Volharding deur geloof in Jehovah
Soos vertel deur Carey W. Barber
TOE die spreker by die teater in Plainfield, New Jersey, opgedaag het, het hy gevind dat die polisie die deur na die verhoog bewaak. Toe hy op die verhoog oploop, het hy gesien dat die polisie twee masjiengewere agter die gordyne opgestel het sodat hy reg voor hulle sou staan wanneer hy praat. Die polisie het gesê dat hulle meegedeel is dat daar ’n oproer gaan wees, en dat hulle daar was om die orde te bewaar. Die toespraak “Godsdiensonverdraagsaamheid—Waarom word dit nou getoon?” is nietemin sonder voorval gehou en almal in die gehoor, ek inkluis, het dit geesdriftig ontvang.
Die spreker was J. F. Rutherford, die destydse president van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap. In die vroeë dertigerjare van hierdie eeu was Plainfield ’n sentrum van teenstand teen die werk van Jehovah se Getuies. Dit is waarom Rutherford besluit het om daardie openbare vergadering op 30 Julie 1933 daar te hou. Ek kan jou verseker dat die atmosfeer gedurende daardie toespraak oor “onverdraagsaamheid” baie gespanne was!
Dit was sulke ondervindinge in my jong jare wat my geloof versterk het en my bemoedig het om die afgelope sestig jaar in Jehovah se diens te volhard.
’n Verbasende nuwe projek
Ek is op 4 Julie 1905 in Trowbridge, Wiltshire, Engeland, gebore. Op 18 April 1921 is ek op die ouderdom van sestien by ’n klein byeenkoms van die Internasionale Bybelstudente (soos Jehovah se Getuies destyds bekend was) in Winnipeg, Kanada, gedoop.
Omtrent dieselfde tyd het die Wagtoringgenootskap ’n moedige nuwe onderneming aangepak. In plaas daarvan om kommersiële drukkers te gebruik om die Genootskap se boeke te druk, het J. F. Rutherford besluit dat dit nou, met Jehovah se hulp, deur toegewyde Christene gedoen moes word. ’n Fabriek is dus te 18 Concordstraat in Brooklyn, New York, gekoop en ’n beroep is gedoen op broers in Kanada en die Verenigde State om met die werk te kom help.
Die gevolg was dat ek en Norman, my tweelingbroer, in April 1923 by Bethel, die Genootskap se hoofkwartier in Brooklyn, aangemeld het om met hierdie nuwe projek te help. Ons was destyds nog nie heeltemal agttien jaar oud nie.
My eerste taak was om die boekie Our Lord’s Return in ’n draadhegmasjien te voer. Nadat die opsiener verduidelik het hoe dit gedoen moes word, het hy na ’n yslike hoop hoekies gewys en gesê: “Opskud en kry die werk gedaan, want Armageddon kom!”
Jy sê dalk: ‘Maar baie jare het sedertdien verstryk. Dit was tog seker nie nodig om so te jaag nie.’ Die dag van Jehovah se toorn het weliswaar nog nie aangebreek nie. Maar as jy die uitdaging wat aan ons gestel is in aanmerking neem—om boeke te druk sodat die evangelie “in die hele wêreld” verkondig kon word—kan jy begryp waarom ons die saak as so dringend beskou het (Mattheüs 24:14). Mense met ervaring in die drukkuns het net hulle koppe geskud en gesê: “Dit kan nie gedoen word nie.” Ek kan jou verseker dat dit soms eers na veel frustrasie was dat ons groentjies geleer het om boeke te druk en te bind! Dit was inderdaad ’n toets van ons geloof en volharding. Dit is waarom ek dikwels nagedink het aan die woorde in Hebreërs 10:36: “Julle het lydsaamheid nodig, om, nadat julle die wil van God gedoen het, die belofte te verkry.”
Volharding nodig om te preek
Die predikingswerk van huis tot huis was destyds vir ons ’n heeltemal nuwe ondervinding, en daar was baie godsdiensteenstanders.
Kort nadat ons Bethel toe gekom het, is ek, my broer Norman en ’n ander Bethelbroer een Saterdagmiddag in hegtenis geneem terwyl ons huisbewoners besoek het om met hulle oor God se Woord te praat. Ons is meegedeel dat dit ’n oortreding van die wet was om in daardie omgewing Bybellektuur van huis tot huis te versprei, en ons is ’n boete opgelê. Omdat ons nie geweet het hoe om in so ’n geval op te tree nie, het ons die boete betaal.
Ons drie was effens ontsteld dat so iets in ’n “vry” land kon gebeur. In plaas daarvan dat dit ons vasbeslotenheid om die evangelie te verkondig gedemp het, het dit ons net verder aangevuur. Daardie voorvalletjie was net een in ’n veldtog wat toe op tou gesit is en wat jare lank sou verskerp. Maar Jehovah se Getuies sou nie die stryd gewonne gee sonder om hulle te verset nie! Maar ek sal later meer hieromtrent sê.
Materieel versorg
Nadat ek die boete betaal en teruggery het Bethel toe, was ek platsak. Maar ek kan eerlik sê dat ek sedertdien nog nooit ’n gebrek aan kos, klere of onderdak gehad het nie. Ek weet van mense wat nie die voltydse bediening betree het nie omdat hulle bang was dat daar dan nie in hulle daaglikse behoeftes voorsien sou word nie. Ander het opgehou omdat hulle gemeen het dat die toelae nie genoeg was om in hulle behoeftes te voorsien nie. Of hulle was nie seker dat hulle op hulle oudag versorg sou word nie, en daarom het hulle sekulêre werk begin doen. Maar my geloof in Jehovah se belofte om die lewensbenodigdhede te voorsien, het my gehelp om in die voltydse bediening te volhard (Mattheüs 6:25-34). Ek is seker dat Jehovah my nooit sal verlaat nie.—Hebreërs 13:5, 6.
Alhoewel ek nie sekere luukse gehad het nie, was ek nog altyd tevrede met wat Jehovah voorsien het. Ek het uit ondervinding geleer dat as iemand ‘eers die koninkryk en Sy geregtigheid soek’ (Mattheüs 6:33), God alles sal voorsien wat hy nodig het om te volhard en om gelukkig te wees. Ek kan persoonlik van die waarheid van Spreuke 10:22 (NW) getuig: “Die seën van Jehovah—dié maak ryk, en hy voeg daar geen smart by nie.”
Hofsake
Ek het mettertyd geleer hoe om ’n smoutpers te bedien, en een van my talle take was om die saakskrifte te druk wat deur broer Rutherford en ander gebruik is in hofsake teen diegene wat “moeite beraam op die gesag van die verordening” (Psalm 94:20, NW). Namate die oorlogskoors teen die vroeë veertigerjare ’n hoogtepunt bereik het, het dit werklik gelyk asof ons teenstanders daarin sou slaag om ons werk te verbied. Maar ek is baie bemoedig deur wat op 3 Mei 1943 gebeur het toe Jehovah klinkende oorwinnings aan sy volk gegee het! Die Verenigde State se Appèlhof het dertien uitsprake gelewer waarvan 12 in ons guns was!
Een van die besonder belangrike sake wat ek onthou, was die van Murdock v. Pennsylvania, ’n lisensiebelastingsaak. (Die geskil was of ’n Getuie ’n lisensie moet verkry en belasting moet betaal om te kan preek.) Die Hof het ’n vorige uitspraak ter syde gestel en gesê: “Daar word egter beweer dat die feit dat die lisensiebelasting hierdie bedrywigheid kan onderdruk of beheer onbelangrik is as dit dit nie doen nie. Maar in daardie geval ignoreer ’n mens die aard van hierdie belasting. Dit is ’n lisensiebelasting—’n belasting wat gehef word op die uitoefening van ’n voorreg wat deur die Oorkonde van Grondliggende Regte verleen word. ’n Staat mag iemand nie laat betaal vir die uitoefening van ’n reg wat deur die federale grondwet verleen word nie.” Watter oorwinning tog vir God se volk!
Hierdie gebeure en die manier waarop Jehovah sake bestuur het, het my versterk en het getoon dat hy alles ten goede kan laat verloop vir diegene wat hom liefhet.
Opwindende byeenkomste!
Kom ons gaan terug na 1922. Van daardie jaar af tot 1928 het die Bybelstudente sewe belangrike byeenkomste gehou. Dit was my voorreg om elk van hierdie byeenkomste by te woon en om te help met die druk en verspreiding van die aangrypende resolusies wat by elkeen aangeneem is. Die feit dat ek onder die byeenkomsgangers was en aan al die bedrywighede kon deelneem, het my geloof versterk, en ek het geweet dat ek met Jehovah se hulp kon volhard.
Soms het ’n woedende gepeupel probeer om ons vreedsame byeenkomste uiteen te jaag. Ek was byvoorbeeld op Sondag, 25 Junie 1939 teenwoordig by Madison Square Garden in die stad New York toe groepe van die Katolieke Aksie probeer het om te voorkom dat J. F. Rutherford die openbare toespraak “Regering en vrede” hou. Maar ons was gereed vir hulle.
’n Aantal van ons Betheliete asook ander broers is aangewys om plekaanwyser te wees. Teen 4 nm. was die grootste deel van die gehoorsaal vol Getuies, met die uitsondering van die balkon reg agter die spreker. Kort na die vergadering begin het, het sowat 500 volgelinge van Charles E. Coughlin, ’n bekende Katolieke “radiopriester” van die dertiger-jare, ingekom en daardie deel van die balkon gevul. ’n Rukkie later het iemand die ligte in daardie deel aan en af geskakel as ’n teken vir die gepeupel om tot optrede oor te gaan.
“Heil Hitler!” “Viva Franco!” en ander krete het uit daardie deel weerklink. Wat sou broer Rutherford doen?
‘Julle sal oplet hoedat die Nazi’s en die Fasciste vandag graag hierdie vergadering uiteen wil jaag, maar danksy God se genade kan hulle dit nie doen nie’, het broer Rutherford van die verhoog af gesê. Luide applous van ons kant het getoon dat ons hom steun. Toe het die plekaanwysers die indringers verwyder.
Wat ’n opwindende byeenkoms! Sulke ondervindinge was ’n beproewing van ons toewyding en ons geloof in Jehovah se belofte dat hy sy volk sal onderskraag. Sulke voorvalle het my geloof in Jehovah lewend gehou en my bemoedig om in sy diens te volhard.
Die geskil van Christelike neutraliteit
Aan die begin van die Tweede Wêreldoorlog het Christelike neutraliteit ten opsigte van wêreldlike botsings ’n brandende geskil geword, en ek het my weer eens in die hewigste van die geveg bevind!
Die van ons wat dienspligtig was, is verwittig dat ons voor die plaaslike ligtingsraad moes verskyn. Ons het die mediese ondersoek ondergaan en om vrystelling aansoek gedoen, soos die wet toelaat. Die ligtingsraad het hard probeer om te voorkom dat ons vrygestel word. Maar Jehovah was weer eens met ons—nie een van ons is van ons toewysings in Bethel weggeneem nie. As hulle al die jonger broers by Bethel opgeroep het, sou dit die noodsaaklike Christelike predikingswerk erg in die wiele gery het.
Omdat die broers in baie lande hulle vryhede ontneem is, en as ’n voorsorgmaatreël vir die veiligheid van die Bethelgesin, is ’n toevlugsoord in South Lansing, New York, gebou. Maar dit is nooit vir daardie doel gebruik nie. Onder Jehovah se leiding is die gebou later omskep in slaapvertrekke en ’n skool, genaamd die Wagtoring-Bybelskool Gilead. Dit het plaasgevind terwyl die Tweede Wêreldoorlog nog gewoed het. In 1943 het die eerste klas van 100 studente opgedaag. Die skool (waarby ek later baat sou vind) sou gebruik word om sendelinge op te lei om die evangelie van God se koninkryk te verkondig.
Nuwe toewysings
Ek was destyds reeds 20 jaar lank in Bethel, en hoewel dit gelyk het of wêreldgebeure besig was om ’n klimaks te bereik, het die wêreldwye predikingswerk toe eintlik eers op dreef begin kom.
Etlike jare later, in 1948, het ek ’n ander toewysing ontvang. Ek is uitgestuur as ’n reisende verteenwoordiger van die Genootskap, en ek het dit die volgende dertig jaar lank gedoen. Dit sal onmoontlik wees om eens te probeer om alles te beskryf wat in daardie tydperk gebeur het!
My eerste toewysing was Streek nr. 6, die westelike Verenigde State. En wat ’n streek was dit tog! Dit het van San Diego, Kalifornië, gestrek tot by die Kanadese grens in die noorde, ’n afstand van nagenoeg 2 400 kilometer. Dit het van die weskus oor die Rotsgebergte tot in oostelike Washington, Idaho en Montana gestrek. Suidwaarts het dit die hele Wyoming, Utah, Nevada, Nieu-Mexiko, die Texas-ismus en Arizona ingesluit, tot weer in Kalifornië. In daardie dae was die weeklikse kringbyeenkomste van Jehovah se Getuies ongeveer 1 600 kilometer uitmekaar. Ek moes dus baie kilometers in my motor aflê om teenwoordig te wees.
Maar dit was vir my ’n wonderlike voorreg om oor die hele Verenigde State te reis en saam met getroue broers en susters in hulle aanbidding en diens aan Jehovah God te vergader. Dit was gewis geloofversterkend om die goeie nuus saam met hulle te verkondig.
Een dierbare, getroue suster wat ek nog goed onthou, was Emma, wat in Nieu-Mexiko gewoon het. Emma was jare lank ’n voltydse verkondiger van die goeie nuus. Sy het te voet deur ’n groot woestynagtige deel van die staat gereis. Sy het die hele dag lank van huis tot huis getuig, en wanneer dit aand geword het, sou sy by ’n gasvrye gesin oornag of onder enigiets gaan lê wat skuilplek gebied het. Soms het die berede beeswagters wat haar langs die pad teëgekom het, haar herken en dan uitgeroep: “Wil oumatjie saam ry?” Dan het sy agter op die perd geklim en ’n paar kilometer saam gery. Haar groot liefde en ywer vir Jehovah het my bemoedig om in God se diens te volhard.
Na agt jaar het nog ’n groot verandering ingetree. Ek is genooi om die ses-en-twintigste klas van Gilead in 1955 by te woon. In daardie selfde klas was daar ’n pioniersuster (’n voltydse evangeliedienares) genaamd Sydney Lee Brewer van Kanada. Na die gradeplegtigheid is ek nie alleen daar weg nie, maar is ek en Sydney getroud op pad van Gilead-skool af na ons toewysing, naamlik om die gemeentes in die omgewing van Chicago te besoek en te bemoedig. Dit was op 18 Februarie 1956. Trouens, ons het ons wittebrood deurgebring deur gemeentes te besoek. Sydney is nog steeds my getroue metgesel. Haar ywerige pogings het talle bemoedig.
Na omtrent dertig jaar as ’n reisende evangeliedienaar het ek in die herfs van 1977 ’n brief van die hoofkwartier ontvang waarin ek genooi is om as ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies te dien. En daarom is ek terug na my geliefde tuiste—die Bethel in Brooklyn. Dit is ’n onbeskryflike eer en voorreg om ’n klein aandeel in die bedrywighede van die Bestuursliggaam van Jehovah se volk te hê.
Wat sal ek sê as ek oor nagenoeg sestig jaar in Jehovah se diens terugkyk? Ek het gesien hoedat Jehovah se Getuies toeneem van ’n paar duisend in 1923 tot ver oor die tweemiljoen in 1982. Ek het gesien hoedat teenstanders probeer het om ’n einde aan die predikingswerk te maak, maar hulle pogings het misluk. Ek het die voorreg gehad om duisende lede van Jehovah se volk dwarsoor die Verenigde State en in talle ander lande te ontmoet en met hulle te assosieer. Alhoewel ek opwindende dinge beleef het, het my geloof in Jehovah en my vasbeslotenheid om in sy diens te bly my in staat gestel om te volhard.
Ek voel soos koning Dawid van die ou tyd, wat Jehovah geloof het omdat Hy soos ’n liefdevolle herder vir hom was (Psalm 23). Net soos in Dawid se geval het ‘niks my ontbreek nie’. Jehovah het my inderdaad na water gelei en my siel al hierdie jare verkwik. Ek hoop dat my geloof in en liefde vir die Getroue Herder, Jehovah God, sal toeneem. My bede is dat hy my die nodige krag sal gee om getrou ‘al die dae van my lewe in die huis van Jehovah’ te volhard.—Psalm 27:4.
[Prent op bladsy 12]
J. F. Rutherford besig om in 1939 ’n toespraak in Madison Square Garden te hou