Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w83 9/15 bl. 6-7
  • ’n Genotsugtige wêreld gaan binnekort eindig!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Genotsugtige wêreld gaan binnekort eindig!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Les uit die ou tyd
  • Die geskiedenis gaan homself herhaal
  • “Die einde” is ophande!
  • Die teregstelling van die “Groot hoer” kom nader
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Deel 3—Magtige Babilon—die derde groot wêreldmoondheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Onveilige “Babilon” is tot vernietiging gedoem
    Wêreldwye veiligheid onder die “Vredevors”
  • Babilon die Grote—geval en geoordeel
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
w83 9/15 bl. 6-7

’n Genotsugtige wêreld gaan binnekort eindig!

DIE geskiedenis is vol voorbeelde van magtige koninkryke en ryke wat tot ’n val gebring is deur sedelike verval, losbandigheid en oordrewe genotsug. Selfs in ’n nasie het dinastieë of regeringstelsels geval wanneer genotsug hulle sedelikheid verweer het.

In die boek Outlines of Roman History het William Morey byvoorbeeld geskryf: “Indien daar vir ons gevra sou word wat die simptome van [Rome se] sedelike verval was, sou ons moes antwoord: die selfsug van klasse; die vergaring van rykdom, . . . die liefde vir goud en die beheptheid met weelde . . . Dit was sedelike kwale, wat nouliks deur enige regering genees kon word.”

Sien ons nie vandag hoedat mense opgaan in ’n sekulêre, genotsugtige leefwyse nie? Lewe ons nie in ’n genotsugtige wêreld nie? Ja, inderdaad, want hoewel baie steeds ’n bietjie godsdiens wil hê, geniet sosiale en ontspanningsbedrywighede voorkeur. Die mense het geword soos diegene in Noag se dag—hulle tyd en aandag word in beslag geneem deur dinge soos voedsel en drank. Hulle is te besig om hulle begeertes te bevredig om aandag te skenk aan hulle geestelike behoeftes. Belangstelling in en steun vir godsdiens is inderdaad op ’n lae peil.—Mattheüs 24:37-39.

Hierdie genotsug en die gepaardgaande agteruitgang van steun vir godsdiens kry besondere betekenis wanneer ons kyk na die wyse waarop ’n ander antieke ryk, Babilonië, tot sy val gekom het. Trouens, die buitengewone omstandighede van daardie val is, net soos ander geskiedenisverslae, om ’n spesifieke rede in die Bybel opgeteken: “Al hierdie dinge . . . is opgeskrywe as ’n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het.”—1 Korinthiërs 10:11.

’n Les uit die ou tyd

Die Eufraatrivier het ’n belangrike rol in die lewe van die groot stad Babilon gespeel. In sy boek History of Cyrus the Great (1878) het Jacob Abbott geskryf: “[Babilon] was die hoofstad van ’n groot en baie vrugbare gebied, wat aan albei kante van die Eufraat tot by die Persiese Golf gestrek het. . . . Die Eufraatrivier was die groot bron van vrugbaarheid vir die hele gebied waardeur dit gevloei het.” Ja, Babilon se voorspoed was aan die Eufraatrivier te danke. Dit is dus des te betekenisvoller dat die stad se val ook met daardie rivier verband gehou het.

Abbott het hierdie interessante verslag van koning Kores se verowering van Babilon gegee:

“Kores het na die stad opgeruk. Hy het een groot afdeling van sy troepe by die opening in die hoofmure geplaas waar die rivier in die stad ingevloei het, en ’n ander aan die onderkant, waar dit uitgevloei het. Hierdie afdelings is beveel om die stad met die rivierbedding langs binne te gaan sodra hulle sien dat die watervlak daal. Toe het hy ’n groot arbeidsmag gebruik om nuwe kanale te grawe, en om die bestaande kanale breër en dieper te maak, om die water uit hulle gewone loop te lei. Toe hierdie kanale klaar was, is die water een nag op ’n voorafbepaalde tyd daarin weggekeer en het dit gou opgehou om deur die stad te vloei. Die afdelings soldate het met die bedding van die rivier langs opgeruk.”

Die oomblik toe die water van die Eufraat begin daal het, was Babilon gedoem! En let daarop dat die stad geval het op ’n nag van plesierige feesviering.—Vergelyk Daniël, hoofstuk 5.

Die geskiedenis gaan homself herhaal

Die dinge wat deur die toedoen van Kores die Grote met antieke Babilon gebeur het, is nie bloot van geskiedkundige belang nie. Die Bybelboek Openbaring gebruik dit as ’n beeld en praat van ’n hoer genaamd “Babilon die Grote” wat op “baie waters” sit. En daar is voorspel dat ’n engel op God se bevel, “sy skaal uitgegooi [het] op die groot rivier, die Eufraat, en sy water het opgedroog, sodat die pad van die konings wat van die Ooste af kom, reggemaak kon word”.—Openbaring 17:1, 5, NW; 16:12.

Wie of wat is “Babilon die Grote”? Wat word afgebeeld deur die “baie waters” van “die groot rivier, die Eufraat”? En wat word bedoel wanneer dit sê dat die water “opgedroog” het?

Hoewel antieke Babilon nie meer as ’n politieke mag bestaan nie, het sy godsdiensinvloed deur die eeue heen na die uithoeke van die aarde uitgebrei. “Babilon die Grote” is dus die wêreldryk van valse godsdiens, al die kerke van die Christendom inkluis. Openbaring 17:15 toon dat die “baie waters” waarop hierdie godsdienshoer sit die “volke en menigtes en nasies en tale” is waarop sy staatmaak vir steun, net soos antieke Babilon op die waters van die Eufraat staatgemaak het vir sy voorspoed. Die opdroging van die waters beteken dus dat die mense se steun vir godsdiens sal afneem.a

“Die einde” is ophande!

In hierdie verband besef ons dat die opkoms van wêreldlikheid rondom die aarde en die afname van belangstelling en steun vir godsdiens op twee maniere van profetiese belang is. Eerstens, hierdie verwikkelinge vervul die apostel Paulus se voorspelling dat mense in “die laaste dae” “meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God” sou wees. Dit is deel van die getuienis wat toon dat ons in “die laaste dae” of “die voleinding van die wêreld” lewe (Mattheüs 24:3). Tweedens, net soos antieke Babilon geval het op dieselfde nag dat die waters van die Eufraat gedaal het, is die opkoms van wêreldlikheid en die afname van steun vir godsdiens duidelike aanduidings dat die vernietiging van “Babilon die Grote” ophande is.

Die feit dat hierdie profesieë vervul word, toon duidelik dat ons in “die tyd van die einde” lewe (Daniël 12:4). Ja, ons nader die laaste deel van die laaste dae, waarvan die vernietiging van Satan se hele goddelose stelsel die klimaks sal wees. Hierdie genotsugtige wêreld gaan inderdaad binnekort eindig. Maar dit kan ons laat moed skep, want dit sal die weg baan vir die regverdige Nuwe Orde wat God beloof het (2 Petrus 3:13). Jy kan die wonderlike seëninge daarvan smaak as jy nie genot in die plek van God stel nie, maar hom liewer in hierdie laaste dae eerste in jou lewe stel.

[Voetnoot]

a Kyk die artikel “Die teregstelling van die ‘groot hoer’ kom nader” in Die Wagtoring van 1 Januarie 1981, bladsye 17-23 en die boek “Let Your Kingdom Come”, hoofstuk 17, vir nadere besonderhede.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel