Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w84 6/15 bl. 3-4
  • Hoe wydverspreid is onregverdigheid?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe wydverspreid is onregverdigheid?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Soortgelyke materiaal
  • Sal daar ooit geregtigheid wees?
    Nog onderwerpe
  • Sal God ooit iets omtrent ongeregtigheid doen?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Die beste manier om op ongeregtigheid te reageer
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
  • Is ongeregtigheid onvermydelik?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
w84 6/15 bl. 3-4

Hoe wydverspreid is onregverdigheid?

VROEG in 1940 is ’n 34-jarige man met die naam Roy in Nieu-Mexiko, V.S.A., in hegtenis geneem en van roof aangekla. Hy het gesê dat hy byna 2 000 kilometer van die misdaadtoneel af was toe die misdaad gepleeg is, maar hy het geen getuies gehad om dit te bewys nie. Hy is skuldig bevind en tronk toe gestuur. Sestien jaar later is Roy uit die tronk vrygelaat. ’n Ondersoek het aan die lig gebring dat hy onskuldig was!

’n Paar jaar gelede het ’n vrou in Colombia aan ’n koerant geskryf en ’n droewige verhaal vertel. Haar man het haar en hulle vier seuns verlaat en saam met ’n ander vrou weggeloop. Met groot inspanning en opoffering het sy nietemin vir haar seuns ’n goeie opvoeding gegee en toe, met hulle hulp, kapitaal opgebou sodat haar gesin gerieflik kon lewe. Toe, op ’n dag, is sy gedagvaar om voor ’n regter te verskyn. Waarom? Haar man het ’n geding aanhangig gemaak. Die vrou het gehoor dat die helfte van haar besittings aan haar man behoort. “Sulke onregverdigheid gaan my verstand te bowe”, het sy uitgeroep.

Baie jare gelede het ’n wyse man die mens se ondervinding raak opgesom toe hy gesê het: “Die een mens heers oor die ander tot sy ongeluk” (Prediker 8:9). Hierdie oorheersing het individuele lyding tot gevolg gehad, soos hierdie twee voorbeelde toon. Dit het ook tot gevolg gehad dat hele klasse mense onreg ly. Beskou enkele voorbeelde.

Die ekonomie: Volgens The World Almanac & Book of Facts 1984 was die gemiddelde inkomste in Indië minder as R200 per jaar—op ’n tydstip toe die gemiddelde inkomste in baie Europese lande ongeveer R12 000 per jaar was. Ekonome sê dat sulke verskille “twyfel laat ontstaan het oor die doeltreffendheid en regverdigheid van die bestaande ekonomiese orde”.

Gesondheid: “Ter wille van reg in die gesondheid” was ’n onlangse opskrif in ’n gesondheidsblad van die VV. Wat is so onregverdig omtrent gesondheid? Wel, laat ons ’n voorbeeld noem: Nie lank gelede nie het ’n jong man in Nepal gesterf omdat hy insulien nodig gehad het. Daar was eenvoudig geen insulien beskikbaar in die ganse omtrek waar hy gewoon het nie! Is dit regverdig dat mense in party lande aan siektes sterf wat in ander lande maklik genees of beheer word? Vyf-en-twintigmiljoen mense sterf elke jaar aan siektes wat deur besoedelde water en swak sanitasie veroorsaak word. En tog sal dit nie moeilik wees om hulle van skoon water te voorsien nie, en dit sou slegs ’n derde kos van wat die wêreld aan sigarette bestee of sowat ’n agttiende van wat dit aan wapens bestee. Is dit regverdig?

Voedsel: In 1980 het nagenoeg 50 miljoen mense van die honger omgekom. Daar is egter oorgenoeg voedsel vir almal—as dit doeltreffend versprei kon word. Die probleem is dat party lande meer gebruik as wat hulle nodig het. En selfs as kos beskikbaar is, kan die armes dit dikwels nie bekostig nie. ’n Senior amptenaar van die Verenigde Volke se Kinderfonds het gesê dat die situasie ‘onregverdig, onaanvaarbaar en feitlik heeltemal vermydelik’ is.

Vooroordeel: In ’n berig oor ’n gewelddadige rasseopstand in die Verenigde State het ’n nuustydskrif gesê: “Die grootste van die opstand se baie oorsake was ’n gevoel van onreg.” Ja, sekere rassegroepe is dikwels die skyf van diskriminasie. So ook vroue. So ook die armes, ongeag hulle geslag of kleur.

Waarom is die wêreld so vol onreg?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel