Obadja waarsku en troos
“DIE gesig van Obadja.” Dit is hoe die kortste boek van die geïnspireerde Hebreeuse Skrifte begin. Dit bevat ’n waarskuwing oor ’n ramp vir die land en die volk van Edom (suidoos van die Dooie See) sowel as trooswoorde vir die knegte van God. Die inleiding daarvan lui ten dele:
“So sê die Here HERE aangaande Edom: Ons het ’n tyding van die HERE gehoor, en ’n boodskapper is uitgestuur onder die nasies om te sê: Staan op, en laat ons klaarmaak om teen hom te veg!”—Obad. 1.
Die naam “Obadja” beteken “dienskneg van Jah [Jehovah]”; en dit is al wat ons van die skrywer van hierdie profetiese boek af weet. Maar die boek Obadja is voorwaar vir hedendaagse aanbidders van God nuttig. Jehovah se handelinge met Edom, soos deur Obadja uitgebeeld, bied ’n waarskuwende voorbeeld van hoe die Skepper eendag die aarde gaan bevry van almal wat God en sy volk haat. Obadja bemoedig aanbidders van God andersyds nie alleen met die belofte van vryheid van verdrukking nie, maar met die belofte van ewige voorspoed.
Obadja se boodskap word gepas ’n “gesig” genoem (Obad. 1). Die Skrif verwys dikwels na profete as ‘sieners’ (1 Sam. 9:9; 2 Sam. 15:27; 1 Kron. 9:22). Selfs al het die profeet nie iets sigbaars gesien nie, is profetiese mededelings dikwels gesigte genoem.—Dan. 9:24; Nah. 1:1.
TROTSE EDOM VERNEDER
Volgens Obadja sou God nasies opwek om vernietigende oorlog teen die Edomiete te voer. Daar Obadja se berig hieroor van “die Here HERE” af gekom het, was die vervulling daarvan gewis.
Die Edomiete kon geneig wees om met so ’n voorspelling van onheil vir hulle nasie te spot. Die gebied van Edom was bergagtig. Vroeë setlaars in daardie gebied is “Horiete”, wat grotbewoners beteken, genoem (Gen. 14:6; Deut. 2:12, 22). Hulle ligging hoog in moeilik bereikbare berge het die Edomiete oorgerus laat voel wat vyandelike aanvalle betref.
In die lig hiervan het God deur Obadja gesê: “Kyk, Ek het jou klein gemaak onder die nasies, jy is baie verag. Die vermetelheid van jou hart het jou bedrieg, o jy wat woon in die rotsklowe, op hoë plekke bly, en in jou hart sê: Wie sal my op die aarde neerwerp? Al woon jy so hoog soos die arend en al was jou nes tussen die sterre gestel—daarvandaan sal Ek jou neerwerp, spreek die HERE.”—Obad. 2-4.
Die vermetele Edomiete sou “klein” gemaak word in getal sowel as waardigheid. God sou hulle ondergang bewerkstellig ongeag hoe hoog hulle hulle woning gemaak het of hoe afgeleë dit was.
DEEGLIK “DEURSOEK”
Jehovah toon vervolgens hoe deeglik Edom se vyande daardie nasie sou verwoes: “As daar diewe, as daar nagrowers na jou gekom het—hoe is jy vernietig!—sou hulle nie net soveel gesteel het as wat vir hulle genoeg was nie? As daar druiwesnyers na jou gekom het, sou hulle nie die na-oes laat oorbly het nie?”—Obad. 5.
Diewe steel gewoonlik slegs ‘soveel as wat vir hulle genoeg is’ en stroop nie ’n huis kaal nie. Druiwesnyers sal eweneens altyd ’n paar trossies laat oorbly. Maar dit sou nie die geval met Edom wees nie.
Obadja verduidelik: “Hoe is Esau deursoek! Is sy verborge skatte deursnuffel!” (Obad. 6). Vyande van die Edomiete sou elke grot en skuilplek deursoek. Hulle sou geen verborge skatte laat oorbly nie.
GEEN HULP VIR EDOM NIE
Wanneer vyandelike nasies met oorlogsvoorbereidings teen Edom begin het, sou daardie nasie natuurlik hulp soek by volke wat voorgegee het dat hulle sy intieme bondgenote is. Maar wanneer die Edomiete boodskappers na hulle sou stuur om hulp en beskerming teen invalsmagte te vra, sou die boodskappers “tot by die grens” van daardie lande waar hulle hulp gaan soek het, gestuur word. Hulle sou onder begeleiding uitgeneem word sonder enige belofte van hulp. Edomiete wat oor die grense van omliggende lande gevlug het om aan die dood te ontkom, kon dieselfde behandeling verwag. Hulle sou toegang geweier word of verban word (Obad. 7). Selfs onder die Edomiete sou daar niemand wees wat verstandig genoeg of sterk genoeg sou wees om die ramp af te weer nie.—Obad. 8, 9.
DIE REDE
Die rede vir die onheil wat Edom sou tref, word met hierdie woorde verstrek: “Weens die geweld teen jou broer Jakob gepleeg, sal skande jou bedek, en jy sal uitgeroei word vir ewig. Die dag toe jy daarby gestaan het, die dag toe vreemdes sy rykdom weggevoer en uitlanders deur sy poorte gedring en die lot oor Jerusalem gewerp het—toe was jy ook soos een van hulle!”—Obad. 10, 11.
Die Israeliete het van Jakob afgestam, en die Edomiete van sy tweelingbroer, Esau. Omdat Jakob die eersgeboortereg by sy broer gekoop het, het Esau begin om haatdraend teenoor Jakob te wees (Gen. 25:27-34; 27:30-45). Dwarsdeur hulle geskiedenis het die Edomiete so ’n haat teenoor Israel geopenbaar (Num. 20:14-21; 2 Kon. 8:20-22; 2 Kron. 21:8-10; 28:16-20; Ps. 83:5-9). Gedurende die negende eeu v.G.J. het Jehovah Edom deur die profeet Amos veroordeel “omdat hy sy broer met die swaard agtervolg het en sy jammergevoel verstik het, sodat sy toorn altyd verskeur en hy gedurigdeur sy grimmigheid behou”.—Amos 1:11.
Meer as twee eeue later was daar ’n besonder venynige betoning van sulke haat toe die Babiloniërs onder koning Nebukadnesar Jerusalem en sy tempel vernietig het. Met verwysing na hierdie gebeurtenis het die geïnspireerde psalmis later geskryf: “HERE, bring in herinnering vir die kinders van Edom die dag van Jerusalem, hulle wat gesê het: Breek weg, breek weg, tot op die grond met hom!”—Ps. 137:7.
Deur Obadja het God Edom weens so ’n vyandige gees veroordeel en gesê: “En tog moes jy nie met genot die dag van jou broer aanskou het nie, die dag van sy onheil, en jou nie verheug het oor die kinders van Juda op die dag van hulle ondergang nie . . . En jy moes nie gestaan het op die kruispad om sy vlugtelinge uit te roei nie en nie sy vrygeraaktes uitgelewer het op die dag van benoudheid nie” (Obad. 12-14). Edom se verraad teenoor Israel het selfs die punt bereik waar hulle indiwidue agternagesit het wat vir hulle lewens gevlug het en die dan aan die vyand oorgelewer het. Maar deur dit te doen, het die Edomiete hulle onkunde oor ’n lewensbelangrike feit getoon. Hoe?
‘DIE DAG VAN JEHOVAH IS NABY’
Jehovah het voorts gesê: “Want die dag van die HERE is naby oor al die nasies; soos jy gedoen het, sal aan jou gedoen word, jou daad sal op jou hoof neerkom. Want net soos julle gedrink het op my heilige berg, sal al die nasies gedurigdeur drink, ja, hulle sal drink en swelg en word asof hulle nooit bestaan het nie.”—Obad. 15, 16.
Edom het saam met die vyande van God se volk die ondergang en plundering van Israel met dronkenskap en swelgery gevier. Nou sou dit hulle beurt wees om uit ‘die beker’ van God se toorn te drink. Nie alleen die Edomiete nie, maar al die nasies wat God se uitverkore volk vyandiggesind was, sou eendag word “asof hulle nooit bestaan het nie”.
EDOM WORD SOOS ’N “STOPPEL”
Jehovah het beloof dat die nakomelinge van Abraham, Isak en Jakob die land wat later Palestina genoem is in besit sou neem (Gen. 15:7, 17-21). Hulle het dit in besit geneem, maar is deur die Babiloniërs weggevoer sodat die land ’n verlate woesteny was.
Deur Obadja het Jehovah gewaarborg dat die Israeliete dit weer in besit sou neem, want God het deur die profeet gesê: “Maar op die berg Sion sal daar ontkoming wees, en dit sal ’n heiligdom wees; en die huis van Jakob sal sy besittings in besit neem. Dan sal die huis van Jakob ’n vuur wees en die huis van Josef ’n vlam, maar die huis van Esau ’n stoppel; en die sal hulle aan die brand steek en hulle verteer, sodat daar geen oorblyfsel vir die huis van Esau sal wees nie, want die HERE het dit gespreek.”—Obad. 17, 18.
Israel sou nie langer in die tweestammeryk, wat uit Juda en Benjamin bestaan het (soms “Jakob” in die Bybel genoem), en die noordelike tienstammeryk (soms “die huis van Josef” genoem) verdeel wees nie. Hierdie woorde voorspel dat al twaalf stamme van Israel in eenheid herstel sou word. Edom, daarenteen, sou verdwyn. Die Israeliete sou daardie nakomelinge van Esau verteer soos vuur stoppels verteer.
Is Edom toe werklik verwoes? Ja, en ter vervulling van God se mededeling deur Obadja het nie-Jode (vers 1) sowel as Israeliete (vers 18) ’n deel daaraan gehad. Beskou asseblief van die getuienis wat bevestig dat die voorspellings vervul is.
Antieke inskripsies verhaal die verowering van Edom gedurende die sesde eeu v.G.J. deur Babiloniese magte onder koning Nabonidus. Volgens C. J. Gadd, ’n deskundige op die gebied van Babiloniese geskiedenis en literatuur, het die troepe van Nabonidus wat Edom en Tema verower het Joodse soldate ingesluit. In sy kommentaar hieroor het John Lindsay die volgende geskryf in ’n artikel met die titel “Die Babiloniese konings en Edom”: “Die woorde van die profeet is dus ten minste gedeeltelik vervul toe hy geskryf het dat Yahweh gesê het: ‘Ek sal my wraak op Edom in die hand van my volk Israel gee’ (Eseg. 25:14). Ons het ook ’n gedeeltelike vervulling van die woorde van Obadja wat gesê het dat Edom se ‘bondgenote’ en ‘vriende’ hulle sou ‘bedrieg’ ‘oorweldig’ en ‘’n strik onder hulle sou lê’. Hier kan ons ’n verwysing sien na die Babiloniërs wat in die dae van Nebukadresar gewillig was om hulle in Juda se verlies te laat deel. Maar onder Nabonidus het hulle eens en vir altyd Edom se kommersiële en handelsoogmerke bedwing (vgl. Obad. 1 en 7)”—Palestine Exploration Quarterly, Januarie-Junie 1976, bladsy 39.
Dit pas goed in by Bybelse getuienis oor die tyd van Edom se ondergang. Soos reeds gemeld is, was Edom ’n onafhanklike nasie toe Jerusalem deur Nebukadnesar se magte verower is. Maar die boek Maleagi, wat omstreeks die middel van die vyfde eeu v.G.J. (sowat 100 jaar na Nabonidus se kampanje in Edom) geskrywe is, sê dat God reeds Edom se “gebergte ’n wildernis gemaak en sy erfdeel aan die jakkalse van die woestyn prysgegee” het.—Mal. 1:3.
“DIE KONINKRYK SAL AAN DIE HERE TOEBEHOORT”
Die Israeliete sou weer die grond in besit neem waarvandaan hulle tydens hulle ballingskap in Babilon weggevoer is. Daarbenewens beskryf die boek Obadja ’n uitbreiding van Israel se gebied in alle rigtings. Hulle sou suidwaarts tot in die Negeb uitbrei, ooswaarts tot in Edom se vorige tuisland en weswaarts tot in die Laeveld en die land van die Filistyne. Uitbreiding in die noordwestelike rigting sou dwarsdeur die Feniciese kusland tot by Sarfat tussen Tirus en Sidon strek. Noordooswaarts sou hulle deur die hele gebied uitbrei wat voorheen aan die tienstammeryk van Israel behoort het, onder meer Efraim, Samaria en die gebied van Gilead oos van die Jordaanrivier. In plaas daarvan om in ’n afgeleë, vreemde land aangehou te word, sal ballinge van Jerusalem selfs van Sefarad (vermoedelik in Klein-Asië) terugkeer en erfenis in besit neem wat suidwaarts tot in die Negeb uitgebrei het waar die Edomiete tevore grond wederregtelik in besit geneem het.—Obad. 19, 20.
Die boek Obadja eindig op ’n bemoedigende noot wanneer dit sê: “Dan sal daar verlossers die berg Sion opgaan om die gebergte van Esau te oordeel, en die koninkryk sal aan die HERE toebehoort” (Obad. 21). In die dae na die dood van Josua het God rigters verwek om Israel van verdrukking te “verlos” en om gebied terug te kry wat deur die vyand verower is. En Obadja sê dat die gerepatrieerde Israeliete in ’n soortgelyke hoedanigheid sou optree.—Rigt. 2:16.
By uitbreiding waarborg hierdie profesie dat alle vyande van God eendag uitgewis sal word en dat goddelike heerskappy dwarsoor die aarde sal strek (Ps. 22:28, 29). Daardie waarskuwingsboodskap en trooswoorde van die ware God af verdien om so wyd moontlik uitgedra te word. Verkondig jy dit gereeld aan ander?
[Prent op bladsy 24]
EDOM
Obadja se boodskap—’n waarskuwing oor vernietiging vir Edom en ’n belofte van herstelling vir God se volk