Vrae van lesers
♦ Aangesien ’n broer wat in ’n betrekking aanbly waar hy ’n wapen moet dra nie as voorbeeldig beskou word nie, sal dit dan nie vir een van Jehovah se Getuies verkeerd wees om gewapende geregsdienaars om beskerming te nader nie?
Jesus het gesê: “Almal wat die swaard neem, sal deur die swaard vergaan” (Mattheüs 26:52). Ooreenkomstig hierdie beginsel word ryp Christene vermaan om werk te vermy wat vereis dat hulle ’n vuurwapen (die hedendaagse ekwivalent van “die swaard”) dra. Dit beteken egter nie dat hulle nie gewapende polisiemanne om beskerming kan nader en sulke beskerming kan ontvang nie. Waarom sê ons so?
Waar Romeine 13:1-4 verwys na menslike goewermentele “magte” wat in die teenswoordige stelsel met God se toelating werksaam is, sê dit: “Hy is ’n dienaar van God, jou ten goede. Maar as jy kwaad doen, vrees dan; want hy dra die swaard nie verniet nie, want hy is ’n dienaar van God, ’n wreker om die een wat kwaad doen, te straf.” God keur dus die bewapening van sulke ‘magte oor ons’ goed sodat ’n mate van wet en orde onder die mensdom gehandhaaf kan word. Maar wanneer Christus as die “Vredevors” ‘oorvloedige vrede sonder einde’ bewerkstellig, sal die gebruik van alle wapens van geweld tot die verlede behoort. ln ooreenstemming met die Skrif kan Christene dus vandag beskerming van die “magte” aanvaar, al het hulleself ‘van hul swaarde pikke gesmee’ in afwagting van God se inkomende Koninkryk.—Jesaja 2:4; 9:5, 6.
Ons kan die hedendaagse situasie vergelyk met dié in Jeremia se dag. Dit was toe dat Jehovah die leër van “Nebukadresar, die koning van Babel, my dienaar” gebruik het om oordeel aan die afvallige koninkryk van Juda te voltrek. Het Jeremia en Barug hulself bewapen vir beskerming in daardie kritieke situasie? Nee, want Jehovah self het Jeremia “’n versterkte stad en ’n ysterpilaar en kopermure teen die hele land” gemaak. En hoewel hulle nie aangesluit het by die leër van Jehovah se skerpregter-“dienaar” nie, het hulle verlossing deur middel van daardie “dienaar” aanvaar toe Jerusalem vernietig is.—Jeremia 1:17-19; 25:9; 39:11-14.
Jehovah se Getuies jaag vandag eweneens vrede na terwyl hulle die Koninkryksboodskap in ’n gewelddadige wêreld verkondig. Maar solank Jehovah regeringsowerhede toelaat om die “swaard” of die hedendaagse ekwivalent daarvan te dra om die orde te handhaaf, kan hulle tereg die beskerming van daardie “swaard” aanvaar.