Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 5/1 bl. 11-14
  • Geneesheer Lukas doen die beste werk

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Geneesheer Lukas doen die beste werk
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die skrywer van die boek
  • Waarna moet jy soek?
  • Uit ’n dokter se oogpunt
  • Besorg oor vroue en gebed
  • “Goeie nuus” vir alle volke
  • Lukas—’n Geliefde medewerker
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Bybelboek nommer 42—Lukas
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Juwele uit Lukas se Evangelie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Glanspunte uit die boek Lukas
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 5/1 bl. 11-14

Geneesheer Lukas doen die beste werk

WAT is jou gesindheid teenoor dokters? Deur die geskiedenis heen het mense geneeshere waardeer. Primitiewe gemeenskappe het net soveel agting vir hulle inboorlingdokters gehad as wat hedendaagse gemeenskappe vir hulle geneeshere het. Waarom?

Hoewel ons liggaam se herstelvermoë omtrent driekwart van ons kwale sonder mediese hulp te bowe kan kom, wek pligsgetroue dokters dikwels vertroue, en dit kan ’n pasiënt baie help om te herstel. Geneeshere kan ons ook help met hulle kennis van doeltreffende rate en genesingstegnieke. Baie mense bewonder geneeshere gevolglik as persone wat besonder goeie werk verrig.

Maar die Bybel vertel van ’n toegewyde geneesheer wat van werk verander het sodat hy selfs meer nut kon stig. Hy stel vir ons ’n goeie voorbeeld oor hoe ons ons lewens tot voordeel van ander kan gebruik.

Hierdie man, Lukas, het in die eerste eeu G.J. gelewe. Paulus, die Christenapostel, het hom “die geneesheer Lukas, die geliefde” genoem, en soos ons sal sien, getuig Lukas se geskrifte daarvan dat hy ’n mediese dokter was (Kolossense 4:14). Dit is egter opmerklik dat Lukas nie bekend geraak het omdat hy siek of beseerde mense behandel het nie. Dit was eerder as gevolg van wat hy gedoen het nadat hy ’n Christen geword het.

Hoewel Lukas waarskynlik in een stad kon bly en ’n gerieflike bestaan as ’n geneesheer kon voer, het hy verkies om ontberings te verduur deur Paulus op sy sendingreise te vergesel. En later het Lukas hom toegelê op navorsing en die skryf van ’n Evangelieverslag van Jesus se lewe en bediening. “Evangelie” beteken “goeie nuus”. Deur sy pogings om die Christelike goeie nuus te versprei en sy Evangelie en die Handelinge van die Apostels te skryf, het Lukas getoon dat die nut wat ’n persoon kan stig deur middel van Christelike werke selfs ’n bekwame geneesheer se pogings om siekte of lyding tydelik te verlig, oortref. Ons kan Lukas se goeie werk beter waardeer as ons ’n paar dinge omtrent die man en sy Evangelieverslag te wete kom.

Die skrywer van die boek

Party beweer dat Lukas ’n nie-Jood was. Hulle doen dit op grond van sy Griekse naam, sy skryfstyl en die feit dat Paulus in Kolossense 4:10-14 praat van “manne wat uit die besnydenis is” en dan later vir Lukas meld. Dit is egter bloot ’n vertolking en is strydig met die aanduiding in Romeine 3:1, 2. Daar word ons meegedeel dat God sy heilige woorde aan ‘die Jode’ toevertrou het. Lukas was dus moontlik ’n Griekssprekende Jood met ’n Griekse naam.

Lukas se geskrifte bevestig dat hy ’n goeie geleerdheid gehad het. Hy het in ’n suiwer, vloeiende Griekse styl geskryf. Sy sinne is ingewikkelder as dié in die ander Evangelies, en hy het ’n groter woordeskat.

Die inleiding van die Evangelie getuig ook van Lukas se geleerde, skolastiese agtergrond. Dit begin soos volg: “Aangesien baie onderneem het om ’n verhaal op te stel oor die dinge wat onder ons al vervul is, soos hulle wat van die begin af ooggetuies . . . was, . . . het ek ook dit goedgedink, . . . nadat ek van voor af alles noukeurig ondersoek het, om dit in volgorde aan u te skrywe, sodat u met volle sekerheid kan weet die dinge waaromtrent u onderrig is” (Lukas 1:1-4). Dit kom ooreen met inleidings in klassieke Griekse literatuur.

Lukas verseker sy lesers hier dat hy nie op grond van hoorsê of bloot mondelinge tradisie te werk gaan nie. Waarom? Omdat Lukas noukeurige navorsing onder “ooggetuies” gedoen het toe hy sy Evangelie voorberei het, daar hy klaarblyklik nie ’n dissipel geword het toe Jesus nog op aarde was nie. Hy het ook eietydse verslae nagegaan om ‘alles van voor af noukeurig te ondersoek’. Dit behoort ons vertroue in Lukas se geskrifte te versterk.

Maar hoe het Lukas sy gedetailleerde informasie versamel? Op ’n sekere punt in die boek Handelinge se verslag oor Paulus se reise word daar oorgeskakel van die derde persoon (“hy”, “hulle”) na die eerste persoon (“ons”). Hieruit word daar afgelei dat Lukas tydens Paulus se tweede sendingreis by hom aangesluit het (Handelinge 16:10). Deur Paulus aan die einde van sy derde reis na Jerusalem te vergesel, sou Lukas daar die geleentheid gehad het om onderhoude te voer met manne en vroue wat ooggetuies van Jesus se bediening was (Handelinge 21:1, 7, 15-18). Lukas het daar miskien ook dokumente bestudeer soos dié wat gebruik is by die voorbereiding van die geslagslys in Lukas 3:23-38.

Die apostel Paulus was van omstreeks 56 tot 58 G.J. in Cesarea in die gevangenis. Aangesien Lukas sy Evangelie geskryf het voor die boek Handelinge (wat omstreeks 61 G.J. voltooi is) wil dit lyk of Lukas sy tyd goed benut het deur sy Evangelie te skryf terwyl Paulus in die gevangenis was.

Waarna moet jy soek?

Jy sal dit baie lonend vind om die versigtig geskrewe, hartlike en leersame boek Lukas te lees. En terwyl jy dit doen, sal jy dit nuttig vind om te let op sekere interessante kenmerke. Ons sal vier meld.

Die eerste is Lukas se gebruik van mediese uitdrukkings en beskrywings. Vroue en gebed geniet ook spesiale aandag in Lukas se Evangelie, let dus op daardie twee aspekte. Die vierde punt is die feit dat Lukas vir almal geskryf het. Om jou aptyt te wek, kan ons na ’n paar voorbeelde van hierdie vier kenmerke kyk.

Uit ’n dokter se oogpunt

Al die Evangelies lewer verslag oor Jesus se wonderwerke, maar wanneer jy Lukas lees, moet jy oplet hoe dikwels hy van Jesus se genesingswerke vertel. En let op die taal wat gebruik word of die besonderhede wat verstrek word.

Lukas maak byvoorbeeld dikwels mediese opmerkings wat Mattheüs en Markus weglaat. Hoewel daardie twee vir ons vertel dat Petrus Malgus se oor afgekap het, sê Lukas spesifiek dat dit die regteroor was en dat Jesus die afgekapte liggaamsdeel gesond gemaak het. Klink dit nie soos ’n dokter nie? (Mattheüs 26:51; Markus 14:47; Lukas 22:50, 51). Lukas berig eweneens akkuraat dat Petrus se skoonmoeder aangetas was “deur ’n hewige koors” dat Jesus ’n man “vol van melaatsheid” genees het sowel as een wie se “regterhand . . . uitgedor” was.—Lukas 4:38, 39; 5:12-14; 6:6-10.

Daar is baie ander bewyse van Lukas se mediese beskouing. Waar hy vertel dat Jesus “baie mense genees [het] van siektes en kwale en bose geeste” onderskei Lukas tussen die genesings wat bloot van ’n fisiese aard was en dié wat met demone in verband gestaan het (Lukas 7:21). Net Lukas vertel vir ons dat Jesus “in ’n sware stryd” gekom het en dat ‘sy sweet soos bloeddruppels’ geword het terwyl hy net voor sy inhegtenisname gebid het (Lukas 22:44). Die geneesheer se belangstelling is selfs in sy verslae oor Jesus se gelykenisse te bespeur. Slegs Lukas vertel vir ons van die gelykenis van die ‘barmhartige Samaritaan’. Kan jy onthou hoe die Samaritaan die wonde van die man wat hy langs die pad gevind het, behandel het? Lukas se beskrywing strook met die mediese gebruik van daardie tyd (Lukas 10:29-37). Lukas verstrek die enigste verslag oor die ‘ryk man en Lasarus’. En kan jy onthou hoe duidelik Lukas Lasarus se gesondheidsprobleem beskryf het? Slaan dit na in Lukas 16:20. Let dan ook sommer in vers 24 op die ryk man se uitroep: “Ek ly smarte.” Lukas het ’n Griekse woord vir pyn of smarte gebruik wat geen ander Bybelskrywer gebruik het nie, maar wat dikwels deur Griekse geneeshere soos Hippokrates, Aretaeus en Galenus gebruik is.

Besorg oor vroue en gebed

Wanneer jy die boek Lukas lees, kan jy let op blyke van sy simpatieke belangstelling in vroue, wat moontlik ’n aanduiding is van die medelye wat hom tot die geneeskunde aangetrek het. Hoofstuk een verstrek byvoorbeeld die enigste Evangelie-inligting oor Elisabet, die moeder van Johannes die Doper, en dit meld selfs dat sy gevoel het hoedat die kind in haar baarmoeder spring. Dieselfde hoofstuk bied verblydende insig in Maria se reaksie op die gedagte dat sy die moeder van die Messias sou wees.

Later in Lukas se Evangelie sal jy leer van: Die profetes Anna; die weduwee van Nain; die vrou wat ’n sondares was maar wat Jesus se voete met haar trane gewas het; die vroue wat Jesus met hulle besittings gedien het; die genesing van die vrou wat lank ’n bloeier was; Martha en Maria se verhouding in die huis; die “dogter van Abraham” wat 18 jaar lank gebreklik was en die gelykenisse van die vrou wat ’n muntstuk verloor het en die weduwee en die regter.—Lukas 2:36-38; 7:11-15, 36-50; 8:1-3, 43-48; 10:38-41; 13:11-16; 15:8-10; 18:2-8.

Meen jy dat daardie lys al die spesiale verwysings na vroue in die boek Lukas bevat? Wel, as jy ’n vrou is, in vroue belangstel of graag wil sien watter simpatieke belangstelling die geneesheer Lukas getoon het, kan jy sy verslag lees en kyk wat jy nog kan kry. Terwyl jy dit doen, kan jy ook oplet hoe dikwels Lukas gebed meld.

Jy sal vind dat slegs Lukas ’n aantal van Jesus se gebede meld. Dit is byvoorbeeld net Lukas wat vir ons vertel dat Jesus besig was om te bid toe die hemele oopgegaan en die heilige gees op hom uitgegiet is en dat Christus later ’n hele nag in gebed deurgebring het (Lukas 3:21; 6:12). As jy graag ander voorbeelde wil sien, kan jy Lukas 5:16; 9:18, 28; 11:1; 23:46 naslaan. Lukas deel ook met ons ’n aantal van Jesus se gelykenisse oor gebed, soos dié van die vriend wat om middernag aanklop, die onregverdige regter en die Fariseër en die tollenaar.—Lukas 11:5-13; 18:1-8, 10-14.

“Goeie nuus” vir alle volke

Mattheüs het skynbaar sy Evangelie spesiaal vir die Jode geskryf, en Markus syne vir die Romeine, maar Lukas het “goeie nuus” vir alle volke geskryf. Een aanduiding daarvan is dat Lukas Jesus se geslagslys tot by Adam, die voorvader van die hele mensdom, terugspoor. (Lukas 3:23, 38; vergelyk Mattheüs 1:1, 16.) In sy Evangelie met universele byval help Lukas ons om te sien dat Christus se boodskap en werke ’n persoon kan help ongeag sy agtergrond—’n Samaritaanse melaatse, die ryk tollenaar en selfs ’n veroordeelde dief wat langs hom aan die paal sterf (Lukas 17:11-19; 19:2-10; 23:39-43). Jy sal ook aanvoel dat Lukas ’n beroep doen op almal wat ‘verlore’ was, daar hy Jesus se gelykenisse oor die verlore skaap, die verlore penning, die verlore seun en die Fariseër en die tollenaar neergeskryf het (Lukas 15:4-32; 18:9-14). Hou jou oë oop vir ander voorbeelde waar Lukas hoop aan almal voorhou terwyl jy Lukas se Evangelie lees.

Daar is natuurlik talle ander unieke dinge wat jy in Lukas se Evangelie sal raaksien. Maar die algemene indruk moet dié wees van ’n boek wat deur ’n geleerde en noukeurige skrywer geskryf is, maar wat nogtans ’n hartlike en roerende verslag van Jesus se lewe bevat. Dit is ’n Evangelieverslag wat klem lê op die feit dat “goeie nuus” nou vir almal beskikbaar is.

Sulke “goeie nuus” word veral in ons dag waardeer. Geneesheer Lukas is die enigste Evangelieskrywer wat Jesus se profesie neergeskryf het dat die tyd sou aanbreek wanneer ‘mense se harte sal beswyk van vrees en verwagting’ weens die benoudheid op aarde gedurende die voleinding van die stelsel. En hoe bly moes dit Lukas tog nie gemaak het om Jesus se bemoedigende woorde in Lukas 21:25-28 op te teken nie!

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel