Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 11/1 bl. 8-9
  • ’n Veilige toekoms is in sig!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Veilige toekoms is in sig!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Is daar ’n presedent?
  • Die aarde se redding is op hande
    Ontwaak!—1993
  • Hoe „nuwe hemele en ’n nuwe aarde” begin
    Oorlewing tot in ’n nuwe aarde
  • ’n Veilige toekoms—Hoe jy dit kan vind
    ‘n Veilige toekoms—Hoe jy dit kan vind
  • Miljoene wat nou lewe, sal nooit sterf nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 11/1 bl. 8-9

Voel jy veilig?

’n Veilige toekoms is in sig!

“MOENIE op magtiges vertrou nie, nie op ’n mens nie; hy kan jou nie red nie” (Psalm 146:3, NTP). Daardie reguit raad wat meer as tweeduisend jaar gelede gegee is, is selfs meer gepas vandag wanneer politici, wetenskaplikes, geestelikes en militêre leiers allerhande wondermiddels vir die mensdom se probleme aan die hand doen.

Waarom moet ons nie die “magtiges” vertrou nie? Omdat die lot van die aarde en die mensdom nie in hulle hande rus nie, al glo hulle ook dat dit die geval is. Die Bybel sê duidelik: “Die aarde behoort aan die HERE en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon” (Psalm 24:1). Ja, die aarde behoort aan Jehovah, dit is sy voetbank, maar die mensdom word toegelaat om dit oordeelkundig te gebruik.—Genesis 1:28; Jesaja 66:1.

Het die mens die eiendom wat aan sy sorg toevertrou is behoorlik versorg? Het hy getoon dat hy waardig is om ’n bewoner van hierdie juweel in die heelal te bly? Die kombers van besmetting en besoedeling waarmee die mens die aarde bedek het, is duidelike bewys van die feit dat hy misluk het. Die vullis en afvalprodukte wat op stede se strate weggegooi word, in riviere gepomp word en langs die kuste te sien is, is duidelike bewys dat baie van die aarde se bewoners nie verdienstelike huurders is nie. Hulle selfsugtige dade bedreig die toekoms en veiligheid van diegene wat op ’n rein aarde wil lewe.

Watter stappe doen menslike owerhede wanneer eiendom nie opgepas en die huur nie betaal word nie? Regstappe word gedoen om die oortreders te laat uitsit. Het die Soewereine Heer Jehovah nie die reg om diegene wat die aarde se toekomstige veiligheid bedreig uit te sit nie? Beslis, want hy is die een “wat die aarde geformeer en dit gemaak het . . . Hy het dit nie geskape om woes te wees nie”.—Jesaja 45:18.

Is daar ’n presedent?

Toe Jehovah die regte op die Beloofde Land 3 500 jaar gelede aan Israel oorgedra het, het hy ook duidelike riglyne vasgestel: “Julle mag die land nie ontheilig waar julle in is nie; want die bloed ontheilig die land. . . . En jy mag die land waar julle in woon, nie verontreinig nie” (Numeri 35:33, 34). Die nasies van die wêreld het sedertdien vir hulle in hierdie opsig ’n onbenydenswaardige reputasie opgebou. Die aarde is deur die eeue heen ontheilig met die bloed van miljoene slagoffers van oorloë en politieke of godsdienssuiweringsveldtogte, en dit het ’n hoogtepunt bereik in die bykomende dodetal as gevolg van misdadigheid en aborsies in die twintigste eeu.

Eertydse Israel het mettertyd Jehovah se wette geïgnoreer en die prys daarvoor betaal—hulle is uit hulle gebied verdryf. Die tweestammeryk, Juda, het dieselfde weg bewandel en die volgende bestraffing verdien: “Die aarde is ontheilig onder sy bewoners; want hulle het die wette oortree, die insetting geskend, die ewige verbond verbreek” (Jesaja 24:5). Hulle het gevolglik sewentig jaar lank in ballingskap deurgebring. Jehovah sal om dieselfde rede optree in hierdie geslag wat vinnig besig is om verby te gaan.—Lukas 21:25-36.

Wat sal Jehovah doen? Die Bybel voorspel dat ’n universele reinigingswerk wat deur God gelas is ophande is. Dit is die oorlog te Armageddon wat lank gelede voorspel is. Dit sal nie ’n botsing tussen kapitalisme en Kommunisme wees nie. In God se oë is die oppergeskil ver bo smerige mensepolitiek verhewe. Die geskil staan in verband met Jehovah se regverdige uitoefening van soewereiniteit oor die aarde. Sy teenstanders, “bose geeste” en menslike medewerkers, dink dat hulle hulle besetting van die aarde vir ewig kan voortsit en glo nie aan goddelike ingryping nie (Efesiërs 6:12; Psalm 14:1-3). Armageddon, wanneer Jehovah sy uitsettingsvonnis voltrek, sal die aarde reinig van al die mense wat hierdie kosbare planeet verontreinig en besoedel het. Jehovah se reinigingswerk sal ook ontslae raak van die “bose geeste” wat al lank ’n invloed onder selfsugtige, magsugtige mense is, en hulle buite werking stel.—Openbaring 16:14, 16; 20:1-3.

Wat sal volg op die suiweringsveldtog tydens Armageddon? Jehovah het beloof: “Kyk, Ek skep nuwe hemele en ’n nuwe aarde.” Alhoewel dit op klein skaal vervul is toe die Jode in 537 v.G.J. uit gevangenskap aan Babilon na Jerusalem teruggekeer het, moet daar nog ’n finale, volledige vervulling wees. Die Christenapostel Petrus het hierdie gewisse hoop vir die toekoms beklemtoon toe hy geskryf het: “Ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarin geregtigheid woon.” Daardie nuwe stelsel wat deur God beskik is, sal ’n veilige toekoms op aarde vir die lojale en gehoorsame mensdom verseker.—Jesaja 65:17; 2 Petrus 3:13; Titus 1:2.

As jy graag nadere inligting omtrent hierdie veilige toekoms onder die bewind van God se koninkryk in die hande van Christus wil hê, kan jy gerus plaaslik met Jehovah se Getuies in verbinding tree of aan die uitgewers van hierdie tydskrif skryf.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel