Vrae van lesers
♦ Wat was “die teken van Jona” wat in Mattheüs 16:4 gemeld word?
ln antwoord op ’n versoek van die Fariseërs en Sadduseërs om ’n teken het Jesus gesê: “’n Slegte en owerspelige geslag soek na ’n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van Jona.”—Mattheüs 16:1-4.
Hierdie godsdiensleiers het klaarblyklik ’n sigbare teken uit die hemel gesoek voordat hulle Jesus as die Messias sou aanvaar, en hulle verwagting het op ’n verkeerde begrip van Daniel 7:13, 14 berus. Hulle het daarop aangedring om die Messias aan hulle vooropgesette beskouings moes voldoen, en het die wonderlike dinge oor die hoof gesien wat Jesus reeds gedoen en geleer het (Johannes 4:25-29, 42; 7:31; 9:30-33). Jesus het dus vir die Fariseërs en Sadduseërs gesê dat die enigste bykomende “teken” wat hulle sou ontvang “die teken van Jona” sou wees.
Jesus het maande tevore “die teken van Jona” gemeld. Wat hy by daardie geleentheid bygevoeg het, kan ons help om sy redenasie te snap: “Want soos Jona drie dae en drie nagte in die bulk van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees.”—Mattheüs 12:38-40.
Jona was in ’n sekere sin in Sheol, die graf of doderyk, toe hy in die ingewande van die groot vis was wat hom ingesluk het (Jona 2:1, 2). Toe het hy soos ’n verresene uitgekom om sy profetiese werk in Nineve te doen. lets soortgelyks sou met Jesus gebeur, maar net wonderdadiger.
Jesus het voorspel dat hy sou sterf en op die derde dag opgewek sou word (Mattheüs 16:21; 20:17-19; Johannes 2:19-21). Toe Jesus inderdaad op die derde dag opgestaan het, het sy dissipels onthou wat hy gesê het, en dit het hulle geloof in hom versterk (Johannes 2:22; 1 Korinthiërs 15:3-8). Selfs party van die Joodse priesters wat van “die teken van Jona” te wete gekom en die Christelike boodskap leer ken het, “het gehoorsaam geword aan die geloof” (Handeling 6:7). Maar hulle was beslis in die minderheid. Die meeste van die Joodse leiers wat geweier het om beïndruk te word deur Jesus se wonderlike werke en leerstellings toe hy met hulle was, het nie hulle beskouing verander nie. Hulle het “die teken van Jona”, Jesus se opstanding op die derde dag, verwerp.
♦ Waarom word die gehoor soms by Christelike vergaderinge versoek om te staan vir die lied en gebed?
Sang en gebed is al lank deel van ware aanbidding (1 Kronieke 16:7, 9; Mattheüs 26:26-30; Jakobus 5:13, 14). Dit is dus ’n normale en belangrike deel van aanbidding by gemeentelike vergaderinge of byeenkomste van Jehovah se Getuies.
Talle liedere is in die vorm van gebede of lofliedere to God. Wanneer ’n groot groep almal opstaan vir lied en gebed kan dit beskou word as ’n blyk van eerbied wanneer hulle met danksegging voor God verskyn.—1 Konings 8:14, 22, 23.
’n Mens moet egter besef dat die Bybel toon dat gebede of lofliedere tot God in enige liggaamshouding gedoen of gesing kan word. (Vergelyk Lukas 22:39-41; Handelinge 16:24, 25.) Daar is dus geen reëls op hierdie gebied nie. Indien ’n persoon se gesondheid of omstandighede dit verkieslik maak dat hy sit terwyl ’n gemeente sing of bid, is dit nie verkeerd nie. Christene bly sit dikwels wanneer daar by kleiner gemeentelike boekstudies, tuis-Bybelstudies en by maaltye gebid word.