Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 11/1 bl. 23-29
  • Slaan ag op ‘waarskuwende voorbeelde’!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Slaan ag op ‘waarskuwende voorbeelde’!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Pas op vir ongelowigheid
  • Die verskriklike gevolge van onsedelikheid
  • Moenie Godgegewe gesag verag nie
  • Migael se pragtige voorbeeld
  • ‘Stry hard vir die geloof’!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Bybelboek nommer 65—Judas
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • “Geliefdes, . . . Bly in die liefde van God”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • ‘Stry kragtig vir die geloof’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 11/1 bl. 23-29

Slaan ag op ‘waarskuwende voorbeelde’!

1, 2. Watter onderrigting bied die brief van Judas?

JEHOVAH is ’n God wat waarsku (2 Konings 17:12-15; Esegiel 3:17-21). Sy volk weet dat hy nie wil hê dat enigiemand moet vergaan omdat hy ’n weg bewandel wat tot vernietiging lei nie (Esegiel 18:23, 32). En Jehovah se Getuies is beslis dankbaar dat hulle hemelse Vader diegene wat hom liefhet, waarsku, rig en red.

2 Die geïnspireerde brief van Judas bevat waarskuwings sowel as voorligting. In die vorige artikel het ons geleer waarom Judas medegelowiges aangespoor het om “kragtig te stry vir die geloof. Kom ons skenk nou biddende aandag aan sy waarskuwings uit die verlede.—Romeine 15:4.

Pas op vir ongelowigheid

3. Waaraan wou Judas medegelowiges “herinner”?

3 Judas rig vervolgens ’n waarskuwing in verband met geloof wanneer hy sê:

“Maar ek wil julle daaraan herinner, al weet julle dit nou eenmaal, dat die Here, nadat Hy die volk uit Egipteland gered het, daarna die wat ongelowig was, omgebring het” (Judas 5).

Tensy Christene met welslae ‘kragtig stry vir die geloof, kan hulle ’n goedgekeurde naam by Jehovah God verloor. Om dit te voorkom, wou Judas medegelowiges wat in gevaar verkeer het, “herinner” aan dinge wat hulle vantevore geleer het en aan wat God in die verlede met ontroues gedoen het.

4. Hoe en waarom het Jehovah die Israeliete wat in slawerny verkeer het, “gered”?

4 In vers vyf het Judas eers daarop gewys dat Jehovah God die Israeliete uit slawerny in Egipte “gered” of verlos het. God het dit gedoen nadat hulle gehoorsaam die eerste Pasga gevier het. Die wonderlike verlossing uit Egipte is deur Jehovah bewerkstellig omdat die mense wat eens slawe was in geloof gehandel het.—Exodus 12:1-14, 31.

5. (a) Wat is simboliese Egipte, en op watter grondslag red Jehovah mense daaruit? (b) Wat moet Jehovah se toegewyde getuies doen om uiteindelik die saligheid te beërwe?

5 Net so red Jehovah mense uit simboliese Egipte, die wêreld van die mensdom wat van hom vervreemd is (Openbaring 11:8). Hy doen dit omdat hulle hom in geloof as die God van hulle saligheid erken en Jesus Christus as die teenbeeldige Paaslam wie se bloed hulle uit hierdie wêreld vrykoop (1 Korinthiërs 5:7). Maar om die saligheid deelagtig te word, hetsy in die hemel of op aarde, moet ’n toegewyde getuie van Jehovah getrou aan Hom bly en nooit afvallig word en na hierdie goddelose wêreld en sy sondige slawerny terugkeer nie, net soos die bevryde Israeliete nie na Egipte moes terugkeer nie (Deuteronomium 17:16; Mattheüs 24:13). Volgehoue geloof is noodsaaklik, want al het Jehovah ’n volk uit Egipte “gered” het hy “daarna die wat ongelowig was” diegene wat na Egipte of na Egiptiese weë wou terugkeer, “omgebring”. (Vergelyk 1 Korinthiërs 10:1-12; Exodus 32:4-6; Numeri 25:1-18; 21:4-9; 14:35-38.) As Jehovah se toegewyde getuies van vandag uiteindelik die saligheid wil beërwe, moet hulle dan inderdaad hulle geloof bewaar.—Hebreërs 3:12, 13.

Die verskriklike gevolge van onsedelikheid

6. (a) Wat was die “oorspronklike posisie” van die engele, en wat is hulle “aangewese woonplek”? (b) Watter soort sonde het sekere engele gedoen? (c) Hoe het die sondige handelwyse van die opstandige engele vergelyk met dié van die “goddelose mense” wat Judas gemeld het?

6 Judas het ’n tweede waarskuwende voorbeeld verstrek toe hy geskryf het:

“Dink ook aan wat gebeur het met die engele wat hulle nie binne hulle eie magsgebied [oorspronklike posisie, NW] gehou het nie, maar hulle aangewese woonplek verlaat het. God het hulle met onbreekbare kettings gebind en hou hulle in duister dieptes vir die oordeel van die groot dag” (Judas 6, NTP).

Engele is as geesskepsele geskape met die vooruitsig op ewige lewe in die hemel (Psalm 103:20; 104:4, NW; Hebreërs 1:7, NW). Dit was hulle begin, hulle “oorspronklike posisie”. “Hulle aangewese woonplek” of die plek waar hulle bedoel was om te woon, was in die onsigbare hemele. Maar sekere engele was vermetel en het hulle aangewese hemelse tuiste verlaat. Die apostel Petrus sê dat hulle “gesondig” het, en het onmiddellik daarna na die gebeure van Noag se dag verwys (2 Petrus 2:4, 5). Dit vestig die aandag op die tyd voor die vloed toe “die seuns [die vyfde eeuse Alexandrynse Manuskrip van die Septuaginta sê “engele”] van God” ongehoorsaam was en vir hulle aantreklike vroue as eggenotes geneem het, klaarblyklik nadat hulle vleeslike liggame aangeneem het (Genesis 6:1, 2). Aangesien dit vir geesskepsele onnatuurlik was om saam met vroue te lewe, het hierdie engele gesondig deur te swig voor ’n begeerte wat vir hulle heeltemal verkeerd was (Jakobus 1:13-15). Die “goddelose mense” waarvan Judas gepraat het, wou eweneens ongeoorloofde omgang met persone van die ander geslag hê.

7, 8. (a) Wat het met die ongehoorsame engele gebeur? (b) Wat moet ons gevolglik doen om in ’n geredde toestand te bly?

7 Die lot van die ongehoorsame engele was ’n waarskuwing vir Christene van Juda se dag, en is ’n waarskuwing vir Jehovah se Getuies van vandag. Alhoewel daardie engele nie tydens die vloed omgekom het nie omdat hulle hulle stoflike liggame afgelê het, is hulle verhinder om as heilige geesskepsele wat die lig van God se raad en goedkeuring geniet na hulle “oorspronklike posisie” terug te keer. Hulle is eerder met “onbreekbare kettings” met God se vermoë om te bedwing, bewaar tot die goddelike “oordeel van die groot dag” van hulle vernietiging. Intussen is daar geen aanduiding dat hulle kan verstoflik nie, en hulle bly buite Jehovah se diens, in geestelike duisternis, in die sogenaamde Tartarus.—2 Petrus 2:4, VNW.

8 Aangesien selfs ongehoorsame engele vernietig gaan word, besef Jehovah se Getuies vandag dat hulle slegs in ’n geredde toestand kan bly deur “kragtig te stry vir die geloof”. Ons moet inderdaad enige mense weerstaan wat Godgegewe perke wil oorskry en die vlees wil besoedel.

9, 10. (a) Aan watter morele sondes het die inwoners van Sodom en nabygeleë stede hulle skuldig gemaak? (b) Watter waarskuwende voorbeeld bied Sodom, Gomorra en die omliggende stede?

9 Waar Judas ’n derde waarskuwende voorbeeld verstrek, sê hy:

“Onthou wat gebeur het met die mense van Sodom en Gomorra en die dorpe in die omgewing. Net soos die engele van wie ek gepraat het, was hulle ook onsedelik en het hulle aan onnatuurlike seksuele drange toegegee. Hulle word gestraf in die ewige vuur. En dit bly ’n waarskuwing vir almal” (Judas 7, die Lewende Nuwe Testament)

“Sodom en Gomorra en die dorpe in die omgewing” het klaarblyklik Adma en Seboim en moontlik ander dorpe in die Streek ingesluit. Weens die goddeloosheid van hulle inwoners het Jehovah al hierdie stede, met die uitsondering van Soar, waarheen “regverdige Lot” en sy dogters gevlug het, met swawel en vuur uit die hemel vernietig (2 Petrus 2:6-10; Genesis 14:2; 19:18-29; Deuteronomium 29:22, 23). Deur die woorde te gebruik wat met “net soos” weergegee word, het Judas klaarblyklik die dinge wat met daardie stede gebeur het, geassosieer met die dinge wat in die geval van die ongehoorsame engele gebeur het, wat iets onnatuurliks vir geesskepsele gedoen het deur vroue as eggenotes te neem. Hier lui The Jerusalem Bible: “Die hoerery van Sodom, Gomorra en die ander nabygeleë dorpe was ewe onnatuurlik.” Hulle inwoners het hulle nie alleen aan hoerery met vroue skuldig gemaak nie, maar het hulle wellus na manne en moontlik selfs na diere bevredig. (Vergelyk Levitikus 18:22-25.) ’n Gepeupel manne en seuns in Sodom het gesmag na geslagsomgang met Lot se gaste wat die gepeupel vir manne aangesien het. Maar hulle is uitoorlê toe die twee besoekende engele hulle met blindheid getref het. Daarna het die engele Lot uit die gedoemde stad gered.—Genesis 19:1-17.

10 Sodom, Gomorra en die omliggende stede was ’n waarskuwende voorbeeld daar hulle deur Jehovah God “gestraf [is] in die ewige vuur” naamlik ewige vernietiging. Daar word gemeen dat die verkoolde puin van ten minste Sodom, Gomorra, Adma en Seboim onder die water van die suidelike deel van die Soutsee (Dooie See) of in daardie omgewing lê. Nòg die stede nòg hulle inwoners brand dus steeds. Dit is klaarblyklik die stede self, eerder as al hulle inwoners, wat vir ewig vernietig is, want dit wil voorkom of ten minste party individue wat eens daar gewoon het, opgewek gaan word (Mattheüs 10:15; 11:24; Openbaring 20:12, 13). Maar die lot van daardie verdorwe stede is ’n dramatiese waarskuwing teen alle onsedelike gedrag, ’n waarskuwing waarop Jehovah se Getuies vandag ag moet slaan.

Moenie Godgegewe gesag verag nie

11. Hoe het die “goddelose mense” wat onder God se volk ingesluip het, vergelyk met die verdorwe mense van Sodom en die omliggende stede?

11 Judas het vervolgens na die “goddelose mense” verwys en gesê:

“Tog besoedel ook hierdie mense net so in hulle dromerye die vlees en verag die heerskappy en laster die heerlike wesens” (Judas 8).

“Net so” of, klaarblyklik op dieselfde wyse waarop die verdorwe mense van Sodom en die omliggende stede hulle vlees met losbandige en onnatuurlike geslagsomgang besoedel het, het die booswillige mense wat onder God se volk ingesluip het die vleeslike liggaam besoedel. Hulle het geen agting gehad vir die apostoliese raad om ‘vir die hoerery te vlug’ nie.—1 Korinthiërs 6:18-20.

12. (a) Hoe het die goddelose indringers hulle aan “dromerye” oorgegee? (b)  Wat wag op onberouvolle hoereerders?

12 Daardie indringers het hulle ook oorgegee aan “dromerye” moontlik omdat hulle probeer het om hulle beskouings met versonne profetiese drome te verdedig. (Vergelyk 2 Petrus 2:1; Deuteronomium 13:1-5.) Wat dit betref, kon hulle drome onrein geslagsfantasieë gewees het, of hierdie uitdrukking kan beteken dat hulle leerstellings “hallusinasies” (JB) was. Hoe dit ook al sy, daardie “goddelose mense” het na meer geleenthede gesoek om geslagsonsedelikheid te bedrywe en het gedink dat hulle hulle ongestraf aan onrein gedrag skuldig kon maak. Geeneen van Jehovah se Getuies moet vandag in daardie strik trap nie! Die Opperregter voltrek onteenseglik oordeel aan onberouvolle hoereerders.—Genesis 18:25.

13. Wat was die onsedelike ‘dromers’ se gesindheid teenoor gesag wat deur God daargestel is?

13 Daardie onsedelike ‘dromers’ het ook ‘die heerskappy verag en die heerlike wesens belaster’. Hulle het aanmatigend neergesien op gesag wat deur God daargestel is (Spreuke 21:4; 2 Petrus 2:10). Net soos die ongehoorsame engele het daardie mense ’n opstandige gees gehad en het hulle verdien om veroordeel te word, want hulle het in werklikheid geen agting vir die Universele Soewerein en sy geliefde Seun gehad nie.

14. Wie was die “heerlike wesens”?

14 Daardie goddelose persone het ook “heerlike wesens” (letterlik, “van heerlikhede”), klaarblyklik diegene aan wie Jehovah God en Jesus Christus ’n sekere heerlikheid verleen het, belaster (Johannes 17:22; 1 Petrus 4:12-14). Aangesien sulke heerlikheid, of eer, van God af gekom het, moes die eer daarvoor nie regstreeks gegee word aan die begunstigde persone op aarde wat dit geniet het nie. Maar al Jehovah se Getuies moet sulke “heerlikheid” respekteer en dienooreenkomstig daarvan praat, met die grootste agting vir Jehovah God.—1 Samuel 2:30.

15. (a) Hoe het die vleesbesoedelende ‘dromers’ van “heerlike wesens” gepraat? (b) Wat moet ons doen as daar selfs net ’n neiging by ons bestaan om Godgegewe gesag te verag?

15 Daar is ongetwyfeld heerlikheid of eer verleen aan diegene onder Christus se gesalfde volgelinge wat getrou as aangestelde Christenopsieners dien. Mede-Getuies moet met hulle saamwerk en hulle in God se diens ondersteun. Ons moet nie wees soos die vleesbesoedelende ‘dromers’ van Judas se dag wat Jehovah se heerskappy verag het en nie heerlikhede van hom af gerespekteer het nie, maar diegene wat met sulke heerlikhede beklee is, belaster het. (Vergelyk 3 Johannes 9, 10.) Laat ons dus, as daar selfs net ’n neiging by ons bestaan om Godgegewe gesag te verag, om Jehovah se hulp bid om ons beskouing te verander.

Migael se pragtige voorbeeld

16. Watter kontras het die aartsengel Migael met die oneerbiedige ‘dromers’ gevorm?

16 Judas haal ’n pragtige voorbeeld tot ons voordeel aan wanneer hy sê:

“Maar toe Migael, die aartsengel, met die duiwel in woordestryd was oor die liggaam van Moses, het hy geen oordeel van lastering durf uitspreek nie, maar het gesê: Die Here bestraf jou!” (Judas 9).

Watter skerp kontras het die oneerbiedige ‘dromers’ tog gevorm met Migael die aartsengel wat onse Here Jesus Christus geword het! (Vergelyk Spreuke 8:22-31; Johannes 6:62; Filippense 2:5-11; 1 Thessalonicense 4:15, 16.) Deur God se knegte te belaster, het die goddelose ‘dromers’ hulle vryhede veroorloof wat selfs Jehovah se Seun hom nie veroorloof het toe hy met Satan oor die liggaam van die Hebreeuse profeet Moses geargumenteer het nie. Daar bestaan geen vroeëre Skriftuurlike verslag van hierdie woordestryd nie. Maar Judas het hierdie informasie op ’n onvermelde wyse ontvang en dit tot ons voordeel opgeteken.

17. (a) Wat het Migael tydens die woordestryd oor Moses se liggaam nie gedoen nie, en waarom nie? (b) Hoe het Migael vir Jehovah se volk ’n voorbeeld van eerbied vir goddelike gesag gestel?

17 Die Duiwel wou moontlik Moses se lyk hê as grondslag vir ’n nuwe godsdienskultus sodat hy Jehovah se volk daarmee kon verderf. Maar Migael het nie ’n oordeel in lasterlike taal teen die Duiwel uitgespreek nie. Migael het dit nie “durf’ doen nie as gevolg van sy behoorlike vrees vir Jehovah. Hy het ook nie Jehovah se vasgestelde tyd om Satan te straf vooruitgeloop nie (Openbaring 12:7-9; 20:1-3, 7-10). God se geliefde Seun het eerder eerbied vir die Opperregter getoon en hom die reg vergun om die Duiwel te bestraf. Migael het gevolglik vir Satan gesê: “Die Here [Jehovah, NW] bestraf jou!” Alhoewel Migael se verklarings nie venynig was nie, het hy mag getoon deur beheer oor Moses se liggaam te behou, en Jehovah het die profeet in ’n graf sonder opskrif begrawe (Deuteronomium 34:1-6). Hierin het God se Seun gewis vir Jehovah se volk ’n pragtige voorbeeld van eerbied vir goddelike gesag gestel. Laat ons dit volg.

18. Waarom kan ons sê dat die voornemende besoedelaars van die vlees ’n gebrek aan geestelikheid gehad het?

18 By wyse van ’n teenstelling het Judas vervolgens gesê:

“Maar hierdie mense belaster alles wat hulle nie ken nie; en alles wat hulle, soos die redelose diere, op natuurlike wyse verstaan, daardeur gaan hulle te gronde” (Judas 10).

Hoewel die voornemende besoedelaars van die vlees soveel laer as Migael was, wat nie ’n oordeel in lasterlike taal teen Satan wou uitspreek nie, het hulle nie alleen die “heerlike wesens” belaster nie, maar ook alle geestelike dinge “wat hulle nie [ge]ken” of verstaan het nie. Omdat hulle “nie geestelikgesind” was nie (Judas 19, NW), kon hulle nie geestelike sake begryp nie (1 Korinthiërs 2:6-16). Jehovah se gedagtes, weë, handelinge en bedrywighede was vreemd vir sulke “goddelose mense”.

19. In watter sin was die “goddelose mense” soos “redelose diere”?

19 Uit eerbied vir Jehovah God belaster nòg die aartsengel Migael nòg die ander regverdige engele diegene aan wie God ’n sekere heerlikheid verleen het. Maar hierdie “goddelose mense” het dit gedoen omdat hulle hulle ten volle aan dierlike drange oorgegee het. Hulle het nie geestelike dinge verstaan nie, slegs dit wat hulle vleeslike drange behaag het. Net soos diere vir wie slegs vleeslike dinge belangrik is, het hulle die bevrediging van die gevalle vlees nagestreef. Omdat daardie mense slegs daarop uit was om slegte geslagsdrange te bevredig, het hulle deur hulle vleeslike sondes ‘te gronde gegaan’. Hulle het dus getoon dat hulle niks beter is nie as “redelose diere wat die natuur volg, gebore om gevang en vernietig te word” sonder enige hoop op ’n opstanding.—2 Petrus 2:9-13.

20. Watter gedragslyn moet lojale getuies van Jehovah volg met die oog op Judas se woorde wat tot dusver bespreek is?

20 Hoe belangrik is dit tog dat Jehovah se Getuies vandag valse leraars, voornemende besoedelaars van die vlees en diegene wat goddelik daargestelde gesag verag met al hulle krag weerstaan! Mag ons, indien die raad wat tot dusver in Judas se brief bespreek is, toon dat ons individuele gesindhede of weë nie heeltemal reg is nie, ons haas om ons gedragslyn te verander en biddend om die hulp van ons hemelse Vader smeek. En mag ons immer geestelik daarby baat vind omdat ons ag geslaan het op die ‘waarskuwende voorbeelde wat voor ons gestel is’.

(Die laaste deel van ons bespreking van die brief van Judas sal in die volgende nommer van Die Wagtoring verskyn.)

Kan jy hierdie gedagtes onthou?

◻ Hoe toon die ondervinding van die eertydse Israeliete dat ons volgehoue geloof moet hê om gered te word?

◻ Watter waarskuwende voorbeeld bied die ongehoorsame engele ons?

◻ Watter waarskuwing bevat Sodom, Gomorra en die omliggende stede vir Christene?

◻ Waarom moet ons nie gesag wat deur God daargestel is, verag nie?

◻ Watter voorbeeld van eerbied vir gesag het die aartsengel Migael gestel, en hoe moet ons dus optree?

[Prent op bladsy 24]

Net soos God “die volk uit Egipteland gered het” is Christene uit hierdie goddelose wêreld gered. Maar volgehoue geloof is nodig om uiteindelik gered te word

[Prent op bladsy 27]

Die lot van Sodom en die omliggende stede is ’n waarskuwing teen onsedelike gedrag

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel