Waarom is dit so?
WAAROM is onregverdigheid so wydverspreid? Twee tekste in die Bybel help ons om daardie vraag te beantwoord. Die eerste is in Jeremia hoofstuk 10, vers 23, en volgens die Nuwe Afrikaanse Vertaling lui dit:
“Die mens kan nie self sy pad kies nie, niemand kan self sy koers bepaal nie.”
Dit toon dat die mens eenvoudig nie toegerus is om homself te regeer nie. Waarom nie? Ten eerste, omdat hy inherent sondig is. God het self gesê: “Die versinsels van die mens se hart is sleg van sy jeug af” (Genesis 8:21). Dit is om hierdie rede dat die mens se wette en gebruike allerhande ongelykhede veroorsaak. Byvoorbeeld: Baie sal hulleself liewer met sigarette vergiftig of gevorderde wapens vir massavernietiging vervaardig as om die hulpbehoewendes van skoon, vars water en genoeg voedsel te voorsien.
Die mens het ook nie genoeg wysheid nie. Daarom kan wette wat veronderstel is om regverdig te wees tot skreiende onregte lei, soos in Roy se geval. Ofskoon baie individue en organisasies hulle beywer vir regverdigheid in die verskaffing van gesondheidsdienste, voedselverspreiding en ekonomiese toestande, kan hulle dit nie bewerkstellig nie. In baie gevalle weet hulle eenvoudig nie hoe nie.
Die waarheid is dat die mens nie gemaak is om ‘self sy pad te kies nie’, om met volle outonomie of onafhanklikheid oor homself te regeer nie. Hy is gemaak om deur ’n hoër hand, deur God, regeer te word. En aangesien die meeste mense deur die geskiedenis heen regering deur God verwerp het, het ’n ander magtige gees na vore gekom om hulle te beinvloed. Die tweede teks maak melding van hierdie gees en help ons om te verstaan waarom onregverdigheid vandag so algemeen is. Dit lui:
“Die hele wêreld [lê] in die mag van die Bose.”
Dit is die woorde van die apostel Johannes (1 Johannes 5:19). Wie is “die Bose”? Niemand anders as Satan die Duiwel nie, wat ook “die god van hierdie wêreld” genoem word (2 Korinthiërs 4:4). Satan en sy demone is baie sterker as ons. Hulle stel nie in reg en geregtigheid belang nie. Trouens, solank daar onreg heers, weerhou dit mense daarvan om God te soek, en party blameer hom selfs vir die onreg. Onregverdigheid pas dus baie goed in by Satan se planne.
Die Bybel deel ons mee: “Die HERE het die reg lief en sal sy gunsgenote nie verlaat nie” (Psalm 37:28). Waarom het hy dan toegelaat dat die mens homself regeer en onder die invloed van Satan kom, en as gevolg daarvan so swaar gebuk gaan onder onregverdigheid en ander euwels? Die volgende artikel bespreek hierdie vraag.