Skriflesing verkry ’n nuwe dimensie
Het jy al die genot gehad om te luister terwyl iemand wat goed lees die Bybel voorlees? ’n Goeie leser kan die dinamiese vertellings, hartverblydende gesprekke, kragtige argumente, sterk raad en ’n mag der menigte ander Bybelse besonderhede waaraan geen oppervlakkige lesing ooit reg kan laat geskied nie, laat lewe. Daarom het die Wagtoringgenootskap kassetopnames van die hele Christelike Griekse Skrifte in Engels gemaak. Dele daarvan is ook in tien ander tale beskikbaar.
Wat is die reaksie van diegene wat van die kassette gekoop het? “Ek het gedink dat ’n mens nie veel sou leer nadat jy een maal na hulle geluister het nie” het een vrou gesê. “Maar hoe verkeerd het ek tog gehad! Ek word nooit moeg daarvoor om die bande herhaaldelik te speel nie, want ek leer waarlik elke slag meer.”
Baie het gesê hoe die bande hulle gehelp het om groter waardering vir selfs bekende Skrifgedeeltes te verkry. Een persoon het dit soos volg gestel: “Wanneer ’n mens herhaaldelik daarna luister, sien jy talle goeie punte in die verslag raak wat jy mis as jy dit lees of net nou en dan na die band luister.”
Ander meen dat die opnames hulle gehelp het om gebeure in hulle verbeelding te sien en werklik getref te word deur wat plaasgevind het. “Dit was asof ek daar saam met Jesus Christus by sy aandmaal lê . . . en sien hoe Maria Jesus vir sy begrafnis salf” het ’n luisteraar met waardering gesê. ’n Een-en-tagtigjarige vrou wat al meer as 50 jaar lank een van Jehovah se Getuies is, het gesê dat die gebruik om elke dag na die bande te luister haar vir die eerste keer laat besef het dat Jesus en die apostels menslik was en beproewings en ontberings verduur het net soos ons. Sy sê dat dit haar “na aan hulle” gebring het.
’n Ander persoon, wat vertel het van ’n besoeker wat die Bybel nog net drie maande lank bestudeer het, het gesê: “Ek was verbaas oor sy Bybelkennis en sy vermoë om verse in die Bybel op te sê en aan te haal. Dit het my nie verbaas om te hoor dat hy voortdurend na die bandopnames luister terwyl hy sy motor bestuur, voordat hy saans gaan slaap en selfs vroeg in die oggend nie.” Iemand anders het gesê dat as ’n mens ’n hele week lank net na een band luister dit jou help om te onthou in watter Bybelboek sekere verse voorkom.
Baie het gevind dat hierdie Bybelbande hulle help om hulle tyd ten beste te benut. Veral huisvroue het al dikwels gesê dat die kassette hulle help om hulle gedagtes by geestelike dinge te bepaal terwyl hulle huiswerk doen of kos kook. Diegene wat elke dag werk toe ry, kan die tyd op pad werk toe en terug ‘uitkoop’ deur die kassette in hulle motor te speel. Een Getuie wat lank in die hospitaal was, was baie dankbaar oor die bande. Sy en ’n ander pasiënt, ook ’n Getuie, het gereeld tydens hulle verblyf daarna geluister.
Die apostel Paulus sê vir ons: “Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God” (Romeine 10:17). As ’n mens gereeld na Bybelbande luister, kan dit inderdaad ’n doeltreffende manier wees om jou geloof te versterk.