Hoe daar in ons behoeftes voorsien sal word
“NA 30 JAAR van internasionale samewerking neem die aantal honger mense steeds toe”, het die direkteur-generaal van die Voedsel-en-Landbouorganisasie gesê. Hy het erken dat “die beleid wat tot nou toe gevolg is, ’n mislukking was”.
As gevolg van die huidige egosentriese gesindhede van die nasies kan geen internasionale pogings ooit waarlik daarin slaag om die probleem van hoe om die hele mensdom van die basiese lewensbenodigdhede te voorsien op te los nie. Iets meer is nodig. Wat is dit? Talle denkers het tot die gevolgtrekking gekom dat ons die volgende nodig het:
Wêreldregering
Daar moet ’n wêreldregering wees met die gesag en mag om die wêreld se hulpmiddele te beheer en die behoorlike verspreiding van goedere te organiseer om te verseker dat niemand gebrek ly nie. Is so ’n wêreldregering moontlik? Twee pogings om wêreldregerings tot stand te bring, die Volkebond en die Verenigde Volke-organisasie, het totaal in gebreke gebly om die probleme op te los wat deur selfsugtige nasionalisme veroorsaak is.
Waar kan ’n doeltreffende wêreldregering dus gevind word? Dit moet klaarblyklik van buite hierdie wêreldstelsel kom. Maar is daar so ’n gesag met die vermoë om ’n wêreldregering te skep? Ja, daar is een met ’n reputasie van diepe besorgdheid oor die welsyn van die mensdom. Daardie gesag is God.
In hierdie materialistiese eeu klink dit dalk vreemd. Is dit realisties om op wereldheerskappy deur God te hoop? Is daar enige bewys dat God selfs daarin belangstel om ’n wêreldheerser te wees? En indien dit die geval is, sal sy heerskappy dan beter wees as die menseheerskappy waaronder ons al so lank gebuk gaan?
’n Realistiese hoop
In die gedagtes van baie—selfs baie wat aan God glo—is daar geen verband tussen godsdienstige dinge en die “wesenlike wêreld” nie. Dit is byvoorbeeld heeltemal in orde om te sê dat hulle hemel toe gaan wanneer hulle sterf. Maar hulle meen dat dit nie realisties is om te verwag dat God iets hier op aarde moet doen, soos om daadwerklik oor die wêreld te heers nie. Dink jy ook so?
Het jy al ooit nagedink oor hoeveel ons selfs nou op God se wette staatmaak? Die lug wat ons inasem, die reën, die sonskyn, alles wat die lewe moontlik maak, word beheer deur sogenaamde natuurwette, eintlik God se wette. Of mense nou bely dat hulle aan God glo of nie, hulle is heeltemal van God afhanklik (Mattheüs 5:45; Handelinge 14:17). Moet dit ons verbaas dat God, wie se wette die wind, reën en son beheer, ook wette gegee het om die aangeleenthede van die mensdom te beheer?
Het jy bowendien geweet dat Jehovah God ongeveer 3 500 jaar gelede ’n volk gekies, hulle tot ’n nasie georganiseer en vir hulle ’n regering gegee het waarin hy die Koning was? Daardie nasie was Israel, en een van hulle profete het later geskryf: “Die Here is ons Regter, die Here is ons Aanvoerder, die Here is ons Koning: Hy sal ons verlos,”—Jesaja 33:22.
God se heerskappy en die resultate daarvan
Hoe het sake vir die Israeliete verloop? Solank as wat hulle God se wet gehou het, was hulle op alle gebiede voorspoedig. Toe God vyf-en-veertig jaar lank oor hulle geheers het, het een van hulle leiers berig: “Geen woord van al die goeie woorde wat die Here met die huis van Israel gespreek het; het onvervuld gebly nie; alles het uitgekom.”—Josua 21:45.
Die ondervinding van die Israeliete toon dat dit heel redelik is om te praat van heerskappy deur God. Net soos hy regstreeks oor daardie klein nasie in die Midde-Ooste geheers het, kan hy oor die hele aarde heers. Sal hy?
Tweeduisend jaar gelede het die Christenapostel Johannes iets gehoor wat ons goeie rede gee om te vertrou dat God, ten behoewe van die mensdom gaan optree. Johannes het ’n gesig van toekomstige dinge gehad, en in die middel van daardie gesig het hy die jubelkreet gehoor: “Die koningskap oor die wêreld behoort aan ons Here en sy Gesalfde, en Hy sal as koning heers tot in alle ewigheid.” Toe het Johannes die opregte betuiging gehoor: “Ons dank U, Here God, Almagtige, . . . dat U nou u groot mag gebruik en as koning heers.”—Openbaring 11:15, 17, NTP.
Hierdie gesig—wat deur God self geïnspireer is—het voorspel dat God “die koningskap oor die wêreld” sou oorneem. Ja, hy sal die wêreldheerser wees, en “sy Gesalfde”, Jesus, sal sy aangestelde administrateur wees. Ons het gevolglik die vaste versekering dat Jehovah God ’n wêreldregering gaan hê.
Hierdie wêreldregering deur God is die sentrale tema van die Bybel. Jesus het ons daarvoor leer bid in die Onse Vader toe hy gesê het: “Laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op dle aarde” (Mattheüs 6:10). Deur die mond van talle profete het Jehovah God op hierdie koninkryk gewys as die enigste manier waarop die diepgewortelde probleme van hierdie wêreld ooit opgelos sal word. Sal dit meer sukses behaal as die mens se regerings? Wel, kyk ’n bietjie.
Water om te drink: Jehovah God is die Skepper van die aarde. Hy verstaan die ekologie daarvan ten volle. Hy het aan die profeet Amos geopenbaar dat hy “die waters van die see roep en dit uitgiet oor die aardbodem” (Amos 9:6). Hy verstaan hierdie planeet se waterkringloop ten volle en kan volkome beheer daaroor uitoefen.
Terwyl hy regstreeks oor die eertydse Israeliete geregeer het, het hy beloof: “Die Here sal sy goeie skatkamer, die hemel, vir jou oopmaak om die reën van jou land op die regte tyd te gee” (Deuteronomium 28:12). Solank as wat sy volk getrou was, het hy daardie belofte vervul. En hy is net so by magte om vir almal onder sy wêreldregering oorgenoeg water te waarborg.
Kos om te eet: Deskundiges sê dat die skeidsmuur van nasionalisme een van die grootste hindernisse is om honger mense te voed. God se wêreldregering het die krag om daardie skeidsmure af te breek. Die geïnspireerde profeet het geskryf: “[God] sal . . . regspreek vir magtige nasies tot in die verte; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.”—Miga 4:3.
Is so iets moontlik? Inderdaad. Trouens, dit vind nou plaas! Daar is ’n gemeenskap met miljoene lede rondom die wêreld wat hulle reeds aan God se koninkryk onderwerp het. Hulle beskou sake nie langer op ’n eng, nasionalistiese of rassistiese wyse nie, maar hulle beskou mekaar as broers en werk saam om God se wil te doen. Die bestaan van hierdie groep mense is ’n bewys van die werklikheid van God se wêreldregering. Wie is dit? Ons praat van Jehovah se Getuies.
Jehovah God het beloof dat hy die aarde sal seën en dat dit volop sal voortbring. Deur die mond van die psalmis het hy gesê: “Die aarde het sy opbrings gelewer.” “Mag daar volop graan in die land wees, mag dit selfs bo-op die bergtoppe wuif” (Psalm 67:7; 72:16, NTP). Ja, onder die wereldheerskappy van God se koninkryk sal niks verhinder dat daar oorvloedig in hierdie basiese behoefte voorsien word nie.
Klere en huisvesting: Jesus het God se liefdevolle besorgdheid oor die fisiese welsyn van sy knegte getoon toe hy gesê het: “Let op die lelies van die veld, hoe hulle groei; hulle arbei nie en hulle spin nie; en Ek sê vir julle dat selfs Salomo in al sy heerlikheid nie bekleed was soos een van hulle nie. As God dan die gras van die veld . . . so beklee, hoeveel te meer vir julle, kleingelowiges?”—Mattheüs 6:28-30.
Ja, God sorg selfs nou vir sy knegte. Jehovah se Getuies kan vir die waarheid hiervan instaan. Wanneer sy wêreldregering oor hierdie hele aarde heers, sal daar beslis niks ontbreek wat vir ons geluk noodsaaklik is nie.
Sal jy daar wees?
Klink hierdie wêreldregering aanloklik? Elke redelike persoon sal sekerlik onder so ’n stelsel wil lewe. Maar eers moet ons die regering se grondwet bestudeer. Dit het reeds in die Heilige Bybel verskyn. Ons moet die wette leer ken wat ons moet gehoorsaam as ons onder God se regering wil lewe.
Dit sal veranderinge in ons lewe verg. Die egosentrisiteit wat so ’n integrerende deel van hierdie stelsel is, het geen plek in God se reëling nie. Onderdane van God se koninkryk moet hom met hulle hele wese liefhê, en hulle naaste soos hulleself. Daarbenewens sal gebruike soos leuens, diefstal, onsedelikheid, bedrog, dronkenskap en dwelmverslawing ons diskwalifiseer vir lewe onder daardie regering as ons met daardie gebruike voortgaan.—Mattheüs 22:37-39; 1 Korinthiërs 6:9, 10.
Is dit die moeite werd? Ja, beslis. Slegs Jehovah God weet hoe goed die lewe op hierdie planeet onder die regte soort regering kan wees. In die Bybel het hy enkele aanduidings gegee. Diegene wat God nou opreg dien, ervaar reeds ’n mate van die geluk en gemoedsrus wat dan sal bestaan.
Al die getuienis dui daarop dat diegene wat onderdane van God se koninkryk word, binnekort die hele prentjie sal sien en geniet. Ja, dinge wat vandag ter vervulling van Bybelprofesie plaasvind, toon dat die koninkryk van God ophande is en op die punt staan om beheer van die verdeelde, onsuksesvolle regerings van hierdie wêreld oor te neem (Lukas 21:25-28, 31; Daniël 2:44). Wil jy graag daar wees? Stel dan gerus self verder ondersoek in. Leer om jou vertroue te stel in Jehovah God en sy wêreldregering, die enigste oplossing vir die probleme van ons dag.
[Venster op bladsy 7]
Slegs God se koninkryk sal die hele mensdom voorsien van . . .
◻ Volop goeie kos
◻ Oorgenoeg skoon water
◻ Geskikte klere
◻ Gerieflike huisvesting