Spanje se gewilliges doen die “onmoontlike”
JEHOVAH SE GETUIES preek al sedert 1919 in Spanje. In 1936 het burgeroorlog uitgebreek en het hulle werk feitlik tot stilstand gekom. Die owerheid het beslag gelê op die Wagtoringgenootskap se takkantoortjie in Madrid en het die druktoerusting gekonfiskeer. Die buitelandse pioniers, of voltydse predikers, moes uit die land vlug om gevangenskap vry te spring. Teen die noordelike lente van 1939 het generaal Franco die oorlog gewen en ’n Katolieke fascistiese diktatorskap ingestel. Die enigste godsdiensorganisasie wat toegelaat is om wettig en openlik te funksioneer, was die Rooms-Katolieke Kerk. Sou Jehovah se Getuies in sulke omstandighede ooit weer op die been kom?
Herstel het destyds vir die afgesonderde groepe Spaanse Getuies onmoontlik gelyk. Maar in 1970, na 34 jaar se ondergrondse “katakombe”-bedrywigheid is Jehovah se Getuies uiteindelik wettige erkenning in Spanje verleen. Na ’n kort soektog het hulle ’n geboutjie in Barcelona gevind wat as ’n sentrale kantoor en ’n Bethelhuis vir hulle hoofkwartierpersoneel sou dien. Die oorspronklike Bethelgesin het uit net 12 lede bestaan. In 1972, toe N. H. Knorr (destydse President van die Wagtoringgenootskap) die gerestoureerde gebou toegewy het, het gemiddeld 15 668 Getuies elke maand in Spanje gepreek. Vier jaar later het daardie syfer tot meer as 36 000 verdubbel! Die Bethelkompleks in Barcelona was reeds te klein vir die behoeftes. Maar waar sou ’n geskikte en groter eiendom gevind word?
Een probleem was die sonewette. Grond is gewoonlik òf vir industriële òf vir woongebruik afgesonder. Hulle het grond nodig gehad wat vir albei doeleindes gebruik kon word, aangesien lede van die Bethelgesin wat in die fabriek, werkwinkels en kantore werk, ook in dieselfde kompleks woon. ’n Landwye soektog is georganiseer vir ’n geskikte stuk grond om op te bou of vir ’n reeds bestaande gebou wat geskik sou wees vir toekomstige uitbreiding. Die maande en jare het verbygegaan sonder enige werklike sukses.
In 1980 is daar uiteindelik ’n uitweg uit die impasse gevind. ’n Groot fabriek met vyf vleuels is sowat 24 kilometer buite Madrid, aan die buitewyke van die dorpie Ajalvir, gevind. Die gebou was feitlik splinternuut en slegs deels voltooi, en die plaaslike owerheid was gewillig om gemengde soneindeling daar toe te laat. Maar daar was een groot probleem—finansies.
Hoe sou die broers reageer?
Meer as 30 jaar lank het die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap van Pennsilvanië, V.S.A., met genoeë die predikingswerk in Spanje sonder enige terugbetaling gefinansier. Maar weens groot uitgawes, as gevolg van uitbreiding by die Brooklynhoofkwartier op daardie stadium, was dit vir die Genootskap onmoontlik om die nuwe Bethelfasiliteite in Spanje te finansier. As Spanje ’n nuwe takkompleks wou hê, sou die Spaanse Getuies dit self moes finansier. Dit was ’n nuwe en baie groter uitdaging as enigiets wat die Spaanse veld voorheen in die gesig gestaar het. Trouens, dit het onmoontlik gelyk dat die Spaanse broers, met hulle betreklik lae lone, genoeg sou kon bydra om die koste van hierdie onderneming te dek.
Maar jy kan dalk onthou wat gedoen is toe die Israeliete in Moses se dag bevoorreg was om ’n tabernakel vir Jehovah se aanbidding te bou. Moses het vir die Israeliete gesê: “Neem van julle besittings ’n offergawe aan die HERE. Laat elkeen wat gewillig is in sy hart, dit bring, die offergawe van die HERE.” Hulle het vrywillig goud, silwer, edelgesteentes en ander artikels gegee (Exodus 35:5-9). Die saak is eweneens onomwonde aan die 751 gemeentes in Spanje gestel. Die behoefte is in 1980 duidelik uiteengesit by die streekbyeenkomste dwarsoor die land. Wat was die reaksie?
Na afloop van die byeenkomste het mense tougestaan om hulle juwele, goue en silwerringe en armbande by te dra sodat dit in geld omgesit kon word om die nuwe projek te finansier. By die byeenkoms in San Sebastian in die Baskiese Streek het ’n bejaarde suster ’n swaar, goue armband oorhandig. Toe sy gevra is of sy seker is dat sy so ’n waardevolle artikel wil bydra, het sy geantwoord: “Broer, dit gaan baie meer nut stig as dit vir ’n nuwe Bethel help betaal as wat dit aan my gewrig sal doen!”
’n Jong paartjie het die geld bygedra wat hulle van plan was om vir hulle wittebroodsreis te gebruik. ’n Ouer suster het ’n hoop klam en muwwe banknote gebring wat sy oor die jare heen onder die vloer van haar huis weggesteek het.
Namate die weke verbygegaan het, het manne en vroue, jonk en oud, ryk en arm, met ’n gewillige hart bygedra sodat Spanje die nodige, nuwe Bethelgeboue kon hê. Selfs spesiale pioniers, wat net ’n klein maandelikse toelae ontvang, het bydraes gegee. Een egpaar het byvoorbeeld ’n reis na die Verenigde State prysgegee en hulle kaartjies se geld geskenk. Kinders het ook hulle bydraes na die takkantoor gestuur. Een tienjarige het gesê: “Ek is die oudste van vyf kinders, en ons het gehoor van die voorstel om geld vir die nuwe Bethel te stuur. Ons wil bydra wat ons in ons spaarbussie gespaar het. Hoewel dit min is, glo ons dat dit iets sal koop.”
Jongmense het ook op verskillende maniere geld verdien wat hulle aan die Genootskap kon stuur. Party het poppies gemaak en verkoop. Een het saagsels by houtwerkwinkels bymekaargemaak en dit dan verkoop. Een knaap wat gespaar het om ’n kitaar te koop, het die geld vir die Bethelprojek bygedra.
Nuwe uitdagings
Die Spaanse broers het so goed gereageer dat die skynbaar onmoontlike ’n werklikheid geword het. Die fabriek is in Oktober 1980 gekoop. Maar daar was nuwe uitdagings. Die onvoltooide gebou moes nou omgebou en voltooi word. ’n Afsonderlike woongebou moes opgerig word. ’n Vrywillige bouspan moes gevorm word. Opgeleide tekenaars, ingenieurs, bouers, elektrisiëns en loodgieters was nodig. Met die eerste oogopslag het dit alles onmoontlik gelyk. Maar dit was ’n uitdaging soortgelyk aan die een waarvoor Moses gedurende die oprigting van die tabernakel te staan gekom het. Hierdie oproep om vrywilligers is dus gedoen: “Almal wat kunsvaardig is onder julle, moet kom en alles maak wat die HERE beveel het” (Exodus 35:10). Nou was deskundiges vir die Bethelkonstruksie nodig, en ’n soortgelyke oproep om gewillige werkers is gedoen.
Een spesiale pionier, ’n ingenieur, is saam met sy vrou en kind ingeroep en het etlike jare gedien. ’n Broer van Madrid wat ’n geregistreerde tegniese argitek is, het ook sy dienste aangebied vir die gehaltebeheer van die bouwerk. ’n Argitek in Barcelona wat nie ’n Getuie is nie, het van hierdie ontsaglike projek gehoor en is beweeg om sy dienste oor verskeie naweke aan te bied. Daar was egter betreklik min sodanige vakkundiges onder Jehovah se Getuies in Spanje. Maar deskundige hulp het ook van buite Spanje gekom. Broers het uit talle lande gekom—Griekeland, Duitsland, Swede, Groot-Brittanje en die Verenigde State, om maar net ’n paar te noem.
Daar was egter nie net gewillige deskundiges nodig nie, maar honderde permanente en tydelike vrywilligers was ook nodig om die grootste deel van die handearbeid te doen, asook die huishoudelike werk—kook, was en skoonmaak. Hoe het die Getuies gereageer? Net soos die Israeliete wat met gewilligheid gereageer het.—Exodus 35:20-35.
Gedurende die drie jaar wat dit geduur het om die projek te voltooi, het duisende Getuies van dwarsoor Spanje aangebied om voltyds of oor naweke en vakansies by Ajalvir te help. En hulle uitstekende hulp en voorbeeld het ’n getuienis gelewer. Hoe so? Gedurende ’n tydperk van tien maande het die oorspronklike fabriekseienaars hulle bedryf in twee vleuels van die gebou voortgesit terwyl die Getuies aan die res van die eiendom gewerk het. Die voormalige eienaars is so beïndruk deur die ywer en gedrag van die broers dat hulle ’n maatskappybeleid aangeneem het dat alle toekomstige werknemers Getuies moet wees—en hulle het daarby gehou!
Die “onmoontlike” bereik
In die noordelike herfs van 1982 is ’n beoogde datum vir die voltooiing van die nuwe Bethelkompleks gestel—9 Oktober 1983. Namate die maande verbygesnel het, het dit na ’n gedugte taak gelyk. Dit was een ding om die hoofgebou en die wooneenhede na ’n Bethelkompleks te laat lyk, maar die afronding van duisende besonderhede was ’n ander saak. Saterdag, 8 Oktober, het vrywilligers nog tot laat in die nag gewerk om die marmervloere en spieëlplafonne in die voorportaal af te rond. Maar die oggend van 9 Oktober—die dag van die toewyding—het die glimmende wit en grys Bethelkompleks te midde van groen grasperke en veelkleurige blombeddings daar op ’n heuweltop gestaan en oor ’n tipiese Kastiliaanse toneel met sy herfskleure uitgekyk.
Honderde besoekers wat van Spanje en ander lande ingestroom het, was verbaas. Wie sou kon glo dat ’n organisasie, wat feitlik uitgewis en tot 1970 ondergronds gedryf is, net 13 jaar later so ’n pragtige hoofkwartier kon hê! Jehovah het ongetwyfeld sy woord deur middel van die profeet Jesaja vervul: “Die kleinste sal ’n geslag word en die geringste ’n magtige nasie. Ek, die HERE, sal dit op die regte tyd gou laat kom.”—Jesaja 60:22.
Die program het goed begin met die ondervindinge en betuiginge van veterane wat deur die beproewinge van die dertigerjare gelewe het en van sendelinge wat voorheen in Spanje gedien het. Vervolgens het F. W. Franz, die President van die Wagtoringgenootskap, ’n toespraak oor toewyding en wyding gehou. Hierdie toespraak is aandagtig gevolg, nie net deur die 956 wat by die nuwe Bethel teenwoordig was nie, maar ook deur meer as 62 000 in 12 verskillende stadions dwarsoor die land wat per telefoon verbind was. Die meeste aanwesiges het deur hulle bydraes en vrywillige werk tot hierdie wonderlike nuwe Bethelkompleks bygedra. Gedurende die jare van harde werk was hulle waarlik bewus van wyse koning Salomo se woorde: “As die HERE die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou” (Psalm 127:1). Met Jehovah se seën was hulle onder die gewilliges wat dit alles moontlik gemaak het.
[Prent op bladsy 10]
’n Lugfoto van die Spaanse Bethel
[Prent op bladsy 11]
Die eerste Spaanse Ontwaak! wat op die M.A.N.-rotasiepers gedruk is