Jesus se lewe en bediening
Jesus se geboorte—Waar en wanneer?
WAAROM onderneem Josef so ’n lang reis noudat dit amper tyd is vir Maria om haar baba in die wêreld te bring? Wel, die keiser van die Romeinse Ryk, keiser Augustus, het die wet uitgevaardig dat almal na sy geboortestad moes terugkeer om ingeskryf te word. Josef gaan dus na sy geboorteplek, die stad Betlehem.
Daar is baie mense in Betlehem om geregistreer te word, en die enigste plek wat Josef en Maria kan vind om te bly, is in ’n stal. Hier, waar donkies en ander diere aangehou word, word Jesus gebore. Maria draai hom in doeke toe en lê hom in ’n krip, die bak waarin die diere se kos gesit word.
Dit was ongetwyfeld onder God se leiding dat keiser Augustus sy registrasiewet uitgevaardig het. Dit het dit moontlik gemaak dat Jesus in Betlehem gebore word, die stad wat die Skrif lank tevore voorspel het die geboorteplek van die beloofde heerser sou wees.
Wat ’n belangrike nag is dit tog! In die oop veld skyn ’n helder lig om ’n groep herders. Dit is Jehovah se heerlikheid! En Jehovah se engel sê vir hulle: ‘Daar is vandag vir julle in Betlehem ’n Verlosser, wat Christus die Here is, gebore. Julle sal hom vind waar hy in ’n krip lê.’ Skielik het baie ander engele verskyn en gesing: ‘Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde onder mense van welwillendheid.’
Toe die engele vertrek, sê die herders vir mekaar: ‘Kom ons gaan na Betlehem en sien hierdie ding wat Jehovah aan ons bekend gemaak het.’ Hulle haas hulle en vind Jesus net waar die engel gesê het hulle sou. Toe die herders vertel wat die engel vir hulle gesê het, was almal wat dit gehoor het verwonderd. Maria bewaar al hierdie woorde en oordink dit in haar hart.
Baie mense glo vandag dat Jesus op 25 Desember gebore is. Maar Desember is ’n reënerige, koue seisoen in Betlehem. Herders sou nie daardie tyd van die jaar met hulle kuddes in die oop veld oornag nie. Dit is ook onwaarskynlik dat die Romeinse keiser sou vereis dat ’n volk wat reeds teen hom in opstand wou kom daardie reis in die middel van die winter moes onderneem om ingeskryf te word. Jesus is klaarblyklik in die vroeë herfs van daardie jaar gebore. Lukas 2:1-20; Miga 5:1.
♦ Waarom het Josef en Maria na Betlehem gereis?
♦ Watter wonderlike dinge het die nag van Jesus se geboorte gebeur?
♦ Hoe weet ons dat Jesus nie op 25 Desember gebore is nie?
[Volbladillustrasie op bladsy 9]