Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w85 10/1 bl. 19-23
  • Tien jaar in Spanje se militêre tronke

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Tien jaar in Spanje se militêre tronke
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • My eerste groot toets
  • Eensame opsluiting
  • Wat ek gewaag het om die Bybel te lees
  • ’n Gemeente​—in die tronk
  • ’n Kasdeur
  • Amnestie en vryheid
  • Hoe ek daarin geslaag het om ’n Christengesin groot te maak
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Van politieke aktivis tot neutrale Christen
    Ontwaak!—2002
  • Ek was ’n voortvlugtige
    Ontwaak!—1996
  • ‘Jehovah het my in my donkerste uur gered’
    Lewensverhale van Jehovah se Getuies
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
w85 10/1 bl. 19-23

Tien jaar in Spanje se militêre tronke

Soos vertel deur Fernando Marín

TIEN jaar in die tronk in Franco se Spanje​—tien jaar wat my lewe verryk het. Dit klink moontlik teenstrydig; maar dit was met my die geval. Nie omdat ek gedurende daardie jare al die geriewe gehad het nie. Inteendeel, daar was die wrede werklikheid van ’n militêre tronk. Maar terselfdertyd was daar ook wesenlike en soms verbasende bewyse van goddelike beskerming. Ek onthou die gebeure soos gister.

Ek is as ’n Katoliek grootgemaak en het in Katolieke skole in Barcelona skoolgegaan. Ek het grootgeword met ’n morbiede vrees vir die vaevuur en die foltering in die helse vuur. Toe ek 16 was, het ek die Bybel saam met Jehovah se Getuies bestudeer, en daardie skrikwekkende leringe is uit die weg geruim. Ek het duidelik in die Bybel gesien dat daar nie ’n onsterflike mensesiel is nie. Hoe kan daar dan plekke wees waar hierdie siele gefolter en gereinig word?​—Esegiël 18:4, 20; Prediker 9:5, 6, 10.

In 1961, toe ek 18 was, het ek in Parys, Frankryk, by die eerste groot byeenkoms wat ek bygewoon het, my toewyding aan God deur doop gesimboliseer. Ek was een van ’n groepie Spanjaarde wat, ten spyte van ons armoede en die destydse verbod op Jehovah se Getuies in Spanje, die reis na Frankryk kon onderneem. Gedurende die grootste deel van die Franco-tydperk (1939-75) het ons ons prediking ondergronds gedoen.

Ek was so dankbaar om Jehovah en sy waarheid deur Christus Jesus te ken dat ek my sonder voorbehoud toegewy het. Ek wou ’n voltydse pionierbedienaar wees. My wens is in Februarie 1962 verwesenlik. Ek dien sedertdien in daardie hoedanigheid​—selfs toe ek in die tronk was. Maar waarom moes ek tronk toe gaan?

My eerste groot toets

Ek is in Februarie 1964, op die ouderdom van 21, vir militêre diens opgeroep. Ek was gereed vir wat voorgelê het. Soos die ander jong mans in die gemeente het ek reeds jare lank twee lewensdoelwitte gehad​—om ’n voltydse pionierbedienaar te wees en my onkreukbaarheid in die geskil van Christelike neutraliteit te handhaaf.​—Johannes 17:16; 18:36.

Toe ek na die barak vertrek het, was dit met ’n gevoel van afwagting, ’n mate van onsekerheid, maar met my oortuigings baie duidelik in gedagte. By die plaaslike militêre kwartier het ek my standpunt as ’n gewetensbeswaarde verduidelik​—iets wat destyds in Spanje glad nie verstaan en beslis nie geduld is nie. Ek het ’n reispas gekry en is beveel om my by die barak in Tenerife (Kanariese Eilande)​—1 600 kilometer van my tuiste in Katalonië af—​aan te meld.

In Tenerife het die militêre owerheid gedink dat ek mal was. Watter persoon by sy volle verstand sou onder ’n Fascistiese diktatorskap weier om militêre diensplig te verrig? Ek is vir behandeling na ’n psigiatriese hospitaal gestuur! Gelukkig is ek ondersoek deur ’n dokter wat van die Getuies geweet het en derhalwe het ek behandeling vrygespring wat blywende skade kon aangerig het. Hulle het my weldra in ’n militêre tronk opgesluit. Hoe lank sou ek daar wees? Ek het glad nie geweet nie, want daar was toe geen vaste vonnis vir gewetensbeswaardes nie.

In die daaropvolgende jare het ek met die innerlike leegheid van eensaamheid en die verdorwenheid van selmaats kennis gemaak. Ek het lewensgevaarlike situasies deurgemaak en te staan gekom voor aanloklike geleenthede om my onkreukbaarheid en neutraliteit prys te gee. Ek het geleidelik begin besef dat ’n klein, reghoekige sel ook ’n wêreld kan wees wanneer ’n mens ’n intieme verhouding met God geniet. Ek het ’n oorweldigende vertroue in Jehovah as my God opgebou.​—Psalm 23.

Eensame opsluiting

Ek is van Tenerife na die gevreesde militêre tronk van San Francisco del Risco op die eiland Las Palmas de Gran Canaria gestuur​—gevrees weens die reputasie van die tronkkommandant—​’n kort, gesette sadis wat dit geniet het om die gevangenes self af te ransel. Sy bynaam was Pisamondongo (Dermtrapper).

Ek is alleen opgesluit en al my besittings, waaronder my Bybel, is weggeneem. Ek is saans net ’n kort rukkie uitgelaat​—om my emmer leeg te maak en my aandete te gaan haal. Maar in al daardie maande van eensame opsluiting was ek nooit werklik alleen nie (Psalm 145:18). Soos sendeling Harold King, wat jare lank in China in eensame opsluiting was, het ek my verhouding met Jehovah versterk. (Kyk Die Wagtoring, 1963, bladsy 450-55.)

Een Sondag was daar ’n suurlemoenskyfie by my kos. Terwyl ek dit oor die rys uitgedruk het, het ’n paar druppels op die rooi teëlvloer van my sel geval en dit effens gevlek. Ek het die idee gekry om suurlemoensap te gebruik om ’n teks op die selvloer te skryf. Daar was een maal per week ’n suurlemoenskyfie by die kos. Ek kon dus gaandeweg oor die vloer van my sel skryf: “El nombre de mi Dios es Jehová.” (“Die naam van my God is Jehovah.”) Daardie woorde was ’n voortdurende herinnering aan die feit dat ek nie heeltemal alleen was nie. Daardie eenvoudige waarheid aan my voete het my aan dieper waarhede omtrent die mens se verhouding met God herinner. Later het ek kerswas gebruik om die hele selvloer te poleer totdat dit spieëlglad en blink was.

Wat ek gewaag het om die Bybel te lees

Broers in die tronk in El Aaiún, in die Sahara, het te hore gekom van my afsondering en die feit dat ek geen Bybel of Bybellektuur toegelaat is nie. Deur middel van ’n ander gevangene wat oorgeplaas is, het hulle daarin geslaag om ’n paar bladsye van Die Wagtoring en ’n eksemplaar van een van die Evangelies aan my te stuur. Die probleem was hoe hy dit by my sou kry terwyl ek in eensame opsluiting was.

Daardie aand toe ek my emmer gaan leegmaak het, is ’n pakkie oor die toiletmuur gegooi. Ek het dit gegryp soos ’n verhongerde man na brood sou gryp. Ek het heelnag in my sel die bladsye oor en oor gelees. Dit was die eerste lektuur oor Jehovah wat ek in ’n jaar gesien het! Die dag het gebreek. Met watter oorweldigende honger het ek daardie artikels en Jesus se vertroostende woorde in die evangelie verslind!

Toe ek die volgende aand met my bord kos in die hand na my sel teruggekeer het, het die tronkkommandant, Don Gregorio, vir my gewag. Hy het dreigend gelyk en sy kort, dik nek het geswel van woede. In sy hand was my tydskrifbladsye. Hy het my geheime voorraad kosbare Bybellektuur ontdek! Hy het my met growwe beledigings teen Jehovah se naam en dreigemente van die dood nader geroep. Ek het onmiddellik ’n intense, stil gebed tot Jehovah gerig en gevra dat hy my help om wat sou volg met die waardigheid van ’n ware Christen te verduur.

Die kommandant het my seldeur oopgemaak. Ek het na die hoek van die sel gehardloop en probeer om my kwesbare dele teen die onvermydelike aanval te beskerm. Hy het woedend en skreeuend, met bloedbelope oë, op my afgestorm. Die vloer was blink gepoleer. Hy het gegly en op sy gesig neergeslaan. Rasend van woede het hy probeer opstaan. Toe het hy die woorde op die vloer gesien: “El nombre de mi Dios es Jehová.” Hy was baie bygelowig. Toe hy God se naam lees, het hy ongelowig en saggies gesê: “Jehovah!” Toe het hy al harder oor en oor geskree: “Jehovah! Jehovah! . . .” Toe het hy so te sê handeviervoet uit die sel gevlug! Ek het ’n afranseling vrygespring, en hy het my nooit weer gepla nie.

Hierdie ondervinding het my geloof in Jehovah se beskerming versterk. Ek was heeltemal alleen en tog nie verlate nie. Ek is vervolg, maar nie vernietig nie.​—2 Korinthiërs 4:7-10.

’n Gemeente​—in die tronk

Ek is eindelik na die tronk van Santa Catalina, in Cádiz, oorgeplaas, waar daar weldra omtrent honderd broers was. Ons het ons as ’n gemeente georganiseer, destyds een van die grootste gemeentes in Spanje! Ons het by ons rooster van vergaderinge en persoonlike studie gehou en selfs die kring- en streekbyeenkomsprogramme daar in die tronk geniet.

Dit sou maklik gewees het om ons situasie te dramatiseer, maar ons broers en susters buite het ook in hulle daaglikse lewe voor toetse van getrouheid en onkreukbaarheid te staan gekom​—in sommige gevalle toetse wat ons nie in die tronk gehad het nie. Ons het ten minste nie gevoel dat ons van Jehovah en sy organisasie afgesny was nie. Sy beginsels was vir ons lewensbelangrik, veral wanneer sielkundige uitputting ons oorval het en die skynbaar eindelose dae ons soos meedoënlose hamerslae getref en die fleur van ons jeug vernietig het. Maar ons het nie toegelaat dat sulke wanhoop ons oorweldig nie.​—Psalm 71.

In ons beknopte omgewing moes ons ’n goeie gees van Christelike naasbestaan handhaaf, en dit was nie altyd maklik nie. Dit was feitlik onmoontlik om in die gemeenskaplike selle privaat te wees, al was ons nie saam met die ander militêre gevangenes nie. Ongelukkig het iemand in ons geledere ’n ernstige sonde begaan. Optrede was nodig om ons gemeente rein te hou. Die persoon is uitgesit. Maar hy moes nog saam met ons lewe​—ons kon hom nie uit die tronk sit nie, en ons wou ook nie vra dat hy na die algemene deel oorgeplaas word nie, aangesien dit oneer op Jehovah en die res van ons sou bring. Ons het nie geweet hoe om hierdie moeilike situasie te hanteer nie. ’n Antwoord het uit ’n onverwagte bron gekom.

’n Kasdeur

Omstreeks daardie tyd het ons ’n baie welkome besoek van Grant Suiter, ’n lid van die Bestuursliggaam, ontvang. Hy kon met net een gevangene in die besoekkamer praat. Maar ons almal wou hom sien en hoor. Hoe sou dit moontlik wees? In die werkswinkel het ons ’n ongebruikte deur na ons slaapsaal ontdek. Dit was agter muurpapier versteek. Ons het besluit om dit heeltemal agter ’n kas sonder ’n agterkant weg te steek. ’n Mens kon dus in die kas instap, die deur daaragter oopmaak​—en jou skielik in ’n vertrek propvol slaapbanke bevind!

Toe ek en broer Suiter alleen in die besoekkamer was, het ek hom na die werkswinkel genooi onder die voorwendsel dat ek hom ons handewerk wou wys. Stel jou sy verbasing voor toe ek hom vra om in ’n kas in te loop​—en hy hom toe in ’n slaapsaal bevind waar meer as honderd broers wag om hom te sien! Dit was gevaarlik, maar vir ons, wat uitgehonger was vir omgang van buite, was dit die moeite werd. Ons kon skaars glo dat ons werklik ’n lid van die Bestuursliggaam in ons midde gehad het.

Ons het van die geleentheid gebruik gemaak om ons probleem met uitsetting aan hom te verduidelik. Sy antwoord was duidelik: Jehovah se organisasie en beginsels kan nie deur mensereëls en -regulasies ondermyn word nie. ‘Die organisasie is nie in die tronk nie!’ het hy gesê. Toe het hy voorgestel: ‘Praat gerus met die kommandant en vra dat die oortreder oorgeplaas word.’

Die kommandant was gewoonlik sarkasties en het ons bespot. Ek het aan hom verduidelik: “Ons laat nie oortreders in ons geledere toe nie. Ons moet ons organisasie rein hou.” Hoe het hy gereageer? Asof hy ’n ewige beginsel, wat ek gedink het bo sy vuurmaakplek sou wees, verstaan het, het hy probeer om my te troos! Ek was oorbluf! Hy het gesê dat hy onmiddellik sou beveel dat die oortreder oorgeplaas word en dat hy nie weer in ons afdeling toegelaat sou word voordat ons geregtelike komitee dit aanvra nie. Hy het selfs ons getrouheid en agting vir hoe beginsels geprys.

Amnestie en vryheid

Ons beproewing in die tronk was nie alleen die eindelose jare van gevangenskap nie, maar ook die onsekerheid​—ons het nooit geweet wanneer ons vrygelaat sou word nie, indien ooit. Waarom nie? Omdat ons aan die einde van elke vonnis weer verhoor is en ’n langer vonnis opgelê is. Een van die broers is tot altesaam 26 jaar tronkstraf gevonnis​—bloot omdat hy 18 maande diensplig geweier het! Wat het ons gedurende die lang beproewing krag gegee? Gebed was een van die hoekstene van ons onkreukbaarheid.

Van omstreeks 1972 af het gerugte die ronde gedoen dat die Spaanse regering moontlik amnestie gaan verleen aan die gewetensbeswaardes wat al so lank in die tronk was. ’n Paar dae voordat die amnestie van krag geword het, het 70 van die 100 wat vrygestel sou word aansoek gedoen om voltydse pioniers te wees! Dit is ’n aanduiding van die verhewe besef van Christelike verantwoordelikheid wat ons deur die jare heen in die tronk ontwikkel het. Ons het ons nuwe vryheid nie beskou as ’n verskoning om die lewe te geniet en te vergoed vir alles wat ons skynbaar gemis het nie. Ons wou eerder ons dankbaarheid aan Jehovah toon vir die beskerming wat ons deur die jare geniet het. En dit was nie ’n verbygaande, emosionele reaksie nie​—baie van daardie broers dien nog as pioniers! Ruim 12 doen kring- of streekwerk of dien in Bethel, met inbegrip van my en my vrou Conchita.

Het ek tien jaar van my lewe in die tronk verkwis? Onkreukbaarheid is nooit tevergeefs nie. Die onkreukbaarheid van honderde getroue broers wat in Spanje opgesluit was, het meegebring dat Jehovah se naam die hoogste regeringsvlakke, die parlement en die Katolieke Kerk bereik het. Selfs generaal Franco het notisie geneem van hierdie buitengewone groep onwrikbare Christene. In 1970 het sy regering amptelike erkenning aan Jehovah se Getuies verleen.

Ons het ’n lang beproewing van geduld en volharding in Spanje se tronke oorleef. Maar dit was ’n unieke geleentheid om persoonlik ’n ernstige studie van die Bybel te maak en ’n hegte verhouding met Jehovah aan te kweek. Ons het daardie waardevolle jare nie verkwis nie. Daarom was baie van ons geestelik sterker toe ons vrygelaat is as toe ons gevange geneem is. Ja, ons is jare lank ‘vervolg, maar nie verlaat nie; neergewerp, maar nie vernietig nie’.​—2 Korinthiërs 4:9.

[Lokteks op bladsy 20]

Selfs in afsondering het ek gedurig ’n herinnering gehad dat ek nie alleen was nie

[Prent op bladsy 22]

Wyle Grant Suiter (in die middel), ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies, het die militêre tronk in Cádiz besoek(links, vertaler Bernard Backhouse; regs, Fernando Marín)

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel