sy leer met ander in die Christenbediening sowel as in haar daaglikse omgang met bure, familielede en vriende deel. ’n Christenman geniet dit om ’n vrou te hê met wie hy, as sy hulp, oor geestelike sake kan gesels, iemand wat ook geestelike dinge waardeer en wat Jehovah saam met hom beter wil leer ken (Spreuke 9:9, 10). ’n Vrou van God lê dus goeie oordeel en begrip aan die dag. As sy getroud is, is sy bewus van haar rol as haar man se hulp. Sy help haar man om die kinders geestelike onderrig te gee, veral wanneer hy nie tuis is nie. (Vergelyk 2 Timotheüs 1:2, 5; 2 Johannes 1, 2.) Sy sal steeds liefdevol en bemind in die gesinskring wees lank nadat die skoonheid van die jeug vervaag het. Haar man kan op haar staatmaak vir goeie en regverdige waarnemings, gesonde menings en opregte bemoediging, want sy is minsaam en verstandig (Spreuke 25:11). Dit was toe Abigail oordeelkundig en vinnig opgetree het dat Dawid gesê het: “Geseënd jou verstandigheid.”​—1 Samuel 25:32, 33.

16. Watter soort woorde en dade identifiseer ’n vrou van God?

16 Die beskeie invloed wat ’n vrou ten goede ter ondersteuning van haar man uitoefen, sal nie met skerp, bitter of sarkastiese woorde wees nie. Guns word gewin deur minsame kykies, gepaste woorde, tere liefdesdade, vlyt, vriendelikheid en diepe begrip. (Vergelyk Spreuke 25:11; 31:10-28; 1 Thessalonicense 2:7.) Sagmoedigheid, geloof, beskeidenheid, dit is die dinge wat blywende liefde vir die vrou van God sal win.​—Psalm 37:11; Hebreërs 11:11, 31, 35; Spreuke 11:2.

17. Hoe waardevol is liefde vir die vrou van God?

17 ’n Ander buitengewone eienskap van ’n vrou van God is haar vermoë om simpatiek en liefdevol te wees (Romeine 12:10). Haar mooiste versiering is liefde, wat sal voorkom dat sy onaangenaam raak oor klein dingetjies. Hoe mooi word daardie liefde tog in 1 Korinthiërs 13:4-7 beskryf. Die nuwe Afrikaanse vertaling lui: “Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.”

Wat is ons?

18. Voor watter persoonlike vrae kom elkeen van ons nou te staan, en wat sal selfondersoek doen?

18 Die groot vraag is nou: Kan elkeen van ons as ’n Christelike persoon geïdentifiseer word, hetsy ons getroud of ongetroud is? Is daar gebiede waar ons die nodigheid vir verdere aanpassings kan sien namate ons probeer om vir Jehovah en ons medemens welgevallig te wees? Enige selfondersoek sal heel waarskynlik gebiede toon waar ons kan verbeter. Maar watter vreugde verskaf dit tog wanneer ons sulke verbetering in onsself opmerk en, bowenal, wanneer ander die veranderinge wat ons aanbring omdat ons die Woord van God en die leer daarvan nougeset navolg, opmerk en daaroor kommentaar lewer!​—2 Korinthiërs 13:5; 1 Timotheüs 4:15, 16.

19. Hoe moet ons probleme oplos waarvoor ons te staan kom in ons strewe om ’n vreedsame, godvrugtige lewe te lei?

19 ’n Ongetroude persoon kan daarna streef om hierdie eienskappe aan te kweek (1 Korinthiërs 7:32). En wanneer die dag aanbreek dat hy besluit om te trou, sal sulke eienskappe een wat dit aangekweek het ongetwyfeld tot voordeel strek. Onder getroudes sal die volgehoue beoefening van Christendeugde groot geluk en vreugde meebring (Filippense 4:8, 9). Dit verg die inspanning van albei maats in die huweliksreëling om probleme op te los. Die bereidwilligheid om jou onaangename gewoontes te erken en te verander, kan jou baie help om jou met ’n aangename Christelike persoonlikheid te beklee (Kolossense 3:8-10, vgl. NW). Onthou ook dat die kenmerk van ’n Christen of ’n Christin die vermoë is om te sê: “Ek is jammer, vergewe my asseblief.” Ons almal begaan foute. Wanneer ons hulle erken, toon ons dat ons beskeidenheid en nederigheid aankweek.​—Miga 6:8, NW; Jakobus 3:2.

20. Watter gepaste woorde van die apostel Paulus in Kolossense 3:12-17 is nuttig en gepas vir almal?

20 Hoe gepas is hierdie woorde van Paulus aan die gemeente in Kolossense tog: “Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid. Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ’n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen. En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is. En laat die vrede van God, waartoe julle ook in een liggaam geroep is, in julle harte heers, en wees dankbaar. Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, en sing in julle hart met dankbaarheid tot eer van die HERE. En wat julle ook al doen in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.”​—Kolossense 3:12-17.

21. Hoe kan ons gedrag en bedrywigheid ander aanspoor?

21 Die uitstekende voorbeelde in die Bybel, asook in die Christengemeente in hierdie 20ste eeu, moet ’n aansporing vir ’n ieder en ’n elk wees om hom steeds op die nuwe persoonlikheid toe te lê (Efesiërs 4:22-24, vgl. NW). Deur dit te doen, sal ons ’n seën wees vir almal met wie ons omgaan. Daarbenewens sal talle vir wie ons die Koninkryksboodskap neem, beïndruk en aangespoor word, nie net deur ons woorde nie, maar ook deur die ywer en goeie gedrag wat hulle onder die wêreldwye familie van Jehovah se Getuies sien.​—Johannes 13:34, 35.

Wat sou jy ter opsomming van die voorgaande sê?

◻ Watter eienskappe moet die man van God aankweek?

◻ Hoe sal die Christen vir sy vrou en gesin sorg?

◻ Deur watter deugde word die Christin onderskei?

◻ Hoe kan ongetroude persone wyslik vir die toekoms voorberei?

[Prent op bladsy 22]

Die geestelike man openbaar eienskappe wat ander tot hom aantrek

[Prent op bladsy 24]

’n Godvrugtige vrou het lief en word bemin

[Prent op bladsy 26]

Ongetroude Christene kan die nuwe persoonlikheid aankweek vir ’n sinvolle en vreugdevolle lewe

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel