Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w83 7/1 bl. 4-7
  • Hongersnood—Wat beteken dit?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hongersnood—Wat beteken dit?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hongersnood te midde van oorvloed
  • “Op verskillende plekke”
  • “Uniek in die mensegeskiedenis”
  • Die goeie nuus
  • Die swart perd—Hongersnood
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Wat sê die Bybel oor voedseltekorte in ons dag?
    Nog onderwerpe
  • Vier perderuiters aan die galop!
    Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
  • Die vier perderuiters—Wie is hulle?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe)—2017
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
w83 7/1 bl. 4-7

Hongersnood—Wat beteken dit?

HOEWEL dit waar is dat die landbou in die laaste jare baie vordering gemaak het, is dit ook waar dat die mensdom talle voedseltekorte sedert 1914 beleef het. Kom ons ondersoek party van hulle om te sien of hulle moontlik Jesus se profesie en die apostel Johannes se gesig oor die onderwerp vervul. As dit lyk of hulle pas, sal ons verder ondersoek instel om te sien of enigiets die voedseltekorte van die 20ste eeu onderskei van vorige voedseltekorte in die wêreld se geskiedenis.

Hongersnood te midde van oorvloed

Party meen dat omdat daar vandag soveel rykdom bestaan, dit nie logies is om te sê dat dit die tyd is wanneer die swart perd, hongersnood, deur die aarde trek nie. Maar die Bybel sê nie dat almal in daardie tyd honger sal ly nie. Trouens, die stem in die gesig wat die besonder hoë prys vir stapelvoedsela aangekondig het, het ook gesê: “Moenie die olie en die wyn beskadig nie” (Openbaring 6:6). Olyfolie en wyn was luukse-artikels. Openbaring toon dus dat party in weelde sal lewe terwyl ander honger ly.

Hoewel Jesus voedseltekorte voorspel het, het hy ook gewaarsku: “Pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie. Want soos ’n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon” (Lukas 21:34, 35). Terwyl party voedseltekorte ondervind, sou ander gevaar loop om te veel te eet. Is dit vandag die situasie?

Ja. Trouens, verslae deel ons mee dat die verbetering van sommige mense se lewenstandaard meebring dat ander honger ly. “Die verbetering van lewenstandaarde en die toenemende aanvraag na voedsel rondom die wêreld laat voedselpryse styg sodat dit vir die armste lande moeilik is om genoeg kos in te voer” (The New York Times, 16 Augustus 1981). Met ander woorde, sommige se “swelgery” vererger ander se “hongersnode”.

“Op verskillende plekke”

Jesus het gewaarsku: “Daar sal hongersnode wees . . . op verskillende plekke” (Mattheüs 24:7). Het dit sedert 1914 gebeur? Ja. Om net ’n paar te noem: In 1921 het sowat 5 miljoen mense in die U.S.S.R. van die honger omgekom. In 1929 het hongersnood na raming 3 miljoen lewens in China geëis. In die dertigerjare het 5 miljoen in die U.S.S.R. ’n hongerdood gesterf. Net ’n paar jaar gelede het ’n uitgerekte droogte in lande al langs die Sahara-woestyn talle vlugtelinge en tot 100 000 sterfgevalle tot gevolg gehad.

Onthou egter dat die swart perd, hongersnood, in die apostel Johannes se gesig op die rooi perd, oorlog, gevolg het. Baie van die voedseltekorte van ons dag was dienooreenkomstig die regstreekse gevolg van oorlog (Openbaring 6:3, 4). Die Spaanse Burgeroorlog het byvoorbeeld in die dertigerjare van hierdie eeu ’n hongersnood in daardie land veroorsaak. Die Tweede Wêreldoorlog het mense in Griekeland, Pole, Rusland, Holland en ander plekke laat honger ly. Meer as 1 500 000 het in die jare 1943-44 in Bengale, Indië, gesterf as gevolg van ’n hongersnood wat deels aan dieselfde oorlog te wyte was.

Meer onlangs, in die sestigerjare, het mense in die Kongo, nou Zaïre, en Nigerië ’n hongerdood as gevolg van burgeroorlog gesterf. Uitgeteerde kinders in Kampuchea het gedurende die oorlog in daardie land uit ons koerante na ons gestaar. Ons het onlangs gelees dat meer as ’n miljoen vlugtelinge bedreig word deur hongersnood in Somalië, waarheen hulle gevlug het om weg te kom van die droogte en die oorlog in Ethiopië. Nuusbronne beweer dat meer as 9 miljoen vlugtelinge in Thailand, Soedan, Zaïre, Nicaragua, Honduras en Pakistan ’n hongerdood in die gesig staar. En so gaan die lys voort.

Hongersnode van die verlede is veroorsaak deur oorlog, droogte, insekplae of ander rampe. Het ons meer van sulke voedseltekorte gesien as vorige geslagte? Ons kan nie met sekerheid sê nie, want statistieke is onvolledig. Maar hierdie eeu het oorgenoeg natuurrampe gehad en het meer as gevolg van oorlog gely as enige ander geslag in die geskiedenis.b Daar kon gevolglik oor die algemeen meer voedseltekorte as ooit tevore gewees het. Ons het beslis hongersnood te midde van oorvloed, hongersnood as gevolg van oorlog en hongersnode “op verskillende plekke” gesien, net soos voorspel is.

Daar is nou selfs ’n nuwe soort voedseltekort aan die ontstaan wat ons tyd as anders kenmerk.

“Uniek in die mensegeskiedenis”

In die voorwoord van die boek The Dimensions of World Food Problems verduidelik die medewerker, E. R. Duncan, dat voedselvoorrade tot onlangs gewoonlik vermeerder het wanneer die bevolking vermeerder het. Rampe het weliswaar verspreide hongersnode veroorsaak. Maar die bevolkings het herstel. Vanaf die veertigerjare van hierdie eeu is daar egter ’n nuwe faktor wat ’n rol speel: ’n wêreldbevolking wat so vinnig aanwas dat dit die wêreld se vermoë om homself in die toekoms te voed, onder groot druk plaas. “Hierdie situasie”, sê hy, “is uniek in die mensegeskiedenis.”

Indië is ’n voorbeeld hiervan. Indië het al ernstige hongersnode in sy geskiedenis ondervind, maar vandag is dit anders. “Dit was eers in die afgelope eeu, en in ’n groot mate eers in hierdie twintigste eeu, dat toestande [in Indië] ondraaglik geword het. Hierdie feit kan nie genoeg beklemtoon word om praatjies dat honger en geskiedenis onskeibare metgeselle is te loën nie.” Aldus Georg Borgstrom, ’n vermaarde internasionale gesaghebbende op die gebied van wêreldvoeding.

Hy verduidelik voorts: “Toe Engeland ongeveer tweehonderd jaar gelede die eerste keer na hierdie ryk subkontinent gekom het, het daar om en by sestigmiljoen mense in die gebied van hedendaagse Indië gewoon. Sowat tienmiljoen van hulle het honger gely. Sedertdien het die bevolking sewevoudig toegeneem en nou is die situasie omgekeerd, aangesien die aantal wat genoeg kos het naastenby tienmiljoen is.”—The Hungry Planet, deur Georg Borgstrom.

’n Soortgelyke situasie is besig om in ander lande te ontstaan. Teoreties is daar weliswaar nog genoeg kos in die wêreld as geheel om almal te voed. Maar as die bevolking steeds aanwas, sal dit binnekort nie meer die geval wees nie. Talle arm lande wat eens genoeg voedsel geproduseer het om in hulle eie behoeftes te voorsien, doen dit nou nie meer nie, en omdat hulle arm is, kan hulle nie genoeg kos bekostig om hulle bevolking te voed nie. Selfs in ’n land wat genoeg voedsel vir almal het, is ’n groot deel van die bevolking soms so arm dat die mense nie die kos kan bekostig nie. Hulle ly dus honger.

Die Los Angeles Times het verlede jaar berig: “Die voedseltekort in Afrika het die afgelope ses maande vererger en 28 lande ondervind nou hongersnood.”

Die Vancouver Sun het gesê: “Vandag, aan die einde van ’n ‘normale’ jaar, raam die V.L.O. [Voedsel-en-Landbou-Organisasie] dat 450 miljoen mense so honger is dat hulle ’n hongerdood in die gesig staar, en dat ’n duisendmiljoen nie genoeg het om te eet nie.”

’n Verslag van die Verenigde Volke se Kinderfonds raam dat 17 miljoen van die wêreld se kinders in 1981 as gevolg van honger en siekte gesterf het. Dit is meer as die geraamde sterfte gedurende die verskriklike Chinese hongersnood van die jare 1878-79.

Bestaan daar ’n oplossing? The New York Times berig: “Berekeninge van die Wêreldbank dui daarop dat ’n belegging van [R600-miljard] in ontwikkelende lande . . . oor die volgende 10 jaar nodig sal wees net om genoeg kos te voorsien sodat die getal hongerlyers nie toeneem nie. Niemand weet waar daardie ontsaglike bedrag vandaan sal kom nie.” Daar is dus geen realistiese oplossing in sig nie.

Die goeie nuus

Die geweldige omvang van die hedendaagse hongerprobleem en die feit dat dit waarskynlik gaan vererger, maak dit ongeëwenaard. Daar is nog iets buitengewoons daaromtrent. Dit gaan gepaard met talle ander moeilikhede wat oënskynlik onoplosbaar is.

In die apostel Johannes se gesig is die swart perd, hongersnood, vergesel deur die rooi perd, oorlog, en die vaal perd, siekte. En toe Jesus hongersnode “op verskillende plekke” voorspel het, het hy gesê dat dit gepaard sou gaan met opvallende aardbewings, pessiektes, oorloë en talle ander beproewinge (Mattheüs 24:7-14; Lukas 21:10-28). Die feit dat al hierdie dinge vandag plaasvind, kenmerk dit as die opmerklike tyd wat Jesus en die apostel Johannes voorspel het.

Die tog van die vier ruiters van Openbaring sou ’n aanduiding wees dat die pasgekroonde Jesus uitgegaan het “as ’n oorwinnaar en om te oorwin” (Openbaring 6:1-8). Die breedvoerige beskrywing van wêreldgebeure wat Jesus gegee het, was in antwoord op sy volgelinge se vraag: “Wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?”—Mattheüs 24:3.

Ons lewe in belangrike dae. Jesus heers nou onsigbaar as Koning. Hy sal binnekort “oorwin” deur van goddelose mense ontslae te raak en die hoofoorsaak van goddeloosheid, Satan die Duiwel, buite aksie te stel (Psalm 37:9-11; Openbaring 20:1-3). Dit is waarom Jesus voorts gesê het: “So moet julle ook weet dat die koninkryk van God naby is wanneer julle hierdie dinge sien gebeur.”—Lukas 21:31.

Dit is die goeie nuus agter die rampe waarvan ons in ons koerante lees. Die tog van die swart perd, hongersnood, sal binnekort eindig en God se Koninkryk sal ’n regverdige bewind na die aarde bring (Psalm 72:1, 16). Dit sal die grootste verandering ten goede in die hele geskiedenis van die mensdom wees. Leer gerus self meer daaromtrent in jou Bybel. Jehovah se Getuies sal met graagte die nodige hulp aan jou verleen. Sodoende sal jy die ware betekenis van die rampspoedige weg van die swart perd, hongersnood, kan onderskei.

[Voetnote]

a “’n Rantsoen koring vir ’n penning en drie rantsoene gars vir ’n penning” (Openbaring 6:6). In Johannes se dag was ’n penning ’n dag se loon.—Mattheüs 20:2.

b Kyk die artikel “Die Eerste Wêreldoorlog en die begin van die smarte”, in Die Wagtoring van 15 Junie 1983.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel