Ons behoeftes—Kan regerings daarin voorsien?
GENOEG kos om te eet, skoon water om te drink, geskikte klere om te dra en ’n huis om in te woon—dit is die basiese lewensbehoeftes. Dwarsoor die wêreld, onder elke soort ekonomiese stelsel, strewe mense daarna om in hierdie basiese behoeftes te voorsien.
Wy jy die meeste ure wat jy wakker is aan pogings om dit te verkry? Voorsien die regering van die land waar jy woon voldoende middele om dit te bekom? Wat is aardwyd die reputasie van regerings op hierdie gebied?
Voedsel om te eet
“Ten minste 450 miljoen mense—moontlik selfs ’n miljard—het minder kos as wat nodig is vir hul basiese voortbestaan.”—Scientific American.
“Veranderinge in die gemiddelde Amerikaanse dieet gedurende hierdie eeu het aanleiding gegee tot ’n vlaag van wanvoeding . . . wat gesondheid kan benadeel deur ’n oorsaaklike faktor by hoë bloeddruk en chroniese kwale te wees.”—Getuienis deur geneeshere, voedingkundiges en wetenskaplikes voor ’n gekose Amerikaanse Senaatskomitee.
Water om te drink
“Meer as die helfte van die volke van die Derde Wêreld het nie veilige water om te drink nie.”—Earthscan, soos aangehaal in World Press Review.
“Die rivier [die Ryn, wat 18 miljoen Europeërs van drinkwater voorsien] voer die afvalprodukte van 60 miljoen mense weg. . . . ln 1973 is sowat 55 persent van die rioolwater nie behandel nie of slegs gedeeltelik behandel voordat dit in die rivier gestort is.”—World Health (tydskrif van die Wêreldgesondheidsorganisasie).
“Die grondwater in groot dele van die [Verenigde State word] bedreig deur algemene besoedeling deur giftige organiese chemikalieë.”—New York se Times.
Klere en woonplek
Rondom die wêreld Is “800 miljoen sonder huisvesting”.—El Tiempo, Colombia.
In een betreklik bestendige Suid-Amerikaanse land “het meer as die helfte [van die bevolking] . . . geen ordentlike klere nie, woon hulle in krotte en het hulle nie genoeg drinkwater nie”.—El Espectador, Colombia.
Waarom duur hierdie tekorte voort?
Regerings voer baie redes vir hierdie tekorte aan. Kyk of jy dink of dit gegronde redes is.
1. Baie wanvoeding word aan onkunde toegeskryf. Mense weet eenvoudig nie hoe om reg te eet nie.
2. Party sê dat daar genoeg kos in die wêreld is, maar dat “’n gebrek aan vervoer, nie aan kos nie, een van die hoofredes vir hongersnood en ondervoeding in die Derde Wêreld is”, soos ’n nuusberig toon.
3. Die Voedsel-en-Landbouorganisasie beweer dat stadige onderhandelinge en beskermende beleide ontwikkelende lande se toegang tot die markte van ontwikkelde lande beperk.
4. Baie nasies vind dat hulle moet kies of hulle wapentuig of die nodige kos vir die armes wil koop. Die geld wat jaarliks aan die wêreld se wapentuig bestee word, “sal genoeg wees om tot die jaar 2000 in die basiese behoeftes van die Derde Wêreld te voorsien. . . . ’n Geringe besnoeiing van verdedigingsuitgawe sal dit moontlik maak om drinkwater—’n noodsaaklike element vir die lewe—aan 1 200 miljoen mense te voorsien. Met die middele wat gebruik word om een moderne duikboot te bou en te onderhou, kan 450 000 beskeie huise gebou word.”—El Tiempo.
’n Basiese rede
Jy sal moontlik saamstem dat die gemelde probleme dit moeiliker maak om die lewensbenodigdhede aan die mensdom te voorsien. Maar daar sit iets meer fundamenteels daaragter: Hierdie stelsel spoor almal aan om volkome egosentries te wees. Individue sorg net vir hulself. Handelsbelange besoedel die omgewing in die strewe na wins. Maatskaplike groepe bewaak hul voorregte jaloers en is nie bereid om opofferings te maak om minderbevoorregtes te help nie. Nasies verdedig hulle soewereiniteit met geweld en bevorder hulle eie belange, ongeag wie daaronder ly.
Dit is duidelik dat die allerbeste internasionale samewerking nodig is indien daar in die basiese lewensbenodigdhede van die hele mensdom voorsien moet word. In die huidige stelsel dink niemand behalwe die mees idealistiese persone dat sulke samewerking ooit sal plaasvind nie. Dink jy eerlikwaar dat dit sal gebeur?
Is daar ’n oplossing?
Ja, daar is. Maar dit kom uit ’n bron wat baie nie erken nie. Dit sal selfs jou dalk verbaas.