Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 5/1 bl. 20-25
  • Toewyding en die simbool daarvan

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Toewyding en die simbool daarvan
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Simbool vir diegene wat “hulle gewillig aanbied”
  • ’n “Groot menigte” wat hulle toewyding simboliseer
  • Toewyding—Aan wie? Waarom?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Ons moet ons toewyding “dag vir dag” naleef
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • ’n Talryke groot menigte
    Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
  • Hulle is in God se uitverkore nasie gebore
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 5/1 bl. 20-25

Toewyding en die simbool daarvan

1. Hoe kan ’n teken van ’n persoon se identiteit ’n goeie ding wees, soos in die geval van opregte Jode net voor Jerusalem se vernietiging in 607 v.G.J.?

’N TEKEN of simbool van ’n persoon se identiteit of amptelike posisie kan goed, ja, noodsaaklik wees. Kort voor Jerusalem in 607 v.G.J. vernietig is, is ’n simboliese “man” byvoorbeeld uitgestuur om ’n teken te maak op die voorhoofde van Israeliete met die regte harttoestand sodat hulle nie doodgeslaan sou word nie. Slegs die paar wat verontwaardig was oor die “gruwels” wat gedoen is reg in die stad wat God se heilige stad moes wees, het die teken vir redding ontvang.—Esegiel 9:1-7.

2. Watter identifiserende faktore word in Openbaring hoofstuk 7 bespreek, en hoe hou dit met redding verband?

2 Vandag is ’n “groot verdrukking” vir die hele wêreld voor die deur. Openbaring 7:1-8 deel ons mee dat die “vier engele” op die vier hoeke van die aarde beveel is om die vier winde vas te hou sodat hulle nie waai en ’n allervernietigende storm of “verdrukking” veroorsaak voordat die vasgestelde getal uitverkorenes van God op hulle voorhoofde verseël is nie. Dit bied ook aan ’n “groot menigte” die tyd om hulself te reinig “in die bloed van die Lam” sodat hulle geïdentifiseer kan word as diegene wat waardig is om hierdie “groot verdrukking” te oorlewe.—Openbaring 7:9-14; Mattheüs 24:21, 22.

3, 4. Waaraan sou die ‘toewydingsteken’ op die Joodse hoëpriester se tulband almal herinner het?

3 In eertydse Israel is ’n priesterdom georganiseer. Moses het die spesifieke instruksies van Jehovah uitgevoer en kenmerkende klere vir die hoëpriester gemaak. Van die tulband staan daar geskrywe: “Hulle het ’n roset van suiwer goud as die simbool [teken] van hulle heilige toewyding gemaak en daarop geskryf soos die grafeerwerk op ’n seël: ‘Heilig aan die HERE’ [“Gewy aan Yahweh” The Jerusalem Bible], en hulle het ’n pers galon daaraan vasgemaak om dit bo-op die tulband te bevestig.”a—Exodus 39:30, 31; 29:6; Levitikus 8:9, The New English Bible; New World Translation.

4 Hierdie ‘toewydingsteken’ sou die hoëpriester en alle waarnemers daaraan herinner dat hy deur God aan ’n heilige diens ten behoewe van ’n toegewyde volk “gewy” of toegewy is. Hy en sy medepriesters sou die leiding daarin gee om die volk te onderrig en aanneemlike soenoffers te bring, wat hulle sou help om hulle toewyding aan God na te leef. Dit sou bydra tot die heilige, toegewyde status van die nasie, want hulle is gewaarsku dat indien hulle Jehovah sou verlaat, hy hulle op sy beurt sou verlaat en hulle aan hulle vyande sou oorgee.—Deuteronomium 28:15, 25, 63.

5. Waarom is ons situasie nie hopeloos nie al is daar vandag geen Jood genaamd Cohen wat hom as die Aäronitiese hoëpriester kan identifiseer nie?

5 Die tragiese geskiedenis van die Israeliete is vol rampe wat hulle getref het omdat hulle God se gebooie en hulle toegewyde diens aan hom verlaat het. Na die tweede vernietiging van Jerusalem en sy tempel in 70 G.J. het die hoëpriester met die toewydingsteken op sy tulband van die toneel af verdwyn. Vandag kan geen Jood met die van Cohen (wat “Priester” beteken) bewys dat hy die hoëpriester van Israel is nie. Is ons situasie dan hopeloos? Nee! Want ons lees aangaande die verheerlikte Seun van God: “So ’n hoëpriester was vir ons gepas, een wat heilig, onskuldig, onbesmet, afgeskeie van die sondaars is, en wat hoër as die hemele geword het; . . . Hy [het] Homself geoffer.”—Hebreërs 7:26, 27.

6, 7. Was Jesus in die priesterstam van Israel gebore, en hoe kon hy ’n hoëpriester word?

6 Omdat Jesus die Seun van God was, was dit nie vir hom nodig om ’n lid van die stam van Levi of van die priesterlike geslag van Aäron te wees om God se priester te word nie. Dit was so as gevolg van Jehovah God se wonderlike reëlings. Koning Dawid is deur God se gees geïnspireer om te profeteer aangaande hierdie roemryke nakomeling wat hoër sou wees as sy koninklike voorvaders: “Die HERE het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand, totdat Ek u vyande maak ’n voetbank vir u voete. U magtige septer sal die HERE uitstrek uit Sion en sê: Heers te midde van u vyande. U volk sal baie gewillig wees [sal hulle gewillig aanbied, NW] op die dag van u krygsmag; in heilige feesgewade, uit die moederskoot van die dageraad sal vir U wees die dou van u jong manskappe. Die HERE het gesweer, en dit sal Hom nie berou nie: U is priester vir ewig volgens die orde van Melgisedek.”—Psalm 110:1-4.

7 Tot vandag toe bly die verheerlikte Jesus Christus dus ’n koninklike Hoëpriester wat hoër is as eertydse Israel se owerpriesters met hulle stoflike toewydingsteken. Hy beklee daardie amp nie omdat hy ’n Levitiese priester is nie, maar deur die eed van Jehovah God.

’n Simbool vir diegene wat “hulle gewillig aanbied”

8. Waarom is ons dag die dag van Christus se “krygsmag” en hoe gaan diegene wat hulle nou gewillig aanbied te werk?

8 Die dissipels van daardie koninklike Hoëpriester, Christus Jesus, ‘bied hulle nou gewillig aan’ op die dag van sy “krygsmag”. Hulle wy hulle aan Jehovah God toe in die naam van hierdie koninklike Hoëpriester en word in water gedoop om daardie toewyding te simboliseer. Dit is die groep waarvan die volle getal finaal verseël moet word voordat die “groot verdrukking” begin. Saam met hulle metgeselle in die “groot menigte” ‘bied hulle hulle gewillig aan’ net soos doudruppels deur God se verkwikkende boodskap van redding na die mense te bring.—Openbaring 7:2-4, 9, 10, 14.

9. Watter raad gee Paulus in Romeine 12:1, 2 aan gesalfde Christene?

9 Toe die apostel Paulus 1 900 jaar gelede aan die destydse dissipels geskryf het, het hy gesê: “En nou doen ek ’n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat voor Hom goed en aanvaarbaar en volmaak is.”—Romeine 12:1, 2, NTP.

10, 11. (a) Na watter bespreking rig Paulus sy smeekbede tot die nie-Joodse Christene in Rome? (b) Hoe was hierdie reëling ’n blyk van groot ontferming aan God se kant?

10 Die gemelde smeekbede volg onmiddellik op Paulus se bespreking van die simboliese olyfboom. Net soos die takke van ’n mak olyfboom was die toegewyde nasie Israel die natuurlike afstammelinge van God se “vriend” Abraham. As sodanig het hulle eerste die geleentheid gekry om ‘Abraham se saad’ te word volgens die belofte wat aan hom gedoen is (Genesis 12:3; 22:17, 18; Galasiërs 3:16, 29; Jakobus 2:23). Maar slegs ’n oorblyfsel natuurlike Jode het Jesus as die Messias aanvaar en is oorgeplaas uit die natuurlike saad van aardse Abraham na die geestelike saad van die Grotere Abraham, Jehovah (Romeine 11:5, 7). Die res is as “takke” afgekap. Om hulle te vervang, het God na die nie-Jode of, as ’t ware, ’n simboliese wilde olyfboom, gegaan om genoeg “takke” te kry om in te ent op die geestelike mak olyfboom wat 144 000 takke sou hê wat gewortel is in die Grotere Abraham, Jehovah God, die Bron van alle seëninge.—Romeine 11:13-33; Openbaring 14:1.

11 Dit was dus ’n blyk van groot ontferming aan God se kant dat daardie Romeine en alle ander onbesnede nie-Jode ’n deel van die geestelike saad van Abraham kon word om al die geslagte van die aarde deur middel van God se koninkryk te seën (Efesiërs 2:12; Galasiërs 3:26-29). Dit het die weg van selfopoffering aan hulle opgelê. Maar dit was die enigste voorreg wat God destyds aan menseskepsele voorgehou het, en watter spesiale voorreg was dit tog! Sonder om behoorlike perke te oorskry het die apostel Paulus aan hulle geskryf en gesê: “Bied julself aan God aan as mense wat uit die dood lewend geword het, en bied God ook julle lede aan as wapens van regverdigheid. Want die sonde moet nie julle meester wees nie, omdat julle nie onder die wet [van Moses] is nie, maar onder die onverdiende goedheid.”—Romeine 6:13, 14, NW.

12. Wat behels dit vir geesgesalfde dissipels van Christus wanneer hulle meegedeel word: Bied julself aan God aan as mense wat uit die dood lewend geword het”?

12 Hoewel Paulus skryf aan diegene wat reeds toegewyde Christene, “heiliges” was, sien hy nie wat hulle aanvanklik gedoen het toe hulle hulle lewens toegewy het oor die hoof wanneer hy sê nie: “Bied julself aan God aan as mense wat uit die dood lewend geword het.” Maar hulle moes hierdie toewyding naleef, op hierdie opofferende weg volhard. As hulle dit nie gedoen het nie, sou hulle, as ingeënte takke, ook afgekap word (Romeine 1:7; 11:21, 22). Hierdie woorde wat onder inspirasie geskryf is, sou bowendien gelees word deur toekomstige dissipels van Jesus Christus en sou hulle sterk aanspoor om al die nodige stappe te doen om hierdie toegewyde, gedoopte verhouding met God te verkry en te behou. Om hulle toegewyde verhouding met God te bewaar, sou hulle ’n voortdurende stryd moes voer om hulle vleeslike lede in wapens van regverdigheid te omskep eerder as om deur sonde oormeester te word. Hulle sou dit doen in gehoorsaamheid aan Jesus se woorde: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg.”—Mattheüs 16:24.

’n “Groot menigte” wat hulle toewyding simboliseer

13. Is dit reg dat diegene met ’n aardse hoop hulle aan God toewy en dit deur waterdoop simboliseer?

13 Dwarsoor die aarde is daar vandag meer as 2 300 000 persone wat die goeie nuus van die Koninkryk verkondig, en die oorgrote meerderheid van hulle het hulself aangebied om in water gedoop te word om hulle toewyding te simboliseer. By die jaarlikse viering van die Here se Aandmaal gebruik minder as 10 000 van hulle die sinnebeeldige brood en wyn om te bely dat hulle Christus se dissipels met ’n hemelse hoop is. Maar moet al die ander hulle toewy en dit deur waterdoop simboliseer? Beslis, want hulle moet ook ’n regte verhouding met God verkry deur die Goeie Herder, Christus Jesus, om die “groot verdrukking” wat voor die deur is te oorleef en as deel van God se “nuwe aarde” ’n erfenis te ontvang.—2 Petrus 3:13; Openbaring 21:1-4.

14. Watter goeie verhouding bestaan gepas in die “een kudde” van die Goeie Herder, Christus Jesus?

14 Die oorgrote meerderheid van Jehovah se toegewyde getuies koester dus nie ’n hemelse hoop om mede-erfgename van Christus in die Koninkryk daarbo te word nie. Hulle maak nie daarop aanspraak dat hulle geestelike Israeliete is wat deur Jehovah se gees verwek is nie. Tog is hulle onafskeidbaar verbonde aan die oorblyfsel geestelike Israeliete as lede van die “een kudde” onder “een herder” Jesus Christus (Johannes 10:16). Dit is uitstekende gedrag van hulle kant en Skriftuurlik korrek.

15. (a) Wie benewens natuurlike Jode het Egipte verlaat en eindelik die Beloofde Land binnegegaan, en as wat is hulle daar beskou? (b) Wie beeld hulle vandag af?

15 Kom ons doen nou wat die teks in 1 Korinthiërs 10:18 ons sê om te doen: “Let op Israel na die vlees”. Dit was nie net natuurlike, besnede Israeliete wat Egipte onder Moses verlaat het nie. “’n Menigte mense van gemengde bloed het ook saam met hulle opgetrek, en kleinvee en beeste” (Exodus 12:38). Toe die Israeliete die Beloofde Land binnegegaan het, het daardie mense die “vreemdeling wat in jou poorte is” geword (Exodus 20:10; Levitikus 19:9, 10; Numeri 35:15). Daardie eertydse menigte mense van gemengde bloed het die hedendaagse “groot menigte” “ander skape” van die Goeie Herder, Jesus Christus, afgeskadu.—Johannes 10:14, 16; Openbaring 7:9-17.

16, 17. (a) Hoe is die “menigte mense van gemengde bloed” figuurlik saam met die Israeliete gedoop? (b) Wie het die hedendaagse, teenbeeldige Egipte verlaat, en wie sal vernietig word onder omstandighede soos dié by die Rooi See?

16 In Moses se dag het die nie-Israelitiese “menigte mense van gemengde bloed” dieselfde ervarings as die besnede Israeliete gehad, onder meer ’n wonderlike doop. Aangaande daardie doop het die apostel Paulus in 1 Korinthiërs 10:1-4 geskryf “dat ons vaders almal onder die wolk was en almal deur die see deurgegaan het, en almal in Moses gedoop is in die wolk en in die see, en almal dieselfde geestelike spys geëet het, en almal dieselfde geestelike drank gedrink het, want hulle het gedrink uit ’n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus”. In ’n figuurlike sin is die Israeliete sowel as die “menigte mense van gemengde bloed” gedoop alhoewel hulle nie letterlik nat geword het nie.

17 Daardie wonderdadige doop deur Jehovah God het hulle aan Moses as hulle Godgegewe leier oorgegee, net asof hulle werklik in hom gedoop is. Maar dit was nie ’n doop in die dood, soos in die geval van die Egiptenaars wat hulle agternagesit het nie (Exodus 14:1-15:21). Ons nader vandag ’n soortgelyke situasie. Die getroue oorblyfsel geestelike Israeliete en hulle “groot menigte” metgeselle het die teenbeeldige Egipte verlaat (Openbaring 11:7, 8). Hulle trek op na die Nuwe Orde onder Christus se duisendjarige koninkryk. Die Grotere Moses, die verheerlikte Here Jesus Christus, lei hulle. Hulle word agtervolg deur die vyandelike wêreld wat vasbeslote is om te verhoed dat hulle veiligheid bereik. Die teenbeeldige Egiptenaars is op pad na God se slagveld, Armageddon, waar hulle met vuur, vernietiging, gedoop sal word. Nie een van hulle sal oorbly om die afgryslike verhaal te vertel nie (Openbaring 16:14-16; Mattheüs 3:11, 12). Net soos by die Rooi See sal die slagting by Armageddon geen geestelike Israeliete of lede van die “groot menigte” van die Grotere Moses se “ander skape” insluit nie.

18. In watter opsig sal dit met die “groot menigte” gaan soos met die “menigte mense van gemengde bloed” nadat hulle Egipte onder Moses verlaat het?

18 Die getroue lede van die “groot menigte” strompel nie halfhartig agterna met die begeerte om na die teenbeeldige plaaggeteisterde Egipte onder sy Farao, Satan die Duiwel, terug te keer nie. Terwyl hulle stip vorentoe kyk, bly hulle net soos “een kudde” voortdurend in aanraking met die oorblyfsel geestelike Israeliete (Johannes 10:16). Net soos die “menigte mense van gemengde bloed” deur die Rooi See gegaan het, sal die lede van die hedendaagse “groot menigte” hulle na die “oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” op die kuste van verlossing bevind.

19. Veral sedert watter jaar laat die lede van die “groot menigte” van vandag hulle in water doop, en hoe het hulle hulle identiteit gereinig om reine aanbidding aan God te gee?

19 Dit is veral sedert 1935 dat diegene wat nou die “groot menigte” uitmaak hulself in water laat doop het as simbool van die onvoorwaardelike toewyding van hulself aan God deur die Grotere Moses, Jesus Christus. Hulle het hulle kenmerkende klere gewas en dit “wit gemaak in die bloed van die Lam” die Grotere Moses (Openbaring 7:9-14). Hulle gee reine aanbidding aan God.

20. Waar aanbid die lede van die “groot menigte” Jehovah, en hoe is dit in Sagaria 8:20-23 voorspel?

20 Hierdie “groot menigte” rein aanbidders is dag en nag by God se geestelike tempel (Openbaring 7:15-17). Hulle is afgeskadu deur diegene wat volgens die profeet Sagaria by Jehovah se tempel sou aanbid nadat dit in Jerusalem herbou is na die vrylating van die Israeliete uit Babilon in 537 v.G.J.—Sagaria 8:20-23.

21. Hoe “gryp” die “groot menigte” “die slip van ’n Joodse man” en waarom het hulle die hoop om die “groot verdrukking” te oorlewe?

21 Die gesindheid van daardie “tien man uit al die tale van die nasies” getuig van toegewydheid aan die een lewende en ware God, Jehovah God! Sulke toegewydheid is vandag vir Hom aanneemlik deur die grootste “Joodse man” wat ooit op aarde gelewe het, die eenmalig geofferde “Lam” Jesus Christus. Hulle volg Jesus se voorbeeld getrou na deur hulle in water te laat doop as ’n simbool van nie alleen die aanbieding van hulself nie, maar in hulle geval ook van hulle heelhartige toewyding aan dieselfde God. Deur “die slip” van die oorblyfsel van die 144 000 geestelike Jode te “gryp” kom hulle saam met daardie “volk” na die Jerusalem daarbo, ’n hemelse Jerusalem. By sy geestelike tempel, wat verteenwoordig word deur die oorblyfsel wat nog op aarde is, lewer hulle dag en nag “heilige diens” aan die allerhoogste God, Jehovah. Dit is hulle hoop om die “groot verdrukking” te oorlewe om vir ewig met hulle toegewyde diens aan God op aarde voort te gaan. Omdat hulle tereg geïdentifiseer word as gedoopte knegte van God wat hulle onvoorwaardelik aan hom toegewy het, kom hulle in aanmerking hiervoor, daar hulle verseker is: “Die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid . . . [naamlik] in gees en waarheid.”—Johannes 4:23, 24.

[Voetnoot]

a Die uitdrukking “toewydingsteken’’ is ’n vertaling van die Hebreeuse woord nezer, wat Strong’s Exhaustive Concordance of the Bible soos volg definieer: “Eintlik iets wat afgesonder is, d.w.s. (abstrak) toewyding (van ’n priester of Nasireër): gevolglik (konkreet) ongeknipte haarlokke; ook (by implikasie) ’n krans (veral van die koningshuis):—wyding, kroon, hare, afsondering.”

KAN JY HIERDIE VRAE TER HERSIENING BEANTWOORD?

◻ Hoe is die aandag gevestig op Jehovah se toewyding van die hoëpriester aan sy heilige diens?

◻ Hoe was dit vir Jesus moontlik om ’n hoëpriester te word?

◻ Wat moet diegene wat Christus se dissipels word volgens Romeine 12:1, 2 doen?

◻ Watter ooreenkoms is daar, wat doop betref, tussen die “groot menigte” en die “menigte mense van gemengde bloed” wat die Israeliete uit Egipte vergesel het?

[Prent op bladsy 22]

Die verheerlikte Jesus Christus is ’n koninklike Hoëpriester, hoër as eertydse Israel se owerpriesters met hulle stoflike simbool van toewyding aan heilige diens

[Prent op bladsy 24]

’n “Groot menigte” is in water gedoop as simbool van hulle onvoorwaardelike toewyding aan Jehovah God deur Jesus Christus. Het jy jou eweneens onvoorwaardelik aan God toegewy en dit gesimboliseer?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel