“’n Gedaante van godsaligheid”
MET die oog op die slinkende steun probeer die kerke desperaat om hulle lidmate bymekaar te bring of aan te vuur. Maar die taktiek wat hulle gebruik, vererger sake dikwels. Hulle buit die genotsugtige mentaliteit uit. Hoe so? Kyk na ’n paar voorbeelde van wat die kerke doen om die tuisblyers na die kerkbanke te lok:
“Daar is vandag 3 000 harlekynbedienigsgroepe in die V.S.A. wat groot neuse opsit en veelkleurige pakke aantrek om God te dien”, berig die tydskrif Time. Die geselskappe wat hulself “Narre vir Christus’ of ‘Heilige narre’ noem, dans, gogel, mimeer, ry fietse in die kerk, deel springmielies uit en gooi konfetti en ballonne na die gemeente. In Saskatoon, Kanada, het ’n byeenkoms van die Kanadese Vereniging vir Herderlike Opvoeding ’n kursus in “Christelike hansworstery” ingesluit as ’n manier om mense te bereik.
“‘Boei hulle’—Evangelis doen dit met karate.” Dit was die opskrif van ’n koerantartikel wat die “vertonings” van ’n reisende Baptiste-prediker beskryf het. “Mense wil nie kom luister na ’n prediker wat preek en vir hulle vertel wat met hulle skort nie”, het hy verduidelik. “Maar hulle sal na ’n karate-deskundige kom kyk.” Die prediker het gesê dat die meeste mense bly vir die preek nadat hulle die vertoning bygewoon het. “Nou en dan sal iemand uitloop”, het hy bygevoeg. “Maar nie te dikwels nie.”
Onder die opskrif “Kerke gebruik toorkuns om lidmate te lok” het The Wall Street Journal ’n pastor in Indiana aangehaal wat gesê het dat “wanneer ’n towenaar op die kansel staan, mense wat maande lank nie kerk toe gekom het nie vir die dienste opdaag”. Die onverbonde Broederskap van Christelike Towenaars raam dat dat daar meer as ’n duisend towenaar-bedienaars dwarsoor die land is en dit borg elke somer seminare om nuwe kunsies te leer.
“Daar’s ’n prikkelpop op die preekstoel” is hoe een koerant die bedrywighede in ’n Unitaries Kerk in Dallas beskryf het. Die kerk het ’n “eksotiese danseres” in die Sondagdienste gebruik, en “toe sy klaar was, het niks oorgebly nie behalwe haar skrapse baaibroekie en die gemeente se verbeelding”, het die berig gesê. Kinders woon die vertonings saam met die kerk se 200 volwasse lidmate by. “Ek het nog nie ’n enkele klagte ontvang nie”, het die predikant gesê. “Dit het baie goed by ons dienste ingepas.”
Dit is geensins alleenstaande voorvalle in eienaardige sektes of kultusse nie. Die sogenaamde ordentlike, gevestigde kerke maak van dieselfde foefies gebruik. Benewens narre en towenaars maak hulle gebruik van die dienste van volksangers, ‘rock’-groepe, buikdanseresse, ruimtevaarders, rolprentsterre en ander beroemdes om hulle slinkende aantrekkingskrag te vergroot.
Maar gestel dat sommige verlore siele daardeur na die kerk gelok word. Word hulle sodoende werklik gehelp om “liefhebbers van God” te word as hulle kom om ’n eksotiese dans of ’n towervertoning te sien? Word hulle nie eerder groter liefhebbers van genot gemaak nie, en dit nogal met ’n stil gewete omdat hulle hulle nou daaraan kan oorgee met die goedkeuring van die kerk? Hulle het waarlik persone geword “wat ’n gedaante van godsaligheid het maar die krag daarvan verloën het”.—2 Timotheüs 3:5.
Die vervulling van profesie
Al hierdie dinge het geestelike William Rauscher laat sê: “Gans te veel kerke het vandag Heilige Gees-vermaaklikheidsentrums geword wat spookagtig eerder as heilig is. ’n Groot deel daarvan wat nou vir godsdiens deurgaan, sou St. Paulus geskok het. Maar in werklikheid sou die apostel nie geskok wees nie. En waarom nie? Omdat hy, soos ons gesien het, geïnspireer is om te skryf dat mense in die laaste dae ‘genot in die plek van God sou stel’!
Met die uitdrukking “meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God” vestig die apostel Paulus die aandag op die teenstrydigheid en inkonsekwensie, en dus op die skynheiligheid, van sulke mense. Hoewel hulle steeds ’n bietjie godsdiens in hulle lewens wil hê, het hulle genot in die plek van God gestel as die voorwerp van hulle liefde en toewyding. Sodoende het hulle genot hulle god gemaak.
Die opkoms van wêreldlikheid en die kwynende steun vir die kerke is bykomende, duidelike bewyse dat ons in die laaste dae van die huidige stelsel lewe. Maar dit is nie al nie. Hierdie dinge dui aan dat ons reg aan die einde, die laaste deel, van die laaste dae lewe.