Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w85 6/1 bl. 22-27
  • Hoe kosbaar is u vriendskap, o God!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe kosbaar is u vriendskap, o God!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Geestelike begin
  • Geestelike vooruitgang
  • Nuwe toewysings
  • Ondervindinge in die tronk
  • Gebeure wat my lewe beïnvloed het
  • Hoe ek daarin geslaag het om ’n Christengesin groot te maak
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Jehovah het my gehelp om suksesvol te wees in sy diens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2016
  • My lewe in Jehovah se geesgerigte organisasie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • My vooruitgang saam met God se organisasie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
w85 6/1 bl. 22-27

Hoe kosbaar is u vriendskap, o God!

Soos vertel deur Daniël Sydlik

EK IS in Februarie 1919 op ’n plaas naby Belleville, Michigan, gebore. ’n Vroedvrou het met my geboorte gehelp, aangesien my immigrantemoeder gemeen het dat ’n dokter onnodig is. “Waarom hospitaal toe gaan? Ek is nie siek nie”, het sy in haar gebroke Engels gesê wanneer iemand gevra het waar die kind gebore sou word.

Die lewe op die plaas was moeilik. Ons gesin het na Detroit verhuis op soek na ’n beter lewe. Kort daarna, toe ek omtrent drie was, het Pa siek geword en gesterf. Hy was ’n aktiewe lid van die Internasionale Bybelstudente, wat vandag as Jehovah se Getuies bekendstaan.

Ma is toe agtergelaat met ses kinders en skuld om te betaal. Sy het Pa se godsdiens bitterlik teengestaan, maar na sy dood het sy haar tot die Bybel gewend om uit te vind waarom dit hom so geboei het. ’n Aantal jare later het sy ook een van Jehovah se Getuies geword.

Na Pa se dood het Ma saans as ’n kelnerin gewerk en bedags na die gesin omgesien. Dit het so gegaan totdat sy etlike jare later weer getrou het. My stiefvader het met goeie gevolg geredeneer dat die platteland en nie ’n oorbevolkte betonoerwoud nie, die beste plek is om kinders groot te maak.

Hulle het ’n plaas van 22 hektaar naby Caro, Michigan, gekoop. Toe ons in die lente van 1927 daar aangekom het, was die boorde oortrek met bloeisels. Die lug was soet met die geur van wilde blomme en die bome was in volle bloei. Daar was swemgate, bome om te klim en diere om mee te speel. Die lewe hier was wonderlik! Glad nie soos in die stad nie. Maar die plaaslewe was moeilik vir Ma. Dit was pionierswerk op sy swaarste​—geen lopende water, geen binnenshuise toilet, geen elektrisiteit nie.

Die winters was lank en bitter koud. Ons as kinders het op die solder geslaap waar die sneeu dikwels deur die spaandak gesif en ons beddens letterlik bedek het. Soggens was dit loutere foltering om ’n yskoue broek aan te trek wat soms stokstyf verys was. Die plaaswerkies moes voor ontbyt gedoen word. Dan was daar die lang stap deur die woude skool toe. Die skool het net een klaskamer gehad waar agt standerds deur een onderwyser geleer is.

Geestelike begin

Moeder het ’n innige liefde vir God gehad en dit het ’n groot invloed op ons as kinders gehad. Sy het in Pools gesê: “God het ons ’n pragtige dag gegee.” Ons het buite toe gegaan om te sien waarvan sy praat​—net om te vind dat dit reën. Vir Ma het alle gebeure verband gehou met God. As ’n nuwe kalf gebore is of die hoenders hulle eiers gelê of die sneeu geval het, het dit volgens haar iets met God te doen gehad. God was op die een of ander manier vir hierdie goeie dinge verantwoordelik.

Ma het in gebed geglo. ’n Gebed was ’n vereiste vir ons by maaltye. “Honde waai hulle sterte wanneer hulle gevoer word. Het ons minder waardering as honde?” het sy gesê. Sy wou ook hê dat ons bid voordat ons bed toe gaan. Aangesien nie een van ons die Onse Vader in Engels geken het nie, het sy ons laat kniel en die woorde in Pools agter haar aan laat sê.​—Mattheüs 6: 9-13.

Dit was lank voor televisie. Na sononder was daar min om te doen behalwe om bed toe te gaan. Ma het ons aangespoor om te lees. Sy het haar Bybel by ’n paraffienlamp gelees. En ons het publikasies soos The Harp of God, Creation en Reconciliation gelees wat ons by reisende bedienaars van die Internasionale Bybelstudente gekry het. So is daar begin om ’n vriendskap met God op te bou.

In die vroeë dertigerjare het Bybelstudente van Saginaw, Michigan, ons besoek en ons aangespoor om vir ander te preek. Aangesien daar geen georganiseerde Bybelstudiegroep of gemeente naby was nie, was ons predikingspogings gering. Ons geestelike groei was merendeels sluimerend.

As gevolg van die depressie van die dertigerjare moes ek die huis verlaat en werk in Detroit vind. Daar was ’n groot verband op die plaas en ek wou ons bevry van daardie las. Maar daar was destyds ernstige werkloosheid in Detroit. Duisende mans het soms die hele nag in toue gestaan rondom hout- en steenkoolvure en hulle bes gedoen om warm te bly tot die arbeidsburo’s oopmaak. Ek was gelukkig om ’n werk in ’n voertuigfabriek te kry.

Geestelike vooruitgang

Dit was eers teen die einde van daardie dekade, toe ek in Long Beach, Kalifornië, gewoon het dat my geestelike belangstelling weer op ’n produktiewe manier aangewakker is. Ek het ’n uitnodiging na ’n openbare toespraak ontvang. Daardie Sondag het ek my eerste vergadering by ’n Koninkryksaal bygewoon. Daar het ek Olive en William (Bill) Perkins ontmoet, en hulle was bemoedigende mense met ’n kosbare verhouding met Jehovah God.

Suster Perkins was ’n merkwaardige onderrigter van God se Woord en het haar Bybel net so vaardig gebruik soos ’n chirurg sy skalpel gebruik. Sy het haar groot King James-Bybel op haar linkerarm laat rus, haar regterduim gelek en van vers tot vers geblaai. Haar vaardigheid en die dinge wat hulle uit die Bybel geleer het, het die mense gefassineer. Sy het talle mense gehelp om God se voorneme te verstaan. Dit was ’n besielende ondervinding om saam met haar in die bediening te werk. Dit het my aangespoor om in September 1941 die voltydse pionierbediening te betree.

Suster Wilcox was nog iemand wat my gehelp het. Sy was ’n lang, waardige gryskopdame in haar sewentigerjare wie se hare netjies in ’n bolla opgekam was. Haar uitrusting was altyd afgerond met ’n pragtige breërandhoed. In haar netjiese rok wat tot op die enkels gehang het, het sy besonder gelyk, soos iemand wat pas uit die tagtigerjare van die vorige eeu getree het. Ons het saam in die sakegebiede van Long Beach gepreek.

Bestuurders was onmiddelik beïndruk wanneer hulle suster Wilcox gesien het. En hulle het haar gretig na hulle kantore genooi. Ek het saam geloop. “Wat is dit?” het hulle respekvol gevra. “Kan ek u help?”

Suster Wilcox het sonder huiwering, met die volmaakte Engels van ’n professor, geantwoord: “Ek is hier om jou te vertel van die ou hoer van Openbaring wat op die dier ry” (Openbaring 17:1-5). Bestuurders het teruggedeins en in hulle stoele reggeskuif terwyl hulle wonder wat nou gaan kom. Sy het vir hulle ’n duidelike beeld van die einde van hierdie stelsel geskilder. Die reaksie wat feitlik altyd beslissend. Hulle wou hê wat sy ook al gehad het. Ons het elke dag houersvol lektuur geplaas. Dit was my werk om die grammafoon te speel wanneer sy daarvoor gevra het, en so onbevrees en moedig moontlik te wees terwyl sy praat.

Nuwe toewysings

’n Koevert van die Wagtoringgenootskap af het my altyd opgewonde gemaak. Dit was so ’n koevert, wat ek in 1942 ontvang het, wat ’n toewysing bevat het om as ’n spesiale pionier in San Pedro, Kalifornië, te dien. Daar het Bill en Mildred Taylor my ingeneem. Dit het groot selfbeheersing geverg om dag na dag alleen velddiens te doen. Maar dit het my na aan Jehovah gebring sodat ek waarlik sy vriendskap gesmaak het. Toe het die Genootskap Georgia en Archie Boyd, saam met hulle seun en dogter, Donald en Susan, gestuur om die gebied te help dek. Die Boyds het met al hulle voorrade en besittings in ’n woonwa wat 5,5 meter lank was, gewoon.

Daar het ’n ander koevert van die Genootskap af vir ons gekom! Ons was met opwinding vervul toe ons van ons nuwe toewysing gelees het​—Richmond, Kalifornië, net noord van San Fransisco. Ondanks die moontlikheid dat ons ou motor en woonwa dit nooit sou haal nie, het ons gepak en vertrek. Ons het soos reisende sigeuners gelyk en moes van tyd tot tyd stilhou om die motor en bande reg te maak. Toe ons uiteindelik in Richmond aangekom het, het dit gesous.

Die Tweede Wêreldoorlog was nou in volle gang. Die Kaiser-skeepswerwe het “Vryheidskepe”, soos hulle genoem is, in massa geproduseer. Dit was ons taak om vir die mense te preek wat hierheen gestroom het om te werk. Ons het van soggens vroeg tot saans laat oor die Koninkryk gepraat, en dikwels hees by die huis aangekom van al die praat. Baie Bybelstudies is begin. Hierdie skeepswerfwerkers was vrygewige en gasvrye mense wat in al ons behoeftes voorsien het. Die gebied het ons onderhou sonder dat dit vir ons nodig was om deeltydse werk te doen.

Ondervindinge in die tronk

Jongmans is opgeroep vir militêre diens. My vleeslike broers, wat nie Getuies was nie, het hulle vrywillig aangemeld en het as valskermtroepe en in die geniekorps gedien. Ek het aansoek gedoen om vrystelling as ’n bedienaar wat gewetensbeswaar teen oorlog het. Die Werwingsraad wou my nie as ’n bedienaar erken nie. Ek is in hegtenis geneem, verhoor en op 17 Julie 1944 tot drie jaar hardepad in McNeil Island-Federale Strafgevangenis in die staat Washington gevonnis. In die tronk het ek geleer dat Jehovah se vriendskap vir ewig duur.​—Psalm 138:8, The Bible in Living English.

Ek is ’n maand lank in die distrikstronk in Los Angeles aangehou terwyl ek gewag het om na McNeil Island oorgeplaas te word. My eerste indrukke van die tronklewe is moeilik om te vergeet, van hoe die gevangenes gevloek het op die wagte en op ons toe ons ingebring is. Of hoe die wagte beveel het: “Pas op vir die hekke!” Die geratel van die elektriese hekke terwyl hulle toegerol het, het soos donderweer in die verte geklink. Namate die hekke een na die ander toegegaan het, het die klank al hoe nader gekom totdat jou hek getril en met ’n gekletter toegerol het! Daar was daardie ingehokte gevoel en ’n vlaag van vrees. Ek het gou tot God gebid om my te help en ek het feitlik onmiddellik ’n innige gevoel van vrede ervaar, ’n ondervinding wat ek nooit sal vergeet nie.

Op 16 Augustus is ek saam met ’n groep ander gevangenes geboei. Toe is ons onder die waaksame oë van gewapende polisiemanne deur die middagskare van Los Angeles na ’n bus gelei en daarna oorgeplaas na ’n gevangenistrein op pad McNeil Island toe. Daardie tronkboeie het my met vreugde gevul, want dit het my verbind met Christus se apostels wat ook geboei is omdat hulle hulle onkreukbaarheid bewaar het.​—Handelinge 12:6, 7; 21:33; Efesiërs 6:20.

Terwyl ek by McNeil-gevangenis ingeskryf is, het ’n beampte agter ’n lessenaar vir my gevra: “Is jy ’n ‘J.W.’?” Dit het my onkant betrap, want dit was die eerste keer dat ek die uitdrukking “J.W.” gehoor het. Maar ek het weldra besef waarvan hy gepraat het en dus gesê: “Ja!”

“Staan daar anderkant”, het hy gesê. Ek was verbaas toe hy die man reg agter my dieselfde vraag vra: “Is jy ’n ‘J.W.’?” Die man het vinnig geantwoord: “Ja”!

“Jou ou leuenaar!” het die beampte laggend gesê. “Jy weet nie eens wat ’n ‘J.W.’ is nie.” Ek het later uitgevind dat die man ’n verstokte misdadiger met ’n vonnislys so lank soos sy arm was. “J.W.” het natuurlik gestaan vir “Jehovah’s Witness”, en hy was beslis nie een nie.

Dit was laat en ’n bewaarder het my deur die donker na my slaapbank geneem. Dit was moeilik om te glo dat ek in ’n federale tronk honderde kilometer van die huis of almal wat ek geken het, was. Toe sien ek iemand in die donker na my toe kom. “Sjuut!” het hy gesê toe hy langs my op die slaapbank gaan sit. “Ek is ’n broer. Volgens die bostelegraaf sou ’n Getuie inkom.” Hy het homself voorgestel en my bemoedig deur my te vertel van die Wagtoring-studie wat Sondagmiddae in die tronk toegelaat word. Omdat dit teen die reëls was om uit jou slaapbank te wees nadat die ligte afgeskakel is, het hy net ’n kort rukkie gebly. Maar in daardie paar oomblikke het ek die kosbare vriendskap van Jehovah ervaar wat deur sy toegewyde kneg geopenbaar is.

Die periodieke besoeke van A. H. Macmillan van die Genootskap se hoofkwartier in Brooklyn was glanspunte van my verblyf in die tronk. Hy was ’n “Barnabas”, ’n bemoediger, as daar ooit een was. Wanneer hy gekom het, is ons toegelaat om die eetsaal te gebruik en het al die Getuies en talle ander gevangenes bymekaargekom om na hom te luister. Hy was ’n uitmuntende spreker en selfs tronkbeamptes het dit geniet om na hom te luister.

Ons het die selblokke en slaapsale in predikingsgebied georganiseer. Ons het die goeie nuus van die Koninkryk sistematies in hierdie gebiede verkondig, net soos ons in ’n stadsblok gedoen het voor ons opgesluit is. Die reaksies was verskillend en moeilik voorspelbaar. Maar daar was persone wat geluister het. Bankrowers en ander, sowel as tronkbewaarders, het hulle tot Jehovah gewend en is gedoop. Dit maak my nou nog bly wanneer ek sulke ondervindinge onthou.

Gebeure wat my lewe beïnvloed het

Vroeg in 1946, na die oorlog, is ek uit die tronk vrygelaat. Daar het nog ’n koevert van die Genootskap op my gewag! My volgende spesiale pioniertoewysing was Hollywood, Kalifornië! Die stad van fantasie. Gepraat van uitdagings! Daar was tye wanneer dit makliker sou gewees het om yskaste aan Eskimo’s te verkoop as om hierdie mense te kry om die Bybel te bestudeer. Tog is “skape” van die Here stadig maar seker gevind.

Terwyl ek in Augustus 1946 die “Blye nasies”- internasionale byeenkoms in Cleveland, Ohio, bygewoon het, het Milton Henschel, die sekretaris van Nathan Knorr, die destydse president van die Wagtoringgenootskap, my voorgekeer en gevra: “Wanneer kom jy Bethel toe, Dan?” Ek het vir hom gesê dat ek die pionierdiens geniet. “Maar ons het jou nodig by Bethel”, het hy gesê. Na nog ’n paar woorde het my verskonings opgeraak. Ek was lief vir Kalifornië en die gedagte om in New York te woon, het my laat ys. Maar ek onthou dat ek vir myself gesê het: ‘Dan, as Jehovah jou in Brooklyn wil hê, dan moet dit Brooklyn wees.’ Ek het derhalwe op 20 Augustus 1946 by Bethel, die hoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, begin dien.

Ek het jare lank in die boekbindery in Brooklyn gewerk waar ek verskeie fisies veeleisende take verrig het. Later is ek na die Intekeningafdeling gestuur, wat ’n nuwe rigting gebied het. Toe het verstandelike uitdagings gevolg, soos om radiotekste te skryf en uitsendings vir die Genootskap se radiostasie WBBR te doen. Ek het ook 20 jaar lank in die Skryfafdeling gewerk en probeer om te voldoen aan die hoë standaarde daarvan. Intussen was daar aanstellings in die Wagtoringgenootskap se korporasies in Pennsilvanië en New York, opnames van dramas, toespraaktoewysings vir Streek- en internasionale byeenkomste, en ’n magdom ander diensvoorregte wat te veel is om op te noem.

In November 1974 het daar weer ’n koevert aangekom. Hierdie een het ’n ongelooflike, ondenkbare toewysing bevat. Ek is genooi om as ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies te dien. Ek het heeltemal onvolwaardig en nederig dankbaar gevoel. Sowat tien jaar het verloop sedert daardie aanstelling en ek voel nog dieselfde.

Die verstreke jare is verryk deur verhoudinge met toegewyde en godvrugtige manne wat Jehovah meer as die lewe self liefgehad het​—manne soos broer Rutherford. Ek het die voorreg gehad om hom in sy huis in San Diego, Kalifornië, te ontmoet. Dit was ook my voorreg om nou saam met ander groot manne te werk, onder meer Hugo Riemer, Nathan Knorr, Klaus Jansen, John Perry, Bert Cumming en ’n menigte ander wat geestelike reuse, “groot bome van regverdigheid”, was.​—Jesaja 61:3, NW.

En dit was ’n groot voorreg om Jehovah se organisasie van net ’n handjievol, naamlik 50 000 Koninkryksverkondigers aardwyd, tot feitlik driemiljoen te sien groei. Dit was opwindend om te sien hoe die uitgewerswese gegroei het van net ’n paar drukkerye tot tientalle fabrieke onder toesig van 95 takke wat die goeie nuus in 203 lande van die aarde verkondig. Die veranderinge en wysigings in tegnologie en rekenarisering was ontsagwekkend. Wanneer jy dit alles sien, kan ’n mens nie anders as om die woorde in Mattheüs 21:42 (NAV) te herhaal nie: “Dit is deur die Here gedoen en is ’n wonder in ons oë.”

Dit was, om die minste te sê, ’n sinvolle en lonende lewe. Tussendeur het ek ook kans gekry om met ’n lieflike meisie van Hebburn, Engeland, te trou. Marina, my vrou, is ’n Godgegewe steunpilaar. Hoe waar is die woorde van Spreuke 19:14 tog: “Huis en goed is ’n erfenis van die vaders, maar ’n verstandige vrou is van die HERE.”

Dwarsdeur die lewensondervindinge was die immer onderskragende krag van God se vriendskap soos ’n omringende skuiling. Bepeinsing oor Jehovah se Woord, nadenke oor die betekenis daarvan en die soeke na insig en begrip het my lewe met geestelike skatte en bevrediging gevul. Selfs op hierdie oomblik oorweldig loutere vreugde my wanneer ek die psalmis se woorde lees: “Welgeluksalig is die nasie wie se God die HERE is, die volk wat Hy vir Hom as erfdeel uitgekies het. Ons siel wag op die HERE; Hy is ons hulp en ons skild; want ons hart is bly in Hom, omdat ons op sy heilige Naam vertrou. Laat u [vriendskap], HERE, oor ons wees net soos ons op U wag!”​—Psalm 33:12, 20-22, vgl. By.

[Prent op bladsy 23]

Olive Perkins het my besiel

[Prent op bladsy 24]

Die Boyd-gesin het gehelp om die gebied in San Pedro, Kalifornië, te dek

[Prent op bladsy 25]

In 1946 by die “Blye nasies”-byeenkoms, saam met mede-Getuies wat kort tevore uit McNeil Island-gevangenis vrygelaat is

[Prent op bladsy 26]

’n Sondagoggenduitsending oor WBBR

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel