Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • ip-1 hfst. 27 bl. 356-368
  • Jehovah stort verontwaardiging oor die nasies uit

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah stort verontwaardiging oor die nasies uit
  • Jesaja se profesie—Lig vir die hele mensdom I
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Skenk aandag, o nasies
  • ’n Dag van vergelding
  • Die Christendom se donker toekoms
  • Jehovah se woord sal vir seker vervul word
  • Antitipiese, hedendaagse Edom gaan weggedoen word
    Wêreldwye veiligheid onder die “Vredevors”
  • Bybelboek nommer 31—Obadja
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Obadja waarsku en troos
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Oorsig van Obadja
    Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
Sien nog
Jesaja se profesie—Lig vir die hele mensdom I
ip-1 hfst. 27 bl. 356-368

Hoofstuk sewe-en-twintig

Jehovah stort verontwaardiging oor die nasies uit

Jesaja 34:1-17

1, 2. (a) Waarvan kan ons seker wees wat Jehovah se wraak betref? (b) Wat bereik God deur sy wraak uit te oefen?

JEHOVAH GOD is nie net geduldig met sy getroue knegte nie, maar wanneer sy voorneme dit regverdig, ook met sy vyande (1 Petrus 3:19, 20; 2 Petrus 3:15). Jehovah se teenstanders waardeer moontlik nie sy geduld nie en beskou dit dalk as ’n onvermoë of ’n onwilligheid om op te tree. Maar, soos die 34ste hoofstuk van Jesaja toon, eis Jehovah altyd op die ou end rekenskap van sy vyande (Sefanja 3:8). God het Edom en ander nasies ’n ruk lank toegelaat om sy volk ongehinderd teë te staan. Maar Jehovah het sy bestemde tyd vir vergelding gehad (Deuteronomium 32:35). Net so sal Jehovah op sy vasgestelde tyd sy wraak uitoefen op al die elemente van die teenswoordige goddelose wêreld wat sy soewereiniteit teëstaan.

2 Die vernaamste rede waarom God sy wraak uitoefen, is om sy soewereiniteit te bewys en sy naam te verheerlik (Psalm 83:13-18). Wanneer hy vergelding bring, bevestig dit ook dat sy knegte sy ware verteenwoordigers is en verlos dit hulle uit ongewenste omstandighede. Daarbenewens is Jehovah se wraak altyd in volle ooreenstemming met sy geregtigheid.—Psalm 58:10, 11.

Skenk aandag, o nasies

3. Watter uitnodiging rig Jehovah deur middel van Jesaja aan die nasies?

3 Voordat Jehovah die aandag vestig op die vergelding wat hy oor Edom gaan bring, rig hy deur middel van Jesaja ’n ernstige uitnodiging aan al die nasies: “Kom nader, o nasies, om te hoor; en volksgroepe, skenk aandag. Laat die aarde en alles wat dit vul, luister, die vrugbare land en sy hele opbrengs” (Jesaja 34:1). Die profeet het al herhaaldelik teen goddelose nasies gepraat. Nou gaan hy die Goddelike oordeelsboodskappe teen hulle opsom. Het hierdie waarskuwings enige betekenis vir ons dag?

4. (a) Watter beroep word in Jesaja 34:1 op die nasies gedoen? (b) Bewys Jehovah se oordeel oor die nasies dat hy ’n wrede God is? (Sien venster op bladsy 363.)

4 Ja. Die Soewerein van die heelal het ’n geskil met al die elemente van hierdie goddelose stelsel van dinge. Daarom word ’n beroep op die “volksgroepe” en “die aarde” gedoen om die Bybelse boodskap wat Jehovah wêreldwyd laat verkondig het aan te hoor. In woorde wat soortgelyk is aan dié in Psalm 24:1 sê Jesaja dat die hele aarde hierdie boodskap sal hoor—’n profesie wat in ons tyd vervul is, aangesien Jehovah se Getuies die predikingswerk “tot in die mees afgeleë deel van die aarde” doen (Handelinge 1:8). Maar die nasies het nie geluister nie. Hulle het nie die waarskuwing van hulle naderende vernietiging ernstig opgeneem nie. Maar dit sal natuurlik nie keer dat Jehovah sy woord vervul nie.

5, 6. (a) Waarvoor roep God die nasies tot verantwoording? (b) Hoe is dit waar dat “die berge sal smelt van hulle bloed”?

5 Die profesie beskryf nou die donker vooruitsigte vir goddelose nasies—’n algehele kontras met die blink hoop van God se volk wat later beskryf word (Jesaja 35:1-10). Die profeet sê: “Die verontwaardiging van Jehovah is teen al die nasies gerig, en sy woede teen hulle hele leër. Hy sal hulle aan vernietiging oorgee; hy sal hulle aan die slagting oorlewer. En hulle gesneuweldes sal uitgewerp word; en wat hulle lyke betref, die stank daarvan sal opstyg; en die berge sal smelt van hulle bloed.”—Jesaja 34:2, 3.

6 Die aandag word op die bloedskuld van die nasies gevestig. Vandag het die nasies van die Christendom die allergrootste bloedskuld. Hulle het ’n ontsaglike hoeveelheid mensebloed in twee wêreldoorloë en in talle kleiner konflikte op die aarde vergiet. Wie moet tereg rekenskap eis vir al hierdie bloedskuld? Niemand anders nie as die Skepper, die groot Lewegewer (Psalm 36:9). Jehovah se wet het die standaard gestel: ‘Jy moet siel vir siel gee’ (Eksodus 21:23-25; Genesis 9:4-6). Ooreenkomstig hierdie wet sal hy die bloed van die nasies laat vloei—tot die dood toe. Die stank van hulle lyke wat nie begrawe is nie, sal die lug vul—waarlik ’n skandelike dood! (Jeremia 25:33). Die bloed wat as terugbetaling geëis word, sal genoeg wees om die berge te laat smelt, asof hulle as ’t ware daarin opgelos sal word (Sefanja 1:17). Wanneer hulle strydmagte heeltemal vernietig word, sal die wêreldse nasies sien hoe hulle regerings, wat in Bybelprofesieë soms as berge uitgebeeld word, tot ’n val kom.—Daniël 2:35, 44, 45; Openbaring 17:9.

7. Wat is “die hemel”, en wat is ‘die leër van die hemel’?

7 Jesaja gebruik weer duidelike beeldspraak en sê verder: “Die hele leër van die hemel sal verrot. En die hemel sal opgerol word, net soos ’n boekrol; en sy hele leër sal verskrompel, net soos die blare verskrompel en van die wingerdstok afval en soos ’n verskrompelde vy wat van die vyeboom afval” (Jesaja 34:4). Die uitdrukking “die hele leër van die hemel” beteken nie die letterlike sterre en planete nie. Verse 5 en 6 praat van ’n swaard van teregstelling wat in daardie “hemel” drup van bloed. Gevolglik moet dit ’n simbool van iets in die mensewêreld wees (1 Korintiërs 15:50). Weens hulle verhewe posisie as hoër owerhede, word die regerings van die mensdom vergelyk met die hemel wat oor die aardse mensegemeenskap heers (Romeine 13:1-4). ‘Die leër van die hemel’ verteenwoordig dus die gesamentlike leërs van die regerings van die mensdom.

8. Hoe is die simboliese hemel “soos ’n boekrol”, en wat gebeur met hulle ‘leërs’?

8 Hierdie “leër” sal “verrot”, of vergaan, soos iets wat bederfbaar is (Psalm 102:26; Jesaja 51:6). Vir die blote oog lyk die letterlike hemel bo ons asof dit gebuig is, soos ’n ou boekrol, waarop gewoonlik aan die binnekant geskryf is. Nadat iemand gelees het wat aan die binnekant van ’n boekrol geskryf staan, het hy die boekrol toegerol en weggesit. Net so ‘moet die hemel opgerol word, soos ’n boekrol’, deurdat menseregerings tot hulle einde moet kom. Hulle sal die laaste bladsy van hulle geskiedenis bereik en by Armageddon vernietig word. Hulle indrukwekkende ‘leërs’ sal net soos dooie blare van ’n wingerdstok of soos “’n verskrompelde vy” van ’n vyeboom afval. Hulle tyd sal verby wees.—Vergelyk Openbaring 6:12-14.

’n Dag van vergelding

9. (a) Wat is die oorsprong van Edom, en watter verhouding het tussen Israel en Edom ontstaan? (b) Watter beslissing het Jehovah oor Edom gevel?

9 Die profesie sonder nou ’n nasie uit wat in Jesaja se tyd bestaan—Edom. Die Edomiete is afstammelinge van Esau (Edom), wat sy geboortereg vir brood en ’n lensiegereg aan sy tweelingbroer, Jakob, verkoop het (Genesis 25:24-34). Omdat Jakob toe in sy plek die geboortereg ontvang het, is Esau met haat vir sy broer vervul. Later het die nasie Edom en die nasie Israel vyande geword, al het hulle van tweelingbroers afgestam. Weens hierdie vyandige gesindheid teenoor God se volk het Edom hom Jehovah se wraak op die hals gehaal, en Hy sê nou: “In die hemel sal my swaard beslis drup. Kyk! Op Edom sal dit afkom, en op die volk wat in geregtigheid deur my aan vernietiging oorgegee is. Jehovah het ’n swaard; dit sal vol bloed word; dit sal besmeer word met die vet, met die bloed van jong ramme en bokke, met die niervet van ramme. Want Jehovah het ’n offerande in Bosra, en ’n groot slagting in die land Edom.”—Jesaja 34:5, 6.

10. (a) Vir wie sal Jehovah verneder wanneer hy sy swaard “in die hemel” swaai? (b) Watter gesindheid lê Edom aan die dag wanneer Juda deur Babilon aangeval word?

10 Edom woon in ’n hoë bergstreek (Jeremia 49:16; Obadja 8, 9, 19, 21). Maar selfs daardie natuurlike verskansings sal van geen hulp wees wanneer Jehovah sy swaard van oordeel “in die hemel” swaai en Edom se heersers uit hulle verhewe posisie neerwerp nie. Edom is swaar bewapen, en sy strydmagte trek deur hoë bergreekse om die land te beskerm. Maar die magtige Edom bied geen hulp wanneer Juda deur die leërs van Babilon aangeval word nie. Edom is eerder verheug om te sien hoe die koninkryk van Juda omvergewerp word en hulle moedig die veroweraars aan (Psalm 137:7). Edom sit selfs Jode agterna wat vir hulle lewe vlug en lewer hulle aan die Babiloniërs oor (Obadja 11-14). Die Edomiete is van plan om die verlate land van die Israeliete oor te neem, en hulle praat groot teen Jehovah.—Esegiël 35:10-15.

11. Hoe sal Jehovah die Edomiete vir hulle verraderlike optrede vergeld?

11 Sien Jehovah hierdie onbroederlike optrede deur die Edomiete oor die hoof? Nee. Hy voorspel eerder van Edom: “Die wilde bulle sal saam met hulle val, en jong bulle saam met die sterkes; en hulle land moet deurdrenk word met bloed, en hulle stof sal vetterig gemaak word met die vet” (Jesaja 34:7). Jehovah beskryf die hooggeplaastes en die geringes in die nasie as simboliese wilde bulle en jong bulle, soos jong ramme en bokke. Die land van hierdie bloedskuldige nasie sal deur middel van Jehovah se “swaard” van teregstelling deurdrenk word met die mense se eie bloed.

12. (a) Wie gebruik Jehovah om Edom te straf? (b) Wat voorspel die profeet Obadja aangaande Edom?

12 God se voorneme is om Edom te straf vir wat hy kwaadwillig aan Sy aardse organisasie, Sion, gedoen het. Die profesie sê: “Jehovah het ’n dag van wraak, ’n jaar van vergelding vir die regsaak oor Sion” (Jesaja 34:8). Kort ná die vernietiging van Jerusalem in 607 v.G.J., begin Jehovah sy regverdige wraak op die Edomiete uitoefen deur middel van die koning van Babilon, Nebukadnesar (Jeremia 25:15-17, 21). Wanneer Babilon se leërs teen Edom optrek, kan niks die Edomiete red nie! Dit is “’n jaar van vergelding” oor daardie bergagtige land. Jehovah voorspel deur die profeet Obadja: “Weens die geweld teen jou broer Jakob sal skaamte jou bedek, en jy sal tot onbepaalde tyd uitgeroei moet word. . . . Soos jy gedoen het, sal aan jou gedoen word. Jou soort behandeling sal op jou eie hoof terugkeer.”—Obadja 10,15; Esegiël 25:12-14.

Die Christendom se donker toekoms

13. Wie is vandag soos Edom, en waarom?

13 Daar bestaan in hedendaagse tye ook ’n organisasie met ’n rekord soos dié van Edom. Watter organisasie is dit? Wel, wie het in hedendaagse tye die voortou daarin geneem om teen Jehovah se knegte kwaad te spreek en hulle te vervolg? Was dit nie die Christendom deur middel van sy geestelikes nie? Ja! Die Christendom het hom as ’t ware so hoog soos die berge verhef ten opsigte van die aangeleenthede van hierdie wêreld. Hulle neem ’n verhewe posisie in die mens se stelsel van dinge in, en hulle godsdienste vorm die vernaamste deel van Babilon die Grote. Maar Jehovah het beveel dat daar “’n jaar van vergelding” oor hierdie hedendaagse Edom gebring moet word as gevolg van die skandelike manier waarop hulle Sy volk, Sy Getuies, behandel het.

14, 15. (a) Wat sal met die land Edom sowel as met die Christendom gebeur? (b) Wat beteken die verwysings na brandende pik en rook wat tot onbepaalde tyd duur, en wat beteken dit nie?

14 Terwyl ons die res van hierdie deel van Jesaja se profesie bespreek, dink ons dus nie net aan eertydse Edom nie, maar ook aan die Christendom: “Sy strome sal in pik verander word, en sy stof in swael; en sy land sal soos brandende pik word. Dit sal nie snags of bedags uitgeblus word nie; tot onbepaalde tyd sal sy rook bly opstyg” (Jesaja 34:9, 10a). Die land Edom word so dor dat dit is asof die stof swael is en die stroomvalleie nie vol water is nie, maar vol pik. Dan word hierdie uiters vlambare stowwe aan die brand gesteek!—Vergelyk Openbaring 17:16.

15 Party het die feit dat vuur, pik en swael hier genoem word, beskou as ’n bewys dat daar ’n brandende hel bestaan. Maar Edom word nie in die een of ander denkbeeldige helse vuur gegooi om vir ewig te brand nie. Dit word eerder vernietig en verdwyn heeltemal van die wêreldtoneel af asof dit heeltemal deur vuur en swael verteer is. Soos die profesie verder toon, is die uiteindelike resultaat, nie ewige foltering nie, maar “leegheid . . . woestheid . . . niks” (Jesaja 34:11, 12). Die rook wat ‘tot onbepaalde tyd opstyg’, is ’n duidelike bewys hiervan. Wanneer ’n huis afbrand, trek daar ’n ruk lank ná die vlamme gaan lê het nog rook uit die as, wat vir toeskouers ’n bewys is dat daar ’n brand was. Aangesien Christene vandag lesse leer uit die vernietiging van Edom, styg die rook van Edom se verbranding in ’n sekere sin nog steeds op.

16, 17. Wat sal van Edom word, en hoe lank sal daardie toestand voortduur?

16 Jesaja se profesie gaan voort en voorspel dat Edom se mensebevolking deur wilde diere vervang sal word, wat op ’n komende vernietiging dui: “Van geslag tot geslag sal dit verskroei wees; vir ewig en altyd sal niemand daardeur trek nie. En die pelikaan en die ystervark sal dit in besit neem, en langooruile en rawe sal daarin woon; en hy sal die meetsnoer van leegheid daaroor span en die klippe van woestheid. Sy edeles—daar is niemand daar wat hulle tot die koningskap sal roep nie, en al sy vorste sal niks word. Op sy woontorings sal dorings opkom, netels en doringrige onkruid in sy vestings; en dit sal ’n woonplek van jakkalse word, die verblyfplek van die volstruise. En die bewoners van waterlose streke sal huilende diere teëkom, en selfs die demoon in bokgedaante sal na sy metgesel roep. Ja, daar sal die naguil haar beslis gemaklik maak en vir haar ’n rusplek vind. Daar het die pylslang haar nes gemaak en lê sy eiers.”—Jesaja 34:10b-15.a

17 Ja, Edom sal ’n leë land word. Dit sal ’n woesteny word met net wilde diere, voëls en slange wat dit bewoon. Hierdie verdorde toestand van die land sal, soos vers 10 sê, “vir ewig en altyd” duur. Daar sal geen herstel wees nie.—Obadja 18.

Jehovah se woord sal vir seker vervul word

18, 19. Wat is “die boek van Jehovah”, en wat word in hierdie “boek” oor die Christendom voorspel?

18 Wat ’n hopelose toekoms voorspel dit tog vir daardie hedendaagse ekwivalent van Edom, die Christendom! Hulle het getoon dat hulle ’n bittere vyand van Jehovah God is, wat sy Getuies aan wrede vervolging onderwerp. En daar bestaan geen twyfel dat Jehovah sy woord sal vervul nie. Wanneer enigiemand die profesie met die vervulling daarvan vergelyk, sal die twee ooreenkom—so seker as wat die wyfies onder die diere wat die vernietigde Edom bewoon ‘elkeen haar mannetjie het’. Jesaja praat nou met toekomstige studente van Bybelprofesie en sê: “Soek self in die boek van Jehovah en lees hardop: nie een van hulle het ontbreek nie; nie een van hulle is sonder haar mannetjie nie, want dit is die mond van Jehovah wat die bevel gegee het, en dit is sy gees wat hulle bymekaargebring het. En Hy het vir hulle die lot gewerp, en sý hand het hulle die plek met die meetsnoer toebedeel. Tot onbepaalde tyd sal hulle dit in besit neem; van geslag tot geslag sal hulle daarin woon.”—Jesaja 34:16, 17.

19 Die naderende vernietiging van die Christendom is in “die boek van Jehovah” voorspel. Hierdie “boek van Jehovah” beskryf waarom Jehovah rekenskap gaan eis van diegene wat sy onversoenlike vyande is en wat sy volk onberouvol onderdruk. Wat aangaande eertydse Edom geskryf is, is bewaarheid, en dit versterk ons oortuiging dat die profesie, soos dit op die Christendom, die hedendaagse Edom, van toepassing is, ook bewaarheid sal word. “Die meetsnoer”, die reël waarvolgens Jehovah optree, waarborg dat hierdie geestelik sterwende organisasie ’n woesteny gaan word.

20. Wat sal die Christendom, soos die eertydse Edom, ervaar?

20 Die Christendom doen alles in sy vermoë om sy politieke vriende te paai, maar verniet! Volgens Openbaring hoofstukke 17 en 18 sal die almagtige God, Jehovah, dit in hulle harte sit om teen die hele Babilon die Grote, wat die Christendom insluit, op te tree. Dit sal die hele aarde van die valse vorm van die Christelike godsdiens bevry. Die Christendom se situasie sal word soos die droewige toestand wat in Jesaja hoofstuk 34 beskryf word. Hulle sal nie eers daar wees gedurende die deurslaggewende “oorlog van die groot dag van God die Almagtige” nie! (Openbaring 16:14). Soos eertydse Edom sal die Christendom heeltemal, “vir ewig en altyd”, van die oppervlak van die aarde weggevee word.

[Voetnote]

a Teen Maleagi se tyd was hierdie profesie vervul (Maleagi 1:3). Maleagi sê dat die Edomiete gehoop het om hulle vernietigde land weer te bewoon (Maleagi 1:4). Maar dit was nie Jehovah se wil nie, en later het ’n ander volk, die Nabateërs, die land in besit geneem wat vroeër die land Edom was.

[Venster op bladsy 363]

’n Toornige God?

Uitdrukkings soos dié in Jesaja 34:2-7 het baie laat dink dat Jehovah, soos hy in die Hebreeuse Geskrifte beskryf word, ’n wrede, wraaksugtige God is. Is dit so?

Nee. Hoewel God soms uiting gee aan sy woede, is hierdie woede altyd geregverdig. Dit is altyd op beginsels gegrond, nie op onbeheerste emosie nie. Daarbenewens word dit altyd gerig deur die Skepper se reg om uitsluitlike toegewydheid te ontvang en sy standvastige handhawing van die waarheid. Wanneer God uiting gee aan sy woede, word dit beheers deur sy liefde vir regverdigheid en deur sy liefde vir diegene wat regverdigheid beoefen. Jehovah sien al die kante van ’n saak en het absolute, onbeperkte kennis van ’n situasie (Hebreërs 4:13). Hy lees die hart; hy neem die rol van onkunde, nalatigheid of moedswillige sonde in ag en hy tree onpartydig op.—Deuteronomium 10:17, 18; 1 Samuel 16:7; Handelinge 10:34, 35.

Maar Jehovah God is “stadig tot toorn en oorvloedig in liefderyke goedhartigheid” (Eksodus 34:6). Diegene wat hom vrees en regverdigheid probeer beoefen, ontvang barmhartigheid, want die Almagtige erken die mens se oorgeërfde onvolmaaktheid en bewys om hierdie rede barmhartigheid aan hom. Vandag doen God dit op grond van Jesus se offerande (Psalm 103:13, 14). Op die regte tyd word Jehovah se toorn van diegene afgewend wat hulle sonde erken, berou toon en hom werklik dien (Jesaja 12:1). Jehovah is in werklikheid nie ’n toornige God nie, maar ’n gelukkige God, nie ongenaakbaar nie, maar hartlik, vredeliewend en kalm teenoor dié wat hom op die regte manier nader (1 Timoteus 1:11). Dit is in skerp teenstelling met die genadelose, wrede eienskappe wat aan die valse gode van die heidense nasies toegeskryf word en in beelde van daardie gode uitgebeeld word.

[Kaart op bladsy 362]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Groot See

Damaskus

Sidon

Tirus

ISRAEL

Dan

See van Galilea

Jordaanrivier

Megiddo

Ramot-Gilead

Samaria

FILISTEA

JUDA

Jerusalem

Libna

Lagis

Berseba

Kades-Barnea

Soutsee

AMMON

Rabba

MOAB

Kir-Hareset

EDOM

Bosra

Teman

[Prente op bladsy 359]

Die Christendom het ’n ontsaglike hoeveelheid bloed op die aarde vergiet

[Prent op bladsy 360]

“Die hemel moet opgerol word, soos ’n boekrol”

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel