Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w83 5/15 bl. 12-15
  • Jakobus lê nadruk op reine en daadwerklike aanbidding

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jakobus lê nadruk op reine en daadwerklike aanbidding
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe moet ons beproewinge beskou?
  • Wat is ware godsdiens?
  • Skort daar iets met klasse-onderskeid?
  • Hoe kan ons bewys dat ons geloof het?
  • Waarom die tong beheers?
  • Wie is werklik wys?
  • Hoe kan ons onenigheid voorkom?
  • Waarom geduldig wees?
  • Hoe doeltreffend is gebed?
  • Gaan voort in reine aanbidding
  • Geloof beweeg ons tot dade!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Bybelboek nommer 59—Jakobus
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Geloof maak ons geduldig en laat ons aanhou bid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Leer by Jesus se jonger broer
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
w83 5/15 bl. 12-15

Jakobus lê nadruk op reine en daadwerklike aanbidding

HOE beskou jy die raad van ’n ouere man? Gestel dit is geestelik gesond en baie reguit. Sal jy dit volg?

Jakobus se brief, wat voor 62 G.J. geskryf is, bevat sulke reguit raad. Die skrywer was ’n ouere man—een met sowat 30 jaar van ondervinding in die hantering van sy mede-aanbidders se probleme. Ja, die Christen- ouere man Jakobus, ’n halfbroer van Jesus Christus, kon openhartig uit persoonlike ondervinding skryf (Markus 6:3). Hy het sy dinamiese styl versterk met raak gelykenisse en indringende vrae wat duidelik toon dat onreine, passiewe godsdiens Jehovah nie behaag nie.

Jakobus, wat deur God gelei is, het gesonde onderrig voorsien wat vandag net so prakties is as wat dit in die eerste eeu was. Danksy sy goddelik geïnspireerde raad kan ons antwoorde verkry op ’n paar belangrike vrae. En sy woorde behoort ons aan te spoor in reine en daadwerklike aanbidding.

Hoe moet ons beproewinge beskou?

Jakobus het geskryf aan die “twaalf stamme” van geestelike Israel wat oor die destydse wêreld verstrooi was. Maar sy raad is ook van toepassing op die “groot menigte” (Openbaring 7:4-9; Galasiërs 6:16). Hy het mede-aanbidders aangespoor om beproewinge met vreugde te beskou omdat dit tot blywende geluk sal lei as ons hulle in geloof verduur. Ons moet God vol vertroue om wysheid vra om te lewe soos dit hom behaag, veral wanneer ons beproewinge verduur. Jesus se gesalfde volgelinge wat beproewing getrou verduur, sal “die kroon van die lewe”, onsterflikheid in die hemel, ontvang. Die getroue volharding aan die kant van die “groot menigte” sal lei tot ewige lewe op ’n paradysaarde.—Jakobus 1:1-12; Lukas 23:43, NW.

Wanneer ons beproef word, moet ons nie tot die gevolgtrekking kom dat God ons probeer oorhaal om te sondig nie, want hy doen dit nie. Dit is eerder verkeerde begeertes in ons wat tot sonde aanleiding gee. Jehovah is nie die bron van boosheid nie, maar van alles wat goed is, onder meer die wonderlike gawe van geestelike geboorte.—Jakobus 1:13-18; Efesiërs 1:13, 14.

Wat is ware godsdiens?

Om ware godsdiens te beoefen, moet ons geredelik gehoorsaam wees aan God se woord. Ons moet ook stadig wees om uiting te gee aan toorn en ontslae raak van alles wat God as vuilheid beskou. As ons boosheid uit ons hart en verstand verwyder, gee dit die woord van waarheid die geleentheid om daar te gedy. En ons moet nie net hoorders van die woord wees nie, maar ook daders daarvan deur ons waarlik deur die Skrif te laat lei. Dink hieraan: Nadat ’n man sy gesig in ’n spieël gesien het, gaan hy weg en vergeet watter soort persoon hy is. Om Jehovah op aanneemlike wyse te aanbid, kan ons egter nie vergeetagtige hoorders wees nie. Ons moet eerder diep insien in die “volmaakte wet” en alles aanneem wat van Christene vereis word en dan in ooreenstemming daarmee optree.—Jakobus 1:19-25.

As ons wil hê dat God ons as ware aanbidders moet beskou, moet ons ook die tong in toom hou en dit weerhou van laster, kwaadsprekery en dies meer. Uit Jehovah se standpunt sluit aanbidding wat ‘rein’ (heilig, suiwer) en ‘onbesmet’ (onbesoedel deur boosheid) is daadwerklike besorgdheid oor behoeftiges in. Ons moet ons ook ‘vlekkeloos bewaar van die wêreld’ wat God nie dien nie. Ons kan Jehovah nie behaag terwyl ons die onregverdige dinge van die wêreld doen nie. Jakobus het natuurlik nie al die vereistes vir ware aanbidding aangegee nie. Maar hy het wel getoon dat opregte diens aan Jehovah rein is en met dade gepaardgaan.—Jakobus 1:26, 27.

Skort daar iets met klasse-onderskeid?

Jakobus het getoon dat reine aanbidding ook onpartydigheid verg in handelinge met rykes sowel as armes. Party erkende Christene het bose besluite geneem deur die rykes voor te trek en aldus klasse-onderskeid te tref. Mag ons ons nooit aan sulke goddelose partydigheid skuldig maak nie!—Jakobus 2:1-4.

Christene moet beslis erken dat die rykes, as ’n klas, Christus se naam belaster het deur sy volgelinge te vervolg. In plaas daarvan om te sondig deur klasse-onderskeid te hê en die rykes voor te trek, moet ons gehoorsaam wees aan die “koninklike wet” deur liefde aan al ons medemense te bewys. Hoe kan ons verwag om God se barmhartigheid te geniet as ons nie barmhartig en liefdevol teenoor die armes is nie? Klasse-onderskeid in die gemeente sal inderdaad nie met reine aanbidding strook nie.—Jakobus 2:5-13; Mattheüs 22:39; Handelinge 10:34, 35.

Hoe kan ons bewys dat ons geloof het?

Die apostel Paulus het getoon dat dit nie deur werke van die Mosaïese Wet is dat mense deur Jehovah God regverdig verklaar word nie, maar deur hulle geloof in Jesus Christus (Romeine 3:19-28). Jakobus het hiermee saamgestem, maar daarop gewys dat ons bewys moet lewer dat ons geloof lewend is deur die godvrugtige werke wat dit ons aanspoor om te doen. Geloof wat ons nie aanspoor om goeie werke te doen nie, is nie eg nie en sal nie tot ons redding lei nie. Ter toeligting: As ’n medegelowige nie genoeg klere en kos het nie, sal woorde alleen hom nie help nie; tasbare hulp moet verleen word. Selfs die duiwels glo dat daar een God is, maar hulle doen geen goeie werke nie. Beweerde geloof sonder goeie werke om dit te rugsteun, is onbedrywig en is nutteloos in die strewe om redding te verkry. Abraham, die “vader” van almal met ware geloof, het sy geloof deur werke getoon toe hy Isak geoffer het. Ragab het ook daadwerklike geloof gehad, want sy is “geregverdig uit die werke” tot sy die Israelitiese verkenners beskerm het. Terwyl geloof wat net bely word so dood soos ’n lyk is, bewys ons dat ons ware, lewende geloof het deur Christelike werke met die regte beweegrede te doen.—Jakobus 2:14-26.

Waarom die tong beheers?

Reine, daadwerklike aanbidding verg ook bepaalde optrede om die tong te beheers. Alle Christene—en veral onderrigters in die gemeente—moet byvoorbeeld nie verkeerde beskouings lug nie. Jakobus het getoon dat ons die res van ons sondige liggame kan beheers as ons die tong in toom hou, net soos perde met stange beheer kan word. Selfs ’n groot skip kan deur ’n klein roer gestuur word! Maar as ons nie die tong beheers nie, kan dit groot verwoesting aanrig, net soos ’n verterende vuur. Deur middel van laster, valse getuienis, wanvoorstelling en dies meer kan die tong wat nie in toom gehou word nie die hele liggaam “besmet” en die spreker besoedel. Die onbeheerste tong kan bowendien die hele lewensloop aan die brand steek en net so vernietigend soos Gehenna wees.—Jakobus 3:1-6, vgl. NW.

Dit verg natuurlik groot inspanning om die tong te beheers. Hoewel die sondige mens allerhande diere getem het, het hy nog nie daarin geslaag om die tong volmaak te beheers nie. Maar ons moet ons daarop toelê om die tong in toom te hou. Omdat die onbeheerste tong beledigende, lasterlike aanmerkings kan maak, deur middel van valse leer kan mislei, ensovoorts, is dit ’n skadelike ding vol dodelike gif. En dink net hoe onvanpas dit sou wees om die tong—wat hoofsaaklik geskape is om God te loof—te misbruik om mense wat hy geskape het, te vloek! Dit sal net so onbestaanbaar wees soos om vars en bitter water uit dieselfde fontein te kry of olywe van vyebome te pluk.—Jakobus 3:7-12.

Wie is werklik wys?

Alle Christene, maar veral die onderrigters van ander wat reine aanbidding beoefen, het ware wysheid nodig. ’n Persoon wat waarlik wys is, toon behoorlike vrees vir God en is sagmoedig. Trouens, om op aanneemlike wyse te onderrig, moet ’n man sagmoedig wees, nie hardvogtig, trots of eiesinnig nie. Daarbenewens pas afguns en stryerigheid beslis nie ’n Christenonderrigter of enige ander volgeling van Christus nie. Die wysheid van persone met sulke goddelose karaktertrekke is eerder dierlik, selfs duiwels.—Jakobus 3:13-16.

Hemelse wysheid is rein, vredeliewend, redelik en “geseglik”. Die redelike Christenonderrigter maak byvoorbeeld nie bloot stellings nie. Hemelse wysheid is onder meer vol “goeie vrugte”, en dit sluit alle dade in wat strook met goedheid, geregtigheid en waarheid. Daar moet natuurlik vrede wees voordat geregtigheid kan gedy. Onderrigters en ander in die gemeente wat vrede bevorder, toon dat hulle waarlik wys is.—Jakobus 3:17, 18.

Hoe kan ons onenigheid voorkom?

Die vrede van Jakobus se medeaanbidders is versteur omdat sommige onder hulle hulle skuldig gemaak het aan voortrekkery, ander verkeerdelik beoordeel en voor afguns geswig het. Dit het tot tweedrag in die gemeente gelei. En wat was die bron van hierdie onenigheid? Onbevredigde begeertes na sinlike bevrediging! Sulke verkeerde begeertes het aanleiding gegee tot flagrante hebsug en ’n haatlike, moorddadige gees.—Jakobus 4:1-3.

Om tweedrag in die gemeente te voorkom, moet ons vriendskap met die wêreld, wat neerkom op geestelike owerspel, vermy. Dit vereis dat ons die gesindheid, doelwitte, metodes en dade van die wêreld wat van God vervreemd is, moet vermy. Hoewel die neiging om afgunstig te wees tweedrag bevorder en groot druk op sondige mense uitoefen, kan dit teëgewerk word deur God se gees, voorwaar ’n blyk van sy onverdiende goedheid. Daardie hulp is beskikbaar aan Jehovah se nederige knegte wat voortdurend om sy hulp bid en hom gehoorsaam. Hulle kan die Duiwel met welslae weerstaan. Enige erkende Christene wat ’n verkeerde gesindheid geopenbaar het, moet natuurlik in gebed tot God nader, hulle voor hom verneder en ophou om teen hulle broers te spreek of hulle op onbillike wyse te oordeel. Hoe onvanpas is dit tog vir sondige mense om hulle naaste te oordeel wanneer Jehovah die Opperwetgewer en Regter is!—Jakobus 4:4-12.

As ons trotse selfvertroue vermy, sal dit ook tot die gemeente se vrede bydra. Aangesien die lewe in hierdie stelsel soos ’n mis is wat verdwyn, sal ons dwaas wees om daarop te konsentreer en te spog oor wat ons beplan om te doen. Ons moet liewer, ten minste in ons hart, sê: “As die Here wil.” Ons kan immers niks blywends sonder sy guns en hulp uitrig nie, en hy vereis nederigheid en ’n erkenning van hom as die bron van lewe en alle goeie dinge. Ons moet in ooreenstemming met hierdie kennis optree, want enigiets anders is sonde.—Jakobus 4:13-17.

Waarom geduldig wees?

Jakobus het vervolgens beklemtoon dat ’n mens geduldig moet wees. Daar was waarskynlik in die gemeentes ’n paar ryk persone wat, net soos hy, besef het dat materiële rykdom nutteloos is vergeleke met die geestelike skatte wat Christene besit. Maar as ’n klas het die rykes die armes verdruk en die regverdiges teëgestaan. Jakobus het getoon dat ons hierdie en ander ontberinge geduldig moet verduur totdat oordeel aan die verdrukkers voltrek word gedurende “die wederkoms van die Here” Jesus Christus. Ons moet soos die boer wees wat geduldig op die oes wag. Indien ons ongeduldig sou word en nie getrou volhard het nie, sou ons nie verligting kry nie en die seëninge verbeur wat tydens die Here se teenwoordigheid uitgestort word.—Jakobus 5:1-8.

As ware aanbidders moet ons ook geduldig wees met ons medegelowiges en nie deur hulle geïrriteer word sodat ons weens groot ontevredenheid steun of diep teen mekaar sug nie. Jakobus het vervolgens daarop gewys dat Jehovah se profete ’n goeie voorbeeld gestel het op die gebied van lyding en geduld. Net soos Job van die ou tyd kan ons troos put uit die wete dat ons Jehovah se groot medelye en barmhartigheid sal geniet as ons geduldig volhard met rein harte wat onwrikbaar op God gevestig is.—Jakobus 5:9-11.

Hoe doeltreffend is gebed?

Nadat Jakobus mede-Christene vermaan het om nie ligsinnig links en regs te sweer nie, het hy hulle aangespoor om te bid. Gebed is veral belangrik wanneer ’n persoon geestelik swak of siek is. Dit sal dan gepas wees om die ouere manne van die gemeente in te roep, want hulle kan vertroostende Skriftuurlike vermanings uitspreek wat soos strelende olie is. Hierdie ouere manne sal bid oor die persoon wat hulp nodig het, en daardie “gebed van die geloof sal doeltreffend wees. Jehovah sal die sondes van ’n nederige, berouvolle persoon vergewe en hom geestelik gesond maak. Die feit dat Jehovah Elia se gebede verhoor het, bewys dat “die vurige gebed van ’n regverdige . . . groot krag” het.—Jakobus 5:12-18.

Gestel dat ’n Christen van die pad van die waarheid afdwaal. Geestelik bekwame individue moet probeer om hom te help deur middel van opregte gebed en die ywerige toepassing van God se Woord. As die oortreder aldus ‘van sy dwaalweg bekeer word’, sal sy siel—die sondaar self—van veroordeling en die ewige dood gered word. Die persoon wat hom tereg gewys het, het dus gehelp om die oortreder se sondes te bedek of vergewe te kry.—Jakobus 5:19, 20.

Gaan voort in reine aanbidding

Soos ons gesien het, beantwoord Jakobus se brief ’n aantal lewensbelangrike vrae reguit. Maar hoe gaan ons persoonlik hierdie goddelik geïnspireerde raad van ’n ervare ouere man beskou? Dit is reguit en geestelik gesond. Gaan ons dit dus volg?

As ons Jakobus se raad opreg toepas, sal dit ons help om beproewinge te verduur, ware godsdiens te beoefen, voortrekkery te vermy en deur goeie werke té bewys dat ons ware, lewende geloof het. Dit sal ons bowendien help om die tong te beheers, met hemelse wysheid op te tree, tweedrag in die gemeente te voorkom en om as nederige, biddende getuies van Jehovah geduld te beoefen. Kortom, as ons Jakobus se raad volg, sal ons ons liefdevolle hemelse Vader beter kan eer deur voort te gaan in reine en daadwerklike aanbidding.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel