Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w83 7/1 bl. 29-31
  • Huldig jy die Bybel se beskouing van drankgebruik?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Huldig jy die Bybel se beskouing van drankgebruik?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Onmatige drinkery
  • Wat is matige gebruik?
  • Moet ’n mens jou soms daarvan onthou?
  • Is dit verkeerd om alkohol te drink?
    Ontwaak!—2006
  • Alkohol—Wat is die Christelike beskouing daarvan?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Word gelei deur God se beskouing van alkohol
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2023
  • Behou ’n gebalanseerde beskouing van die gebruik van alkohol
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
w83 7/1 bl. 29-31

Huldig jy die Bybel se beskouing van drankgebruik?

HY WAS ’n gedoopte Christen. Toe die ouere manne in sy gemeente, wat besorg was oor sy drinkery, hom daarna uitgevra het, het hy erken dat hy ’n paar biere en ’n paar sopies whisky gedrink het. “Maar ek was nie dronk nie”, het hy gesê.

Hierdie jong man het gemeen dat dit nie saak maak hoeveel jy drink nie, solank jy net nie dronk word nie. Stem jy saam? Ongelukkig toon verslae dat sommige van God se volk so dink. Maar is dit Skriftuurlik? Wat sê die Bybel nou eintlik oor drankgebruik?

Sterk drank is inderdaad een van die talle gawes wat ons van ons Skepper, Jehovah God, ontvang het. Die Bybel sê dus vir ons dat God wyn gee wat “die mens se hart kan bly maak”; dat wyn of mos “God en die mense vrolik maak”; dat dit die hart “vrolik” maak (Psalm 104:15; Rigters 9:13; Ester 1:10). ’n Wynvoorraad, wat deur die “wingerdstok” afgebeeld word, word in die Skrif gebruik om voorspoed en veiligheid aan te dui.—Miga 4:4; Sagaria 3:10.

’n Gawe kan egter gebruik of misbruik word. Die Bybel bevat baie waarskuwings teen die misbruik van sterk drank.

Onmatige drinkery

Wat van die beskouing: ‘Solank jy nie dronk word nie, maak dit nie saak hoeveel jy drink nie’? Die Bybel veroordeel beslis dronkenskap en sê dat dronkaards nie “die koninkryk van God [sal] beërwe nie” (1 Korinthiërs 6:9, 10). Maar word ons slegs teen dronkenskap gewaarsku? Wat van strawwe drinkery sonder om werklik dronk te word?

In 1 Timotheüs 3:2, 3 (NW) lees ons dat ’n opsiener nie net “geen dronk rusiemaker” moet wees nie, maar dat hy ook “matige gewoontes” moet hê. Dit sien op al sy gewoontes. Tog beteken die Griekse woord (ne·pha’li·on) wat met “matige gewoontes” vertaal word, letterlik “nugter, matig; onthouding van wyn, hetsy heeltemal of ten minste van die onmatige gebruik daarvan”. (Ons kursiveer.)—Thayer’s Greek-English Lexicon of the New Testament.

Waar Paulus die hoedanighede van bedieningsknegte of diakens opnoem, sê hy verder dat hulle “nie verslaaf [moet wees] aan wyn nie [“nie te veel wyn moet drink nie”, Today’s English Version; “wyn matig moet gebruik”, The Jerusalem Bible].—1 Timotheüs 3:8.

Ja, om as ’n opsiener of ’n bedieningskneg aanbeveel te word of in daardie amp aan te bly, moet ’n Christen die voorbeeld stel as iemand wat sterk drink gewoonlik matig gebruik. ’n Paar jare gelede het ’n bruilof in ’n Latyns-Amerikaanse land tot die vroeë oggendure geduur en is daar heelnag lank gedrink. Die gevolg was dat die hele liggaam van ouere manne en al die bedieningsknegte van een gemeente afgesit is!

Maar word daar net van opsieners en bedieningsknegte verwag om matig te wees? Glad nie, want in Titus 2:2 (NW) word bejaarde manne vermaan om “matige gewoontes” te hê. Vroue in die gemeente kry soortgelyke raad om “ernstig [te] wees, geen kwaadspreekster nie, matige gewoontes [te] hê” (1 Timotheüs 3:11, NW). En vir bejaarde vroue word daar gesê om hulle te gedra “soos dit die heiliges betaam, geen kwaadspreekster of aan baie wyn verslaaf’ te wees nie.—Titus 2:3.

Dit is dus duidelik dat Christene nie slegs dronkenskap—die eindresultaat van te veel drank—moet vermy nie, maar ook enige onmatige gebruik van alkohol.

Wat is matige gebruik?

’n Vasgestelde maksimumhoeveelheid kan nie vir alle mense aanbeveel word nie, omdat individuele faktore, soos algemene gesondheid en liggaamsgewig die uitwerking van alkohol op jou gestel kan bepaal. Daar is nietemin verskeie dinge wat jy in gedagte moet hou om te bepaal wat matigheid is.’

Die eerste een is—pas op vir verskonings! Dit is so maklik om die gevolgtrekking te maak dat onwelkome raad vir ander geld en nie vir ons nie. Maar as almal so sou dink, sou die raad op niemand van toepassing wees nie!

Kyk vervolgens hoeveel alkohol jou liggaam met veiligheid kan verwerk. ’n Deursnee-volwassene (70 kg) se gestel kan ongeveer 13 ml alkohol per uur (omtrent 30 ml spiritus teen 80° proef, of 100 ml tafelwyn) afbreek. Wanneer hierdie hoeveelheid oorskry word, styg die alkoholkonsentrasie in jou bloed. Gewoonlik is net twee drankiesa van gewone grootte ’n paar minute na mekaar nodig om die deursnee-volwassene ’n bloedalkoholkonsentrasie van 0,05 persent te gee, en dit tas die meeste mense se bestuursvermoë aan.

’n Derde faktor wat in aanmerking geneem moet word, is die beskouing van mede-Christene. In Romeine 14:21 lees ons: “Dit is goed om geen vleis te eet of wyn te drink of iets te doen waardeur jou broeder aanstoot neem of struikel . . . nie.” Wanneer jy wil vasstel of jy matig drink of nie, moet jy jouself dus afvra: Drink ek gewoonlik meer as ander? Het ander—familielede of Christenbroers of -susters—bekommerd geraak oor die hoeveelheid wat ek drink? Het ek die reputasie dat ek “my drank kan vat”, iets wat te kenne gee dat ek baie drink? Selfs al sê jy: ‘Maar ek het groter weerstandsvermoë as ander’, toon Paulus se woorde mos dat ons besorg moet wees oor ons broers se beskouing, nie waar nie? Onthou Jesus se woorde in Lukas 17:1: “Dit is onvermydelik dat die struikelblokke kom, maar wee hom deur wie hulle kom.”

Nie een van ons het natuurlik die reg om ons gewete op ander af te dwing nie. Ons moet oppas dat ons nie onnodig krities staan teenoor die hoeveelheid wat ander drink nie. Die apostel Paulus het gesê: “Jy, waarom veroordeel jy dan jou broer? En jy, waarom verag jy jou broer? Ons sal tog almal voor die regterstoel van God moet verskyn.”—Romeine 14:10. NTP.

Nog ’n faktor wat in aanmerking geneem moet word, is: Waarom drink ek? Is dit bloot om te ontspan, om my dors te les of om die smaak van kos te versterk? Of is dit om bekommernis, angs of frustrasie uit te wis, om vir my moed te gee of om my te help om van die werklikheid af weg te kom? In verband met laasgenoemde het psigoterapeut dr. Stanley Gitlow gesê: “Ons lewe in ’n samelewing waar jy ’n drankie wegslaan wanneer dinge moeilik word; waar jy van die een of ander chemiese towerkrag gebruik maak as jy ongemaklik voel. Niemand sê: ‘Haai, verduur die spanning en leer om probleme die hoof te bied nie.’ “Wat moet ’n Christen help om die sorge van die lewe die hoof te bied? “Die een of ander chemiese towerkrag” of sy verhouding met God?—Psalm 4:9.

Moet ’n mens jou soms daarvan onthou?

Ja! Dit is belangrik dat die alkoholis hom heeltemal daarvan onthou sodat hy nie oorweldig word deur die drang om te veel te drink nie. Dit herinner ons aan Jesus se woorde in Markus 9:43: “As jou hand jou laat struikel, kap dit af. Dit is beter vir jou om vermink die lewe in te gaan, as om twee hande te hê en in die hel [Gehenna, wat vernietiging afbeeld] te gaan.” As drankgebruik vir jou probleme skep, kan jy dit gerus ‘afkap’. Dit is immers “beter vir jou om . . . die lewe in te gaan”! Een Christen-ouere man, ’n projekhoof van ’n program om alkoholiste te rehabiliteer, het gesê: “Geheelonthouding is nie ’n te hoë prys vir lewe in God se Nuwe Orde nie.”

Maar dit is nie net alkoholiste wat hulle van drank moet onthou nie; daar is tye wanneer ons almal ons gerus daarvan kan onthou. In eertydse Israel is priesters en Leviete wat in die tabernakel of tempel aan diens was op straf van die dood verbied om enige vorm van alkohol te drink (Levitikus 10:8, 9; Esegiel 44:21). Konings is ook aangeraai om nie wyn of sterk drank te drink terwyl hulle na hulle pligte omsien nie. Waarom nie? “Anders drink hy en vergeet die insettinge en verdraai die reg van al die ellendiges.”—Spreuke 31:4, 5.

Wat van vandag? Wel, sal jy gerus voel as jy geweet het dat die vlieënier van die vliegtuig waarin jy reis, gedrink het? Natuurlik nie! Lewens is op die op die spel. ’n Christen moet dus versigtig wees as hy drink voordat hy ’n motor bestuur. Maar dit sal nog te meer onvanpas wees vir ’n Christen om sterk drank te drink net voor of terwyl hy aan die heilige bedrywighede van velddiens deelneem, vergaderinge bywoon of Bybelraad en -leiding aan ander gee. Waarom is dit onvanpas? Want hier is mense se ewige lewe op die spel!

Huldig jy dus die Bybel se beskouing van drankgebruik? Jy huldig dit of jy huldig dit nie. Jou lewe is op die spel, sowel as die lewe van ander wat deur onbedagsame drinkgewoontes gestruikel kan word. Ons wil bowenal hê dat ons lewens ons God, Jehovah, moet behaag. Ja, drank is ’n gawe van God—wanneer dit matig gebruik word! Maar as dit vir jou beter is om jou heeltemal daarvan te onthou, kan jy dit gerus doen. Onthou, “dit is beter vir jou om . . . die lewe in te gaan”!

Maar wat kan gemeentelike ouere manne; doen om hulle mede-Christene wat deur die gebruik van alkohol verstrik is, te help? En wat van die alkoholis—wat kan gedoen word om hom of haar te help? Hierdie en ander vrae sal in ons volgende nommer beantwoord word.

[Voetnoot]

a Een drankie is ongeveer 45 ml spiritus teen 80° proef, 120 ml tafelwyn of 340 ml bier.

[Prent op bladsy 31]

Al drie bevat dieselfde hoeveelheid alkohol

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel