Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w85 5/15 bl. 4-7
  • Ware vriende—Hoe om hulle te vind

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ware vriende—Hoe om hulle te vind
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die waarde van getrouheid
  • Gewers is gelukkig
  • Hoe om ons vriendskappe lewendig te hou
  • Hoe om ware vriende te vind
  • Hoe jy vriende kan maak
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Kies vriende wat vir God lief is
    Hoe om in God se liefde te bly
  • Wat sê die Bybel oor vriendskap?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Waarom kan ek nie vriende behou nie?
    Ontwaak!—1996
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
w85 5/15 bl. 4-7

Ware vriende​—Hoe om hulle te vind

„DIE enigste manier om ’n vriend te hê, is deur ’n vriend te wees”, het Ralph Waldo Emerson gesê. Maar baie kies die weg van afsondering. In plaas van die moeite te doen om ’n vriend te wees, sluit hulle ander uit. Die gevolg? „Mense wat baie tyd alleen deurbring, is geneig om ,baie passief, ongelukkig en verlate’ te voel”, het ’n navorser luidens ’n berig in ’n Brasiliaanse koerant gesê. Hy het voorts gesê: „Wanneer daar niks anders is om te doen nie, wanneer daar niemand is om mee te praat nie, kruip jy in jou dop. Dit is baie makliker om in jou eie probleme vasgevang te word.”

Jy hoef egter nie so ’n toestand te bereik nie. Feitlik enigiemand kan leer om ’n vriend te wees en dus vriende verkry. Maar hoe begin ’n mens? Ons eie persoonlikheid is ’n belangrike faktor by die vermoë om vriende te maak. ’n Antieke spreuk sê trouens: „’n Man se bekoring lê in sy goedheid” (Spreuke 19:22, The Jerusalem Bible). Ware vriendskap is dus die beloning van diegene wat goedheid betoon. Wanneer ons byvoorbeeld vir ander wys dat ons hulle waardeer, sal hulle waarskynlik in ons belangstel.

’n Goedhartige mens luister ook na ander. Vir iemand wat die gesprek oorheers of te veel oor homself praat, sal dit moeilik wees om iemand te vind wat in sy gevoelens en aspirasies belangstel. Goedheid beteken ook dat ons let op wat ons vir ander sê. „Daar is een wat onverskillig woorde uitspreek soos swaardsteke, maar die tong van die wyse is genesing” (Spreuke 12:18). Ter toeligting: Jy sien miskien dat iemand terneergedruk of baie bekommerd is. ’n Spreuk sê: „Bekommernis maak ’n mens neerslagtig, maar ’n vriendelike woord kan weer blydskap bring” (Spreuke 12:25, Die Lewende Bybel). By so ’n geleentheid kan jou genesende tong vir jou ’n getroue vriend win.

Die waarde van getrouheid

Die skrywer van Spreuke 18:24 het diep insig in menseverhoudinge getoon toe hy geskryf het: „Te veel vriende kan vir jou probleme oplewer. Maar ’n mens kry ’n vriend wat nader aan jou is as jou eie broer” (Die Lewende Bybel). Ja, wie wil ’n mooiweersvriend hê? Maar beskou die voorbeeld van Dawid en Jonatan. Jonatan kon ’n wrok teen Dawid gekoester het. Jonatan was die troonopvolger in Israel, maar hy het geweet dat Dawid in werklikheid koning sou word. Tog het Jonatan getrouheid teenoor Dawid getoon, nie jaloesie nie, en hy het selfs sy lewe vir Dawid gewaag.​—1 Samuel 18:1-3; 20:17, 31, 32; 2 Samuel 1:26.

Rut was nog ’n getroue vriendin. In plaas van haar skoonmoeder Naomi te verlaat, het sy by haar gebly. Trouens, getuies het met reg gesê dat Rut vir Naomi ,meer werd was as sewe seuns’.​—Rut 1:16, 17; 4:15.

Is jy so getrou? Verklap jy byvoorbeeld onbedagsaam die foute van jou vriende aan ander?

Maar sê nou ’n boesemvriend het ’n ernstige fout wat onmiddellike aandag verg? Die getroue vriend skroom nie om die waarheid te vertel uit vrees vir die ander persoon se reaksie nie. „Die wonde deur een wat liefhet, is opreg bedoel”, sê die Bybel (Spreuke 27:6). Dit beteken natuurlik nie dat jy ongevoelig of taktloos moet wees nie. Christene in eertydse Galasië het eenkeer reguit teregwysing nodig gehad. Maar kyk hoe vaardig die apostel Paulus die situasie gehanteer en toe gevra het: „Het ek dan julle vyand geword deur julle die waarheid te vertel?” (Galasiërs 4: 16). ’n Ware vriend sal jou liefhê wanneer jy ,die waarheid’ vertel, al is dit korrektiewe raad.​—Spreuke 9:8.

Gewers is gelukkig

Ware, blywende vriendskap kos wel iets. Mense wat altyd probeer om iets te kry sonder om iets daarvoor te gee, sal nooit die geluk smaak waarvan Jesus gepraat het toe hy gesê het: „Om te gee, maak ’n mens gelukkiger as om te ontvang” nie (Handelinge 20:35, NAV; Lukas 6:31, 38). Jy moet dus leer om na mense te kyk met die gedagte aan wat jy vir hulle kan doen, in plaas van wat jy van hulle kan kry.

Die Bybel spoor Christene aan om ,edelmoedig’, „vrygewig, mededeelsaam” te wees (Spreuke 11:25, NW; 1 Timotheüs 6:18). Jou middele is moontlik beperk, maar wat van jou tyd? Het jy die gewoonte om altyd haastig te wees? Vriendskap verg tyd, en tensy ’n mens bereid is om vir ander tyd te maak, sal verhoudinge nie groei nie. Byvoorbeeld, jy groet ander moontlik met ’n afgesaagde: „Hoe gaan dit?” Maar is jy vrygewig genoeg met jou tyd om te vertoef en na die antwoord op hierdie vraag te luister? Onthou dat hoewel Jesus Christus baie besig was, hy altyd tyd gemaak het om aandag te skenk aan diegene wat na hom gekom het.​—Markus 6:31-34.

Hoe om ons vriendskappe lewendig te hou

As ’n vriendskap eers bestaan, moet ’n kragtige poging aangewend word om dit lewendig te hou. Namate julle mekaar leer ken, sal sekere swakhede en foute weliswaar na vore kom. Maar jy kan gerus geringe swakhede erken en aanvaar. En as jy onseker is, sal dit grootmoedig wees om jou vriend die voordeel van die twyfel te gee en onredelike agterdog te vermy. ,Verdra mekaar in liefde’, maan Paulus. En Petrus voeg by: „Bo alles moet julle mekaar vurig liefhê, want die liefde sal ’n menigte sondes bedek.”​—Efesiërs 4:2; 1 Petrus 4:8.

En hoe verstandig is dit tog ook om nooit jou vriende as vanselfsprekend te aanvaar nie! Selfs die intiemste vriende het ’n mate van privaatheid nodig. Lang, gereelde of ontydige besoeke kan op die ou end uitputtend en ongewens word. Insig en respek sal ons beweeg om vooraf reëlings te tref indien dit enigsins moontlik is. Spreuke 25:17 maan: „Sit jou voet selde in jou naaste se huis, sodat hy nie van jou genoeg kry en jou haat nie.”

Dit is ook verstandig om nie te nuuskierig, persoonlik of besitlik te wees nie. Beskeidenheid sal ons beweeg om nie dogmaties te wees nie. Vriendskap gee ons beslis nie die reg om ons menings of persoonlike voorkeur aan mekaar op te dring nie. Trouens, as ons deur „die wysheid van bo” gelei word, sal ons redelik wees.​—Jakobus 3:17.

Onderskraag jou vriende en pas Paulus se raad in Romeine 12:15 toe: „Wees bly met die wat bly is, en ween met die wat ween.” Ja, wees bereid om jou vriende se leed, teleurstellings, vreugde en welslae te deel. Lê ook ’n sin vir humor aan die dag en wees bereid om oor jou eie foute te lag, nie net oor die van ander nie. Vriendelike woorde kan die spanning verlig, selfs in ongemaklike oomblikke. Ja, vriendskap is werk. Maar is dit nie die moeite werd nie?

Hoe om ware vriende te vind

Maar waar kan ’n mens ware vriende vind? ’n Goeie beginpunt is die plaaslike gemeente van Jehovah se Getuies. Hierdie ware Christene geniet sulke goeie verhoudinge met mekaar dat hulle mekaar dikwels „die vriende” noem, soos hulle medegelowiges in die eerste eeu gedoen het (3 Johannes 15). Hierdie mense het nasionalisme en rassetrots, faktore wat mense van mekaar vervreem, te bowe gekom. Hulle strewe daarna om hulle te beklee met wat die Bybel „die nuwe persoonlikheid” noem. Dit beteken dat hulle aantreklike eienskappe soos „innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid” aankweek (Kolossense 3:10-12, vgl. NW). Jy sal ongetwyfeld wenslike vriende kan vind onder mense wat dit doen!

Deur met Jehovah se Getuies om te gaan, sal jy ook leer hoe om met Jehovah God en sy Seun Jesus Christus bevriend te word. Jesus het gesê: „Julle is my vriende as julle alles doen wat Ek julle beveel” (Johannes 15:14). En Abraham is ’n „vriend van God” genoem. Abraham het daardie baie wenslike verhouding verkry vanweë sy geloof en regverdige werke, en jy kan ook.​—Jakobus 2:23.

Hoewel dit dus goed is as jy jou inspan om vriende op aarde te maak, moet jy selfs meer vasbeslote wees om vriendelike betrekkinge met ons hemelse Vriend Jehovah God te geniet. Hy gaan binnekort die Paradys op hierdie aarde herstel, sodat al sy aardse dienaars in vrede en veiligheid kan lewe. Ja, die aarde se bewoners sal dan omring word deur miljoene wat tot in ewigheid ware vriende sal wees.​—Lukas 23:43; Openbaring 21:3, 4; Psalm 37: 10, 11.

[Venster op bladsy 7]

’n Vriendskap wat verenig

Jehovah se Getuies is nie net geestelike broers en susters nie, maar ook vriende. En aangesien hulle vriendskap op onderlinge gehoorsaamheid aan die opdragte van Jesus Christus gegrond is, word dit nie deur nasionale grense beperk nie (Johannes 15:14). Hierdie soort vriendskap ontvang God se seën, en dit hou hulle so verenig en veilig soos ’n kudde skape in hulle kraal.​—Miga 2:12.

Vriendskap en eenheid ontbreek dikwels by ’n bouperseel. Maar wanneer Jehovah se Getuies bymekaarkom om hulle „snelbou”-Koninkryksale op te rig, word ’n gesonde gees van samewerking en kameraderie geopenbaar. Getuies uit die Verenigde State, Engeland en Wallis het byvoorbeeld saamgewerk en hulle boumetodes vir sale vergelyk. Die resultaat?

„Ek het nog nooit so iets gesien nie”, het Roger, ’n messelaar in Engeland, gesê. „Ek kon my eenvoudig nie voorstel dat timmermanne saam met messelaars kan werk nie, want dit gebeur nooit in die wêreld nie. Maar by ’n Koninkryksaalperseel sien jy hoe broers op die dak werk, terwyl timmermanne en messelaars onder saam met die verwers en tapytlêers werk. Almal werk saam. Dit is wonderlik!”

Mike, ’n vader van twee in Wallis, het opgemerk dat „almal in daardie kameraderie kan deel”. En sy vriend Malcolm het die rede hiervoor gegee: „Wanneer al die broers in eenheid saamwerk, in God se naam, seën hy daardie projek met sy gees.”

[Prent op bladsy 5]

Ware vriendskap het geen ouderdomsgrens nie

[Prent op bladsy 6]

Ons kan ware vriende verkry deur vrygewig en mededeelsaam te wees

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel