’n Kroegbaas bring verkwikking na die agterveld
Soos vertel deur Charles Bernhardt
DIE agterveld is ’n woord wat gebruik word om die onherbergsame, verlate, boomlose en eensame binnelandse gebiede van Australië te beskryf. My kroeg in die agterveld het uiteindelik op twee heeltemal verskillende maniere vir my klante verkwikking gebring.
Ek het geen begeerte gehad om ’n kroegbaas te wees nie. My familie was seevaarders, en ek het, soos hulle, na die see gehunker. In 1908, toe ek 15 was, het ek by die eerste seilskip aangesluit en 14 jaar op see deurgebring. Een reis van Brasilië na Australië het 72 dae geduur. Die kos was elke dag blikkiesvleis, ingemaakte aartappels en ’n bietjie lemmetjiesap. Dit het my begin verveel en in Oktober 1913 het ek die skip by Port Pirie, Suid-Australië, verlaat.
Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog was werk op skepe of elders in Australië baie skaars, veral vir my. Ek was ’n Duitse burger wat op 26 Maart 1893 in Hamburg gebore is. Ek het ’n tyd lank van my spaargeld gelewe, maar later van een goedkoop ete per dag by die ‘pasteiwaentjie’ daar naby, en uiteindelik van ’n bord ertjies en ’n pastei per dag. Toe my geld opraak, was daar vir my net een uitweg: ek moes die militêre owerheid vra om my te arresteer. “Liewe aarde, maar hoekom?” het die offisier gevra. “Ek kan nie werk kry nie en al my geld is op.” Wel, hulle het saamgewerk. Na vier maande agter doringdraad in ’n interneringskamp op Torrens-eiland het ek al die ingehoktes begin jammer kry. Wat ’n teenstelling met die vryheid van die see!
Na vier maande het ek ontsnap deur oor die Port-rivier te swem. Maar nou was my situasie erger. Benewens die feit dat ek nie werk kon kry nie, het die owerheid my gesoek. Ek het my uiteindelik oorgegee en om parool aansoek gedoen. Hulle het weer eens saamgewerk.
Ek is drie dae voor die wapenstilstand van die Eerste Wêreldoorlog getroud en wou graag saam met my hardwerkende vrou huis opsit. Maar die depressie het begin, en ek moes terugkeer see toe. Toe het ’n man wat besig was om blind te word my eendag ’n guns bewys deur vir my sy kroeg in die agterveld, by William Creek, 946 kilometer noord van Adelaide, te koop aan te bied. Ek het in 1922 ingestem en was die volgende 30 jaar kroegbaas aldaar. Die kroeg, wat in Australië eenvoudig ’n hotel genoem word, was langs die enigste treinspoor deur die hart van Australië geleë. Dit was ’n florerende onderneming, veral na 1926 toe die spoor na Alice Springs verleng is. Maar die lewe in die agterveld was moeilik. Een droogte het ses jaar geduur. Daar was gereeld drie of vier keer per week stofstorms wat die land heeltemal verwoes het. In die somer het die temperatuur tot tussen 42 en 48 grade Celsius gestyg. Toe ons die kroeg oorgeneem het, het my naaste buurman 28 000 beeste op sy beesplaas gehad. Teen die einde van die droogte het hy slegs 800 gehad!
Hulle het oor Armageddon begin praat!
Op ’n dag in 1933 het twee mans in ’n Austin-motortjie daar aangekom. Dit was ’n wonder dat hulle met daardie motor so ver oor die agterveld se sandpaadjies en onbegaanbare sandduine gekom het. Hulle het oor Armageddon begin praat! “Ons het genoeg van daardie laaste een gedurende 1914 tot 1918 gehad”, het ek gesê. Wel, hulle het gesê dat ek my misgis en vir my ’n paar Bybelstudiehulpe aangebied om te lees. Ek het godsdiens laat vaar omdat ek geweet het watter rol dit in die Inkwisisie gespeel het, en ek het gesien wat dit in baie lande rondom die wêreld gedoen het.
Een van hierdie mans het ’n houtbeen gehad en het baie tyd daaraan bestee om plase op die rug van ’n kameel te besoek. Dieselfde twee mans het drie maande later teruggekom om te hoor of ek en ander langs die treinspoor die lektuur gelees het. Jy kan seker wees dat ek dit toe wel begin lees het, en ek het tot vandag toe nog nooit opgehou nie. Dit het my verstand en hart geopen om uit te sien na die vervulling van baie beloftes in God se Woord, die Bybel, oor lewe op ’n regverdige paradysaarde.
Ek het ’n paar maande later ’n teekis vol grammofoonplate, ’n grammofoon, boeke, tydskrifte en ’n Bybel, iets wat ek nooit voorheen besit het nie, gekoop om hierdie beloftes na te gaan. Ek het besef dat Jehovah die enigste Een is wat, deur middel van Armageddon, ’n einde sal maak aan hierdie tragiese stelsel en al die probleme wat ons vandag ondervind. En in 1935 het ek ander daarvan begin vertel, hoewel ek in die agterveld gewoon het.
Ek het die lektuur aantreklik uitgestal—sommer daar in die kroeg! Een plakkaat, met ’n prent van ’n trein wat van ’n brug afstort, het gelui:
“REGERINGS, KOMMERSIALISME EN GODSDIENS VERKEER IN ’N SELFS ERNSTIGER NOODTOESTAND! WAAR KAN JY VOOR DIE VAL AFKLIM? LEES ‘SALVATION’!”
Onder hierdie plakkaat het ek lektuur uitgestal. Baie mense het geneem wat hulle wou hê en dan die bydrae daarvoor neergesit, net soos hulle ’n koerant by ’n koerantstalletjie sou koop. Spoorwegwerkers het kom vra vir die jongste nommers van die tydskrifte The Watchtower en Consolation (soos Awake! toe bekend gestaan het).
Ek het vier plakkate in die kroeg aangebring, en dit was die eerste ding wat jy gesien het wanneer jy inkom. As jy regs gekyk het, was daar een teen die muur. As jy links gekyk het, was daar nog een. As jy uitgegaan het, was daar een reg langs die deur.
Elke trein het ’n driekwartier lank stilgehou, genoeg tyd vir goeie Bybelbesprekings. Sommige het natuurlik nie van my tekens gehou nie en so gesê. “Wel”, het ek gesê, “niemand keer jou om in te kom of uit te gaan nie.” Daar was in elk geval nêrens anders om heen te gaan nie. My kroeg was ook die enigste winkel, poskantoor en weerstasie. My buurman en die naaste treinhalte was 204 kilometer noordwaarts of 214 kilometer suidwaarts. Ek kan nie onthou dat enigiemand die kroeg verlaat het nie, veral nie op warm dae nie!
Toe ek in 1936 hoor dat twee ander broers daar verby sou kom, het ek spesiaal 90 kilometer suid gereis om hulle by ’n pragtige, warm watergat te ontmoet, en hulle gevra om my te doop.
Eenkeer het die spoorwegkommissaris met die trein daar aangekom, en ek het opgemerk dat die wa van die goewerneur van Suid-Australië ook aangehaak was. Die kommissaris het vir my kom sê dat lady Duggan, die goewerneur se vrou, graag met my wou praat, en sy het ook. Ek het gewonder hoe ek haar reis gedenkwaardig kon maak. Ek het toe die boek Enemies saam met drie boekies toegedraai en vir haar gegee toe sy vertrek het. “Wat is dit?” het sy gevra. “’n Boek genaamd Enemies en drie boekies.” “Deur wie?” het sy gevra. “Deur Judge Rutherford.” “O ja”, het sy opgemerk, “ek het al van hom gehoor. Baie dankie, en ek sal dit beslis lees.” Toe het die trein vertrek.
’n Verbod op die werk
Die Tweede Wêreldoorlog het uitgebreek en Jehovah se Getuies is in die ban gedoen. ’n Polisiebeampte is gestuur om al my lektuur te kom haal. Hy was ’n billike man en het vir my gesê dat Katolieke Aksie agter die hele beweging was om ons werk te belet. Hy het my ’n kwitansie gegee vir elke artikel wat hy geneem het. Ek het by die hoogste owerheid beswaar gemaak.
Toe het ek nog výf plakkate opgesit! Die een het gelui:
“ARMAGEDDON DIE OORLOG VAN DIE GROOT DAG VAN DIE ALMAGTIGE GOD GAAN BINNEKORT BESLIS WORD. WIE ONDERSTEUN JY? JEHOVAH OF SATAN? KRY DIE BYBELSE SIENSWYSE.”
Wel, troepetreine met gemiddeld 350 tot 400 soldate het begin verbykom. Ek het toestemming gehad om vir elke man een bottel bier te gee, en hulle moes dit binne 15 minute klaardrink voordat hulle weer op die trein geklim het.
Maar eendag het die trein nie soos gewoonlik na 15 minute vertrek nie. Die bevelvoerder en die sersant het na die kroeg teruggekom en gesê: “Mnr. Bernhardt, ek verneem dat daar ’n verbod hierop is.” “Van wanneer af is daar ’n verbod op die Bybel?” het ek gesê. “Hierdie plakkate nooi mense bloot om die Bybel te ondersoek.” Toe het ek vir hulle ’n brief gewys van die prokureur-generaal van Australië, mnr. William Morris Hughes, wat gesê het dat hoewel my lektuur nie teruggegee sou word nie, “die Gemenebesregering geen beswaar daarteen het dat jy as ’n individu Jehovah aanbid en die evangelie van sy koninkryk verkondig nie”. Die bevelvoerder het die brief opgevou, dit beleef aan my teruggegee en gesê: “Sersant, ek dink ons sal iets drink!”
Kort hierna het die posmeester-generaal my as posmeester en weerkundige waarnemer afgedank, hoewel ek 14 jaar lank onberispelike diens gelewer het. Die ‘tik-tak’ van die telegraaftoestel was ons hoofskakel met die buitewêreld. Toe dit verwyder is, het dit werklik gevoel asof ons in die woestyn is, alleen en verlate.
’n Paar weke later het ’n polisiebeampte ’n Inperkingsbevel aan my bestel. Ek moes my binne ’n week by die Veiligheidsburo in Adelaide, 946 kilometer daarvandaan, aanmeld. Dit het beteken dat my vrou alleen en sonder enige hulp sou wees. By my aankoms het ek gehoor dat ek ingeperk word en binne die grense van ’n voorstad van Adelaide moet bly. Ek het toestemming gevra om na my vrou terug te keer, maar dit is geweier.
Die Mannekragorganisasie het my beveel om by ’n wolwassery te gaan werk. Ek was baie bekommerd oor my vrou wat alleen was. Toe is my kroeglisensie teruggetrek. Die rede wat hiervoor aangegee is, was dat ek nie daar woon nie! Dit het werklik gevoel asof hulle my probeer onderkry. Op die ou end moes ek die plek aan my vrou verkoop, dit wil sê, op skrif. Daardie inperking het een jaar en tien maande geduur, terwyl my hardwerkende vrou stoksielalleen moes klaarkom. Sy was ’n lojale helper, hoewel sy nie die waarheid aanvaar het nie. Die verbod is uiteindelik in 1943 opgehef, en ek kon na my vrou terugkeer. Die majoor in die Veiligheidsburo het my met dié woorde gegroet: “Ek besef dat jy ’n eerbare en ordentlike man is, en daarom wens ek jou alle voorspoed toe.”
Ek het die kroeg onmiddellik weer met plakkate, Bybels en Bybelhulpe begin versier, selfs meer as voorheen.
Nog agt jaar het verstryk, en ek is ook met handelsondergang gedreig. In plaas daarvan het my verkope amper verdubbel. Maar ek het reeds 12 jaar lank probeer om dit te verkoop. My groot begeerte was om dieselfde werk te doen as diegene wat vir my die waarheid gebring het. Daardie geleentheid het in 1952 gekom toe ek eindelik my onderneming verkoop het. Die vorige 16 jaar was ek ’n afgesonderde verkondiger—my naaste buurman in die waarheid was 602 kilometer daarvandaan in Port Augusta.
“Verkwikking” vir die agterveld
Op sestigjarige ouderdom het ek vertrek, nie see toe nie, maar om hulp te verleen aan mense in Australië se afgesonderde agterveld aan wie ek so baie gedink het. Dit is ’n ongerepte woesteny, ’n land van versengende hitte en waar swaar moesonreëns oorstromings veroorsaak wat mense weke lank afsonder. In ander dele is dit onvergeetlik mooi, waar tyd en afstand saamsmelt.
Die Birdsville-pad is feitlik onbegaanbaar. Een motortydskrif het dit beskryf as “sand, klipperige vlaktes en ontsettende gevaar”. Die temperatuur daar kan in die somer 63 grade Celsius bereik. Die week toe ek die vier bewoonde huise langs daardie pad van 500 kilometer besoek het, was die temperatuur tussen 41 en 46 grade Celsius.
Eendag, terwyl ek in my Land-Rover gery het, het ek ’n man op ’n perd teëgekom. Hy het my genooi om hom na sy opstal te volg. Hy het baie belangstelling getoon. Twintig jaar later het ek hom en sy vrou weer ontmoet—by ’n byeenkoms waar hulle albei gedoop is. By een skaapplaas waar die rylaan van die hoofpad na die huis 68 kilometer lank was, het een eienaar my gevra of ek miskien ’n lang, blonde man met ’n houtbeen, Stuart Keltie, wat hom jare gelede met ’n kameel besoek het, ken. Hy het ’n Bybel en heelwat lektuur geneem en saam met sy vrou die waarheid aanvaar. Ek was bly dat ek vir hom kon sê dat ek die geleentheid gehad het om vir Stuart ’n nuwe en beter been te koop. Stuart Keltie het ’n diep en gunstige indruk op mense in die agterveld gemaak, en dit was vir my ’n voorreg om 23 jaar later in sy spore te volg. Ek het in ’n gebied so groot soos die hele Europa getuig en kan ten minste 22 persone in hierdie afgeleë plekke tel wat die waarheid as gevolg van my pogings aanvaar het.
In 1950 was ek bevoorreg om die Internasionale Byeenkoms in New York by te woon en vir die eerste keer Stuart se weduwee, Thelma Keltie, te ontmoet. Sy het van Nieu-Seeland af gekom om die Gilead-skool by te woon en het 14 jaar as ’n sendeling in Japan gedien. Op die ouderdom van 82 is sy steeds bedrywig in die voltydse diens in Adelaide, Suid-Australië!
Na daardie byeenkoms het ek en my vrou familie in Europa besoek. Ek het my tuisdorp, Hamburg, en die begraafplaas waar my moeder, vader en enigste suster begrawe is, besoek. Hulle het in 1942 saam met meer as 263 000 ander tydens ’n blits-aanval op Hamburg gesterf. Daar was kruisies langs die walle van hierdie massagraf. Op elkeen was die name van slegs die moeder en kinders. Daar was min mansname. Die meeste van die mans was in die Duitse weermag, en dit was hoofsaaklik vroue, kinders en bejaardes wat in die driedaagse lugaanval uitgewis is. Op elke kruisie was daar die woord: WARUM? (WAAROM?). Ek kon, deur Openbaring 12:12 te gebruik, aan baie vriende en familielede verduidelik “waarom”, en ek was verheug om te hoor dat my moeder gedurende die oorlog die waarheid geleer en as ’n getroue Getuie gesterf het.
Na my terugkeer het ek nog baie reise deur die agterveld van Australië onderneem, sommige meer as 11 300 kilometer lank en selfs tot by die Simpson-woestyn. Die natuurskoon in sommige van hierdie gebiede is werklik ontsagwekkend. My stasiewa, of Land-Rover, was my huis, my kombuis, my slaapkamer en my boekekamer. En ek het baie teenspoed ondervind.
Eenkeer het die koppelaar onklaar geraak terwyl ek ’n sleepwa gesleep het. Die motor het dwars geswaai. Dit het donker geword. Ek was hulpeloos. Die volgende dag het ’n man van ’n skaapplaas af per toeval daar verbygekom en aangebied om my te help om die sleepwa af te haak. Ek het gegly en geval, en die sleepwa het bo-oor my geloop. My bene en arms was erg stukkend gesny en het kwaai gebloei. Hy het my darem op ’n manier toegedraai gekry en na ’n groep geoloë geneem waar daar ’n eerstehulpman was. Hulle het met die Vlieënde Dokter in verbinding getree, en die vliegtuig het omtrent twee uur later geland. Gelukkig het die sleepwa my kop net-net gemis toe dit oor my geloop het. Ek was 76 jaar oud toe dit gebeur het.
Nadat ek in die hospitaal herstel het, kon ek nog ’n paar reise onderneem en geestelike verkwikking bring aan daardie dierbare mense wat so hard moes werk om ’n bestaan te maak. Een plaasgesin het vyf dogters gehad. Ek kan met dankbaarheid sê dat die hele gesin van sewe met my hulp en baie briefwisseling gedoopte Getuies geword het.
Eenkeer het ek laat in die aand stilgehou, en ’n plekkie skoongemaak om die nag deur te bring. Toe hoor ek ’n motor aankom. Die plaaswerkers het my gevra of ek daar gaan kampeer. “Weet jy dat hierdie plek letterlik krioel van die slange?” Ek het reeds ’n paar gesien. “Wat jy ook al doen, moenie op die grond slaap nie”, was hulle raad. Ons het rondgekyk en dit het inderdaad gewemel van die slange!
Op ’n ander plek was die grond kilometers ver vol rotgate. Op een plaas het die mense my vertel dat hulle nooit hulle stewels buite los nie, omdat die rotte dit eet. Daardie nag was ek dankbaar vir my sleepwa en het die seil oor my getrek. Hulle het die hele nag op die sleepwa gespring en oor die seil gehardloop. Ek kon die getrippel van hulle pote hoor.
Ek word nou 92 en is nog steeds lief vir die binneland. Wanneer ek nou in Adelaide, waar ek woon en steeds as pionier dien, aan daardie jare van diens in die agterveld terugdink, verheug ek my oor die voorreg wat ek gehad het om geestelike verkwikking aan baie in die agterveld te bring. Ek sal aanhou om oorvloedig te wees in die werk van die Here’ solank Jehovah my die gesondheid en krag skenk om dit in ooreenstemming met my ouderdom en liggaamlike vermoëns te doen.—1 Korinthiërs 15:58; 2 Korinthiërs 4:16, 18.
[Kaart/Prent op bladsy 21]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Adelaide
William Creek