Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 6/1 bl. 20-27
  • Lojale voorstanders van die Woord van God

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Lojale voorstanders van die Woord van God
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Jesus Christus en sy apostels
  • In hedendaagse tye
  • Waarom ’n nuwe vertaling nodig was
  • Dislojaliteit teenoor God se Woord
  • Lojale voorstanders van God se naam
  • “Jehovah” in die Christelike Griekse Skrifte
  • New World Translation
    Redenering uit die Skrif
  • ’n Mylpaal vir liefhebbers van God se Woord
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Die druk en verspreiding van God se heilige Woord
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Die Nuwe Wêreld-vertaling word wêreldwyd deur miljoene waardeer
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 6/1 bl. 20-27

Lojale voorstanders van die Woord van God

“Lê jou daarop toe om jou tot beskikking van God te stel as ’n arbeider wat die goedkeuring van God wegdra, ’n arbeider wat hom vir sy werk nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid suiwer verkondig.”—2 Timotheüs 2:15, NTP.

1, 2. Wat is een manier waarop Jehovah se Getuies God se Woord lojaal voorstaan?

“READ GOD’S WORD THE HOLY BIBLE DAILY.” Daardie woorde verskyn teen die muur van ’n groot gebou in Brooklyn, New York, naby die beroemde Brooklyn-brug. Op wie se gebou verskyn hierdie woorde, en waarom?

2 Hulle verskyn op een van die drukkerye van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap, ’n godsdienskorporasie wat deur Jehovah se Getuies gebruik word. So ’n teken is presies wat ’n mens sou verwag dat Jehovah se Getuies teen die muur van een van hulle geboue sou skilder. Waarom? Omdat hulle vas glo dat die geïnspireerde psalmis die waarheid gepraat het toe hy lank gelede geskryf het: “U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad” (Psalm 119:105). Hierdie teken is maar net een van die baie maniere waarop ons Getuies toon dat ons lojale voorstanders van God se Woord is.

3. Hoe het ons lojale voorgangers God se Woord voorgestaan?

3 As sulke lojale voorstanders van die Woord het ons talle lojale voorgangers, soos die Bybel self toon. Sowat 3 500 jaar gelede was daar Moses. Dit ly geen twyfel dat hy ’n lojale voorstander van God se Woord was nie. Hy het eers ’n deel daarvan mondelings aan God se volk oorgedra en dit toe op skrif gestel. Hierdie goddelike verklarings word aangetref in die Pentateug. Nadat Jehovah God hierdie toegewyde profeet gebruik het, het hy nog baie ander gebruik wat as sy woordvoerders en skrywers gedien het—almal manne wat, net soos Moses, God se Woord lojaal voorgestaan het (2 Petrus 1:21). Daar was Samuel, Jesaja, Jeremia, Esegiel en Daniël, om maar net ’n paar te noem.

Jesus Christus en sy apostels

4. Wie was die vernaamste voorstander van die Woord, en hoe het hy getoon dat dit die geval is?

4 Die vernaamste van al daardie lojale voorstanders van God se Woord was ongetwyfeld niemand anders nie as Jehovah se eersgebore Seun, wat die “mens. Jesus Christus” geword het (Romeine 5:15). Hy het keer op keer sy Vader se Woord lojaal voorgestaan deur te sê: “Daar is geskrywe” soos die kere toe hy op Satan se versoekings en sy godsdiensteëstanders geantwoord het (Mattheüs 4:4, 7, 10; 21:13; Johannes 6:45; 8:17). Maar dit was nie al nie. Hy het God se Woord ook lojaal voorgestaan deur getrou te dien as ’n profeet groter as Moses (2 Korinthiërs 1:20). Ja, hy het gepreek en gelewe volgens die beginsel: “U [God se] woord is die waarheid.”—Johannes 17:17.

5, 6. (a) Hoe het Petrus en Paulus getoon dat hulle die Woord lojaal voorstaan? (b) Wat was in hierdie verband die doel van die “getroue en verstandige dienskneg”? (c) Waarom is die “dienskneg” tydelik in die skadu gestel?

5 Jesus se apostels het sy voorbeeld gevolg. Op Pinksterdag het die apostel Petrus God se Woord kragtig en lojaal voorgestaan deur te toon hoedat Jesus die woorde van Dawid vervul het! (Handelinge 2:22-36). En die geskrifte van die apostel Paulus is vol verwysings na die Hebreeuse Skrifte, iets wat toon hoe graag hy God se Woord lojaal voorgestaan het. Hy het die standpunt ingeneem: “God moet waaragtig wees en elke mens leuenagtig” (Romeine 3:3, 4). Trouens, Petrus, Paulus en ander getroue volgelinge van Jesus Christus het gedien as ’n “getroue en verstandige dienskneg”, ‘die getroue bestuurder’, wat deur hulle Heer, Jesus Christus, aangestel is om geestelike voedsel aan God se gemeente te gee.—Mattheüs 24:45-47; Lukas 12:42-44.

6 Na die dood van die apostels het daardie “getroue en verstandige dienskneg”-klas so te sê van die aarde af verdwyn, daar dit mettertyd in die skadu gestel is toe die Christelike koringland hoofsaaklik in ’n lap onkruid verander het.—Mattheüs 13:37-43.

In hedendaagse tye

7, 8. (a) Wanneer en hoe het die “dienskneg” weer sy verskyning gemaak? (b) Hoe is daar sedert die sewentigerjare van die vorige eeu getoon dat die “dienskneg” die Woord voorstaan?

7 Maar omtrent ’n honderd jaar gelede het die “getroue en verstandige dienskneg”-klas weer na vore getree as ’n lojale voorstander van God se Woord. Met verloop van tyd het dit vir die wêreld al hoe duideliker en opvallender geword. Die feite toon dat hierdie “dienskneg” vandag aan die Wagtoringgenootskap verbonde is.

8 Hierdie “getroue en verstandige dienskneg” bestaan uit getroue Christene wat hulle ten volle deur Christus aan Jehovah toegewy het en met God se gees verwek is. Hulle is opregte Bybelstudente wat sedert die middel van die sewentigerjare van die vorige eeu sterk na vore getree het om die Bybel as God se Woord te verdedig deur middel van boeke, boekies, tydskrifte en traktate, koerantartikels en openbare lesings. In 1886 het hulle Deel I van Studies in the Scriptures uitgegee. Hoofstuk 3, met die titel “Die Bybel as ’n Goddelike openbaring beskou in die lig van rede” het ’n meesterlike verdediging van die Bybel bevat. Nog ’n opmerklike verdediging van God se Woord was hoofstuk 1 van Deel VI (wat in 1904 uitgegee is). Die titel van die hoofstuk was “In die begin” en dit het die evolusieteorie op uiters bekwame wyse weerlê.

9-11. (a) Hoe is die “dienskneg” se lojaliteit aan die Woord gedurende die laaste deel van die 19de eeu en die vroeë deel van die 20ste eeu getoon? (b) Watter groot bydraes het die Wagtoringgenootskap sedert 1950 tot die verspreiding van God se Woord gelewer?

9 Gedurende die laaste deel van die 19de eeu en die vroeë deel van die 20ste eeu was hierdie getroue Bybelstudente, soos hulle hulself genoem het, ywerige en lojale voorstanders van die Bybel as God se Woord. Hulle het baie werke gepubliseer om die egtheid daarvan te bewys, asook baie geskrifte wat die vervulling van die profesieë daarin verklaar het en getoon het hoe mense Bybelbeginsels in hulle lewe kon toepas. In 1914 het hulle ook die agtuurlange Fotodrama van die Skepping gemaak, wat uitsluitlik voorberei is “ter verdediging van die Bybel as die Woord van God”.

10 Om God se Woord lojaal voor te staan en te toon dat hulle ’n aandeel in die verspreiding daarvan het, is die naam van hulle agentskap in 1896 verander na die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap. In 1902 het die Genootskap die regte bekom vir Wilson se The Emphatic Diaglott en toesig gehou oor die verspreiding daarvan. In 1907 het die Genootskap ’n uitgawe van die King James Version gepubliseer. Hulle het dit die “Berean Bible” genoem na die vroeë Bereaanse Christene wat ‘die Skrifte elke dag ondersoek het om te sien of die dinge wat die apostel Paulus vir hulle vertel het so was’ (Handelinge 17:11). Dit het ’n aanhangsel van meer as 700 bladsye gehad wat bestaan het uit kommentare oor bepaalde tekste, lyste tekste ter ondersteuning van sowat 40 belangrike Bybeltemas en ’n konkordansie van 100 bladsye. In 1926 het die Genootskap begin om The Emphatic Diaglott op sy eie perse in Brooklyn te druk. In 1942 het die Genootskap ’n uitgawe van die King James Version met talle waardevolle studiehulpe gepubliseer, en in 1944 het dit die American Standard Version met soortgelyke studiehulpe gepubliseer, en hierdie uitgawe het die naam Jehovah getrou weergegee waar dit in die oorspronklike Hebreeuse teks voorkom.

11 Omdat die Genootskap God se Woord lojaal voorstaan, het dit in 1950 die New World Translation of the Christian Greek Scriptures uitgegee. Die vertaling van die Hebreeuse Skrifte het stuksgewys in vyf bundels gevolg, en die volledige Bybel in een bundel het in 1961 verskyn. Van 1926 tot 1980 het Jehovah se Getuies 43 860 000 Bybels gedruk.

Waarom ’n nuwe vertaling nodig was

12, 13. Wat is die eerste rede waarom die “getroue en verstandige dienskneg” in ’n nuwe Bybelvertaling belanggestel het?

12 Waarom het hierdie “getroue en verstandige dienskneg” in ’n nuwe vertaling, naamlik die New World Translation of the Holy Scriptures, belanggestel?

13 Eerstens, omdat ouer en betroubaarder Bybelmanuskripte, baie van hulle in die oorspronklike tale, ontdek is as gevolg van die bedrywighede van argeoloë en Bybelgeleerdes. Daar bestaan dus vandag ’n paar uitstekende Bybelmanuskripte wat in die vyfde en vierde eeu van ons Gewone Jaartelling oorgeskryf is, en ’n paar papirusfragmente van die Christelike Griekse Skrifte wat uit die middel van die tweede eeu dateer. Die Dooie See-rolle van boeke van die Hebreeuse Skrifte, wat uit die dae voor ons Gewone Jaartelling dateer, het ook groter lig op Bybelgedeeltes gewerp. Hoe ouer die Bybelmanuskrip, des te meer sal dit waarskynlik ooreenkom met die geïnspireerde skrywers se oorspronklike geskrifte waarvan daar vandag nie meer een bestaan nie.

14. Wat is ’n tweede rede? Lig dit toe.

14 ’n Tweede rede waarom ’n nuwe vertaling nodig was en waarskynlik ’n verbetering op ouer vertalings sou wees, is die feit dat die Grieks van die eerste eeu nou baie beter begryp word. Met verloop van tyd het argeoloë talle papirusfragmente ontdek wat dateer uit die tyd toe die Christelike Griekse Skrifte geskryf is. Hierdie papirusfragmente, wat oor alledaagse sekulêre aangeleenthede handel, het lig gewerp op die soort Grieks wat deur die skrywers van die Christelike Griekse Skrifte gebruik is. ’n Tipiese voorbeeld is die woord “Raka” in Mattheüs 5:22 in party ouer vertalings. Omdat die vertalers nie geweet het wat dit beteken nie, kon hulle dit maar net in sinlose Engels of Afrikaans translitereer. Maar nou weet ons wat dit beteken, en gevolglik het die New World Translation dit weergegee as “’n verfoeilike, minagtende woord”. Soos jy kan sien, het ’n groter kennis van die tale waarin die Bybel oorspronklik geskryf is duideliker vertalings moontlik gemaak.

15. Lig ’n derde rede toe.

15 ’n Derde rede waarom ’n nuwe vertaling nodig is, is die feit dat die tale waarin die Bybel vertaal is met verloop van tyd verander. Die Engels wat deur die 14de-eeuse Bybelvertaler Wycliffe gebruik is, verskil baie van die taal wat deur die vertalers van die King James Version vroeg in die 17de eeu gebruik is. En sedertdien het Engels groot veranderinge ondergaan. Party woorde het in werklikheid die teenoorgestelde betekenis verkry. So het die woord “let” in koning Jakobus se dag beteken “om te verhinder” maar vandag beteken dit “om toe te laat”.

16. Wat is nog ’n rede waarom die “dienskneg” die gebied van Bybelvertaling betree het? (Kyk Handelinge 20:30 en 2 Timotheüs 4:3, 4)

16 Laastens is daar die kwessie van ’n korrekte begrip van die Bybel, wat een van die hoofredes is waarom die New World Translation gemaak is. ’n Mens kan nie daarvan wegkom nie: Jou godsdiensopvattings het ’n invloed op jou vertaling. Trouens, dit sal gewis gebeur wanneer ’n woord of teks op meer as een manier weergegee kan word. Omdat vertalers soms, bewustelik of onbewustelik, die oorspronklike taal geweld aandoen in gedeeltes wat oënskynlik strydig is met hulle belydenisse, was dit noodsaaklik dat ’n vertaling gemaak word deur manne wat getrou by God se Woord bly.

Dislojaliteit teenoor God se Woord

17. Meld ’n paar voorbeelde van onegte verse wat in die Bybelteks ingesluip het.

17 Omdat party afskrywers nie lojaal by God se Woord gebly het nie, het hele gedeeltes onegte verse ingesluip in die Textus receptus, waarop die King James Version gebaseer is. Hierdie verse is by die oorspronklike geïnspireerde teks gevoeg. Dit sluit Johannes 8:1-11 en Markus 16:9-20 in. Nog ’n voorbeeld van ’n onegte vers word in 1 Johannes 5:7, 8 aangetref. Die woorde “in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een;” steun oënskynlik die Drie-eenheid. Maar navorsing het onthul dat hierdie woorde deur ’n oneerlike afskrywer bygevoeg is meer as 1 000 jaar nadat die opskrifstelling van die geïnspireerde Skrif voltooi is.

18, 19. (a) Hoe het party vertalers met God se Woord gepeuter en dit verkeerd vertolk? (b) Hoe was dit die geval met tekste oor die toestand van die dode?

18 Dit is veral die makers van hedendaagse geparafraseerde Bybels wat hulle vryhede veroorloof het, soms in die teks, soms in voetnote. In Prediker 9:5, 10 sê Taylor se The Living Bible byvoorbeeld: “Die lewendes weet ten minste dat hulle gaan sterf! Maar die dooies weet niks.” En: “Wat jy ook al doen, doen dit goed, want in die dood, waarheen jy gaan, is daar geen werk of beplanning, geen kennis of begrip nie.” Omdat die vertaler nie met hierdie geïnspireerde woorde saamstem nie, het hy die voetnoot bygevoeg: “Hierdie verklarings is Salomo se swartgallige mening, en weerspieël nie ’n kennis van God se waarheid oor hierdie sake nie.”

19 Hierdie vertaling stel God se Woord ook in Psalm 115:17 verkeerd voor. Die Afrikaanse Bybel lui daar: “Die dode en almal wat na die stilte neerdaal, sal die HERE nie loof nie.” Maar die vertaler van The Living Bible glo klaarblyklik dat die dode elders voortlewe, en gee dit te kenne deur die vers soos volg weer te gee: “Die dode kan nie hier op aarde lofliedere tot Jehovah sing nie.”

20. Hoe het geloof in die Drie-eenheid die vertaling van Johannes 1:1 in party vertalings beïnvloed, maar watter ander akkurate weergawe is aanneemlik?

20 Maar ons moet daarop let dat ’n Bybelvertaler wat nie ’n korrekte begrip van God se Woord het nie selfs met die beste bedoelinge soms foute sal begaan. Feitlik alle vertalers glo byvoorbeeld aan die Drie-eenheid en gee Johannes 1:1 dus so weer: “En die Woord was God.” Maar dit kan ook op ’n ander manier korrek weergegee word as ’n mens in ag neem dat daar geen bepaalde lidwoord voor die Griekse woord Theos is nie. An American Translation gee dus die uitdrukking weer as: “En die Woord was goddelik.” Die New World Translation gee hierdie uitdrukking weer as: “En die Woord was ’n god.” En dit is ook nie al vertaling wat dit so vertaal nie. Dit is presies hoe ’n hersiening van aartsbiskop Newcome se vertaling die uitdrukking in 1807 vertaal het.

Lojale voorstanders van God se naam

21. Hoe verskil die meeste hedendaagse Bybelvertalings met God self?

21 Maar ’n baie ernstige manier waarop die meeste hedendaagse vertalings nie lojaal by God se Woord bly nie, is hulle versuim om reg aan God se onderskeidende naam Jehovah te laat geskied. Dit word in Hebreeus voorgestel deur ’n vierletterwoord bekend as die Tetragrammaton. Jehovah God self neem sy naam ernstig op, soos blyk uit die feit dat hy sy Hebreeuse skrywers geïnspireer het om dit altesaam 6 961 keer in die Hebreeuse Skrifte te gebruik. (Dit sluit die 134 keer in waar die Hebreeuse afskrywers dit opsetlik uitgelaat het.)

22, 23. (a) Wat toon dat dit verkeerd is om God se naam met ’n selfstandige naamwoord te vertaal? (b) Watter goeie argument voer The Jerusalem Bible in hierdie verband aan? (c) Waarom is dit volgens party deskundiges verkieslik om die naam “Jehovah” in plaas van “Yahweh” te gebruik?

22 Die feit is dat daar in die Hebreeuse Skrifte meer met sy onderskeidende naam Jehovah na die Skepper verwys word as met alle ander titels tesame. Daarbenewens het dit eenvoudig geen sin om ’n eienaam, soos Jehovah, met ’n selfstandige naamwoord soos Here te vertaal nie. Dit het net so min sin as om “Rolls Royce” (die naam van die wêreld se duurste motor) bloot met die woord “motor” of “kar” te vertaal, wanneer daar soveel ander motors of karre is. Hoewel The Jerusalem Bible “Yahweh” bo “Jehovah” verkies, voer dit ’n sterk argument aan waarom dit “Yahweh” in plaas van “Here” gebruik. Die voorwoord tot daardie vertaling sê: “As ’n mens sê: ‘Die Here is God’, is dit beslis toutologies [’n onnodige herhaling], terwyl ‘Yahweh is God’ dit nie is nie.”

23 Moet “Jahwe” dan in plaas van “Jehovah” gebruik word? Nie noodwendig nie. Kanunnik D. D. Williams van Cambridge meen dat die “getuienis aandui, nee, feitlik bewys, dat Jahwe nie die regte uitspraak van die Tetragrammaton is nie”. Die Biblia Hebraica wat in 1951 in Stuttgart gepubliseer is, gebruik vokaaltekens saam met die Tetragrammaton wat vereis dat lesers dit as “Jeh·wa’” uitspreek. Hierdie uitgawe is deur die New World Bible Translation Committee gebruik. Professor Gustav Oehler van Tübingen sê: “Ek gebruik voortaan die woord Jehovah, want hierdie naam is inderdaad meer ingeburger in ons woordeskat, en dit kan nie vervang word nie.” Die Bybelvertaler Rotherham was een van die eerstes wat die vorm “Yahweh” in sy Emphasized Bible gebruik het. Maar in sy Studies in the Psalms, wat eers na sy dood uitgegee is, het hy weer die vorm “Jehovah” gebruik en gesê dat hy dit doen as gevolg van “die wenslikheid om in aanraking te bly met die publieke oog en oor”.

“Jehovah” in die Christelike Griekse Skrifte

24. (a) Hoeveel keer gebruik die New World Translation Jehovah se naam in die Christelike Griekse Skrifte? (b) Verstrek ’n paar voorbeelde van vroeëre vertalings wat dit ook gedoen het.

24 Maar wat van die gebruik van “Jehovah” in die sogenaamde Nuwe Testament, die Christelike Griekse Skrifte? In die New World Translation verskyn dit 237 keer. Hoewel dit miskien baie buitengewoon lyk, is hierdie vertaling hoegenaamd nie die eerste een wat hierdie naam in hierdie deel van die Bybel gebruik nie. Dit is reeds in 1796 gedoen, toe Duitse vertaler Brentano die vorm “Jehovah” in Markus 12:29 gebruik het. Daar is ook die Emphatic Diaglott, ’n interlineêre vertaling van die Christelike Griekse Skrifte, wat in 1864 gepubliseer is. Dit gebruik “Jehovah” altesaam 18 keer in aanhalings uit die Hebreeuse Skrifte waar hierdie naam verskyn. Kyk byvoorbeeld Mattheüs 22:37, 44; Markus 12:29, 30; Lukas 20:42.

25. (a) Watter onlangse getuienis toon dat God se naam in die oorspronklike teks van die Griekse Skrifte voorgekom het? (b) Watter tweevoudige verandering het klaarblyklik in die tweede eeu G.J. plaasgevind?

25 Die rede waarom dit baie buitengewoon lyk dat die naam “Jehovah” in die Christelike Griekse Skrifte verskyn, is omdat daar eeue lank gemeen is dat hierdie naam nie voorgekom het in die Septuaginta-vertaling van die Hebreeuse Skrifte wat deur Jesus en sy apostels gebruik is nie. Maar onlangse ontdekkings bewys onteenseglik dat die Tetragrammaton wel in daardie dae in die Septuaginta voorgekom het. Professor Howard van die Universiteit van Georgia sê dus: “Ons weet met sekerheid dat die Griekssprekende Jode aangehou het om [die Tetragrammaton] in hulle Griekse Skrifte te skryf. Bowendien is dit hoogs onwaarskynlik dat vroeë konserwatiewe Griekssprekende Joodse Christene van hierdie gebruik afgewyk het. . . . Dit sou baie buitengewoon gewees het as hulle die Tetragram uit die Bybelteks verwyder het.” Hy maak die gevolgtrekking: “Aangesien die Tetragram nog steeds geskryf is in die kopieë van die Griekse Bybel wat die Skrifte van die vroeë kerk uitgemaak het, is dit redelik om te glo dat die skrywers van die N[uwe] T[estament] die Tetragram in die Bybelse teks behou het wanneer hulle uit die Skrifte aangehaal het. Na analogie van die voorchristelike Joodse gebruik kan ons ons dit voorstel dat die NT-teks die Tetragram in sy OT-aanhalings behou het.” Professor Howard sê ook dat toe die Tetragrammaton uit die Septuaginta verwyder is, dit ook verwyder is uit die aanhalings uit die Hebreeuse Skrifte wat in die Christelike Griekse Skrifte verskyn het. Hierdie verandering het klaarblyklik aan die begin van die tweede eeu G.J. plaasgevind. Dit ly geen twyfel dat die naam Jehovah in die Christelike Griekse Skrifte hoort, soos ons dit in die New World Translation aantref nie.

26. Watter presedente het die New World Translation vir sy breër gebruik van die Naam?

26 Die New World Translation gebruik die naam “Jehovah” ook op ander plekke benewens aanhalings uit die Hebreeuse Skrifte. Waarom? Om die leser te help om te weet of daar na Jehovah God of Jesus Christus verwys word wanneer “Here” (Kyrios) in die Griekse teks voorkom. Bestaan daar enige goeie presedent hiervoor? Ja, want ons vind hierdie gebruik in sowat 20 Hebreeuse weergawes van die Griekse Skrifte. Daar is ook baie vertalings van die Christelike Griekse Skrifte deur sendelinge wat dieselfde doen. Een van die vroegste vertalings van die Christelike Griekse Skrifte in Japannees gebruik byvoorbeeld die naam “Ehoba” (Jehovah) vryelik.

27. Ongeag waarvan en as gevolg waarvan moet lojale knegte van God die New World Translation ten volle benut?

27 Maar ongeag of die Hebreeus- en Grieksgeleerdes van die valse Christendom die New World Translation of the Holy Scriptures loof of kritiseer, die feit bly staan dat dit voortgebring is deur manne wat lojaal by God se Woord gebly het. Dit is inderdaad ’n groot hulp om ‘ons wys te maak tot saligheid en om ons te help om volkome toegerus te wees vir elke goeie werk’ (2 Timotheüs 3:15-17). Mag almal van ons wat hierdie voortreflike vertaling in ons taal beskikbaar het, geseën word wanneer ons dit ten volle benut.

HET DIE VOLGENDE GOD SE WOORD LOJAAL VOORGESTAAN, EN WAAROM SÊ JY SO?

◻ Jehovah se Getuies se hoofkwartiergeboue

◻ Jesus Christus en sy apostels

◻ Die “getroue en verstandige dienskneg” van ons dag

◻ Afskrywers wat die Bybelteks herhaaldelik oorgeskryf het

◻ Vroeë vertalers wat die Bybel in hedendaagse tale vertaal het

◻ Hedendaagse Bybelvertalers

◻ Die New World Bible Translation Committee

[Venster op bladsy 22]

’n Amerikaanse vertaler is eenkeer deur ’n Bybelleser, wat ongetwyfeld bekoor is deur die “King James Version” se ou Engels, geroskam omdat hy ‘die pragtige Engels’ daarvan ‘verfomfaai het’. Toe die vertaler probeer verduidelik het dat die prag van die boodskap belangriker as die prag van die taal is, het die beskuldiger geantwoord: “Ek gee nie ’n flenter om vir die boodskap nie. Ek is ’n ateïs.”

[Venster op bladsy 22]

Die doel van Bybelvertaling, trouens, van alle vertaling, moet wees om die vertaalde woord verstandelik en emosioneel, ja, geestelik, dieselfde uitwerking op die leser te laat hê as wat die Skrifte in die oorspronklike taal op hom sou gehad het.

[Venster op bladsy 23]

Bybelvertaler Edgar Goodspeed het die volgende oor die “New World Translation of the Christian Greek Scriptures” aan een van die Getuies geskryf: “Ek stel belang in die sendingwerk van julle mense, en in die wêreldwye omvang daarvan, en ek is baie tevrede met die vry en lewenskragtige vertaling. Dit spreek van grondige, ernstige geleerdheid, soos ek kan getuig.”

En in “The Differentiator” het Hebreeus-en-Grieksgeleerde A. Thompson van Brittanje die volgende gesê oor ’n deel van die “New World Translation of the Hebrew Scriptures”: “Ek beveel dit aan as ’n eerlike en opregte poging om die Heilige Skrif in hedendaagse Engels weer te gee. Daar is oënskynlik geen poging aangewend om enige besondere leerstellings of teorieë te steun nie.”

“Eerdman’s Handbook to the Bible” gee die “New World Translation” onder die 14 “vernaamste 20ste-eeuse Engelse vertalings” aan.

[Prent op bladsy 25]

Die Tetragrammaton in fragmente van die Septuaginta uit Egipte (Fouad Papyri 266)

Jehovah se Getuies het al lank gelede publisiteit aan hierdie papirusfragmente gegee, en die voorkoms van God se naam daarin was ’n grondslag vir die gebruik van “Jehovah” in die “New World Translation”

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel