Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w83 4/15 bl. 13-19
  • Is jy die soort persoon wat God uitkies?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is jy die soort persoon wat God uitkies?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Voorbeelde uit die verlede
  • God se werk—evangelisering
  • ’n Noodsaaklike evangelisasiemetode
  • Waarom ’n rooster vir evangelisering nodig is
  • Verteenwoordig God op ’n waardige wyse
  • Jehovah se gebruik van “dwaasheid” om die wat glo te red
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Evangelisasie se plek in ware aanbidding
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • “Doen die werk van ’n evangeliedienaar”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • ‘Deelname aan die heilige werk van die goeie nuus’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
w83 4/15 bl. 13-19

Is jy die soort persoon wat God uitkies?

“Wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam.”—1 KORINTHIËRS 1:27.

1. Waarom verkies baie om dwase in die wêreld se oë te wees?

SAL jy ’n taak wat duidelik belangrik is as onbenullig beskou bloot omdat ander meen dat dit pure dwaasheid of ’n teken van swakheid is? Niemand hou natuurlik daarvan om as ’n dwaas of ’n swakkeling bestempel te word nie—nie eens ’n kind nie. Maar gestel dat die opdrag om hierdie belangrike taak te verrig van ’n hoogs intelligente hoogwaardigheidsbekleër gekom het. Sou jy nie bereid wees om jou trots te sluk en die toewysing te aanvaar nie? Dit is presies wat miljoene persone deur die hele geskiedenis heen gedoen het. Watter taak het hierdie mense aanvaar, en van wie het die opdrag gekom? Die antwoord word gevind in Paulus se eerste brief aan Christene in antieke Korinthe.

2. Watter bedrywigheid word deur die wêreld as dwaas beskou?

2 Toe Paulus Christene aldaar gewaarsku het om nie hulle aanbidding bloot te baseer op dit wat gewild is nie, het hy geskryf: “Want die woord van die [folterpaal] is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God; want daar is geskrywe: Ek sal die wysheid van die wyse mense vernietig en die verstand van die verstandige mense tot niet maak. Waar bly die wyse? Waar bly die skrifgeleerde? Waar die redetwister van hierdie eeu? Het God nie die wysheid van hierdie wêreld dwaas gemaak nie? Want aangesien in die wysheid van God die wêreld deur die wysheid God nie geken het nie, het dit God behaag om deur die, dwaasheid van die prediking die wat glo, te red.”—1 Korinthiërs 1:18-21.

3. Watter boodskap, wat die wêreld as dwaas beskou, is God voornemens om wêreldwyd te laat verkondig?

3 Vir die sogenaamde wyse en intellektuele mense van die wêreld is die woord oor Christus wat sy lewensbloed aan ’n folterpaal uitstort dwaasheid. Hulle spot met die gedagte dat die ewige lewe in ’n regverdige nuwe stelsel geniet kan word deur in Christus se offerande te glo. Dat Christus uit die dood opgestaan het en nou die magtige Koning van God se hemelse koninkryk is, is wat hulle betref loutere fantasie. Tog is die almagtige God voornemens om hierdie hartverblydende boodskap wêreldwyd bekend te maak. Vir enigiemand wat sy dienskneg wil word, gee hy die opdrag om hierdie goeie nuus van sy koninkryk te verkondig. Wie word deur God gebruik om hierdie boodskap te verkondig, aangesien dit vir die wyse en intellektuele mense van die wêreld dwaasheid is? Luister na die geïnspireerde antwoord uit God se Woord:

4. (a) Wie gebruik God om sy boodskap te verkondig? (b) Watter uitwerking het sy keuse van sulke persone op die wyse mense van die wêreld?

4 “Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie.”—1 Korinthiërs 1:26-29.

5. Wat bepaal of jy die soort persoon is wat Jehovah uitkies om te gebruik?

5 Is jy die soort persoon wat God uitkies om die werk te doen wat hy vandag op die aarde gedoen wil hê? Dan beteken dit dat jy bereid moet wees om as ’n dwaas deur die wêreld beskou te word. “Die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God”, sê die Bybel (1 Korinthiërs 3:19). Om ’n suksesvolle kneg van Jehovah God te wees, moet jy bereid wees om ’n weg in te slaan wat jou uit die wêreld se standpunt dwaas laat lyk. Is daar geskiedkundige voorbeelde wat nie alleen toon dat mense van die wêreld God se knegte as dwaas beskou het nie, maar dat die wysheid van die wêreld ook vir God dwaasheid was?

Voorbeelde uit die verlede

6. Waarom het Noag se bedrywigheid vir die wêreld na dwaasheid gelyk en tog God se wysheid weerspieël?

6 In mense se oë het Noag ’n dwase taak aangepak, maar nie in God s’n nie. Stel jou voor dat ’n reusagtige, kisvormige bouwerk, met ’n volume van 36 800 kubieke meter, op droë grond gebou word om op water te dryf. Dit was oënskynlik ’n spekulatiewe onderneming wat beslis spot sou uitlok! Dit het vir die mense onsinnig gelyk dat Jehovah God ’n einde aan die wêreld sou maak. Wat hulle betref, was Noag ’n dwaas om so ’n boodskap te verkondig (2 Petrus 2:5). Die feit is egter dat dit hulle lewenswyse, hulle optrede, was wat vir God dwaasheid was. Hulle het die aarde verderf en God vertoorn (Genesis 6:5). Noag was dus bereid om as ’n dwaas beskou te word in verband met God se vertoning van Sy wysheid en krag.

7. Waarom het Moses se optrede dwaas gelyk, maar wat het die uitslag getoon?

7 Sou jy van rykdom en die adelstand afstand doen en slegte behandeling verduur om God te behaag? Moses het. Al was hy “opgelei in al die wysheid van die Egiptenaars” het hy gewilliglik van daardie lewenswyse afstand gedoen en die stigma aanvaar wat aan God se gesalfde kleef (Handelinge 7:22; Hebreërs 11:24-26). Moses se handelwyse het beslis vir die Egiptiese wêreld dwaas gelyk, maar daar is getoon dat die wêreld se wysheid dwaasheid is toe Egipte se wyse manne deur 10 plae verneder is en God die nasie se leër in die Rooi See vernietig het. Sulke voorbeelde toon dat mense se wysheid inderdaad vir God dwaasheid is. Dit is geen gelyke vir die Almagtige se wysheid en krag nie.

8. (a) Uit watter stand het die meeste vroeë Christene gekom? (b) Watter uitwerking het hulle prediking egter op wêreldwyse mense gehad?

8 Wat van die vroeë Christene? ’n Geskiedenisprofessor het geskryf: “Die meeste vroeë Christene was persone van nederige herkoms en het gekom uit die laer stande van die ambagsman-handelaar-klas van die groot stede” (The Ancient World deur Joseph W. Swain). Christus se eerste-eeuse volgelinge was inderdaad eenvoudige mense, ’n feit waarop hulle vyande die aandag gevestig het (Handelinge 4:13; Johannes 7:48). Tog het die wysheid wat deur Christus se volgelinge gespreek is die wêreldwyse mense in die skande gesteek. Hulle kon nie die verborgenheid van God aangaande Christus en die Koninkryk deurgrond nie; vir hulle was sulke woorde dwaasheid. Dit is soos die Bybel sê: “Ons spreek die wysheid van God . . . wat niemand van die heersers van hierdie wêreld geken het nie—want as hulle dit geken het, sou hulle die Here van die heerlikheid nie gekruisig het nie.”—1 Korinthiërs 2:7, 8.

God se werk—evangelisering

9. (a) Wie was in werklikheid die bron van die instruksies wat deur Jesus gegee is? (b) Wat moes Jesus se dissipels doen om die Koninkryksboodskap aan waardige persone te verkondig?

9 Jesus Christus het God se wysheid aan die dag gelê deur die voorbeeld wat hy gestel het sowel as die instruksies wat hy gegee het oor hoe om die evangelisasiewerk te doen. Hy het gesê: “Uit Myself doen Ek niks nie; maar net wat my Vader My geleer het, dit spreek Ek” (Johannes 8:28). Jesus het regstreeks na die mense gegaan met die Koninkryksboodskap. Hy het hulle in die openbaar en in hulle huise geleer. Beskou ’n paar oomblikke sy instruksies aan sy dissipels, die 12 en die 70 wat hy uitgestuur het om evangelisasiewerk te doen. Jy kan hierdie instruksies in Mattheüs 10:1-14 en Lukas 10:1-12 lees. Jesus het daar vir sy dissipels gesê om mense te vind. “In watter stad of dorp julle ook al mag ingaan, ondersoek wie daarin waardig is”, het hy gesê. Ja, vind diegene wat wil luister. En wat moes die dissipels vir hulle vertel? “Preek en sê: Die koninkryk van die hemele het naby gekom”, het Jesus beveel.—Mattheüs 10:7.

10. (a) Watter voorligting het Jesus gegee oor hoe om ’n huisbewoner te nader? (b)  Wat moes sy dissipels doen indien iemand geen belangstelling getoon het nie? (c) Wat kan ons sê oor die wysheid van Christus se instruksies?

10 Jesus het selfs voorligting gegee oor hoe om ’n huisbewoner te nader. Hy het gesê: “En in watter huis julle ook al mag ingaan, sê eers: Vrede vir hierdie huis! En as dáár ’n man van vrede is, sal julle vrede op hom rus; anders sal dit tot julle terugkeer” (Lukas 10:5, 6). Hulle moes bly by die mense wat gunstig gereageer het op die Koninkryksboodskap wat hulle verkondig het. Maar as die huisbewoner nie belanggestel het nie, moes hulle verder gaan. Watter eenvoudige instruksies tog, maar spesifiek genoeg om tot vandag toe vir evangeliedienaars te toon wat hulle moet sê en hoe hulle dit moet sê! Is dit nie wat jy van God se wysheid sou verwag nie?

11. (a) Wat het Jesus getoon moet die tema van sy dissipels se boodskap wees? (b) Wat moet ons doen sodat ons Koninkryksprediking geslaagd kan wees? (c) Hoe kan jy tekste gebruik om te toon dat die Koninkryk die probleme wat in hierdie paragraaf gemeld word, gaan oplos?

11 Soos vroeër gemeld, is die Koninkryk die kern van die boodskap van diegene wat die evangelisasiewerk doen. “Sê vir hulle: Die koninkryk van God het naby julle gekom”, het Jesus beveel (Lukas 10:9). Jy moet hierdie tema in gedagte hou, want dit is jou verantwoordelikheid as ’n evangeliedienaar om jou hoorders te help om te begryp hoe die Koninkryk werklik vir hulle goeie nuus kan wees. Jy moet gevolglik probeer om die Koninkryksboodskap te knip of aan te pas sodat dit hulle behoeftes pas. Afhangende van jou hoorders se behoeftes of belangstelling, kan jy gerus die aspekte van die Koninkryk beklemtoon wat vir hulle die aantreklikste sal wees. Met behulp van tekste soos Jesaja 45:18 en Psalm 37:29 kan jy byvoorbeeld vir hulle wys hoedat die Koninkryk God se voorneme gaan volbring om hierdie aarde ’n paradys te maak waarin mense vir ewig kan lewe. Deur die gesiteerde tekste te gebruik, kan jy dan vir hulle wys hoe die Koninkryk die probleme wat hieronder gemeld word, gaan oplos.

Siekte: Jesaja 35:5, 6; Openbaring 21:3, 4.

Dood: Jesaja 25:8; 26:19; Johannes 5:28, 29; 1 Korinthiërs 15:26.

Voedselskaarste: Jesaja 25:6; Psalm 67:7; 72:16.

Behuising: Jesaja 65:21-23.

Oorlog: Psalm 46:9, 10; 72:7, 8.

Misdadigheid en geweld: Psalm 37:9, 10; Spreuke 2:22.

Besoedeling: Openbaring 11:18.

12. (a) Hoe kan ’n evangeliedienaar vasstel wat ’n persoon se behoeftes is? (b) Wat is die sleutel om ’n suksesvolle evangeliedienaar te wees?

12 Hoe kan jy vasstel wat die hoorders se behoeftes is? Eerstens, wees ’n goeie luisteraar wat bereid is om te luister na wat hulle te sê het. Stel vrae en luister aandagtig na hulle antwoorde, en moenie ’n verdedigende houding aanneem as die antwoorde nie is wat jy verwag het nie. Een Getuie, wat die evangelisasiewerk al meer as 25 jaar lank doen, het gesê: “Ek probeer om die huisbewoner dadelik by die gesprek te betrek. Sodoende vind ek uit waarin hy belangstel, in plaas daarvan om net voort te gaan

met wat ek wou sê.” ’n Ander ervare evangeliedienaar het gesê: “’n Preek wat opgesê word, sal dalk net hulle ore bereik of deur die wind weggedra word.” Die sleutel om ’n suksesvolle evangeliedienaar te wees, is in werklikheid om waarlik in mense belang te stel soos Jesus in hulle belanggestel het (Mattheüs 9:36-38). Laat die mense sien dat jy in hulle as persone belangstel en dat jy werklik die goeie nuus glo wat jy na hulle bring. Soos een Getuie gesê het: “Hulle sal een gevolgtrekking maak as jy werktuiglik praat—geen oortuiging nie.”

’n Noodsaaklike evangelisasiemetode

13. Hoe toon die Bybel dat die vroeë Christene Christus se instruksies in verband met die predikingswerk gehoorsaam het?

13 Soos ons gesien het, het Jesus Christus sy volgelinge aangespoor om die Koninkryksboodskap na die huise van die mense te neem. Die apostels het sy bevele uitgevoer en het sodoende ook God se wysheid aan die dag gelê deur hierdie noodsaaklike evangelisasiemetode te gebruik. Die Bybelverslag sê: “Hulle het nie opgehou om elke dag in die tempel en van huis tot huis te leer nie, en die evangelie te verkondig dat Jesus die Christus is” (Handelinge 5:42). Later het die apostel Paulus sy evangelisasiewerk met mede-Christene hersien en gesê: “Ek [het] niks agtergehou . . . van wat nuttig is nie, om dit aan julle te verkondig en julle te onderrig in die openbaar en in julle huise, terwyl ek kragtig by die Jode sowel as die Grieke aangedring het op die bekering tot God en die geloof in onse Here Jesus Christus.”—Handelinge 20:20, 21.

14. Wat toon die doeltreffendheid van die huis-tot-huismetode van evangelisering?

14 Hoewel God se knegte dikwels bespot en as dwase beskou word omdat hulle hierdie apostoliese metode gebruik om die Koninkryk te verkondig, toon die geweldige welslae daarvan dat dit God se goedkeuring wegdra. Britse sosioloog Bryan Wilson het byvoorbeeld die aanwas van Jehovah se Getuies in Japan ontleed en berig: “Die meerderheid [58,3 persent] van diegene wat Getuies geword het, sê dat hulle belangstelling aanvanklik gewek is deur ’n huisbesoek van ’n verkondiger.” Jare gelede het Katolieke priester John A. O’Brien ook vir sowat 200 priesters by St. Joseph se Kweekskool in New York gesê: “Die geheim van St. Paulus se fenomenale sukses was sy onvermoeide gebruik van die huis-tot-huismetode om bekeerlinge te werf. Dit is ironies dat hierdie apostoliese metode nou deur nie-Katolieke sektes, veral Jehovah se Getuies, gebruik word.”

Waarom ’n rooster vir evangelisering nodig is

15. Waarom is dit belangrik om ’n rooster vir ons predikingswerk van huis to huis te hê?

15 Is dit nie waar dat ’n rooster noodsaaklik is as ’n mens na belangrike sake wil omsien nie? Jy het waarskynlik ’n bepaalde tyd om te eet en te slaap, asook om skool toe te gaan of te werk. As jy dinge gedaan wil kry, is ’n rooster belangrik. Dieselfde kan van ons huis-tot-huisprediking gesê word. Aangesien Satan hom daarop toelê om te voorkom dat die goeie nuus van God se koninkryk die mense bereik, moet ons ’n rooster hê as ons gereeld aan die Koninkrykspredikingswerk wil deelneem. Andersins sal ons dalk vind dat ‘ons net nie tyd kry’ om hierdie werk te doen nie (1 Korinthiërs 9:16). Dit is Satan se oogmerk om te sien dat dit gebeur.

16. Watter voorbeelde toon die waarde van ’n rooster vir ons predikingswerk?

16 ’n Geneesheer wat al meer as 25 jaar lank ’n Getuie is, sê dus dat hy dit nodig vind om ’n rooster vir evangelisasiewerk te hê. Die eienaar van ’n groot beesplaas in die Verenigde State sê: “Omstreeks 1944 het ek besef dat al manier waarop ek in die diens sou uitkom, was deur ’n bepaalde dag daarvoor opsy te sit.” Hy voeg by: “Tot vandag toe neem ek ’n dag gedurende die week af vir die diens.” ’n Christen- ouere man, wat ook ’n prokureur is, vind dat ’n vaste rooster vir getuieniswerk hom in staat stel om gemiddeld 15 uur per maand aan die predikingswerk te wy. As hy enige regsafsprake op ’n Saterdag het, reël hy dit vir die middag, na sy velddiens in die oggend.—Vergelyk Kolossense 4:5.

Verteenwoordig God op ’n waardige wyse

17. Waarvoor moet ons in die evangelisasiewerk versigtig wees wat kleredrag betref?

17 Hoewel die wêreld ons as dwase beskou as gevolg van die lewegewende boodskap wat ons dra, moet ons oppas dat ons voorkoms geensins afbreuk aan daardie lewensbelangrike boodskap doen nie. Uiterstes in kleredrag, hetsy te modieus of te verwaarloos, kan dit doen. In ryker gebiede moet ons ekstra besorg oor ons voorkoms en dekorum wees. Beteken dit dat ’n mens duur uitrustings moet hê? Nee. Een suksesvolle evangeliedienares, wat al baie saam met haar man gereis het, let noukeurig op hoe die mense in die gebied aantrek. Dan kies sy ’n gematigde styl wat die plaaslike gebruik weerspieël. Dit maak nie saak hoe nederig ons huidige voorraad klere is nie, dit sal toereikend wees as ons klere skoon, gestryk en netjies is. Is al jou baadjieknope wat afgebreek het weer aangewerk? Is al die kolle op jou das verwyder? Gestel jy dra formele skoene. Is hulle gepoets? Onthou, jou netjiese, waardige voorkoms sal respek vir jou boodskap afdwing.—Titus 2:10.

18. (a) Lig die waarde van kleredrag wat goeie plaaslike gebruike weerspieël toe. (b) Waarom moet ons nie opsigtig aantrek nie?

18 Omdat een Getuie meer aandag aan haar voorkoms geskenk het, het sy berig dat ’n dame wat voorheen glad nie met haar wou gesels nie haar in haar huis ingenooi het. Na ’n aangename Bybelbespreking het die huisbewoner gevra: “Terloops, watter kerk verteenwoordig jy?” Die antwoord, “Jehovah se Getuies”, het die huisbewoner verbaas. Sy het Jehovah se Getuies nog nooit tevore in haar huis toegelaat nie. Toe die Getuie vir haar gevra het waarom sy haar ingenooi het, het die huisbewoner geantwoord dit was omdat die Getuie “so netjies en welgekleed” was. Die vrou het verplig gevoel om te luister na wat sy te sê gehad het. Die gevolg was ’n gereelde Bybelstudie. In eenvoudiger buurte kan opsigtige kleredrag andersyds die indruk skep dat jy dink: ‘Ek is beter as jy.’ Ongeag in watter gebied ons werk of vir wie ons preek, ons drag en dekorum moet altyd van so ’n aard wees dat dit mense na die Koninkryksboodskap trek en hulle nie afstoot nie.—1 Korinthiërs 9:19-23.

19. (a) Wat is die sleutel om ’n persoon te wees wat God uitkies? (b) Watter voorbeeld het Christus in hierdie verband gestel? (c) Vir watter voorregte kom jy in aanmerking as jy bereid is om in die oë van die wêreld dwaas voor te kom?

19 Jy is inderdaad die een wat die vraag moet beantwoord: Is ek die soort persoon wat God uitkies? Sy keuse is nie gebaseer op intellektuele vermoë of wêreldlike posisie nie. Die sleutel is eerder gewilligheid om God se werk op sy manier te doen, selfs al bring dit mee dat die wêreld jou as dwaas of swak beskou. Jesus Christus het die voorbeeld gestel. Hy was bereid om deur sy tydgenote as ’n dwaas beskou te word om vir diegene wat hy geleer het “wysheid uit God” te word (1 Korinthiërs 1:30). As jy bereid is om die Koninkryksboodskap, wat deur die wêreld as dwaasheid beskou word, te verkondig stel jy jouself beskikbaar om deur Jehovah God gebruik te word as een van sy Getuies en kom jy in aanmerking vir die geseënde gawe van ewige lewe in sy regverdige nuwe stelsel.

Kan jy hierdie vrae beantwoord?

□ Watter woord is dwaasheid vir die wêreld?

□ Hoe het Noag en Moses getoon dat dinge wat die wêreld as dwaas beskou in werklikheid God se wysheid weerspieël?

□ Watter instruksies het Jesus sy volgelinge gegee om die evangelisasiewerk te doen?

□ Wat is ’n noodsaaklike vorm van evangelisasiewerk, en wat toon dat dit suksesvol is?

□ Waarom is dit belangrik om ’n rooster vir evangelisasiewerk op te stel?

□ Hoe moet ons geklee wees wanneer ons die evangelisasiewerk doen?

[Prent op bladsy 15]

Voordat Jesus sy dissipels in die evangelisasiewerk uitgestuur het, het hy hulle geleer hoe om die werk te doen

[Prent op bladsy 17]

Prediking van huis tot huis is ’n vorm van evangelisering wat deur die Skrif goedgekeur word

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel