Vrae van lesers
♦ Was Samuel ’n profeet? Ek het so gedink, maar nadat ek Hebreërs 11:32 in my Bybel gelees het, wil dit nie so lyk nie.
Ja, Samuel was ’n profeet sowel as ’n rigter. Die wyse waarop Hebreërs 11:32 in sommige Bybels lui, kan verwarring hieroor skep, maar die vers kan so weergegee word dat dit duidelik is.
Terwyl Samuel nog ’n seun was, het Jehovah begin om hom te gebruik om boodskappe oor te dra, en die hele Israel het Samuel as ’n profeet erken (1 Samuel 3:1-21). Koning Saul het hom tot Samuel gewend vir informasie wat ’n profeet kon verstrek (1 Samuel 9:6, 9; 28:11, 15). Een keer het “die skare profete . . . [geprofeteer], met Samuel as leier aan hulle hoof” (1 Samuel 19:20). Benewens sy werk as profeet het Samuel die volk ook gerig.—1 Samuel 7:15-17; 12:6, 7
Die feit dat Samuel ’n profeet was, kan egter bevraagteken word omdat die lys geloofsmanne in Hebreërs 11:32 in baie vertalings soos volg lui: “Die tyd sal my ontbreek as ek van Gideon, Barak en Simson en Jefta, Dawid en Samuel en die profete sou verhaal” (AB). Dit kan lyk of daar ’n onderskeid getref word tussen Samuel en die profete, net soos Dawid en die rigters Gideon, Barak, Simson en Jefta van die profete onderskei is.
Sommige vertalinge voeg egter “ander” in Hebreërs 11:32 in. “The Living Bible” lui: “. . . Jefta en Dawid en Samuel en al die ander profete.” Ons vind dat “ander” gepas op ander plekke in die Christelike Griekse Skrifte ingevoeg word vir duidelikheid. Volgens die Afrikaanse Bybel het Jesus byvoorbeeld in Lukas 21:29 gesê: “Let op die vyeboom en al die bome.” Dit het nie sin nie, want die vyeboom is self ’n boom. Jesus se woorde kan dus soos volg weergegee word: “Let op die vyeboom en al die ander bome.”—NTP; NW; “Die Lewende Bybel”; “Today’s English Version”; “New English Bible”; vergelyk Lukas 13:4.
Die “New World Translation” gee Hebreërs 11:32 gevolglik weer op ’n wyse wat duidelik is en strook met die Hebreeuse Skrifte: “Die tyd sal my ontbreek as ek verder sou vertel van Gideon, Barak, Simson, Jefta, Dawid asook Samuel en die ander profete.”