Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w85 11/1 bl. 16-21
  • Put vreugde uit die gawe van die huwelik

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Put vreugde uit die gawe van die huwelik
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die rol van sonde
  • Onselfsugtigheid in die huwelik
  • Die ouderdomsfaktor
  • Ter opsomming
  • Ná die troudag
    Hoe om in God se liefde te bly
  • Die huwelik – ’n Gawe van God
    Hoe om in God se liefde te bly
  • Wanneer die huwelik dreig om te verbrokkel
    Die geheim van gesinsgeluk
  • Die huwelik—’n gawe van ’n liefdevolle God
    ‘Hou julle in God se liefde’
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
w85 11/1 bl. 16-21

Put vreugde uit die gawe van die huwelik

“Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie.”​—MATTHEÜS 19:6.

1. Watter bekende woorde van Jesus ken die Christendom goed, maar watter vrae ontstaan in verband daarmee?

KEN jy daardie woorde? Miljoene mense in die Christendom, wat ’n groot deel van die wêreldbevolking uitmaak, ken hulle ongetwyfeld, want dit is die woorde van die Here Jesus toe hy met die godsdienstige Fariseërs van sy dag gepraat het. Die woorde is moontlik bekend. Maar wat van die betekenis van Jesus se verklaring? Volg die mensdom in die algemeen daardie raad? Kom ons kyk.

2-4. (a) Wat is die situasie vandag in talle lande ten opsigte van gehoorsaamheid aan Jesus se woorde in Mattheüs 19:6? (b) Watter gesindheid openbaar diegene wat die Bybel se raad oor die duursaamheid van die huwelik ignoreer?

2 In talle lande het mense vandag baie min agting vir die huweliksreëling en die voortsetting van wat God saamgevoeg het. Egskeiding het as ’t ware epidemiese afmetinge in land na land aangeneem. In lande waar egskeiding nie deur die regering gewettig is nie, is die situasie geensins beter nie, want in sulke lande verlaat mense dikwels hulle huweliksmaat en gaan woon saam met iemand anders. Miljoene mense in die Christendom en elders slaan dus nie ag op Jesus se belangrike raad in Mattheüs 19:6 nie. Is dit omdat die raad wat Jesus gegee het sleg is, of is dit omdat mense nie luister wanneer Jesus praat nie en hulle hulle min steur aan die raad wat Jesus in hierdie opsig gegee het?

3 Die getuienis toon dat baie mense die huwelik nie as ’n lewenslange kontrak beskou as dit op hulle lewenswyse en begeertes inbreuk maak nie. Vir sulke mense is ’n huwelik slegs ’n tydelike reëling as dit op jou belange en voorkeure inbreuk maak. Dit wil derhalwe voorkom dat dit net so maklik is om ’n huweliksmaat te verwerp soos om ’n jas of ’n hoed af te werp, en nooit vir ’n oomblik te dink aan die raad wat Jesus gegee het aan diegene wat die huwelikslewe betree nie.

4 Aangesien hierdie beskouing van “almal doen dit” so algemeen is, kan dit diegene wat die veilige raad van die Bybel wil volg so beïnvloed dat dit hulle weglei van die goeie leer van God se Woord. Goeie raad word deur die gedrukte bladsy en mondeling gegee, maar indien die Bybel se raad nie gevolg word nie, kan dit tot huweliksprobleme lei. (Vergelyk Psalm 19:8-12.) As ons die houding inneem dat enigiets in die huwelik wat op ons lewenswyse, ons plesier, ons begeertes, inbreuk maak, verander kan word deur nie God se riglyne oor die huwelik te gehoorsaam nie, verkeer ons in gevaar. So ’n houding bring ons van aangesig tot aangesig met een van die mensdom se grootste probleme, selfsug. Want dit is gewoonlik selfsug wat huweliksprobleme ten grondslag lê. Waarom sê ons dit?

Die rol van sonde

5. Hoe verduidelik die apostel Paulus in Romeine 7:15-20 die probleem waarmee ons te kampe het omdat ons in sonde gebore is?

5 Manne en vroue, nakomelinge van Adam en Eva, word in sonde en onvolmaaktheid gebore. Dit beteken dat die mens weens die erfenis van sonde onvolmaak en in meerdere of mindere mate wetteloos is (1 Johannes 3:4). Die apostel Paulus het gepraat van die geweldige las wat sonde op die mensdom plaas, want hy het gedoen wat hy nie wou doen nie en het nie gedoen wat hy moes doen nie (Romeine 7:15-20). Enigiemand wat God se wet opsetlik verbreek, is selfsugtig. By party persone is dit moontlik geringe selfsug, maar by ander word dit ’n hele lewenswyse, en hulle selfsug word afstootlik.

6, 7. Watter twee huweliksprobleme word deur selfsug veroorsaak, en watter logiese vraag ontstaan gevolglik?

6 In die huweliksreëling wat deur God ingestel is, is selfsug dikwels die oorsaak van ’n probleem tussen huweliksmaats. Die vrou wat op haar wenke bedien wil word, soos die uitdrukking lui, omdat sy miskien deur haar moeder of vader bederf is, is basies selfsugtig. Die man wat ’n ongetroude lewenswyse wil voortsit, naamlik om ná sy huwelik altyd saam met die “manne” te wees, is basies selfsugtig. Dink aan al die dinge waaroor ’n man en ’n vrou meningsverskille het, en jy sal sien dat selfsug baie van die probleme ten grondslag lê.

7 Hoe kan ’n mens hierdie aangebore neiging tot selfsug te bowe kom wanneer jy probeer om probleme in die huwelik die hoof te bied? Daar is ’n aantal dinge wat gedoen kan word en wat ’n wankelende huwelik kan help as dit toegepas word. Maar albei maats in die huweliksreëling moet bereid wees om sy of haar deel by te dra. Dit is nie ’n eenrigtingstraat nie. Kom ons beskou party van die betrokke faktore.

Onselfsugtigheid in die huwelik

8. Hoe is die huwelik ’n reëling waarin dinge gedeel word?

8 Die huwelik is ’n reëling waarin dinge gedeel word, en dit beteken dat nie een van die huweliksmaats die ander een as vanselfsprekend kan aanvaar en kan dink dat net solank een maat gee en die ander een neem alles goed sal gaan nie. Dit sal nie een tot voordeel strek nie. Die familielede aan albei kante moet byvoorbeeld in ag geneem word. Daar moet nie toegelaat word dat dit ’n teer punt in die huweliksreëling word omdat jou ouers of ander familielede in ag geneem word en nie die van jou maat nie. Waar die gesin vakansies of ander ontspanningstye gaan deurbring, moet nie altyd ’n eensydige besluit wees nie. Bedagsaamheid in sulke sake sal tot ’n suksesvolle huwelik bydra. Moet mekaar nooit as vanselfsprekend aanvaar nie, maar toon onselfsugtigheid.​—Filippense 2:4.

Die ouderdomsfaktor

9. Watter ongelukkige gevolge het ’n ligte beskouing van die huwelik?

9 As gevolg van die heersende beskouing onder talle van hierdie geslag dat as ’n huwelik misluk dit deur ’n egskeiding beëindig kan word, trou baie jongmense met daardie ligte beskouing van die huweliksreëling. Dit lei tot die verbrokkeling van talle tienerhuwelike. Dit lei ook daartoe dat talle onwelkome kinders gebore word. En die kinders word dikwels groot sonder om ooit te weet hoe dit voel om ’n moeder en ’n vader te hê wat vir hulle innig lief is en omgee.

10. In watter opsigte kan Galasiërs 5:22 diegene help wat daaraan dink om te trou?

10 Hoe oud moet ’n persoon wees voordat hy dit oorweeg om te trou? Dit sou nie verstandig wees om in hierdie opsig reëls neer te lê nie. Maar die Skrif gee goeie raad oor wat verstandelike en geestelike rypheid uitmaak​—die soort rypheid wat diegene nodig het wat die huwelikslewe betree. Lees asseblief Galasiërs 5:22 waar die vrugte van die gees genoem word. Ondersoek noukeurig elkeen van die vrugte wat daar gemeld word. Dit is die hoedanighede wat ’n persoon behoort te kweek. Hy moet hierdie hoedanighede nie na die huwelik begin toon nie, maar lank voor die tyd in sy daaglikse lewe as ’n Christen.

11. Watter selfondersoek kan diegene doen wat aan trou dink?

11 Is jy byvoorbeeld ’n persoon wat vreugdevol is, gelukkig dat jy lewe en die belange van die Koninkryk van Christus kan dien? Lewe jy in vrede met ander en bevorder jy vreedsame verhoudinge met hulle? Of is jy twisgierig, geneig tot woedebuie en skeltaal? Is jy lankmoedig sodat jy die swakhede van jou broer of suster, moeder of vader kan verdra? Of is jy kortgebonde en opvlieënd as ander nie onmiddellik doen wat jy wil hê nie? Betoon jy vriendelikheid teenoor ander in jou handelinge met hulle, is jy saggeaard en doen jy goed aan hulle? Of is jy selfsugtig, egotisties, sonder selfbeheersing, geneig om ander by die geringste aanleiding in te vlieg? Het jy opregte liefde vir ander en die begeerte om hulle te help, doen jy moeite en gee jy van jouself en van jou middele om ander geluk te bring? Of wil jy hê dat ander vir jou liefde moet toon en altyd vir jou van hulle middele moet gee?

12. Watter voordeel hou dit in wanneer ’n man of ’n vrou se lewe voor die huwelik gevorm is?

12 Nie een van ons het weliswaar hierdie hoedanighede in ’n volmaakte sin nie. Maar die man of die vrou wat deur ’n aantal lewensjare gevorm is, en wat die geleentheid gehad het om sulke geestelike hoedanighede aan te kweek, is in ’n goeie posisie om ’n sukses van die huwelik te maak​—in ’n baie beter posisie as die persoon wat hierdie vrugte van die gees eers ná die huweliksgelofte probeer bemeester.​—Vergelyk 2 Petrus 1:5-8.

13, 14. (a) Watter geleentheid bied die verloop van tyd wat die aankweek van geestelike waardes betref? (b) Hoe kan ouers hulle kinders help?

13 Ondersoek jouself, jou voorkeur en afkeur gerus eerlik. Het jou waardering vir die lewe nie met verloop van tyd verdiep nie? Het jy op die ouderdom van 13 dieselfde waardes gehad wat jy op 5 gehad het, of op 20 dieselfde waardes wat jy op 13 gehad het? Het jou insig in en waardering vir die lewe toegeneem of afgeneem namate jy oor die jare heen meer ondervinding opgedoen het? Soek jy nou, as ’n volwassene, dieselfde eienskappe in mense as toe jy ’n kind was? Is dit nie dikwels so dat die “enigste” seun in ’n meisie se lewe wanneer sy 16 of 17 jaar oud is lankal vergete is wanneer sy volwasse word en groter waarde aan ’n man se godvrugtige eienskappe en persoonlikheid heg nie? Op die ouderdom van 22 of 23 sal sy waarskynlik meer belangstel in die geestelike, verstandelike en emosionele aspekte van ’n man as in die fisiese voorkoms. Dieselfde geld vir die jong seun wat tot volwassenheid groei. Sy verwagtinge en aspirasies wat ’n vrou betref, word ryper namate hy tot volwassenheid groei. In later jare sal hy, namate waardes verander, ’n huweliksmaat soek wat simpatiek en vriendelik is, wat ’n tuisteskepper en ’n moeder kan wees, en wat in haar hart ’n diepgewortelde begeerte het om allereers haar Skepper, Jehovah, te behaag en sy wil te doen.​—Spreuke 31:10, 26, 27.

14 Feit is dat ’n persoon se beskouing van waardes met verloop van tyd verander. Om derhalwe op ’n vroeë ouderdom oorhaastig te trou, hou talle gevare in. Dit is miskien nie moontlik om twee baie jong mense te oorreed om ’n ruk te wag voor hulle trou nie. Maar ouers kan hulle kinders, veral terwyl dié nog bloedjonk is, aanspoor om ernstig na te dink oor die lewe en oor die feit dat jy geestelik, emosioneel en verstandelik gereed moet wees vir die huwelik voordat jy ’n lewenslange kontrak in lief en leed met ’n ander individu aangaan.

15. Watter raad is daar om die regte gesindheid te behou, aangesien dit nie altyd die oplossing vir alle probleme is as ’n mens eers later trou nie?

15 Dit wil ook nie sê dat dit die algehele oplossing is om te trou wanneer jy ouer is nie. Daar kan dan ook probleme wees, veral as daar toegelaat word dat selfsug insluip en ’n wig tussen twee mense indryf. Die verstandelike, emosionele en geestelike behoeftes van albei in die huweliksband moet in ag geneem word. Sommige Christene het diep betrokke geraak by sekulêre werk, met uitsluiting van gemeentebedrywigheid, onder meer die bywoning van vergaderinge en deelname aan die predikings- en dissipelmaakwerk. Dan probeer hulle vergoed vir wat hulle meen ’n gebrek in hulle lewe is deur hulle oor te gee aan baie ontspanning. Hulle dink skynbaar dat solank hulle besig bly hulle probleme nou op die een of ander manier opgelos sal word, en dat hulle dan in die Nuwe Orde aan mekaar se emosionele, verstandelike en geestelike behoeftes aandag sal skenk. Maar die lewe verloop nie so nie. Paulus het gemaan dat ’n man sy vrou soos sy eie liggaam moet liefhê (Efesiërs 5:28). Dit beteken dat hy nou aandag aan die behoeftes van sy maat moet skenk, net soos hy daagliks aandag aan sy eie behoeftes skenk. Dieselfde geld vir die vrou.

’n Gebalanseerde benadering van die huwelikslewe

16-18. (a) Waarom is ’n gebalanseerde benadering van die lewe en van die huwelik nodig, en watter vermaning ontvang ons met betrekking tot ons begeertes en ander se behoeftes? (b) Waarom is dit goed om voor die huwelik oor sulke sake na te dink?

16 ’n Gebalanseerde benadering van die lewe sal ’n persoon help om ’n gebalanseerde benadering van die huwelik te hê. Die gebalanseerde persoon sal besef dat hy hom weens oorgeërfde selfsugtige neigings te alle tye daarop moet toelê om sulke skaafplekke te bowe te kom. Dit is so maklik om nooit daaraan te dink dat die behoeftes van ander die voorkeur bo jou persoonlike begeertes moet geniet nie. ’n Kindjie wil al die speelgoed hê en as sy ouers hom nie behoorlik opgelei het nie, sal hy dit gewoonlik nie met ander deel nie. In later jare sal sy selfsug ander aspekte insluit. Ons vind dus dikwels dat tienderjariges en jong volwassenes dinge uitsluitlik op hulle manier wil hê, en in hulle strewe om hulle begeertes te bevredig, maak dit nie vir hulle saak dat ander kan seerkry of ly nie. In later jare begeer sulke volwassenes altyd wat hulle wil hê en gee nie in die minste om vir die behoeftes van ander nie.

17 Die gebalanseerde persoon sal hom nie van alles ontsê nie, maar hy sal sy lewe so lei dat ander ook in ag geneem word. Hy sal vra hoe hy ander kan help en hoe hy van homself en sy middele ten behoewe van ander kan gee. Hy sal nie daarop aandring om alewig sy sin te hê nie. Die boek Spreuke sê: “Die siel wat seën, word versadig; en hy wat laaf, word self ook gelaaf.”​—Spreuke 11:25.

18 As ’n ongetroude persoon so ’n lewenswyse volg, sal dit vir hom later in die huwelikslewe van groot nut wees. Sy of haar maat sal altyd in ag geneem word wanneer besluite geneem word. In plaas van die huwelik as ’n eksperiment of ’n tydelike reëling te ag, sal so ’n persoon die huwelik as die permanente reëling beskou wat Jehovah God in gedagte gehad het toe hy die eerste mensepaar in Eden bymekaar gebring het (Genesis 2:22-24). Pogings sal voortdurend aangewend word om die huwelik ’n sukses te maak en die eggenoot te help namate albei se waardering vir God en vir mekaar toeneem.

Ter opsomming

19-21. (a) Hoe kan ons seker maak dat ons die huwelik nie net as ’n proefreëling beskou nie? (b) Wat moet alle persone, hetsy jonk of oud, wat ware geluk in die huwelik soek in gedagte hou?

19 “Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie.” Ja, daardie raad van Jesus is veelbetekenend vir die ware Christen. Die huwelik is nie ’n proefreëling wat opsygeskuif kan word wanneer dinge moeilik raak nie. Ons moet voortdurend teen die onvolmaakte vlees stry om die menslike neiging tot selfsug te beteuel en sodoende God se goedkeuring te verkry. (Vergelyk Romeine 7:21-25.) Om ’n sukses van die huwelik te maak, moet albei maats leer om te gee en te neem, om te versorg en versorg te word, en nooit die ander een as vanselfsprekend te aanvaar nie.​—Efesiërs 5:21-23, 28, 33.

20 En hoewel daar nie aangedring kan word op ’n bepaalde ouderdom as ’n regsreël vir ’n persoon wat wil trou nie, behalwe die wetlike ouderdom wat deur die regering vasgestel is, kan elkeen beslis die nodigheid in gedagte hou om ooreenkomstig Galasiërs 5:22 geestelik te groei ten einde ’n bekwame huweliksmaat te wees. Die tyd laat beslis ’n persoon se uitkyk verander. Niemand moet derhalwe oorhaastig trou nie. Laat elkeen eers die Christelike persoonlikheid aankweek sodat hy behoorlik voorbereid is vir die huweliksband. En moet nooit vergeet dat niemand moet skei wat God saamgevoeg het nie.​—Mattheüs 19:4-6.

21 As ’n persoon ’n gebalanseerde benadering van die lewe en dan van die huwelik verkry, kan hy ware vreugde en geluk vind in die reëling wat Jehovah God self vir die man en vrou ingestel het, soos getoon deur die eerste huwelik in Eden (Spreuke 5:18). Maar wat anders kan ’n persoon doen om te toon dat hy of sy gereed is om die rol van man of vrou te aanvaar? Lees asseblief verder in verband met die persoonlikheid van Christene en Christinne.

Hoe sou jy ter opsomming antwoord?

◻ Watter beskouings van die huwelik moet ons vermy?

◻ Hoe kan huweliksmaats aangebore neigings tot sonde die hoof bied?

◻ Waarom moet jong Christene nie oorhaastig trou nie?

◻ Watter gebalanseerde beskouing van die huwelikslewe word aanbeveel?

[Prent op bladsy 19]

Eerlike selfondersoek kan foute openbaar wat ons moet regstel

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel