Gebruik jy daardie venstertjie?
HET jy, toe jy Die Wagtoring die afgelope jaar gelees het, iets nuuts in die artikels vir gemeentelike studie opgemerk? Dit is ’n venstertjie soos dié wat jy op bladsye 22 en 29 van hierdie nommer sal aantref. Wat is hierdie venstertjie?
Ons kan hierdie nuwe kenmerk ’n ‘loervenstertjie’ noem, want dit is die doel daarvan. Miljoene persone woon gemeentelike Bybelstudies by waar Die Wagtoring gebruik word. Maar verskeie bedienaars wat aangewys is om tydens hierdie vergaderinge te onderrig, het berig dat party persone dit moeilik vind om die hoofgedagtes van sekere lesse te snap. Dit is nie verbasend nie, want die apostel Petrus het erken dat baie gesalfde Christene in die eerste eeu gevind het dat Paulus se geskrifte dinge bevat het wat “swaar is om te verstaan” (2 Petrus 3:16). En ander lesers van Die Wagtoring het gesê dat hulle meer sal onthou as die hoofgedagtes aan die einde van die les hersien word. Dit is om in sulke behoeftes te voorsien dat hierdie venstertjies gepubliseer word.
Waardeer en gebruik ons hierdie venstertjies? ’n Christin in Ohio het geskryf: “Baie dankie vir die hersiening wat aan die einde van die studie-artikels in Die Wagtoring verskyn. Dit help my baie om die hoofgedagtes wat onthou moet word te verstaan.”
’n Moeder met twee seuns het gesê: “Ek wil vir julle sê dat ons die vrae en verklarings in die hersieningsvenstertjie wat julle aan die einde van elke studie-artikel publiseer, waardeer en geniet. Dit is baie nuttig vir ’n hersiening dieselfde week en die volgende week wanneer ons die volgende artikel bestudeer.” Nadat ’n Christin in New York haar waardering uitgespreek het oor die venstertjies wat reeds verskyn het, het sy gesê: “Ek hoop dat dit Jehovah se wil is dat daardie vrae in al die toekomstige nommers sal verskyn. Dit help ’n mens werklik om die betekenis van die lesse te snap.” Die volgende kommentaar van ’n gereelde leser in Engeland kan jou help om te sien op watter maniere jy hierdie hersienings-venstertjies kan gebruik: “Ek vind dat die jongste Wagtoring-studies met die venstertjies en vrae aan die einde my baie help om die lesse ten beste te benut. Dit is verbasend hoeveel meer ’n mens onthou. Nadat ek ’n artikel een maal gelees het, kan ek nie altyd al die vrae beantwoord nie. Ek bestudeer dus die materiaal ’n tweede en ’n derde keer totdat ek elke vraag kan beantwoord. En ek vind dat dit my help om baie meer te onthou.”
Wanneer jy ’n artikel persoonlik klaar bestudeer het, kan jy gerus die gedagtes in die loervenstertjie een vir een nagaan. As jy elke vraag kan beantwoord of elke belangrike gedagte kan herroep sonder om na die artikel terug te verwys, is dit uitstekend! Maar as ’n sekere antwoord ’n bietjie vaag is, of jy besef dat jou begrip van die saak nie duidelik genoeg is om dit aan ander te verduidelik nie, moet jy weer die betrokke deel van die artikel hersien. As jy dit dadelik hersien, sal dit jou begrip grootliks verbeter en die gedagtes by jou geheue inprent. Dit sal nie baie tyd verg nie, maar jy sal ryklik beloon word.
As jy die gemeentelike Wagtoring-studie hou, het jy ’n bykomende rede om die hersieningsvenstertjies te gebruik. Sorg dat jy die les vroeg genoeg voltooi sodat daar tyd vir ’n hersiening aan die einde is, en vestig dan die aandag op die venstertjie. In plaas daarvan om net die gedagtes te lees of bloot voor te stel dat die gehoor dit tuis doen, moet jy probeer om elk van die gedagtes te behandel. Wanneer dit in die vorm van vrae is, kan jy dit aan die gehoor stel as deel van ’n ‘gesloteboek-hersiening’. So sal die hele gehoor kan sien wat die vernaamste gedagtes van die studie was. Jy en hulle sal ook die hoofgedagtes beter onthou!
Dit is ons hoop dat hierdie venstertjies julle steeds sal help in julle strewe om die waarheid te leer ken wat persone kan vrymaak en na die ewige lewe lei.—Johannes 8:32; 17:3.