Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w85 5/15 bl. 8-13
  • Kweek die beste vriendskap in die ganse heelal

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kweek die beste vriendskap in die ganse heelal
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Kosbare soort vriendskap
  • Diegene aan wie Jehovah vriendskap betoon
  • Vermy vriendskap wat sal faal
  • Jehovah—Jou kennis of jou vriend?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Hoe jy vriende kan maak
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Waarom kan ek nie vriende behou nie?
    Ontwaak!—1996
  • “Ek noem julle vriende”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2020
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
w85 5/15 bl. 8-13

Kweek die beste vriendskap in die ganse heelal

„Maar jy, Israel, [is] my kneg, Jakob, wat Ek uitverkies het, nageslag van Abraham, my vriend.”​—JESAJA 41:8.

1. Wat verseker dat ’n ware vriendskap nooit faal nie?

HOE kosbaar is ’n ware vriend tog nie! Maar wat is die grondslag van ware vriendskap? Wat is die fondament van ’n blywende vriendskap? Dit is iets wat nooit faal nie, sodat ’n ware vriend nooit faal nie. Wat is dit? Dit is die eienskap wat die apostel Paulus beklemtoon het met die woorde: „Die liefde faal nooit nie”!​—1 Korinthiërs 13:8, NW.

2. Watter besondere betekenis het die werkwoord waarvan die Griekse woord vir „vriend” afgelei is?

2 In die Hebreeuse Skrifte is die selfstandige naamwoord wat met „liefde” vertaal word, afgelei van ’n werkwoord wat „liefhê” beteken. (Deuteronomium 6:4, 5; vergelyk Mattheüs 22:37.) En in die Griekse Septuaginta is die werkwoord vir ,jy moet liefhê’ uit die Hebreeuse teks a·ga·panʹ. Maar in daardie ou vertaling en in die Christelike Griekse Skrifte is die selfstandige naamwoord wat met „vriend” vertaal word nie aan daardie werkwoord ontleen nie. Dit is eerder die Griekse selfstandige naamwoord phi’los, afgelei van ’n werkwoord wat beteken „om geneentheid te hê vir”. Volgens die oorspronklike Grieks word liefdevolle geneentheid dus teenoor ’n vriend of tussen vriende getoon. Selfs in Afrikaans kom die woord „vriend” van ’n ou Germaanse werkwoord wat „liefhê” beteken.

3. Hoe verskil die liefde waarmee Jesus se dissipels aan hom verbonde was van God se liefde vir die mensewêreld?

3 Die Griekse werkwoord waarvan „vriend” afgelei is, druk derhalwe ’n emosie uit wat hartliker en intiemer is as die liefde wat uitgedruk word deur die werkwoord a·ga·panʹ, wat voorkom in die Griekse teks van Johannes 3:16, waar Jesus soos volg aangehaal word: „So lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” Die liefde (Grieks, a·gaʹpe) van Jehovah God is dus omvattend genoeg om die ganse mensewêreld in te sluit, ten spyte van die sondigheid van alle mense. Maar die eniggebore Seun van God het vir sy 11 getroue apostels gesê dat hulle deur ’n hartliker, intiemer soort liefde aan hom verbonde was.

’n Kosbare soort vriendskap

4. Wat moes Jesus se dissipels doen om sy „vriende” te bly, en tot watter intimiteit sou hierdie Status lei?

4 Jesus het vir daardie apostels gesê dat hulle sy „vriende” sou bly as hulle aangehou het om te doen wat hy hulle beveel het. Dit sou die bevoorregte intimiteit insluit wat uit wedersydse vertroue spruit, want hy het gesê: „Ek noem julle nie meer diensknegte nie, omdat die dienskneg nie weet wat sy heer doen nie. Maar Ek het julle vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het” (Johannes 15:14, 15). Aldus het Jesus die woord phi’los op elkeen van daardie apostels toegepas.

5. Waarop berus die vriendskap waarvan Spreuke 18:24 praat, en hoe duursaam is so ’n verhouding?

5 Volgens Spreuke 18:24 het die geïnspireerde wyse man gesê: „’n Man met baie vriende word geruïneer, maar daar is ’n vriend wat sterker aanhang as ’n broer.” So ’n vriendskap berus nie op vleeslike verwantskappe nie; dit berus op ’n besef van die waarde van die vriend. Ja, bloedverwante kan om allerlei selfsugtige redes uitmekaar gaan, maar ’n ware vriend sal onwrikbaar en getrou wees ongeag die moeilike toestande of die beproewende omstandighede wat kan ontstaan.

6. Aan wie se sterk vriendskap word ons herinner, en hoe het Dawid later daardie vriendskap beloon?

6 Hier dink ons moontlik aan Jonatan, seun van verworpe koning Saul, en aan Dawid, wat deur Jehovah God gekies en gesalf is om Israel se koning te wees. Hulle vriendskap het voortgeduur tot met die dood van Jonatan op die slagveld. Toe Dawid die slegte nuus gehoor het, het hy die klaaglied aangehef wat in 2 Samuel 1:17-27 opgeteken is. Dawid se tere verhouding met Jonatan blyk uit sy woorde: „Ek is benoud om jou ontwil, my broer Jonatan! Jy was vir my baie lieflik; jou liefde was vir my wonderliker as die liefde van vroue.” ’n Vriendskap soos daardie sou nie vergete raak of onbeloon bly nie. Dit was die rede vir koning Dawid se barmhartigheid teenoor Mefiboset, die oorlewende seun van Jonatan.​—2 Samuel 9:1-10.

7. (a) Het vriendskap soos dié van Dawid en Jonatan verdwyn, veral in hierdie „voleinding van die stelsel”? (b) Tot watter intimiteit laat sulke vriendskap ’n persoon toe, soos Jesus aan sy getroue apostels verduidelik het?

7 Daardie kosbare soort vriendskap het nie van die aarde af verdwyn nie. Vandag, in hierdie „voleinding van die stelsel” waarin ,die liefde van die meeste verkoel het’, word die hartlikheid van so ’n liefdevolle vriendskap nog duidelik ervaar onder die toegewyde, gedoopte getuies van Jehovah God wat die wêreldwye Koninkryksgetuienis gee wat Jesus voorspel het (Mattheüs 24:3-14, vgl. NW). Vriende is geneig om vir mekaar dinge te vertel omdat hulle mekaar vertrou. Onthou dat Jesus, terwyl hy laat in die nag in gesprek was met die 11 apostels wat by hom gebly het, vir hulle gesê het: „Ek het julle vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het” (Johannes 15: 14, 15). Ja, die geestelike dinge van God se Woord wat vervul of toegepas moet word, sou eers aan die ware, geesverwekte „vriende” van die Heer, Jesus Christus, bekend gemaak word. Dan sou hierdie „vriende” die voorreg en verantwoordelikheid hê om sulke eens verborge dinge bekend te maak aan diegene wat vriendelike betrekkinge met Jehovah God, by wie sulke verborge dinge ontstaan, wil aanknoop.

8. Aan wie staan Jehovah vertroulike omgang met hom toe, en hoe het Jesus na die verbond verwys wat by sulke vertroulike omgang betrokke is?

8 Dit is die manier waarop Jehovah te werk gegaan het met sy geesverwekte aanbidders wat deur die Middelaar, Jesus Christus, in sy nuwe verbond opgeneem is. Toe Jesus die Here se Aandmaal ingestel het, het hy gesê: „Hierdie beker is die nuwe verbond, beseël deur my bloed, wat vir julle vergiet word” (Lukas 22:20, NAV). Dit het geklop met Psalm 25:14, wat sê: „Die verborgenheid [„vertroulike omgang”, NW] van die HERE is vir die wat Hom vrees, en sy verbond om hulle dit bekend te maak.” Watter buitengewone kennis word tog meegedeel aan diegene wat ’n vriendskapsverhouding met Jehovah God en sy Middelaar, Jesus Christus, betree!

Diegene aan wie Jehovah vriendskap betoon

9. Is dit aanmatigend van ons om te dink dat Jehovah blote menseskepsele as sy vriende sal aanvaar, en watter Bybeltekste kan ons aanhaal om ons antwoord te staaf?

9 Maar kan die allerhoogste en almagtige God werklik ons persoonlike Vriend wees? Het hy hom werklik so verneder dat hy ons Vriend kan wees? Dit is nie aanmatigend om so te dink nie. In ’n brief wat voor die vernietiging van Jerusalem in 70 G.J. aan geestelike Israeliete geskryf is, het Jakobus gesê: „Die Skrif is vervul wat sê: En Abraham het God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken, en hy is ’n vriend van God genoem” (Jakobus 1:1; 2:23; Genesis 15:6; Galasiërs 6:16). In een Hebreeuse „Skrif” waarna Jakobus hier verwys het, lees ons van die volgende smeking tot God deur koning Josafat op ’n tydstip toe die veiligheid van Jerusalem deur ’n groot invalsmag bedreig is: „Het Ú, onse God, nie die inwoners van hierdie land voor u volk Israel uit verdrywe en dit vir altyd aan die nageslag van Abraham, u vriend [„u liefhebber”, NW], gegee nie?” (2 Kronieke 20:7). Ons merk dat die Hebreeuse grondwoord wat hier met „vriend” vertaal word eintlik „’n liefhebber” beteken. Abraham was onteenseglik ’n liefhebber van Jehovah, die God wat hom uit Ur van die Chaldeërs geroep en hom na die Beloofde Land gebring het. As so ’n liefhebber was Abraham ’n man aan wie Jehovah vriendskap kon betoon.

10. Wie praat self oor die aangeleentheid van vriendskap in Jesaja 41:8, en watter gesindheid teenoor Jehovah het aan Abraham spesiale status voor God gegee?

10 In Jesaja 41:8 het Jehovah egter self gepraat en hierdie bemoedigende woorde tot die nakomelinge van Abraham as ’n nasie gespreek: „Maar jy, Israel, [is] my kneg, Jakob, wat Ek uitverkies het, nageslag van Abraham, my vriend.” Die allerhoogste God het hierdie vriendskap met Abraham gestand gebly deur hom die voorreg te gee om die roemryke voorvader van Jesus Christus, die Verlosser van die hele mensdom, met inbegrip van Abraham self, te wees. Hierdie nakomeling van Abraham was meer as ’n vriend van Jehovah God, want hy is God se geliefde Seun.​—Johannes 3:16.

11. Waarom sal vriendskap met Jehovah gewis op die proef gestel word?

11 Watter gevolgtrekking kan ons uit al die voorgaande maak? Dat dit vir menseskepsele hier op Jehovah se „voetbank” moontlik is om sy vriende te wees (Jesaja 66:1). Ons kosbare vriendskap met hom in hierdie ou wêreld sal natuurlik op die proef gestel word, want Satan die Duiwel, „die god van hierdie wêreld”, sal dit probeer verbreek.​—2 Korinthiërs 4:4.

12. Wat moet ons, soos Job van die land Us, vasbeslote wees om omtrent ons vriendskap met die Allerhoogste te doen?

12 Beskou die voorbeeld van daardie uitsonderlike man van vergange tye, Job, van wie die Christendissipel Jakobus gesê het: „Kyk, ons reken hulle geluksalig wat verdra. Julle het gehoor van die lydsaamheid van Job, en julle het die einddoel van die Here met hom gesien, dat die Here vol medelye en ontferming is” (Jakobus 5:11). Job was geen mitiese persoon nie, maar het werklik in die land Us gewoon. Die Duiwel het die duursaamheid van Job se vriendskap met God in twyfel getrek, en Jehovah het toegelaat dat Satan Job aan ’n baie strawwe toets onderwerp. Deur middel van hartverskeurende rampe wat hy oor Job gebring het, het Satan Job probeer dwing om Jehovah te verloën. Maar Job het geweier om die Duiwel te ondersteun deur God te verloën, wat sou beteken het dat Job aan Satan se kant van die geskil oor universele soewereiniteit gesterf het. Inteendeel, Job het bewys dat Satan die Duiwel ’n verdorwe leuenaar is. Toe Jesus Christus op aarde was, het hy dit ook bewys. Maar wat van ons vandag? Diegene wat Jehovah se vriendskap waardeer, is vasbeslote om hulle aan sy kant te skaar in hierdie geskil van universele belang. En hulle sal dit doen totdat Satan en sy demone voor die Duisendjarige Heerskappy van Jesus Christus in die afgrond gewerp en buite aksie gestel word.​—Openbaring 20:1-4.

13. Hoe belangrik is vriendskap met Jehovah God en sy eniggebore Seun, en watter weg moet ons inslaan sodat ons nie figuurlik as „egbrekers” gebrandmerk word nie?

13 Daar bestaan geen vriendskap wat belangriker is as dié met die allerhoogste God, Jehovah, nie. Daarna volg vriendskap met die eniggebore Seun van God. Sulke vriendskapsbande met hulle beteken vir ons die ewige lewe in ongekende geluk. Hulle vra tereg ons uitsluitlike trou. Ons kan nie met hierdie gedoemde ou wêreld omgaan en terselfdertyd hulle vriendskap kweek nie. Ons wil nie in geestelike sin as egbrekers gebrandmerk word nie. Jakobus 4:4 stel die saak baie reguit en sê: „Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ’n vriend van die wêreld wil wees, word ’n vyand van God.” Daardie woorde is tot die geestelike Israeliete van die eerste eeu G.J. gerig, maar dit geld ook vir Jehovah se Getuies wat in hierdie 20ste-eeuse wêreld, of stelsel, lewe.

Vermy vriendskap wat sal faal

14. Hoe vermy Jehovah se Getuies die ondervinding in verband met vriendskap wat in Sagaria 13:4-6 voorspel is?

14 Omdat hulle nie vriende van hierdie verdorwe, gewelddadige ou wêreld is nie, word Jehovah se Getuies verkeerd voorgestel, sleg behandel en vervolg. So was dit met die grootste getuie van Jehovah wat ooit op aarde was, Jesus Christus, en hulle is nie beter as hy nie (Openbaring 1:5; 3:14). Omdat hulle opreg aanhou om hulle denke aan te pas by die Woord van hulle beste Vriend, Jehovah God, is hulle die ondervinding gespaar wat profeties in Sagaria 13:4-6 beskryf is: „In die dag sal elkeen van die profete, as hy profeteer, hom skaam oor sy gesig; en hulle sal die harige mantel [„ampsgewaad”, NW] nie aantrek om te lieg nie. Maar hy sal sê: Ek is geen profeet nie, ek is ’n man wat die grond bewerk; want iemand het my van my jeug af as slaaf gekoop. En as iemand vir hom sê: Watter wonde is daardie tussen jou hande? dan sal hy antwoord: So is ek geslaan in die huis van my vriende.”

15. Waarom dra die geestelikes van die Christendom spesiale gewade in die openbaar, en met wie het hulle selfsugtige vriendskappe aangeknoop?

15 Die geestelikes van die Christendom dra al eeue lank ,ampsgewade’ met die doel om die aandag te vestig op hulle godsdiensberoep en met die selfvererende doel om hulle te onderskei van die lede van hulle gemeentes, wat „die leke” genoem word. Hierdie geestelikes doen dit in weerwil van die feit dat daar geen greintjie bewys is dat Jesus Christus en sy apostels en die evangeliste wat hy uitgestuur het ooit ampsgewade gedra het om die aandag te vestig op hulle status en dit op te hemel nie. Ons is nou diep in „die voleinding van die stelsel” wat aan die einde van „die tye van die nasies” in die jaar 1914 begin het (Mattheüs 24:3, NW; Lukas 21:24). Die geestelikes probeer al lank om die grootste vriende van die kommersiële, militêre en politieke elemente van hierdie wêreld te wees. Dit het hulle ter wille van hulle eie selfsugtige voordeel en sonder enige gewetenswroeging gedoen. Maar hulle selfsugtige vriendskappe van hierdie aard sal van korte duur wees!

16. (a) Wat sal wêreldlike „vriende” binnekort aan die geestelikeklas doen, ooreenkomstig Bybelprofesie? (b) Watter uiteinde sal die geestelikes nie vryspring nie, al ondergaan hulle ’n statusverandering?

16 Die geestelikes sowel as die leke bevind hulle in ’n hoogs wetenskaplike eeu. Wêreldlike verhoudinge word tot die uiterste beproef weens die druk van ons tye. Die geestelikes het, ondanks hulle beweerde status by die God van die hemel, geen guns van hom verkry vir die kommersiële, militêre en politieke stelsel nie, en hulle bring geen verligting vir die verslegtende wêreldtoestand nie. Hulle wêreldlike „vriende” sal binnekort tot die besef gebring word dat die geestelikes vir hulle waardeloos, ja, ’n las is, vals in hulle profesieë van materieel beter tye sonder die toedoen van Jehovah se Koninkryk deur Christus. Trouens, daardie wêreldlike „vriende” sal uiteindelik volle uiting gee aan hulle wantroue, hulle minagting, ja, hulle haat. Hulle sal die geestelikes met geweld vernietig of ten minste ontdoen van hulle ampsgewaad en hulle verlaag tot ’n gewone lekeposisie, soos verduidelik in Sagaria 13:4-6. Maar hierdie statusverandering sal hulle nie red van uitwissing saam met Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, soos voorspel in Openbaring hoofstukke 17 en 18 nie. Die geestelikes se wêreldlike „vriende” sal hulle geheel en al in die steek laat.

17. Watter vriendskap kan ons gerus kweek, en hoe lank?

17 Hoe belangrik is dit tog, in die lig hiervan, om verkeerde, selfsugtige vriendskappe te vermy! Maar hoe kosbaar behoort die beste vriendskap in die ganse heelal tog vir ons te wees! Ons kan dit gerus vir ewig kweek.

Wat dink jy?

◻ Wat moet Jesus se dissipels doen as hulle sy vriende wil bly?

◻ Hoe weet ons dat mense Jehovah se vriendskap kan geniet, en aan wie staan hy vertroulike omgang met hom toe?

◻ Waarom sal vriendskap met God gewis op die proef gestel word?

◻ Hoe vermy Jehovah se Getuies die ondervinding in verband met vriendskap wat in Sagaria 13:4-6 voorspel is?

[Prent op bladsy 9]

Dawid en Jonatan het ’n hartlike, kosbare vriendskap geniet. Jy kan ook.

[Prent op bladsy 11]

Abraham was „Jehovah se vriend”. Is jy?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel