Insig in die nuus
Tienerseks word afgeraai
Toenemende geslagsomgang onder jongmense het talle regerings beweeg om voorbehoedmiddels aan tienderjariges beskikbaar te stel. Is dit verstandig? Die “British Medical Journal” het onlangs gesê: “Die verskaffing van voorbehoedmiddels aan minderjariges dui ongetwyfeld daarop dat geslagsomgang vergoelik word.” Maar is so ’n gesindheid werklik in die belang van jongmense?
“Die getuienis toon dat tienerswangerskappe skadelik is” antwoord die “Journal”. “Dit het minder skoolopleiding, slegter werkvooruitsigte en ’n hoër egskeidingsyfer tot gevolg. Daar is geen getuienis dat omgang hoegenaamd vir kinders nuttig is nie, en aangesien geslagsomgang instinktiewe sowel as aangeleerde gedrag is, kom dit ooreen met die probleem van dwelmmisbruik. Vroeë geslagsomgang lei nie tot beter geslagservarings later in die lewe, beter leervermoë of beter werkverrigting nie. Dit lei waarskynlik tot die onvermoë om ’n gesonde en permanente huwelik te vorm . . . Die enigste konsekwente manier om die skade as gevolg van geslagsomgang onder minderjariges te verminder, is om geen steen onaangeroer te laat om geslagsomgang te voorkom nie.”
’n Wêreldberoemde Amerikaanse seksopvoedkundige, dr. Sol Gordon, het onlangs tydens ’n vergadering van seksopvoedkundiges gesê: “Ek kan aan geen goeie rede dink waarom tienderjariges omgang moet hê nie. Geslagsomgang is ’n gesondheidsgevaar vir seuns en meisies.” Hy het omgang onder tienderjariges ’n “nasionale maatskaplike ramp” genoem en gesê dat “te veel tienderjariges, weens ’n gebrek aan inligting en opleiding, nie toegerus is om nee te sê nie”. Die beste bron van daardie voorligting en opleiding is ouers wat God se beskouing van buite-egtelike omgang duidelik stel. Tienderjariges moet ag slaan op die apostel Paulus se raad aan die jong man Timotheüs: “Vlug vir die begeerlikhede van die jonkheid en jaag ná geregtigheid, geloof, liefde, vrede, saam met die wat die Here uit ’n rein hart aanroep.”—2 Timotheüs 2:22.
Wankelrige huwelike
’n Gewisse teken van die wankelrigheid van hedendaagse huwelike is die toenemende gewildheid daarvan om op huweliksvoorwaardes te trou. Voordat ’n paartjie trou, kan hulle hulle prokureurs ’n ooreenkoms laat opstel wat uiteensit hoe eiendom verdeel sal word, hoe dikwels kinders besoek sal word, hoeveel onderhoud betaal sal word, ensovoorts, in die geval van ’n egskeiding. Sulke kontrakte word nou in veertien state in die V.S.A. gehandhaaf, en sedert 1980 het dit omtrent vyfvoudig in New York toegeneem. Die persone wat dit laat doen, is meestal geskeides wat geld, eiendom en sakebelange het wat hulle wil beskerm. “Hulle het hulself een maal verbrand en nou wil hulle alles op ’n stuk papier uiteengesit hê” sê Lester Wallman van die Amerikaanse Akademie van Huweliksprokureurs.
Liefde vir en besorgdheid oor ’n mens se huweliksmaat is die grondslag van ’n blywende huwelik (Efesiërs 5:28, 33). Maar wanneer individue wat in die huwelik tree, behep is met die gedagte dat hulle hulle eie belange moet bewaar en beskerm, word hulle nie liefhebbers van hulle huweliksmaats nie, maar “liefhebbers van hulleself. . . , geldgieriges, . . . sonder natuurlike liefde” soos die Bybel voorspel het (2 Timotheüs 3:2, 3). Hulle voorhuwelikse kontrakte sal dalk hulle geld en eiendom beskerm, maar dit sal beslis nie hulle huwelik red nie.
Getuies preek in Rusland
Christus het sy volgelinge gewaarsku dat wanneer hulle gehoorsaam is aan sy bevel om ‘hierdie evangelie van God se koninkryk in die hele wêreld te verkondig’, party hulle ‘sal vervolg en in gevangenisse oorlewer’. Die Koninkryksboodskap sou egter verkondig word selfs in lande soos die Sowjet-Unie waar die koerant Sovietskaya Kirghizia gekla het dat Jehovah se Getuies sedert die veertigerjare van hierdie eeu met die “grootste geheimhouding” preek.—Mattheüs 24:14; Lukas 21:12.
As Getuies in Rusland gevang word waar hulle preek, word hulle in hegtenis geneem. Sovietskaya Kirghizia het byvoorbeeld berig dat een van Jehovah se Getuies gevonnis is omdat hy godsdienstraktate in die Sowjet-Republiek van Kirghizia versprei het. Volgens die berig is die Getuie gevang met ’n motor vol drukplate en honderde godsdiensboekies wat deur die Getuies uitgegee word. Maar ongeag hoe dit ontvang word, “die evangelie moet . . . verkondig word”.—Markus 13:10