Lojaliteit aan “die koninkryk van onse Heer en van sy Christus”
“Ek sal geneentheid vir u hê, o Jehovah, my sterkte. Teenoor iemand wat lojaal is, sal u in lojaliteit handel.”—Psalm 18:1, 25, NW.
1. (a) Hoe het Dawid op Jehovah se lojaliteit gereageer? (b) Wat het Dawid reg tot op sy oudag erken?
DIT was in werklikheid Jehovah wat Dawid uit lojaliteit koning oor die hele Israel gemaak het. Dit was in die jaar 1070 v.G.J. Uit waardering vir hierdie goddelike goedertierenheid het die gekroonde Dawid God voortdurend as sy Koning, en gevolglik as die Opperkoning oor Israel, erken. Dit is veral met verwysing na Dawid se latere afstammeling, die Messias, dat God gesê het: “Ék tog het my Koning gesalf oor Sion, my heilige berg” (Psalm 2:6). Ter erkenning van die ware hemelse Heerser het Dawid gesê: “Gee ag op die stem van my hulpgeroep, my Koning en my God, want tot U bid ek. In die more, HERE, sal U my stem hoor” (Psalm 5:2-4). Toe Dawid op sy oudag sy troon aan sy seun Salomo gegee het, het hy voor die hele vergadering van Israel tot God gebid en gesê: “Aan U, HERE, kom toe die koningskap en die selfverhoging as Hoof oor alles. En die rykdom en die eer kom van U, en U heers oor alles.”—1 Kronieke 29:11, 12.
2. (a) Watter eeue-oue geskil moet ons vandag erken? (b) Watter beslissende vraag moet ons nou persoonlik beantwoord?
2 Dit is daardie allerbelangrike feit wat koning Dawid so lank gelede openlik erken het wat ons mense, wat nie konings is nie, eweneens sonder enige skaamtegevoel behoort te erken. Volgens die Heilige Bybel is die uitoefening van Jehovah God se universele oorheersing of soewereiniteit die eeue-oue geskil. Dit is die goddelike regsaak waarby alle volke en nasies nou betrokke is en wat finaal beslis gaan word. Dit is in hierdie laaste dae dat hierdie geskil eens en vir altyd voor die ganse hemel en aarde besleg moet word. Jehovah sal die oorwinning behaal en geregverdig word, en dit sal bo alle twyfel sy universele soewereiniteit, sy koningskap, bevestig. Die beslissende vraag wat ons almal moet beantwoord, is: Wie sal nou lojaal aan Jehovah se koninkryk bly? Ons standpunt in hierdie saak sal bepaal of ons die ewige lewe gaan verkry of vir ewig vernietig gaan word!
3. Watter ramp het in 607 v.G.J. plaasgevind, maar waarom was dit nie ’n blyk van ontrouheid aan Jehovah se kant nie?
3 Maar het Jehovah God in die jaar 607 v.G.J. van sy koninkryk afstand gedoen? Waarom stel ons die vraag? Omdat hy in daardie jaar toegelaat het dat die Babiloniese Ryk onder Nebukadnesar Jerusalem en sy tempel vernietig en die koninkryk van die Jode omverwerp tot vandag toe. En tog het God nie sodoende van sy koningskap of oorheersing afstand gedoen nie. Hy was in werklikheid die Een wat beveel het dat die koninklike stad Jerusalem vernietig moes word. Dit was egter nie ’n daad van ontrouheid teenoor sy tipiese ondergeskikte koninkryk oor sy uitverkore volk nie. Hy het net opgetree volgens die bepalings van die verbond wat hy met Israel gesluit het en wat by die antieke Abrahamitiese verbond gevoeg is. Teen daardie noodlottige jaar 607 v.G.J. het Juda en die oorblyfsel van Israel skaamtelose verbondsverbrekers geword. God het dus met hulle gehandel ooreenkomstig die bepalings van sy Wetsverbond wat by die berg Sinai met Moses as die middelaar gegee is.
Die Koning met die “reg” daarop
4. Hoe toon die geïnspireerde woorde in Esegiel 21:25-27 Jehovah se lojaliteit?
4 God het sy profeet Esegiel, wat toe reeds na Babilon weggevoer was, geinspireer om van die laaste Judese koning in Jerusalem te sê: “En jy, onheilige, goddelose, vors van Israel, wie se dag gekom het in die tyd van die uiteindelike afrekening—so sê die Here HERE: Die tulband moet weg, en die kroon moet af! Dit bly nie so nie: Na bo met wat nederig is! Na onder met wat hoog is! Puinhoop, puinhoop, puinhoop sal Ek dit maak. Ook dit sal nie bly nie—totdat Hy kom wat daarop reg het, en aan Hom sal Ek dit gee.”—Esegiel 21:25-27.
5. (a) Waarom sou die koninkryk slegs tydelik ondergaan? (b) Hoe is dit meer as 600 jaar later bevestig?
5 Volgens daardie woorde was die Here God Jehovah steeds deeglik in beheer van die Koninkryksaangeleenthede. Sy ondergeskikte koninkryk op aarde sou slegs tydelik ondergaan. Op Sy bestemde tyd sou iemand kom wat die wetlike reg op die Messiaanse koningskap het, en dan sou die Here God Jehovah dit aan hom gee. Tot dan sou die uitoefening van die wetlike reg op die koningskap moes wag. Aangesien die verbondsreg aan die koninklike geslag van Dawid behoort het, moes die een wat sou kom en die koningskap ontvang ’n afstammeling van getroue koning Dawid wees. Dit was as gevolg van Dawid se lojaliteit aan Jehovah se ewige Koningskap dat hierdie verbond vir ’n ewige koninkryk in sy geslag met hom gesluit is (2 Samuel 7:8-16). Meer as ses eeue later, of in die jaar 2 v.G.J., het ’n engel van God aan ’n vroulike afstammeling van koning Dawid verskyn en haar meegedeel dat sy die moeder van die beloofde erfgenaam van Dawid sou word. Die engel het voorts gesê: “Die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee, en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie.” Hulle moes hom Jesus noem.—Lukas 1:32, 33; Mattheüs 1:18-23.
6. (a) Hoe het Jesus die regmatige erfgenaam van Dawid se koninkryk geword? (b) Waarom het dit meer as net ’n aardse koninkryk geword?
6 Deur sy geboorte in Dawid se geboortestad. Betlehem, het Jesus, die Seun van God uit die hemel, die natuurlike erfgenaam van die belofte van die Koninkryksverbond geword wat God met sy voorvader Dawid gesluit het. Hy het ’n wetlike en natuurlike reg op die Koninkryk gekry. Maar toe Jesus gedoop en met God, sy hemelse Vader, se heilige gees gesalf is, het daardie koninkryk meer geword as net ’n aardse regering oor die huis van Jakob of Israel. By daardie geleentheid is hy deur die gees van sy hemelse Vader verwek en het hy aldus ’n geestelike Seun van God met hemelse lewe in die vooruitsig geword. As sodanig is hy met God se gees gesalf en het hy die Messias geword, ’n titel wat Gesalfde beteken.—Handelinge 4:27; 10:38; Jesaja 61:1-3.
7. (a) Waarom het Jesus nie dadelik die Messiaanse koninkryk ontvang nie? (b) Watter koningskap sou sy gesalfde volgelinge intussen erken?
7 Daar die koninkryk nou ’n hemelse was, het God dit nie aan hom gegee terwyl hy op aarde was nie, en ook nie dadelik nadat hy opgevaar het hemel toe nie. Hoewel hy as Koning oor sy geestelike gemeente gesalfde dissipels op aarde erken is, moes Jesus wag tot die einde van wat hy self “die [vasgestelde] tye van die nasies” genoem het voordat hy die Messiaanse koninkryk kon ontvang.—Kolossense 1:13; Lukas 21:24, vgl. NW.
8. (a) Oor watter tydperk strek “die [vasgestelde] tye van die nasies” en watter betekenisvolle gebeure het die einde daarvan aangedui? (b) Hoe het die “teken” indrukwekkend geword, en wat is ’n besondere aspek daarvan?
8 Daardie “vasgestelde tye” het reeds in die jaar 607 v.G.J. begin toe Jerusalem die eerste keer deur die Babiloniërs vernietig en die land Judea daarna heeltemal woes gelaat is. Volgens hoofstuk 4 van Daniël se profetiese boek sou daar sewe van daardie “tye” wees wat altesaam 2 520 jaar lank sou wees. Aangesien dit begin het met die algehele verwoesting van Jerusalem en die land Juda en Benjamin vroeg in die noordelike herfs van 607 v.G.J., sou dit in die noordelike herfs van 1914 G.J. eindig. Dit is betekenisvol dat die Eerste Wêreldoorlog in die laaste helfte van 1914 uitgebreek het. So het die profesie wat Jesus gegee het oor die “teken” wat die “voleinding van die wêreld” sou aandui in vervulling begin gaan (Mattheüs hoofstukke 24, 25; Markus hoofstuk 13; Lukas hoofstuk 21). Sedertdien het die voorspelde “teken” al hoe duideliker en indrukwekkender geword. Jesus het getoon wat ’n besondere aspek van daardie teken sou wees deur te sê: “En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”—Mattheüs 24:14.
9, 10. (a) Waarvoor het die tyd nou aangebreek in verband met die geskil oor lojaliteit? (b) Hoe is daar toe van ontroue hemelse persone ontslae geraak, en met watter gevolg vir ons aarde?
9 Ja, dan het die tyd uiteindelik aangebreek om die Dawidiese koninkryk aan die verheerlikte Seun van God in die hemel te gee, want volgens God se opperwet was hy die enigste een wat die wetlike “reg” daarop het. Dit het ’n oorlog in die hemel vereis. Waarom?
10 Wel, aangesien die Messiaanse Koning toe begin heers het, het die tyd vir hom aangebreek om alle teenstanders van die nuwe regering uit die hemel te werp, naamlik Satan die Duiwel en sy legioene demone. Hulle is na die aarde neergewerp waar die demonbeheerde stelsel steeds voortbestaan het. Sulke goddelose engelemagte is vir ewig verban uit die hemele van God waar sy lojale engele woon. Daardie uitgeworpe, opstandige engele sal tot die omgewing van die aarde beperk word totdat hulle gebind en ’n duisend jaar lank in ’n afgrond van algehele bedwang gehou word. Die “oorlog in die hemel” en die uitslag daarvan word profeties in hoofstuk 12 van Openbaring beskryf. Nadat die demone uit die hemel gewerp is, het die engele se oorwinningskoor weerklink: “Nou het die heil en die krag en die koningskap die eiendom van onse God geword, en die mag van sy Christus [Messias]; want die aanklaer van ons broeders is neergewerp, hy wat hulle aanklaag voor onse God, dag en nag” (Openbaring 12:10). Wat het dit vir die bewoners van hierdie aarde beteken? Groter weë vir die hele mensdom op aarde!
’n Oordeelstyd vir die lojales
11, 12. (a) Watter toets van lojaliteit vind nou plaas? (b) Hoe is die verkondiging van die Koninkryk daarby betrokke? (c) In watter opsig is dit ’n oestyd, en hoe word die engele waarskynlik gebruik?
11 In hierdie tyd van weë vir “die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het” word mense se lojaliteit beproef—lojaliteit aan die Duiwel se gedoemde stelsel of lojaliteit aan die koninkryk van God wat nou in die hemele opgerig is in die hande van Jesus Christus (Openbaring 12:12). Dit is ’n tyd wanneer almal wat bely dat hulle dissipels van Christus is, geoordeel moet word om hulle lojaliteit aan daardie opgerigte koninkryk te bepaal. Gaan hulle vurige predikers van daardie Koninkryksevangelie “in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies” wees? Hierdie oorgangstydperk word ook vergelyk met ’n oestyd vir die skeiding van ware Christene en valse Christene. Dit is soos Jesus voorspel het in sy gelykenis van die koring en die onkruid: “Die oes is die voleinding van die wêreld, en die maaiers is die engele” (Mattheüs 13:39). Sulke engele is waarskynlik diegene wat deur die Soewereine Heer Jehovah gebruik word om sy bevel in Psalm 50:5 uit te voer: “Versamel my [lojales] vir My, hulle wat my verbond by die offer sluit [Hebreeus: diegene wat my verbond sny]!”—vgl. NW.
12 Vir naamchristene wat nie in die toets van lojaliteit aan die Koninkryk slaag nie, sê God: “Wat vertel jy nog my insettinge en neem jy my verbond in jou mond . . . ?”—Psalm 50:16.
13, 14. (a) Hoe sal jy die “verbond” van Psalm 50:5, 16 identifiseer? (b) Aan watter twee verbonde moet gesalfde Christene lojaal wees?
13 Die “verbond” waarna daar in die bogemelde verse (5, 16) verwys word, is nie ’n persoonlike verbond wat deur lojales gesluit word by ’n persoonlike offer deur ’n individu nie. Dit is eerder ’n volksverbond. Die Mosaïese Wetsverbond wat by die berg Sinai in Arabië met die nasie Israel gesluit is, is profeties gebruik om die nuwe verbond voor te stel wat deur middel van die Grotere Moses, Jesus Christus, as middelaar met die “heilige nasie” geestelike Israel, gesluit is (Jeremia 31:31-34). Op Pasganag van 33 G.J. het Jesus die Here se Aandmaal of Nagmaal ingestel en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, beseël deur my bloed, wat vir julle vergiet word” (Lukas 22:20, NTP). Die nuwe verbond is dus bekragtig deur die offerbloed wat tydens Jesus Christus se dood vergiet is. Die “lojales” met wie Jesus die nuwe verbond sluit, word ’n party in die “verbond . . . vir ’n koninkryk” (Lukas 22:28-30, NW; Mattheüs 26:29; Markus 14:25; Psalm 116:15, NW). Wat beteken dit?
14 Die Christene met wie die nuwe verbond, ’n “verbond by die offer” gesluit word, moet nie alleen daaraan lojaal wees nie, maar ook aan die “verbond . . . vir ’n koninkryk”. Dit is die geestelike Israeliete, “die Israel van God”.—Galasiërs 6:16.
15. Hoe moet geestelike Israeliete “lojales” wees?
15 Tydens hierdie “voleinding van die wêreld” is daar nog ’n oorblyfsel van sulke geestelike Israeliete op aarde. Dit is veral hulle plig om op te tree in ooreenstemming met Jesus se profesie: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies” (Mattheüs 24:14). Hulle kan nie hierdie verpligting ontduik as hulle lojaal wil wees aan “die koninkryk van onse Heer [Jehovah] en van sy Christus” nie (Openbaring 11:15, NW.) Hulle kan nie deel wees van hierdie gedoemde stelsel met sy politiek, sy selfsugtige kommersialisme en sy valse godsdiens nie. Gesalfde Christene bid opreg soos hulle Heer hulle geleer het: “Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” (Mattheüs 6:9, 10). In plaas daarvan om hulle met die politiek van hierdie verdeelde stelsel te bemoei, moet hulle onwankelbaar doen wat hulle Heer, die “Koning van die konings en die Here van die here” gesê het: “Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Openbaring 19:16; Mattheüs 6:33). Slegs op hierdie manier kan hulle bewys dat hulle die “lojales” is wat aan die geestelike Israel behoort wat ’n “verbond by die offer” die offer van Jesus, die middelaar van die nuwe verbond, met Jehovah God gesluit het.
Lojale “ander skape”
16. Hoe dui die Skrifgedeeltes wat hier gesiteer word ’n ander lojale klas met ’n groot ledetal aan?
16 Die klas toegewyde, gedoopte persone wat afgebeeld is deur die “menigte mense van gemengde bloed” wat Egipte saam met die Israeliete verlaat het en wat teenwoordig was toe die Wetsverbond by die berg Sinai gesluit is, mag vandag ook nie minder lojaal wees nie (Exodus 12:38; Numeri 11:4). Hulle stem ooreen met die “groot menigte” wat die apostel Johannes in Openbaring 7:9-17 beskryf. In Jesus se gelykenis van die skape en die bokke word hulle ook afgebeeld as “skape” wat goed doen aan die geestelike broers van die Koning Jesus Christus sedert hy in 1914 begin heers het.—Mattheüs 24:3; 25:31-46.
17. (a) Waarvan is hierdie “groot menigte” ’n deel, en saam met wie word hulle “een kudde”? (b) Hoe kan hulle “hulself stellig seën”? (Genesis 22:15-18, NW)
17 Sulke lojales behoort aan die “ander skape” wat volgens Jesus nie deel is van “hierdie [Abrahamitiese] stal” waarin die “klein kuddetjie” van 144 000 hulself bevind nie. Maar hierdie “groot menigte” lojales word “een kudde” saam met diegene in daardie “stal” deur in noue omgang met daardie erfgename van die koninkryk van hulle hemelse Vader gebring te word (Johannes 10:16; Lukas 12:32). Om saam met daardie “lojales” wat in die nuwe verbond met Jehovah God by Christus se offer is in daardie “een kudde” te bly, moet hulle ook hulle lojaliteit aan die koninkryk van onse Here God Jehovah en van sy Christus toon.
18. (a) Wat is die huidige beloning van diegene wat lojaal bly? (b) Hoe kan ons waardering vir Jehovah se lojaliteit teenoor ons betoon?
18 Die huidige beloning van almal wat lojaal bly, is groot. Uit waardering vir Jehovah God, die hemelse Koning, het koning Dawid van die ou tyd aan hom gesê: “Teenoor iemand wat lojaal is, sal u in lojaliteit handel” (Psalm 18:25, NW; 2 Samuel 22:26, NW). Dawid het ook gesê: “Die HERE het die reg lief en sal sy [lojales] nie verlaat nie” (Psalm 37:28, vgl. NW). Spreuke 2:8 verseker ons dat Hy “die weg van sy [lojales] bewaar” (vgl. NW). Ja, Jehovah is die verpersoonliking van lojaliteit, en sy Christus volg hom volmaak hierin na. Laat ons, uit waardering vir God se lojaliteit aan ons deur Christus, in hierdie oordeelsdag ons onwrikbare lojaliteit aan Jehovah en sy opgerigte koninkryk in die hande van Jesus Christus, sy allerlojaalste Seun, betoon!
TER OPSOMMING, HOE WORD LOJALITEIT GETOON DEUR—
◻ Dawid se erkenning van Jehovah as Koning?
◻ Jehovah se teregstelling van trouelose Jerusalem?
◻ Die feit dat God die Dawidiese koninkryk in 1914 aan sy Seun gegee het?
◻ Die feit dat die Messiaanse Koning die oorlog in die hemel gevoer het?
◻ Die bedrywigheid van die gesalfde oorblyfsel vandag?
◻ Die “groot menigte” se steun aan die oorblyfsel?
[Prent op bladsy 16]
Alle engelemagte wat nie aan God se koninkryk lojaal was nie, is uit die hemel gewerp toe God se lojale Seun begin heers het
[Prent op bladsy 17]
Lojaliteit aan die Koninkryk verg dat ’n persoon dit ywerig aan ander verkondig