Vrae van lesers
♦ Hoe raadsaam is dit om jou kind by wêreldsgesinde familielede te laat inwoon net omdat hulle die kind meer materiële voordele kan bied?
Die Skrif toon dat dit ouers se voorreg en verantwoordelikheid is om na hulle kinders om te sien, en dit sluit die nodige geestelike sorg in. Dit sal kortsigtig van ’n Christeneggenoot en sy vrou wees om daardie Godgegewe toewysing te veronagsaam net sodat ’n kind materiële voordele kan geniet deur by ’n ongelowige familielid te woon.
ln party lande is dit baie algemeen om ’n kind lang rukke by familielede te laat inwoon. Dit word dikwels gedoen deur ouers wat in afgesonderde gebiede woon waar die onderwysgeriewe beperk is. Hulle stuur ’n kind na familielede in ’n stad (of na ’n kosskool) sodat die kind ’n beter opleiding kan kry of gewoond kan raak aan ’n gevorderde lewenswyse. Daar word gewoonlik van die kind verwag om take in die huis te verrig of die familielede op ’n ander manier te vergoed omdat hulle hom in hulle huis laat woon.
Daar word gemeen dat hierdie reëling materiële voordele inhou, maar die voordele is miskien nie so groot soos wat dit lyk nie. Die ondervinding het dikwels getoon dat dit ’n slegte uitwerking op ’n kind kan hê wanneer hy uit ’n bekende omgewing geneem en gedwing word om ver van sy ouers af by familielede te woon. ln plaas daarvan dat die kind as die gelyke van die ander kinders in daardie huis behandel word, word hy dikwels as ’n huisbediende beskou en word daar teen hom gediskrimineer. Soos jy kan begryp, ontstaan daar gewoonlik frustrasie en gebelgdheid wanneer ’n jong persoon, met of sonder rede, meen dat hy onbillik behandel word. (Vergelyk Genesis 27:30-41.) Die gevolglike emosionele ontsteltenis en ongelukkigheid kan ’n nadelige uitwerking op sy skoolwerk hê, al woon hy ook ’n goeie skool by. Vind hy dus werklik baat? Jeugmisdadigheid is nog ’n algemene gevolg wanneer ’n kind die gereelde dissipline van liefdevolle ouers ontneem word.
Die raad van God se Woord help om sulke slegte gevolge te voorkom. Die Bybel spoor ouers basies aan om self hulle kinders groot te maak. Jehovah God het natuurlik gesê dat buitengewone situasies sou ontstaan waar ander persone, en nie die ouers nie, vir die kinders moet sorg.a Hy het gevolglik sy knegte vermaan om vaderlose kinders of diegene wat weens die afsterwe van albei ouers wese geword het, by te staan (Deuteronomium 14:28, 29; 16:9-14; 24:17-21; 26:12, 13; Psalm 10:14; Jakobus 1:27). Maar die saak waarop die Skrif die grootste klem lê, is dat ouers in hulle eie kinders se materiële, geestelike en emosionele behoeftes moet voorsien.—Vergelyk 1 Timotheus 5:8.
Aangaande Sy woorde het God vir ouers gesê: “Leer dit aan julle kinders deur daaroor te spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan” (Deuteronomium 11:18, 19). Kan ouers dit doen as hulle hulle kinders vrywilliglik weggestuur het om lang rukke by wêreldsgesinde familielede te gaan woon? Nee, ouers moet by hulle kinders wees om hulle gereeld tereg te wys en te onderrig, en ook om die liefdevolle milieu te voorsien wat jongmense so nodig het (Efesiërs 6:4; Spreuke 6:20). Dit is duidelik dat ’n Christelike kind se blywende (selfs ewige) welsyn nie bevorder sal word as hy ten koste van geestelike onderrig in sy ouerhuis gestuur word om ter wille van sekulêre opleiding by wêreldsgesinde familielede te woon nie. Christene oor die hele aarde weet dat dit ’n moeilike taak is om ’n jong persoon in hierdie stelsel groot te maak om Jehovah te dien, en dat dit voortdurende toesig van die ouers verg. Die kanse op sukses sal beslis kleiner wees as ’n kind net ter wille van materiële voordele van ’n Christelike huis afgesny is.
Dink in hierdie opsig aan die voorbeeld van Jesus, wat in die afgeleë Galilese dorpie Nasaret grootgemaak is. Josef en Maria was aan God gehoorsaam en het Jesus by hulle in Nasaret gehou, waar hy ‘toegeneem het in wysheid en grootte en in genade by God en die mense’.—Lukas 2:41-52.
Die huidige stelsel beklemtoon geleerdheid en finansiële sukses. Wêreldsgesinde ouers sê soms dinge soos: ‘Ek wil nie hê dat my seun eendag ’n straatveër moet wees nie.’ Selfs Christenouers kan so ’n beskouing van geleerdheid en materiële voordele verkry. Maar ouers wat op Jehovah se wysheid vertrou, sal altyd eers wil toesien dat hulle kinders “’n goeie fondament vir die toekoms [weglê], sodat hulle die ewige lewe kan verwerf”.—1 Timotheüs 6:9, 19.
[Voetnoot]
a ’n Seldsame en ongelukkige situasie is dié van ’n jong meisie wat die lewe aan ’n kind skenk nadat sy verkrag is. Diegene wat regstreeks by die saak betrokke is, die meisie en haar ouers, kan besluit watter weg raadsaam is in die lig van al die faktore, onder meer haar fisiese en emosionele toestand. In party van hierdie gevalle is die baba in die meisie se gesin aanvaar en het hulle hom liefdevol op ’n Christelike wyse grootgemaak. In ander gevalle is ’n ander Christenegpaar wat ’n kind wou hê, en in die posisie was om vir hom te sorg, toegelaat om die baba aan te neem.
♦ Jesus het vir ’n man wat hy genees het, gesê: “Moenie meer sondig nie, sodat daar nie iets ergers met jou gebeur nie.” Het hy bedoel dat ons siek word omdat ons gesondig het?
Nee, elke siekte is nie noodwendig die gevolg van ’n spesifieke sonde nie.
Johannes hoofstuk vyf vertel hoedat Jesus ’n man genees het wat baie jare lank siek was. Later het Jesus die man by die tempel raakgeloop en gesê: “Kyk, jy het gesond geword; moenie meer sondig nie, sodat daar nie iets ergers met jou gebeur nie.”—Johannes 5:14.
Ons het almal sonde en onvolmaaktheid van Adam geërf (Romeine 5:12). Een bewys hiervan is dat ons soms “natuurlik” siek word. Die man wat deur Jesus genees is, was klaarblyklik siek as gevolg van oorgeërfde onvolmaaktheid. Deur God se genade is die man genees en die weg na redding deur Christus getoon. Hy moes toe die Verlosser volg. As die man egter moedswillig begin sondig het, sou hy nie net siek word nie; hy sou teen die gees sondig en ewige vernietiging verdien.—Mattheüs 12:31, 32.