Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 9/1 bl. 3-4
  • Wat is jou doel in die lewe?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat is jou doel in die lewe?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat is ’n doel wat die moeite werd is?
  • Die verskil wat ’n doel maak
  • Jy kan jou geestelike doelwitte bereik
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2023
  • Streef julle as ’n gesin geestelike doelwitte na?
    Ons Koninkryksbediening—1985
  • Hou aan om geestelike doelwitte na te jaag
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Hoe om jou geestelike doelwitte te bereik
    Ons Koninkryksbediening—2006
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 9/1 bl. 3-4

Wat is jou doel in die lewe?

DAG na dag het Kenichi maar net een gedagte gehad: ‘Vind die goud wat êrens in hierdie heuwels moet wees.’ Vyf-en-dertig jaar lank het sy soektog in die heuwels buite sy geboortedorp in Japan onverpoosd voortgeduur. “Ek het nie tyd vir ’n vrou of vriende nie” het hy altyd gesê. Hy het ’n eensame man geword wat voortgedryf is deur die soektog na die ontwykende goud.

Op die ouderdom van 65 het Kenichi gevind waarna hy gesoek het. Uiteindelik het hy die kosbare goud besit! Wat was sy reaksie nadat hy ’n lewensdoel bereik het? Hy het gesê: “Aanvanklik wou ek net ryk wees. Maar nou beteken die goud nie vir my soveel nie.”

Jy begryp moontlik waarom Kenichi so gevoel het. Hy was weliswaar ryk. Maar in die soektog het hy 35 van sy beste jare opgeoffer—jare wat hy nooit weer sou sien nie. Hierdie vriendelose man het gevind dat die verwesenliking van sy doel eenvoudig nie die moeite werd was nie. Was daar doelwitte in jou lewe wat jy hard gewerk het om te bereik, slegs om te vind dat dit nie bevredigend is nie? Nadat sielkundige Daniel Levinson die lewens bestudeer het van party “wat hulle drome verwesenlik het” het hy berig dat hierdie mense dikwels “begin vra: ‘Is dit al wat daar is? Was dit al die opofferings werd?’”

Maar jy is moontlik een van diegene wat gesien het hoe nutteloos dit is om materiële doelwitte na te jaag, en is gevolglik nie seker wat om jou doelwitte te maak nie. Die gebrek aan ’n duidelike doel in die lewe kan net so skadelik wees soos die najaging van ’n vergeefse. Dr. Bennett Leventhal, ’n kinderpsigiater, meen dat die gedragsprobleme van talle ryk jongmense te wyte is aan die feit dat hulle ouers hulle “geen doelwitte benewens materiële sukses” kan bied nie. Die voorstede van Chicago, waar dr. Leventhal se praktyk is, het een van die hoogste selfmoordsyfers in die Verenigde State—veral onder jongmense. Volgens ’n hoofartikel in die gesaghebbende Duitse koerant Frankfurter Allgemeine (12 September 1981) is “toenemende doelloosheid” die basiese oorsaak van die dramatiese toename in dwelmmisbruik, jeugmisdadigheid, depressie en sinlose misdade onder jongmense. Ja, hulle het geen geoorloofde doel in die lewe nie.

Wat is ’n doel wat die moeite werd is?

Baie se doel is net om hulle daaglikse brood te verdien. ’n Onlangse opname onder 1 000 Amerikaanse tienderjariges uit verskillende rasse en ekonomiese stande het gevind dat hulle vernaamste doelwit is om “’n werk te kry wat ek geniet”. Maar soos jy kan besef, kan so ’n doelwit dikwels frustrerend en onbevredigend wees. ’n Verterende belangstelling in die verkryging van voedsel, klere en blyplek is nietemin baie mense se enigste ware doelwit.

Die grootste Onderrigter wat ooit op aarde gelewe het, het die aandag op ’n ander doelwit gevestig. Hy het gesê: “Moenie werk om die spys wat vergaan nie, maar om die spys wat bly tot in die ewige lewe.” Hy het mense aangespoor om hulle visier hoër te stel en die voorsienings na te streef wat die ewige lewe kan bring. Watter soort persone sou daardie beloning ontvang? Volgens Jesus sou dit diegene wees wat “verseël” is met God se goedkeuring (Johannes 6:27). Jesus het dus die strewe om God se goedkeuring weg te dra en sodoende die ewige lewe in geluk te ontvang as ’n doel aan sy dissipels voorgehou.—2 Petrus 3:13.

Die verskil wat ’n doel maak

Jesus se volgelinge het dramatiese veranderinge in hulle lewenswyse aangebring omdat hulle harte op hierdie allerbelangrike doelwit gevestig was. Een van hulle, die apostel Paulus, is klaarblyklik vir ryk ouers in ’n belangrike stad in die Midde-Ooste gebore. Hy het hoër onderwys van ’n vooraanstaande Joodse leraar en regter ontvang en het groter vordering in ’n voortreflike loopbaan gemaak as baie van sy leeftyd. Maar omdat hy ‘die doel nagejaag het om die prys te verkry van die hoë roeping van God’, het hy hierdie dinge as “drek” beskou en sy lewe gewy aan werke wat God se goedkeuring wegdra. Net soos in die geval van ander Christene was Paulus se toewyding en doelbewustheid baie duidelik vir ander.—Handelinge 22:1-3; Galasiërs 1:14; Filippense 3:5-8, 14.

Soortgelyke ywer en doelbewustheid word vandag by ware Christene waargeneem. Nadat ’n Kanadese joernalis ’n byeenkoms van Jehovah se Getuies bygewoon het, het hy gesê dat die hoofrede vir hulle vermeerdering “die ongelooflike sin van verbondenheid en toewyding van die Getuies is”. Baie van hulle het ware geluk gevind deur die lewe as ’n doel na te jaag eerder as ander doelwitte.

Die negentienjarige Mark het byvoorbeeld sy doel bereik om een van die beste motorfietsjaers in die staat Kalifornië (V.S.A.) te word. “Ek het die punt bereik waar ek talle wedrenne gewen het. Ek het roem, al die geld wat ek wou hê en die liefde van enige meisie in die dorp gehad” het Mark gesê. “Maar nadat ek ’n groot wedren gewen het, het ek myself afgevra: ‘Is dit al wat daar is? Hier het ek die toppunt bereik, en waar is daardie groot gevoel dat ek iets bereik het?’” Ander het sy roemryke loopbaan as renjaer met belangstelling dopgehou en het sy lewensweg hulle doelwit gemaak. “Hulle het probeer kry wat ek gehad het, maar die hele affêre was belaglik. Ek het niks gehad nie en hulle wou dit ook hê!” Mettertyd het Mark die Bybel ernstig saam met Jehovah se Getuies bestudeer en die waarde van ’n doel wat die moeite werd is, besef. Nadat hy ’n Getuie geword het, het hy sy lewe daaraan gewy om God se goedkeuring na te streef en ander geestelik te help. Mark, wat nou 27 jaar oud is, het die volgende gesê oor sy lewe sedertdien: “Ek het nou opregte vriende gevind en smaak die genot om ander geestelik te help. Uiteindelik doen ek iets wat ander blywend tot voordeel strek.”

Maar tot watter mate beïnvloed die soeke na ’n doel ’n Christen se lewe? Hoeveel inspanning aan die kant van ’n Christen is nodig om so ’n doel te bereik? En hoe verskaf die soeke na die regte doel tevredenheid? Watter voorlopige doelwitte moet ’n mens nastreef terwyl jy die einddoel, naamlik die ewige lewe, nastreef? Hierdie vrae sal in die volgende artikel beantwoord word.

[Venster op bladsy 4]

“Ek het nou opregte vriende gevind en smaak die genot om ander geestelik te help. Uiteindelik doen ek iets wat ander blywend tot voordeel strek.”—’n Sewe-en-twintigjarige voormalige motorfietskampioen

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel