Sien hierdie eeu van geweld met vertroue onder die oë
“Die Soewereine Heer Jehovah self het gespreek! Wie sal nie profeteer nie?”—AMOS 3:8, NW.
1. (a) Watter wonderlike voorreg het ons ten opsigte van Jehovah se naam? (b) Hoe het Jesus en Paulus Jehovah en sy naam verheerlik?
“DIE Soewereine Heer Jehovah”—hoe pragtig beskryf daardie woorde tog die Opperheerser van die heelal! Ondanks sektariese besware is dit ’n wonderlike voorreg om Jehovah by die naam aan te roep, om ’n intieme verhouding met Jehovah te hê, en om Jehovah se naam en voornemens aan ander te verkondig. Terwyl sy Seun, Jesus, op aarde was, het hy gesê: “Jehovah se gees is op my, . . . om die goeie nuus aan die armes te verkondig.” In gebed tot Jehovah het hy van sy dissipels gesê: “Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak en sal dit bekend maak.” En die apostel Paulus het die antieke Hebreeuse profete aangehaal en gesê: “Elkeen wat die naam van Jehovah aanroep, sal gered word.”—Lukas 4:18, NW; Johannes 17:26; Romeine 10:13, NW; Joel 2:32, NW.
2. (a) Hoe het Amos Jehovah verheerlik? (b) Watter toewysing het Amos ontvang ooreenkomstig die betekenis van sy naam?
2 Amos was een van daardie antieke profete. Hy het die naam van Jehovah verheerlik, en die uitdrukking “die Soewereine Heer Jehovah” kom 21 keer in sy Bybelboek voor (NW). Die naam Amos beteken “’n Las word gedra”. Hy het inderdaad ’n swaar verantwoordelikheidslas gedra, net soos lojale getuies van Jehovah vandag doen. Amos was ’n skaapboer en ’n vrugtekweker, en dit wil voorkom of hy geen formele opleiding vir sy profetiese werk gehad het nie. En tog was hy klaarblyklik goed vertroud met God se Woord en was Jehovah se gees op hom om sy moeilike toewysing uit te voer. Wat was dit? Dit was om sy tuisland in Juda te verlaat en as ’n buitelandse sendeling na die afvallige tienstammeryk van Israel in die noorde te gaan. Daar, in Israel, met sy hoofstad Samaria, moes hy ’n uiters ongewilde doemboodskap verkondig.
3. Watter tydige “raadsbesluit” is deur middel van Amos geopenbaar?
3 Het Amos geweier om hierdie toewysing te aanvaar? Glad nie! Dit was gewelddadige tye, maar die mense moes die koms van ’n selfs groter “dag van onheil” in gedagte hou. Eet en drink was die middelpunt van hulle lewens. Uitgestrek op hulle ivoorbeddens en luukserusbanke het geen gedagte aan Jehovah en sy ware aanbidding by hulle opgekom nie (Amos 6:3-6). Jehovah het hom voorgeneem om hulle te straf, maar hulle moes eers ’n profetiese waarskuwing ontvang. Dienooreenkomstig het Jehovah self gesê: “Die [Soewereine Heer Jehovah] doen niks tensy Hy sy raadsbesluit aan sy knegte, die profete, geopenbaar het nie.”—Amos 3:7, vgl. NW.
Hedendaagse toepassing
4. (a) Waarom is antieke profesie bewaar? (b) Deur watter kanaal word die betekenis daarvan nou bekend gemaak?
4 Het hierdie antieke profesie vandag vir ons enige betekenis? Ja, dit bevat ’n kragtige boodskap vir ons! Die geïnspireerde Woord van God is onder goddelike leiding saamgestel, en dit is tot “die tyd van die einde” bewaar tot voordeel van God se volk “op wie die eindes van die eeue gekom het”. Die profetiese betekenis daarvan word aan ons bekend gemaak deur “die getroue en verstandige dienskneg”, daardie groep gesalfde Christene wat die Heer, Jesus Christus, nou gebruik om geestelike “voedsel op tyd” aan God se hele volk te gee.—Daniël 12:4; 1 Korinthiërs 10:11; Mattheüs 24:45-47.
5. Hoe moet ons reageer op Jehovah se verklaring in Amos 3:8?
5 Beskou ons hierdie “raadsbesluit” van Amos se profesie as iets van mindere belang waaraan ons as ’t ware in ons vrye tyd aandag kan skenk? Wel, gestel ons was alleen in die oop veld en ’n leeu se gebrul het skielik die stilte verbreek. Hoe sou ons gereageer het? Sou ons nie in daardie lewensgevaarlike situasie dadelik iets doen nie? Ons sou nie talm nie! Moet ons dan nie dienooreenkomstig op Jehovah se profetiese verklarings reageer nie? Jehovah self sê: “’n Leeu het gebrul! Wie sal nie bevrees wees nie? Die Soewereine Heer Jehovah self het gespreek! Wie sal nie profeteer nie?” (Amos 3:8, NW). Dit is dus noodsaaklik dat ons die profesie en sy betekenis aan ander bekend maak. Maar hoe?
“Gaan heen, profeteer”
6. In watter opsigte kom die valse Christendom met eertydse Samaria ooreen?
6 Jehovah se bevel aan Amos was: “Gaan heen, profeteer teen my volk Israel” (Amos 7:15). Daardie afvallige koninkryk van Israel se hedendaagse parallel is die valse Christendom, wat ’n materialistiese beskouing het, van geweld of die bedreiging van geweld afhanklik is vir sy voortbestaan en wat die Soewereine Heer Jehovah vyandig gesind is en sy naam haat. Die valse Christendom dra die titel “Christen” slegs as ’n etiket, want dit is gekant teen Christus se inkomende Koninkryk van geregtigheid. Jesus self beskryf die lidmate van die Christendom se gelowe as ‘mense wat die ongeregtigheid werk’.—Mattheüs 7:21-23.
7, 8. (a) Hoe is die valse Christendom se ondergang progressief deur die jare heen ‘uitgeroep’? (b) Watter “vrylating” is vir “geboeides” uitgeroep, en met watter gevolg?
7 Sedert die Koninkryk in 1914 in die hemele opgerig is, het die hedendaagse Amos-klas, Jehovah se Getuies, Jehovah se dag van wraak dwarsdeur die valse Christendom verkondig. ’n Deeglike waarskuwing is veral van 1919 tot 1939 in die lande van die Christendom uitgebasuin, en dit duur tot vandag toe voort. Vir Jehovah se Getuies was die jare van die Tweede Wêreldoorlog, 1939-45, ’n tyd van vervolging, maar ook ’n tyd van herorganisering. In 1943 het die Wagtoring-Bybelskool Gilead begin om sendelinge vir buitelandse velde voor te berei, en teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog is hulle na talle lande gestuur om die Koninkryksgetuienis uit te brei. Die werk in die ryk van die valse Christendom is aldus geïntensifiseer, veral in Italië, Portugal, Spanje en die uitgestrekte gebied van Latyns-Amerika.
8 “Gaan heen, profeteer”, was die oproep! Toegewyde gesinne het uit Kanada, die Verenigde State, die Britse Eilande, Europa en Australasië getrek om by die sendelinge aan te sluit in nuwe gebiede waar die behoefte groot was. Met vertroue het hulle bekend gemaak wat ‘die Soewereine Heer Jehovah self gespreek het’. Jehovah se gees is op sy getuies om wêreldwyd God se ‘dag van wraak’ op die valse Christendom aan te kondig, asook “vrylating” vir diegene wat deur valse godsdiens ‘geboei’ is (Jesaja 61:1, 2; Sagaria 4:6). In 40 jaar was daar gevolglik ’’n verstommende vermeerdering in die maandelikse gemiddelde getal Getuies wat die Koninkryk verkondig: van 109 794 in 1943 tot 2 501 722 in 1983.
’n Wêreldwye patroon
9, 10. (a) Wat was die omvang van die verkondiging in Amos se dag, en wat kom vandag hiermee ooreen? (b) Hoe beskou sogenaamde heidene die valse Christendom nou, soos afgebeeld deur Amos se profesie?
9 Dit volg die patroon van Amos se dag toe die doemboodskap ook in Asdod—die heidense sentrum van aanbidding in nabygeleë Filistia—en tot in verre Egipte uitgebasuin moes word. Want die Soewereine Heer Jehovah het gespreek en gesê: “Roep dit uit oor die paleise van Asdod en oor die paleise van Egipteland en sê: Versamel julle op die berge van Samaria, en aanskou die groot beroering in die midde van die stad en die verdrukking daarbinne. Ja, hulle weet nie om reg te doen nie, spreek die Here—hulle wat geweld en verdrukking [plundering, NW] opstapel in hulle paleise.”—Amos 3:9, 10.
10 Die hedendaagse verkondiging van Jehovah se wraak wat op die Christendom uitgeoefen gaan word, het eweneens ver buite sy ryk versprei—deur Afrika, die eilande van die see en talle dele van die Ooste. Daar Egipte in die Bybel gebruik word as ’n simbool van die hele goddelose wêreld wat van God vervreemd is, is die boodskap oor die valse Christendom se ondergang wêreldwyd verkondig. (Vergelyk Jesaja 19:19, 20.) Baie van die sogenaamde heidense nasies is terdeë bewus van die ‘beroering, verdrukking, ongeregtigheid, geweld en plundering’ in die valse Christendom. Deur die eeue heen het hulle gesien hoedat die Christendom se sendelinge deelneem aan ideologiese oorloë en revolusies en optree as ’n front vir internasionale wapen- en dwelmhandel. Wanneer ’n sendeling van die Wagtoringgenootskap met ’n Boeddhis praat, kom hy dikwels die beswaar teë: ‘Maar kyk na die sedelike toestand van Christene; as Boeddhiste het ons baie beter sedes, waarom moet ons dan verander?’ Die sendeling moet dan verduidelik dat die godsdiens van die valse Christendom hemelsbreed van die Christelike godsdiens van die Bybel verskil. Eers dan begin hy om ’n horende oor te kry.
11. Waarmee kom die verdorwenheid in Samaria vandag ooreen?
11 Net soos in eertydse Samaria weet die Christendom se politici en amptenare, groot en klein, “nie om reg te doen nie”. En in die meeste sogenaamde Christenlande is die strate vol geweld en ongeregtigheid (Mattheüs 24:3, 12). Dit vorm ’n treffende teenstelling met die vreedsamer toestande in talle “nie-Christelike” lande.
12. Hoe stapel die valse Christendom “geweld en plundering” op?
12 Op internasionale gebied word daar ook ’n skokkende hoeveelheid “geweld en plundering” beplan. Dit is nie genoeg dat die nasies van die Christendom die aanstigters van die twee wêreldoorloë was en gevolglik bloedskuldig staan ten opsigte van die slagting van nagenoeg 69 000 000 mense nie. Die valse Christendom is nou baie betrokke by die stryd tussen die twee supermoondhede, “die koning van die Suide” en “die koning van die Noorde”, met die gevolg dat sy nasies hulle die ontplooiing van moorddadige kernwapens dwarsoor hulle gebiede laat geval.
13. Hoe het politieke voorstanders van geweld deel gehad aan die vervulling van Daniël 11:40 en Lukas 21:25?
13 Op ’n besoek aan Japan het die hoofwoordvoerder vir “die koning van die Suide” gesê: “Die enigste waarde van die besit van kernwapens is om te verseker dat hulle nie gebruik kan word nie—nooit nie.” Waarom het hulle dit dan in die eerste plek? Dit is omdat Satan, die god van hierdie wêreld, die nasies vasgevang het in ’n dilemma waaruit hulle nie kan kom nie. As gevolg van ’n “botsing” met “die koning van die Suide” het die hoofwoordvoerder vir “die koning van die Noorde” aangekondig dat middelafstandkernmissiele op die Amerikaanse vasteland gerig is deur “hulle in die oseaan en die seë te ontplooi”. Al hierdie dinge vervul Jesus se profesie oor “benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer see en branders dreun”.—Daniël 11:40; Lukas 21:25; Openbaring 12:9, 12.
14. In watter opsigte herinner hierdie situasie en die uitslag daarvan ons aan gebeure in Noag se dag?
14 Nog nooit sedert die dae van Noag het die mensdom soveel verwoesting in die gesig gestaar tesame met die bedreiging van groter geweld nie. Die geskiedverslag oor Noag se tyd lui dat Jehovah gesien het “dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was . . . [En] die aarde was verdorwe voor die aangesig van God, en die aarde was vol geweld.” As gevolg van daardie verdorwenheid en geweld het Jehovah die goddelose deur middel van die Sondvloed verderf. Dit is vandag weer sy voorneme “om die verderwers van die aarde te verderf.—Genesis 6:5-13; Openbaring 11:18; Lukas 17:26, 27.
Die plundering van die Christendom
15. Hoe het Jehovah “’n vyand” oordeel aan Samaria laat voltrek?
15 Waarop sal die konfrontasie tussen die wêreld se supermoondhede uitloop? Jehovah het iets daaroor te sê, soos ons in Amos 3:11 lees: “Daarom, so sê die [Soewereine Heer Jehovah]: ’n Vyand! En dit rondom die land; en hy sal jou vesting van jou af neerwerp, en jou paleise sal geplunder word.” Wie is hierdie “vyand”? In Amos se dag was die “vyand” die Assiriese Wêreldmoondheid. Assirië se magtige leër is deur Jehovah gemaneuvreer en deur hom as ’n simboliese “roede” gebruik om oordeel aan afvallige Samaria te voltrek soos beskryf in Jesaja 10:5, 6: “Assur [die Assiriër, NW]! die roede van my toorn en ’n stok is hy—in hulle hand is my grimmigheid! Ek sal hom stuur teen ’n roekelose nasie, en Ek sal hom bevel gee teen die volk van my grimmigheid, om buit te maak en roof in te samel en om hulle tot ’n vertrapping te maak soos modder van die strate.”
16. (a) Hoe beskryf Openbaring 17 ’n ooreenstemmende konfrontasie vandag? (b) Watter verwikkelinge dui daarop dat die valse Christendom se ondergang naby is?
16 Net so sal Jehovah ’n swaar gewapende, hedendaagse Assiriër as sy “roede” en “byl” gebruik om die afvallige Christendom tereg te stel. Trouens, die hele wêreldryk van valse godsdiens, Babilon die Grote, sal dan verwoes word deur bose “horings”—gemilitariseerde politieke moondhede wat selfs nou ledenasies van die V.V.O. is (Jesaja 10:15; Openbaring 17:5, 16, 17, vgl. NW). Die gerommel van daardie naderende konfrontasie word dikwels in die aktuele nuus gehoor. U.S. News & World Report het byvoorbeeld onlangs die volgende gesê: “Dit is nie net in Pole dat Katolisisme en Kommunisme skynbaar op konfrontasie afstuur nie. Dwarsoor Oos-Europa het betrekkinge tussen die kerk en Kommunistiese bewinde al hoe meer versleg sedert Poolse Johannes Paulus II in 1978 pous geword het. Daar is ’n nuwe veglus te bespeur onder Rooms-Katolieke biskoppe in die Sowjet-blok. . . . Die Pous se ywerige verdediging van die Katolieke saak het tot die atmosfeer van konfrontasie bygedra. . . . Kommunistiese regerings maak geen geheim daarvan dat hulle die Pous wantrou nie.”
17. Wat sê die boek Amos, asook ander profesieë, oor die plundering van valse godsdiens?
17 Sake sal dus verloop net soos Jehovah in Amos 3:15 sê: “Die huise van ivoor sal te gronde gaan, en baie huise sal verdwyn, spreek die HERE.” Die Christendom se rykdom en materialisme sal verwoes word, tesame met dié van die hele ryk van valse godsdiens.—Esegiel 7:19; Openbaring 18:15-17.
18. (a) Hoe sal die “Assiriër” vervolgens trots optree? (b) Wat sal dit ontketen, en met watter gevolg vir Jehovah se volk?
18 Maar sal dit onmiddellike bevryding vir Jehovah se lojale dienaars beteken—bevryding van die smaad, die vervolging en die verdrukking waaraan Satan se wêreld hulle onderwerp? Nog nie! Want die polities gesinde “Assiriër”—“die roede” en “die byl” wat Jehovah gebruik om oordeel aan die afvallige Christendom te voltrek—sal homself trots verhef teen Jehovah deur Sy getroue getuies hier op aarde aan te val. Maar tevergeefs! (Jesaja 10:15-19). Soos die apostel Johannes dit in ’n gesig gesien het, sal “die konings van die aarde”, die politieke moondhede van die V.V.O.-“dier”, vergader om oorlog te voer teen God se gekroonde “Koning van die konings en die Here van die here”. Dit sal die teken wees vir Armageddon, die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God”. Dit sal al Satan se magte op aarde uitwis en redding bring vir “elkeen wat die naam van Jehovah aanroep”.—Openbaring 16:14, 16; 19:11, 16, 19-21; Romeine 10:13, NW.
19. Met watter vertroue moet Amos se voorbeeld en die vervulling van sy profesie teen Samaria ons vervul?
19 Hoe sien jy dan hierdie eeu van geweld onder die oë? Beslis met vaste vertroue dat Jehovah sy profetiese woord sal regverdig! En met vasbeslotenheid soos dié van Amos, wat ’n ongewilde doemboodskap aan ’n afvallige volk verkondig het! Maar hoe kan jý behoue bly tot in die wonderlike Nuwe Orde wat die Soewereine Heer Jehovah voorberei vir diegene wat hom liefhet? Die volgende artikel sal daardie vraag beantwoord.
Hersieningsvrae:
◻ Hoe is Amos vir ons ’n goeie voorbeeld in die wyse waarop hy gewelddadige tye onder die oë gesien het?
◻ Watter “raadsbesluit” het ons nou die voorreg om ‘uit te roep’?
◻ ln watter opsigte het eertydse Samaria die valse Christendom afgeskadu?
◻ Hoe gaan hierdie eeu van geweld eindig, en wat toon dat dit naby is?
[Prent op bladsy 9]
Die Soewereine Heer Jehovah het die skaapboer Amos gestuur om ’n ongewilde boodskap te verkondig
[Prent op bladsy 11]
Vir Babilon die Grote is ‘die skrif aan die muur’