Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w81 11/1 bl. 13-15
  • “Moenie vir mekaar omgang weier nie”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Moenie vir mekaar omgang weier nie”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’N BESKERMING
  • ’N BEPERKTE “HUWELIKSPLIG”?
  • DIE BEHOEFTE AAN KOMMUNIKASIE
  • Hoe om ’n sukses van ’n Christenhuwelik te maak
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2016
  • Twee sleutels tot ’n blywende huwelik
    Die geheim van gesinsgeluk
  • Jou beskouing van seks—Maak dit saak?
    Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind?
  • Mans, toon selfopofferende liefde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
w81 11/1 bl. 13-15

“Moenie vir mekaar omgang weier nie”

WAARVAN praat die apostel hier? Van die huweliksplig, van ’n getroude persoon se reg om geslagsomgang met sy of haar wettige huweliksmaat te geniet. Die bevel is gerig tot die Christeneggenoot en tot die eggenote.—1 Kor. 7:5, NTP.

Waarom het die apostel Paulus dit nodig gevind om so ’n intieme saak aan te roer toe hy aan Christene geskryf het? En waarom moet dit vandag vir Christene van soveel belang wees?

Die Christene in Korinthe aan wie Paulus omstreeks 55 G.J. geskryf het, het gewoon in ’n stad wat sedelik verdorwe was, soseer dat die Engelse uitdrukking “to corinthianize” gesmee is en beteken “om te hoereer”.

Ons kan saamstem dat die wêreld vandag eweneens sedelik verdorwe is. Vir baie is promiskuïteit ’n aanvaarde norm. Almal word deur middel van die TV, rolprente, boeke en advertensies met seks gebombardeer. Dit oefen geweldige druk op mense uit om hulle na die wêreld se onsedelike standaarde te skik.

Christene lewe in hierdie stelsel en ondervind dus dieselfde druk. Die feit dat party Christene voor onsedelikheid swig selfs nadat hulle baie jare lank die weg van die waarheid bewandel het, is bewys dat hierdie druk baie wesenlik en gevaarlik is. Alhoewel getroude sowel as ongetroude Christene aan hierdie druk onderwerp word, wil ons hier ons aandag veral toespits op diegene wat getroud is, diegene tot wie Paulus die woorde in 1 Korinthiërs 7:5 gerig het.

’N BESKERMING

Hoe kan jy, indien jy getroud is, verhoed dat jy—en jou huweliksmaat wat jy liefhet—voor geslagsonsedelikheid swig? Julle meen moontlik dat julle liefde vir mekaar so sterk is dat dit nooit met een van julle kan gebeur nie. Maar in die 10de hoofstuk van dieselfde brief aan die Korinthiërs het Paulus gewaarsku: “Wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.”—1 Kor. 10:8-12.

In die sewende hoofstuk van sy brief gee Paulus hierdie goeie en praktiese raad: “Weens die gevare van onsedelikheid behoort elke man sy eie vrou te hê en elke vrou haar eie man. Die man moet sy huweliksplig teenoor sy vrou nakom, en net so ook die vrou teenoor haar man. Die vrou beskik nie oor haar eie liggaam nie, maar die man; net so beskik die man ook nie oor sy eie liggaam nie, maar die vrou. Moenie vir mekaar omgang weier nie, behalwe met wedersydse toestemming en net vir ’n bepaalde tyd.”—1 Kor. 7:25, NTP.

Paulus het net soos die meeste van ons geweet watter sterk krag die geslagsdrang kan wees. Dit is waarom hy besef het dat dit nie vir alle persone moontlik sou wees om ongetroud te bly nie. Van ongetroude persone het hy geskryf: “As hulle hul nie kan beheers nie, laat hulle trou; want dit is beter om te trou as om van begeerte te brand.”—1 Kor. 7:9, 37.

Selfs in die huwelik kan ’n sedelik gevaarlike situasie ontstaan as een van die huweliksmaats sy of haar maat die huweliksplig ’n ruk lank arbitrêr ontneem, veral as dit oor ’n tydperk van weke of maande strek. Omdat daar “so baie onsedelikheid is” en weens die geslagsgevaar wat kan ontstaan, het Paulus egpare vermaan om nie “vir mekaar omgang [te] weier nie”.—Vgl. Die Lewende Nuwe Testament.

’N BEPERKTE “HUWELIKSPLIG”?

‘Wag ’n bietjie!’ sal baie vroue sê. ‘Beteken dit dat ek op my man se geslagstoenadering moet reageer net wanneer hy daarvoor lus voel? Sê nou ek voel nie dieselfde nie. Ek is dalk moeg na ’n moeilike dag soos wasdag. Of my kringloop het dalk my luim of krag beïnvloed.’

Sulke reaksies kom begryplikerwyse meer by vroue as by mans voor. Mans het skynbaar oor die algemeen ’n sterker geslagsdrang. Hulle word makliker gestimuleer. En dit is onwaarskynliker dat hulle begeerte na geslagsomgang sal afneem omdat iets hulle ontstel of verwar het. Vroue is andersyds dikwels sensitiewer omdat hulle emosies fyner ingestel is. ’n Vrou se belangstelling in seks kan dus afneem omdat sy haar oor iets bekommer, die kinders met mekaar baklei het, ’n kind siek is of haar man haar bars aangespreek het. Daarbenewens kan moegheid of die uitwerking van haar maandelikse kringloop dit vir haar ’n groot inspanning eerder as ’n genot maak om geslagsomgang te hê.—Gen. 31:35; 1 Pet. 3:7.

Paulus se woorde beteken nie dat ’n vrou (of man) omgang moet hê elke keer wanneer die ander huweliksmaat lus voel om dit te doen nie.

Daar is ander Bybelraad wat liefdevolle mans en vrouens in hierdie verband moet toepas. “Laat niemand sy eie voordeel soek nie, maar elkeen die voordeel van ’n ander”, is gepaste raad.—1 Kor. 10:24.

’n Liefdevolle Christeneggenoot sal beslis nie ongeduldig op sy “huweliksplig” aandring wanneer dit duidelik is dat sy vrou afgemat of ongesteld is nie. Hy moet probeer om die apostel Petrus se raad aan mans te onthou, naamlik om ‘verstandig met hulle [vroue] saam te lewe en aan die vroulike geslag, as die swakkere, eer te bewys’ (1 Pet. 3:7). Hierdie goeie gesindheid sal die man help om sy geslagsbegeerte op ’n eerbare en liefdevolle wyse te beperk of te beheer.

’n Vrou wat met so ’n bedagsame man geseën is, sal hom gewis meer respekteer en sal dikwels beweeg word om gewilliger te reageer daar sy weet dat haar man teer en bedagsaam sal wees.

Die verstandige en liefdevolle vrou besef dat haar man ’n behoefte aan geslagsomgang het sowel as die reg op die bevrediging van daardie behoefte, net soos die man eweneens in die behoefte van sy vrou moet voorsien. Paulus het getroude persone ernstig daaraan herinner: “Moenie vir mekaar omgang weier nie, behalwe met wedersydse toestemming en net vir ’n bepaalde tyd” (1 Kor. 7:5, NTP). Daar kan tye wees wanneer ’n egpaar, weens ’n saak wat groot geestelike of emosionele kommer wek, besluit dat geslagsomgang ’n ruk lank onvanpas sal wees. Maar dit sal met “wedersydse toestemming” wees en nie oor ’n lang tydperk nie, sodat hulle mekaar nie onder onnodige druk plaas waar dit kom by “selfbeheersing” op die gebied van geslagsbegeertes nie.

DIE BEHOEFTE AAN KOMMUNIKASIE

“Wedersydse toestemming” impliseer goeie kommunikasie. Party egpare geniet goeie kommunikasie waar dit by ander dinge kom, maar het dit nie waar dit by intieme geslagsake kom nie. Weens hulle opvoeding, ervarings of inhibisies is hulle moontlik teësinnig om sulke sake met hulle huweliksmaat te bespreek. Dit kan tot misverstande, frustrasie en baie emosionele ontsteltenis lei. Wanneer ’n vrou swyg oor ’n probleem wat haar geslagsbegeerte demp, kan haar man dit verkeerd vertolk as ’n teken dat sy hom verwerp, en dit kan rampspoedige gevolge hê. Of die man kan vind dat sy begeerte na geslagsomgang na ’n lang siekbed afgeneem het. Hy voel moontlik skaam om dit met sy vrou te bespreek. Maar watter gevolgtrekking moet sy maak as hy dit nie doen nie? Christelike liefde sal huweliksmaats beweeg om enige teësinnigheid om sulke sake openhartig met mekaar te bespreek te bowe te kom, sodat wedersydse, liefdevolle hulp verleen kan word om normale geslagsomgang te hervat. ’n Sleutel tot sulke kommunikasie is die keuse van die beste tyd. Dit is gewoonlik verstandig om die saak te berde te bring wanneer albei partye ontspanne en uitgerus is, nie wanneer spanning of moegheid die saak kan vertroebel nie.—Spr. 25:11.

Gestel dit is nodig om geslagsomgang oor ’n lang tydperk te vermy. ’n Dokter het moontlik verduidelik dat geslagsomgang ’n ernstige gevaar vir die gesondheid van een van die huweliksmaats inhou. Ook hier is goeie kommunikasie uiters belangrik. Wanneer albei huweliksmaats die situasie begryp en dit saam die hoof bied, is dit baie makliker as wanneer een huweliksmaat ‘in stilte ly’. En die een van wie dit weerhou word, kan met vertroue op Jehovah se hulp staatmaak om kuis te bly en die huweliksbed onbesmet te hou (Hebr. 13:4). Dit sal natuurlik dwaas wees as ’n mens jou intussen blootstel aan invloede of situasies wat jou besluit om kuis te bly kan ondermyn.

Ongelukkig is party huweliksmaats die huweliksplig om ander redes ontneem. In party gevalle is die huweliksplig gebruik as ’n wapen om geskille te besleg, as ’n middel om ‘’n mens se sin te kry’ of as ’n blyk van misnoeë of ontevredenheid oor ’n fout of gebrek. Maar dit is strydig met die wyse Bybelraad: “Laat die son nie ondergaan oor julle toorn nie . . . Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar” (Ef. 4:26, 32). Die liefde “hou nie boek van die kwaad nie” en dit “vergeld niemand kwaad vir kwaad nie”.—1 Kor. 13:4, 5, NTP; Rom. 12:17.

Die moontlikheid van swangerskap kan ook persone se gevoelens teenoor geslagsomgang beïnvloed. In baie lande word kennis van geboortebeperkingsmetodes en toegang tot voorbehoedmiddels as vanselfsprekend aanvaar. Nadat ’n Christeneggenoot die saak met sy vrou bespreek het, kan hy ’n gewetensgetroue, persoonlike besluit hieroor neem.

Maar in party lande is sulke kennis steeds karig en is dit moeilik om voorbehoedmiddels te bekom. Dit kan veral ’n bron van kommer wees as dit die gebruik is dat die man die een is wat besluit wanneer hy geslagsomgang met sy vrou gaan hê en wanneer nie. Hy verwag moontlik dat sy vrou op sy toenadering moet reageer. Maar selfs al het ’n man met daardie siening grootgeword, sal hy waarskynlik verander wanneer hy Bybelbeginsels leer ken (Ef. 2:3; 4:20-24). Bedagsaamheid teenoor sy vrou sal hom beweeg om haar behoeftes te begryp en, indien nodig, die soort kennis te verkry wat hom die meeste sal help om sy verhouding met haar te reguleer en wedersydse doelwitte vir die gesin te bepaal.

Nog nooit tevore was daar so ’n tyd wanneer daar van Christene verwag is om “in alle reinheid” in die geloof vas te staan nie (1 Tim. 5:2). Egpare het meer as ooit tevore mekaar se liefdevolle ondersteuning nodig om ‘hulle eie heil uit te werk’ (Filip. 2:12). As jy ’n getroude Christen is, moet jy in alles, ook in geslagsomgang, liefdevol, geduldig, teer en medelydend teenoor jou maat wees. Onthou, julle het ’n verpligting teenoor mekaar, ’n “huweliksplig”, wat julle moet nakom. “Moenie vir mekaar omgang weier nie”, maar behandel jou huweliksmaat met liefdevolle besorgdheid en bedagsaamheid. Sodoende sal jy help om jouself en jou maat teen onsedelike druk te beskerm. Sulke liefdevolle besorgdheid oor mekaar sal beslis Jehovah se seën geniet en julle lewe saam verryk.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel