VERDRUKKING SAL EINDIG
DIE mensdom se reputasie ten opsigte van verdrukking is voorwaar skokkend. Tallose miljoene het as gevolg daarvan gely. Veral veroweringsveldtogte was ’n bron van ellende. Benewens die regstreekse lewensverlies as gevolg van sulke botsings, het die hongersnode en pessiektes wat met oorlog gepaard gaan baie lewens geëis. Hunker jy nie na die dag wanneer verdrukking en die gepaardgaande lyding tot die verlede sal behoort nie?
Daar is Iemand hoër as die mens wat bepaal het dat alle verdrukking op sy bestemde tyd sal eindig. Ja, die almagtige God Jehovah is terdeë bewus van mense en nasies se skandelike reputasie. Sy handelinge met indiwidue en nasies in die verlede waarborg dat daar ’n dag van afrekening wag. Trouens, God se geaardheid noop hom om op te tree. Sy Woord deel ons mee: “’n Jaloerse God en ’n wreker is die HERE, ’n wreker is die HERE, en vol grimmigheid; ’n wreker is die HERE vir sy teëstanders, en Hy behou die toorn teen sy vyande. Die HERE is lankmoedig, maar groot van krag; en nooit laat die HERE ongestraf bly nie.”—Nah. 1:2, 3.
Hierdie woorde is deel van Nahum se profetiese Godspraak teen Nineve, die hoofstad van antieke Assirië. Aangesien Jehovah God se standaarde nooit verander nie, verseker die geskiedenisverslag oor die vernietiging van Nineve ons dat verdrukking nie onbepaald sal voortduur nie (Mal. 3:6). Daarbenewens hoef liefhebbers van geregtigheid nie ’n dag van afrekening te vrees nie. Nahum se profesie bevat hierdie bemoediging: “Die HERE is goed, ’n toevlug in die dag van benoudheid, en Hy ken die wat by Hom skuil” (Nah. 1:7). ’n Ondersoek van Nahum se profesie kan dus baie geloofversterkend wees.
NINEVE ‘VERSTRIK NASIES’
Die profeet het na Nineve verwys as ’n “bloedstad” (Nah. 3:1). Sy krygers was soos leeus wat hulle prooi, dit wil se, die swakker volke en nasies, verskeur (Nah. 2:11-13). In die sewende eeu v.G.J., toe Nahum geprofeteer het, was die Assiriërs die skrik van die Midde-Ooste. Om vrees in te boesem, was hulle besonder wreed teenoor diegene wat geweier het om aan hulle eise te voldoen. Krygsgevangenes is lewend verbrand of afgeslag. Baie is verblind of weggelei aan toue wat vas was aan hoeke deur die neus of lippe.
Selfs die koninkryk van Juda het deur die toedoen van die Assiriërs gely. Agas was onverstandig en het ’n beroep op koning Tiglat-Pileser (Tilgat-Pilneser) gedoen om hulp teen ’n bondgenootskap tussen die koninkryke van Israel en Sirië. Alhoewel die Assiriërs die mag van hierdie bondgenootskap verbreek het, het Juda nie werklik daarby baat gevind nie. Agas het in die mag van sy sterk en veeleisende bondgenoot beland. Die Bybel berig: “Tilgat-Pilneser, die koning van Assirië, het hom oorval en hom in benoudheid gebring en hom nie gehelp nie; want Agas het die huis van die HERE en die huis van die koning en van die owerstes geplunder, en dit aan die koning van Assirië gegee sonder dat dit hom tot hulp was.”—2 Kon. 16:5-9; 2 Kron. 28:20, 21.
In die hoop dat hulle ’n mate van onafhanklikheid sou behou, het ander nasies eweneens bondgenote van Assirië geword. Maar sulke bondgenootskappe het slegs meegebring dat hulle deur die Assiriërs verdruk is en hul vryheid verloor het. Omdat die bondgenootskappe die belofte van baie hulp en beskerming ingehou het, maar eindelik tot pynlike ondervindings aanleiding gegee het, word daar van Nineve gepraat as ’n hoer wat “nasies verstrik” (Nah. 3:4, NW). Haar aanbiedinge van vriendskap het aanloklik gelyk. Maar wee die nasie wat dit aanvaar het!
Toe Hiskia, die seun en koninklike opvolger van Agas, probeer het om die Assiriese juk af te werp, het koning Sanherib die koninkryk van Juda binnegeval en die een versterkte stad na die ander verower. Slegs goddelike tussenkoms het voorkom dat Jerusalem vernietig word. Jehovah se engel het 185 000 van die Assiriese leërmag doodgemaak en Sanherib gedwing om sy planne vir die beleëring van die stad te laat vaar.—2 Kon. 18:13; 19:32-36.
NINEVE SE EINDE VOORSPEL
Die Assiriese invalle in Juda het die landbou belemmer en reise na die jaarlikse feeste by die tempel in Jerusalem bemoeilik. Wat ’n verligting sou die val van Nineve dus verskaf! Met die oog hierop is die profeet Nahum geïnspireer om te sê: “Kyk, op die berge die voete van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede laat hoor: Vier jou feesdae, o Juda, betaal jou geloftes! Want die snoodaard sal nooit weer deur jou gebied trek nie; hy is heeltemal uitgeroei!”—Nah. 1:15.
Wat kon Nineve verwag op die dag van haar onheil? Die profeet Nahum beskryf die beleërde stad. Tevergeefs maak Assirië se koning op sy “vername manne”, sy sterk krygers, staat vir beskerming (Nah. 2:5). Die verdedigers van die stad sou soos swak vroue wees. Die profesie daag Nineve uit: “Skep vir jou water vir die beleëring, versterk jou vestings, gaan in die modder en trap klei, gryp die steenvorm.” Maar alle pogings om die stad se vestings te versterk, sou nutteloos wees. Die profesie se voorts: “Daar sal die vuur jou verteer, die swaard jou uitroei.”—Nah. 3:13-15.
Nineve was “soos ’n vywer van waters” waarheen die volke en die rykdom van die nasies gevloei het. “Maar”, sê Nahum, “hulle loop weg! Staan tog, staan! Maar daar is niemand wat omdraai nie” (Nah. 2:8). Die volke wat voordeel uit Nineve getrek het, sou dus in alle rigtings ontsnap. Uitroepe tot hulle om te bly en die stad te help, sou op dowe ore val. Geweldige voorrade silwer en goud sou in die hande van die plunderende veroweraars beland.—Nah. 2:9.
Dit het vir baie ongelooflik geklink dat so iets met die “bloedstad” sou gebeur. Maar die voorspelde gebeurtenis het ’n geskiedkundige presedent gehad. Nahum het die aandag hierop gevestig met die woorde: “Is jy beter as No-Amon wat gelê het aan die Nylstrome, met waters rondom hom; wie se voorskans die groot water was, waters sy muur? Kus was sy krag en Egiptenaars sonder getal, Puteërs en Libiërs was jou tot hulp. Nogtans het dit as gevangene in ballingskap gegaan; nogtans is sy kinders by al die straathoeke verpletter, en oor sy edeles is die lot gewerp, en al sy groot manne is met kettings geboei.”—Nah. 3:8-10.
Die Assiriërs het goed geweet wat met No-Amon of Thebe gebeur het. Hulle leërs, onder aanvoering van koning Assurbanipal, het Thebe met die grond gelyk gemaak. Die stad se “muur”—sy skanse, met inbegrip van die Nyl en sy kanale—was nutteloos. Selfs die militêre steun van die Kussiete, Libiërs en Puteërs kon Thebe nie red nie.
En ook niks kon Nineve red nie. As gevolg van haar oorloë en bondgenootskappe het sy so ’n slegte reputasie verkry dat haar val met gejubel begroet sou word. “Almal wat die tyding omtrent jou verneem”, het Nahum geskryf, “slaan hulle hande saam oor jou; want oor wie het jou boosheid nie voortdurend heengegaan nie?”—Nah. 3:19.
Net soos Nahum voorspel het, is Nineve in 632 v.G.J. deur die gesamentlike magte van Babiloniese koning Nabopolassar en Cyaxares die Meder verower. Die Babiloniese Kronieke sê: “Die groot buit van die stad en die tempel het hulle weggevoer en die stad in ’n puinhoop verander.”
Die terrein van antieke Nineve is vandag nog ’n verlate woesteny, en dit strek tot regverdiging van die God van ware profesie, Jehovah. Net soos verdrukkende Nineve vernietig is, sal alle verdrukkers tydens die vinnig naderende “oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” vernietig word (Openb. 16:14). Watter wonderlike verligting sal dit tog verskaf! Mag ons dan bevind word onder diegene wat skuiling soek by die allerhoogste Soewerein.